Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 16

Watter rol speel die bedieningsknegte?

Watter rol speel die bedieningsknegte?

Mianmar

Vergaderingdeel

Velddiensgroep

Instandhouding van die Koninkryksaal

Die Bybel beskryf twee groepe Christenmanne wat na gemeentelike verantwoordelikhede omsien—“opsieners en bedieningsknegte” (Filippense 1:1). Oor die algemeen dien ’n aantal van hierdie broers in elke gemeente. Watter werk doen die bedieningsknegte ten behoewe van ons?

Hulle help die liggaam van ouer manne. Die bedieningsknegte is geestelikgesinde, betroubare en pligsgetroue manne, van wie party jonger en ander ouer is. Hulle sien om na die belangrike maar dikwels roetinetake van organisatoriese en fisiese aard wat in die gemeente verrig moet word. Dit stel die ouer manne in staat om hulle op onderrigtings- en herdersverantwoordelikhede toe te lê.

Hulle lewer praktiese dienste. Party bedieningsknegte word aangewys as saalwagters om almal wat by die vergaderinge opdaag, te verwelkom. Ander bedien die klanktoerusting, sien om na lektuur, behartig die gemeentelike rekeninge en wys getuienisgebied aan lede van die gemeente toe. Hulle help ook met die instandhouding van die Koninkryksaal. Ouer manne vra hulle moontlik om bejaardes te help. Bedieningsknegte se bereidwilligheid om enige verantwoordelikheid wat hulle gegee word, na te kom, wen hulle die respek van almal.—1 Timoteus 3:13.

Hulle stel ’n goeie voorbeeld as Christenmanne. Bedieningsknegte word gekies weens hulle voortreflike geestelike eienskappe. Wanneer hulle vergaderingdele behartig, versterk hulle ons geloof. Deur ’n goeie voorbeeld in die predikingswerk te stel, spoor hulle ons aan om yweriger te wees. Deur hulle gees van samewerking bevorder hulle vreugde en eenheid (Efesiërs 4:16). Ná verloop van tyd sal hulle moontlik ook kwalifiseer om as ouer manne te dien.

  • Watter soort manne is die bedieningsknegte?

  • Hoe help die knegte die gemeente om glad te funksioneer?