Omtrent 500 mense het die openingseremonie van die uitstalling bygewoon.

14 SEPTEMBER 2018
DUITSLAND

Uitstalling in Kassel, Duitsland, 70 jaar ná historiese byeenkoms van Jehovah se Getuies

Uitstalling in Kassel, Duitsland, 70 jaar ná historiese byeenkoms van Jehovah se Getuies

In Julie 1948, kort ná die Tweede Wêreldoorlog, het Jehovah se Getuies die grootste byeenkoms van Getuies in Europa in die Duitse stad Kassel gereël. Onlangs het Jehovah se Getuies ’n uitstalling in Kassel gehou om die 70ste herdenking van daardie byeenkoms te vier. Die uitstalling is oor ’n tydperk van 12 dae gehou en meer as 2 000 mense het dit besoek. Dit het ook die aandag van ’n plaaslike televisiestasie en ’n paar plaaslike koerante gekry.

Jehovah se Getuies wat die byeenkoms van 1948 bygewoon het, praat oor hulle herinneringe.

Die historiese byeenkoms in Kassel het ’n hoogtepunt van 23 150 mense gehad wat dit bygewoon het, en 1 200 van hulle is gedoop. Wat nogal interessant is, is dat die meeste sprekers en baie van dié wat daardie byeenkoms bygewoon het, diegene was wat die konsentrasiekampe oorleef het. Daarom het die direkteur van die herdenkingsentrum van die konsentrasiekamp in Breitenau, Dr. Gunnar Richter, ’n toespraak tydens die uitstalling se openingseremonie gehou. Hy het verduidelik hoe moeilik dit vir Jehovah se Getuies was toe die Nazi’s regeer het.

Broers en susters berei die byeenkomsterrein voor, wat meer as 50 groot gate gehad het.

By die uitstalling was daar foto’s wat gewys het hoe Kassel tydens die Tweede Wêreldoorlog amper verwoes is. Toe ons broers die byeenkoms gereël het, kon die owerhede hulle net ’n oop stuk veld gee met groot gate wat deur bomme veroorsaak is. Broer Kurt Rex, wat by daardie byeenkoms was, het beskryf hoe die broers vir amper vier weke moes werk om die byeenkomsterrein reg te kry. Hy het gesê: “Dit was baie harde werk. Ons moes eers emmers gebruik om die water uit die groot gate te skep. Daarna kon ons eers begin met die regte werk en die gate vul met klippe en rommel van die verwoeste huise in die omgewing. Dit was ook baie harde werk om die grond gelyk te maak, omdat ons nie groot masjiene of toerusting gehad het nie. En omdat dit so baie gereën het, was ons heeltyd sopnat.” Ten spyte van al die reën het ons broers omtrent 10 000 kubieke meter klip en rommel vervoer.

Party van die meer as 23 000 mense wat die byeenkoms bygewoon het.

In sy toespraak aan die begin van die uitstalling het Wolfram Slupina, ’n verteenwoordiger van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Duitsland, die gesindheid van die broers en susters beskryf terwyl hulle vir die byeenkoms voorberei het. Hy het gesê: “Nadat hulle uit die konsentrasiekampe vrygelaat is, was hulle nie kwaad nie en het hulle nie hulleself jammergekry nie. . . . Hulle vryheid het hulle gemotiveer om hard te werk.”

In ’n toespraak aan die besoekers by die uitstalling het Ester Kalveram, ’n stadsraadslid en ’n verteenwoordiger van die munisipale administrasie van Kassel, verduidelik: “Hierdie byeenkoms was nie net ’n belangrike geleentheid vir Jehovah se Getuies nie, maar ook vir die stad Kassel.”

Die byeenkoms van 1948 in Kassel en die uitstalling in 2018 is ’n bewys van hoe vasbeslote Jehovah se Getuies is om ten spyte van groot uitdagings bymekaar te kom vir Bybelse onderrigting. — Psalm 35:18.