Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Menswaardigheid—’n Reg wat dikwels geskend word

Menswaardigheid—’n Reg wat dikwels geskend word

Menswaardigheid—’n Reg wat dikwels geskend word

“Alles in verband met die lewe in die kamp het ’n mens dieper laat wegsink in die moeras van vernedering en onwaardigheid.”—MAGDALENA KUSSEROW REUTER, OORLEWENDE VAN ’N NAZI-KONSENTRASIEKAMP.

HOEWEL die gruweldade in die Nazi-konsentrasiekampe gedurende die Tweede Wêreldoorlog verskriklik was, was dit geensins die begin of die einde van die aanslag op menswaardigheid nie. Wanneer ons die verlede of die hede ondersoek, staan een feit soos ’n paal bo water: deur die jare heen het baie al in “die moeras van vernedering en onwaardigheid” weggesink.

Skendings van menswaardigheid is egter nie beperk tot die wrede dade wat hulle merk op die mensegeskiedenis gelaat het nie. Dit steek dikwels op subtieler maniere kop uit. Dink aan die kind wat geterg word weens die een of ander fisiese kenmerk. Of die immigrant wat gespot word omdat hy sekere “vreemde” gebruike het. Of die persoon waarteen daar gediskrimineer word as gevolg van sy velkleur of nasionaliteit. Diegene wat hulle hieraan skuldig maak, dink dalk dat dit maar net ’n grap is, maar die pyn en vernedering van diegene wat so verkleineer word, is niks om oor te lag nie.—Spreuke 26:18, 19.

Wat is menswaardigheid?

Een woordeboek definieer waardigheid as ‘die hoedanigheid of toestand van geëerd, gerespekteerd en hooggeag te voel’. Menswaardigheid behels dus hoe ons onsself beskou sowel as die manier waarop ander ons behandel. Hoewel daar verskillende faktore is wat ons gevoelens oor onsself kan beïnvloed, speel die manier waarop ander ons beskou of behandel, ’n groot rol in ons gevoel van eiewaarde in die daaglikse lewe.

Elke gemeenskap het armes, hulpeloses en kwesbares. Maar die feit dat iemand hom in sulke omstandighede bevind, verminder nie noodwendig sy gevoel van waardigheid nie. Die gesindheid en reaksie van ander kan wel ’n bedreiging vir ’n mens se waardigheid inhou. Die hartseer werklikheid is dat dit gewoonlik mense in sulke situasies is wie se reg op menswaardigheid geïgnoreer of geskend word. Hoe dikwels hoor ons tog woorde soos “nikswerd” en “onwaardig” in gevalle van mishandeling van bejaardes, armes of diegene wat verstandelik of fisies gestremd is!

Waarom verneder mense mekaar? Sal die basiese reg op menswaardigheid ooit verwesenlik word? Die volgende artikel sal die bevredigende antwoord uit God se Woord, die Bybel, voorsien.