Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

As jou tiener haarself beseer

As jou tiener haarself beseer

DIE UITDAGING

Jy kom agter dat jou tiener haarself doelbewus beseer. ‘Wat beteken dit?’ wonder jy. ‘Probeer my dogter haarself doodmaak?’

Die antwoord is heel waarskynlik nee. Maar as jou tiener haarself beseer, * het sy hulp nodig. Hoe kan jy dit voorsien? Kom ons kyk eers wat moontlik die rede is vir haar kommerwekkende gedrag. *

WAAROM DIT GEBEUR

Is selfbesering net ’n gier? Toegegee, party jongmense begin hulleself beseer omdat hulle gehoor het dat ander dit doen. Selfs as dit die geval is, is dit nie ’n tipiese gier nie. Wat maak dit anders? Die selfbeseerder hou gewoonlik haar gewoonte geheim en is baie skaam daaroor. “Ek wou nie hê dat enigiemand moet weet wat ek doen nie”, sê die 20-jarige Celia. * “Ek het my littekens baie goed weggesteek.”

Is selfbesering bloot ’n manier om aandag te kry? Party gebruik dit dalk daarvoor. Maar die selfbeseerders wat ons in hierdie artikel bespreek, is geneig om hulle gewoonte weg te steek en probeer nie om ander met hulle snye of kneusplekke te beïndruk nie. ’n Voormalige selfbeseerder sê nietemin dat sy gewens het dat iemand haar beserings sou opmerk sodat die probleem aan die lig kon gekom het en sy gouer hulp kon gekry het.

Maar waarom beseer mense hulleself? Die oorsake van selfbesering is ingewikkeld, maar die grondoorsaak is gewoonlik dat die jong persoon emosionele pyn ondervind wat moeilik is om in woorde uit te druk. In sy boek Cutting beskryf die geestesgesondheidsdeskundige Steven Levenkron die selfbeseerder as “iemand wat gevind het dat fisiese pyn ’n geneesmiddel kan wees vir emosionele pyn”.

Die selfbeseerder ondervind gewoonlik emosionele pyn wat moeilik is om in woorde uit te druk

Sê nou jy blameer jouself? Moenie tob oor die moontlikheid dat jou tiener haarself beseer weens foute wat jy as ouer gemaak het nie, maar konsentreer eerder op die rol wat goeie ouerskap kan speel om haar te help herstel.

 WAT JY KAN DOEN

Spoor jou tiener aan om met jou te praat oor wat haar kwel. Die volgende wenke kan help.

Vertroos. As jou tiener vir jou sê dat sy haarself beseer, moet jy probeer om nie met skok of afgryse te reageer nie. Praat eerder op ’n kalm en vertroostende manier.—Bybelbeginsel: 1 Tessalonisense 5:14.

Stel vrae wat nie veroordelend is nie. Jy kan byvoorbeeld sê: “Ek weet dat jy nie altyd goed voel oor jouself nie. Wat frustreer jou die meeste?” of “Wat kan ek doen om jou te help wanneer jy bekommerd of terneergedruk is?” of “Wat wil jy die graagste hê moet ek doen sodat ons nader aan mekaar kan kom?” Luister na haar antwoorde sonder om haar in die rede te val.—Bybelbeginsel: Jakobus 1:19.

Help jou tiener om ’n gebalanseerde beskouing van haarself te hê. Aangesien selfbeseerders dikwels op hulle tekortkominge konsentreer, kan jy jou tiener aanspoor om haar goeie eienskappe raak te sien. Jy kan selfs voorstel dat sy ten minste drie dinge neerskryf waarvan sy omtrent haarself hou. “Toe ek my sterk punte neergeskryf het, het dit my help besef dat ek goeie eienskappe het”, sê ’n jong vrou met die naam Briana. *

Spoor jou tiener aan om tot Jehovah God te bid. Die Bybel sê: “Julle [moet] al julle sorge op hom werp, want hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7). “Ek het ’n punt daarvan gemaak om my hart voor Jehovah God uit te stort”, sê Lorena, 17, “veral wanneer ek in die versoeking gekom het om myself te beseer. Dit het my gehelp om nog harder te probeer om daarmee op te hou.”—Bybelbeginsel: 1 Tessalonisense 5:17.

^ par. 5 Selfbesering is die gewoonte om jouself kompulsief leed aan te doen, hetsy deur jou te sny, te kneus, te slaan of iets anders te doen.

^ par. 5 Hoewel ons in hierdie artikel na die selfbeseerder as vroulik verwys, is die beginsels wat bespreek word, op albei geslagte van toepassing.

^ par. 7 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 15 Selfbesering is dikwels ’n simptoom van depressie of ’n ander versteuring. In sulke gevalle is mediese hulp dalk nodig. Ontwaak! beveel nie ’n spesifieke benadering aan nie. Maar Christene moet seker wees dat enige behandeling waarop hulle besluit, nie in stryd is met Bybelbeginsels nie.