Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Doelwitte is soos bouplanne, as jy bereid is om hard daaraan te werk, kan dit die begin van groot dinge wees

VIR JONGMENSE

12: Doelwitte

12: Doelwitte

WAT DIT BETEKEN

’n Doelwit is meer as net ’n droom. Dit is nie iets waarvoor jy net wens nie. Dit is iets waarvoor jy moet beplan, aanpasbaar wees en hard werk — daar is geen kortpaaie nie.

’n Mens kry 3 soorte doelwitte: korttermyn (wat in ’n paar dae of weke bereik kan word), middelmatig (maande) en langtermyn (’n jaar of meer). Langtermyndoelwitte kan bereik word deur eers ’n paar korter doelwitte te bereik.

HOEKOM DIT BELANGRIK IS

As jy jou doelwitte bereik, kan dit jou meer selfvertroue gee, jou vriendskappe sterker maak en jou gelukkiger maak.

Selfvertroue: Wanneer jy klein doelwitte stel en dit bereik, sal jy die selfvertroue hê om groter doelwitte aan te pak. En met meer selfvertroue sal jy kans sien vir elke dag se probleempies, soos groepsdruk.

Vriendskappe: Mense geniet dit om saam met persone te wees wat doelwitte het — dit is persone wat weet wat hulle wil hê en bereid is om daarvoor te werk. Een van die beste maniere om ’n vriendskap sterker te maak, is om saam met iemand aan dieselfde doelwit te werk.

Geluk: Wanneer jy jou doelwit bereik, sal jy trots en gelukkig voel.

“Ek hou daarvan om doelwitte te hê. Dit hou my besig en gee my iets om na uit te sien. En wanneer ek ’n doelwit bereik, is dit so lekker om te kan sê: ‘Wow, ek het dit gedoen! Ek het dit reggekry!’” — Christopher.

BYBELWAARHEID: “As jy wag totdat die wind en die weer net reg is, sal jy nooit iets plant en nooit iets oes nie.” — Prediker 11:4, Today’s English Version.

WAT JY KAN DOEN

Hier is ’n paar stappe om jou doelwitte te bereik:

Besluit. Maak ’n lysie van al jou doelwitte. Nommer hulle dan in die volgorde waarin jy dit wil bereik.

Beplan. Doen die volgende vir elke doelwit:

  • Besluit teen wanneer jy dit wil bereik.

  • Beplan hoe jy dit gaan regkry.

  • Dink aan dinge wat kan keer dat jy jou doelwit bereik. En dink dan aan hoe jy hierdie probleme kan oorkom.

Tree op. Begin dadelik en moenie wag totdat jy elke detail uitgewerk het nie. Vra jouself af: ‘Wat is die eerste ding wat ek kan doen om my doelwit te bereik?’ En doen dit dan. Hou jou vordering dop.

BYBELWAARHEID: “Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig.” — Spreuke 21:5, NAB.