Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is geld jou meester of jou kneg?

Is geld jou meester of jou kneg?

LY JY aan geldsiekte-sindroom? Volgens berig ly ’n groot persentasie van die wêreld se bevolking aan hierdie toestand. Wat is dit?

Dr. Roger Henderson, ’n navorser op die gebied van geestesgesondheid in die Verenigde Koninkryk, het onlangs die term “geldsiekte-sindroom” geskep om die fisiese en sielkundige simptome te beskryf van mense wat stres ondervind weens geldprobleme. Die simptome sluit in kortasemigheid, hoofpyne, naarheid, veluitslae, swak eetlus, ongegronde woede, senuweeagtigheid en negatiewe denke. “Bekommernisse oor geld is ’n groot oorsaak van stres”, sê Henderson.

Dit is dus nie verbasend dat daar gedurende die afgelope paar maande al hoe meer mense is wat die slagoffers geword het van die slegte gevolge van geldverwante bekommernisse nie. Die huidige finansiële krisisse in baie lande het daartoe gelei dat mense regoor die wêreld hulle werk, huis en spaargeld verloor. Groot finansiële instellings het in duie gestort, en selfs die rykste nasies het noodmaatreëls getref om volslae finansiële ondergang te verhoed. In die ontwikkelende wêreld het die stygende pryse van kos en ander basiese handelsartikels ook baie angstigheid veroorsaak.

Geldprobleme is ook algemeen in tye van oorvloed. Gedurende die onlangse jare van finansiële welvaart is baie mense deur bekommernisse oor geld geteister. The Witness, ’n Suid-Afrikaanse koerant, het byvoorbeeld berig dat “’n sluipende maatskaplike siekte van oorverbruik, kommersialisme en wydverspreide materialisme” in Afrika versprei het. Die koerant het party van die simptome van hierdie “siekte” gemeld, onder meer “stres, skuld, vermorsing, oorwerktheid, die gevoel dat ’n mens te kort gedoen word, afguns en depressie”. Geld is die skuld gegee vir die voortdurende agteruitgang van die lewensgehalte in Afrika.

Voor die onlangse finansiële krisis het Indië ’n tydperk van uitsonderlike ekonomiese groei geniet. India Today International het berig dat 2007 ’n jaar was waarin die land “skielik ’n aansienlik hoër vlak van vertonerige verbruik bereik” het. Tog was amptenare daar bang dat hierdie welvaart van Indië tot verhoogde onrus en selfs geweld kon lei.

Gedurende dieselfde tydperk het ’n nuwe geslag jong volwassenes in die Verenigde State ’n neiging geopenbaar om geld op luukshede te verkwis. Maar hulle koopkrag het hulle nie geluk gebring nie. Navorsers het gesê dat rykdom een van die land se hoofoorsake van alkoholisme, depressie en selfmoord is. Ondanks die oorvloed en rykdom het “minder as een uit drie Amerikaners” volgens een studie gesê dat hulle “baie gelukkig” is.

Die ander sy van die saak

Daarenteen is baie mense—ryk sowel as arm—in goeie en slegte tye betreklik vry van bekommernisse oor geld en materiële besittings. Waarom die verskil?

In ’n verslag getiteld The Meaning of Money het die navorsers gesê dat party mense “in groot mate deur geld gemotiveer en daardeur beheer word. Dit kan tot stres en neurotiese optrede lei.” Maar hulle het bygevoeg: “Diegene wat versigtig volgens ’n begroting met hulle geld werk, voel dikwels dat hulle in beheer is van hulle eie sake en is positief oor hulleself. Hulle is die meesters van geld en nie slawe  daarvan nie . . . Ons voer aan dat diegene wat versigtig volgens ’n begroting met hulle geld werk, moontlik ook minder stres sal ondervind en dus onder minder druk sal verkeer.”

Wat is jou gesindheid teenoor geld? Hoe raak die onbestendigheid van die wêreld se ekonomie jou? Is geld jou meester of jou kneg? Dalk ondervind jy nie die simptome van die sogenaamde geldsiekte-sindroom nie. Maar hetsy ons ryk of arm is, ons almal is vatbaar vir die slegte gevolge van bekommernisse oor geld. Kyk hoe aanpassings in die manier waarop jy jou finansies behartig, vir jou groter gemoedsrus en ’n gelukkiger lewe kan meebring.