Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOLG HULLE GELOOF NA | DAWID

“Die stryd behoort aan Jehovah”

“Die stryd behoort aan Jehovah”

DAWID moes eenkant toe staan terwyl ’n klomp soldate paniekbevange verby hom gehardloop het. Hulle oë was groot van vrees terwyl hulle van die gevegslinie af probeer wegkom het. Waarom was hulle so bang? Dawid het moontlik gehoor hoe een woord herhaal word. Dit was ’n man se naam. En toe sien Dawid die man waar hy uitdagend onder in die vallei staan, moontlik die grootste man wat Dawid nog gesien het.

Goliat! Dawid kon sien waarom die soldate vir hom bang was—hy was verskriklik groot, ’n berg van ’n man. Selfs sonder sy indrukwekkende wapenrusting het hy waarskynlik meer geweeg as twee groot manne saam. Hy was boonop swaar gewapen, en hy was besonder sterk en ’n ervare soldaat. Goliat het met ’n bulderende stem ’n uitdaging gerig. Stel jou voor hoe sy stem tussen die heuwels weergalm terwyl hy die leër van Israel en hulle koning, Saul, uittart. Hy het hulle uitgedaag om enige man te stuur om teen hom te kom veg, en hierdie enkele geveg sou die uitslag van die oorlog bepaal!—1 Samuel 17:4-10.

Die Israeliete was bang. Koning Saul was bang. Dawid het gehoor dat die situasie al meer as ’n maand lank voortsleep! Die geveg tussen die Filistyne en die Israeliete het ’n dooie punt bereik, terwyl Goliat sy uitdagings dag ná dag herhaal het. Dawid was ontsteld. Hoe vernederend was dit tog om te dink dat Israel se koning en sy soldate, insluitende drie van Dawid se ouer broers, te bang was om iets omtrent die situasie te doen! In Dawid se oë het hierdie heiden, Goliat, iets baie ergers gedoen as om die leër van Israel te verneder; hy het die God van Israel, Jehovah, beledig! Maar wat kon Dawid, wat so jonk was, omtrent die situasie doen? En wat kan ons vandag leer uit die geloof van Dawid?—1 Samuel 17:11-14.

“SALF HOM, WANT DIT IS HY!”

Kom ons kyk wat ’n hele paar maande vroeër gebeur het. Dawid het vroegaand omgesien na sy vader se skape in die heuwels naby Betlehem. Hy was ’n aantreklike jong man, waarskynlik nog ’n tiener, met ’n rooierige voorkoms en pragtige, intelligente oë. Wanneer dit stil was, het hy daarvan gehou om op sy harp te speel. Die prag van God se skepping het ’n groot indruk op hom gemaak, en ure se oefening op sy harp het hom ’n goeie musikant laat word. Maar op hierdie spesifieke aand het Dawid se vader hom laat roep. Hy wou dringend met hom praat.—1 Samuel 16:12.

Hy het sy vader, Isai, gevind waar hy met ’n bejaarde man gepraat het. Dit was die getroue profeet Samuel. Jehovah het hom gestuur om een van Isai se seuns as Israel se volgende koning te salf! Samuel het reeds Dawid se sewe ouer broers gesien, maar Jehovah het vir Samuel gesê dat Hy nie een van hulle gekies het nie. Maar toe Dawid daar aankom, het Jehovah vir Samuel gesê: “Salf hom, want dit is hy!” Voor al Dawid se ouer broers het Samuel ’n uitgeholde horing oopgemaak en van die spesiale olie wat daarin was, op Dawid se kop uitgegiet. Nadat Dawid gesalf is, was sy lewe nooit weer dieselfde nie. Die Bybel sê: “Van dié dag af het die gees van Jehovah oor Dawid werksaam geword.”—1 Samuel 16:1, 5-11, 13.

Dawid het nederig erken dat Jehovah hom gehelp het om wilde diere dood te maak

 Het Dawid ambisieus geword omdat hy as koning gesalf is? Nee, hy was tevrede om te wag totdat Jehovah se gees vir hom aandui dat dit tyd is om groter verantwoordelikhede op hom te neem. Intussen het hy sy nederige werk as ’n herder bly doen. Hy het hierdie werk met groot toegewydheid en moed gedoen. Sy vader se kuddes is twee keer bedreig, eenkeer deur ’n leeu en eenkeer deur ’n beer. Dawid het nie bloot op ’n veilige afstand gestaan en die roofdiere probeer verwilder nie. Hy het eerder ingespring en sy vader se hulpelose skape verdedig. Altwee kere het hy die gevaarlike wilde dier manalleen doodgemaak!—1 Samuel 17:34-36; Jesaja 31:4.

Later is Dawid deur koning Saul ontbied. Die koning het van sy goeie reputasie gehoor. Hoewel Saul nog steeds ’n magtige soldaat was, het hy Jehovah se guns verloor omdat hy Sy instruksies verontagsaam het. Saul het nie meer Jehovah se gees gehad nie, en daarom het ’n slegte gees dikwels oor die koning gekom—woedebuie, agterdog en gewelddadigheid. Wanneer hierdie slegte gees oor Saul gekom het, was musiek die een ding wat hom kalmeer het. Van Saul se manne het gehoor dat Dawid ’n goeie musikant en vegter is. Dawid is dus ontbied, en hy het kort voor lank ’n musikant aan Saul se hof geword, asook een van sy wapendraers.—1 Samuel 15:26-29; 16:14-23.

Veral jongmense kan baie leer uit Dawid se geloof. Let daarop dat hy in sy vrye tyd dinge gedoen het wat hom nader aan Jehovah laat kom het. Hy het ook geduldig praktiese vaardighede aangeleer wat dit vir hom moontlik gemaak het om werk te kry. Maar hy het bowenal die leiding van Jehovah se gees gevolg. Watter uitstekende lesse vir ons almal!—Prediker 12:1.

“LAAT DIE HART VAN GEEN MAN IN HOM BESWYK NIE”

Terwyl Dawid in Saul se diens was, het hy dikwels teruggekeer huis toe om skape op te pas, soms vir lang tye. Dit was gedurende een van hierdie tye dat Isai Dawid gestuur het om te gaan kyk hoe dit met die drie oudste seuns gaan, wat in Saul se leër was. Dawid was gehoorsaam en het met voorraad vir sy broers na die Elalaagvlakte vertrek. Toe hy daar aankom, was hy verslae om te vind dat die geveg die dooie punt bereik het wat aan die begin van hierdie artikel beskryf word. Die twee leërs se kampe was weerskante van die groot vallei teen die heuwelhange.—1 Samuel 17:1-3, 15-19.

Die situasie was vir Dawid onaanvaarbaar. Hoe kon die leër van die lewende God, Jehovah, uit vrees vlug vir ’n blote man—en dit nogal ’n heiden? Dawid het gevoel dat Goliat Jehovah persoonlik uittart. Daarom het hy geesdriftig met die soldate begin praat en gesê dat Goliat verslaan kan word. Kort voor lank het Dawid se oudste broer, Eliab, gehoor dat hy met die manne praat. Hy het sy jonger broer streng bestraf en hom daarvan beskuldig dat hy net gekom het om die geveg te sien. Maar Dawid het hom geantwoord: “Wat het ek nou gedoen? Was dit nie net ’n woord nie?” Toe het hy weer vol vertroue gesê dat Goliat verslaan kan word, en later het iemand dit aan Saul oorvertel. Die koning het beveel dat Dawid na hom toe gebring moet word.—1 Samuel 17:23-31.

Dawid se bemoedigende woorde aan die koning was: “Laat die hart van geen man in hom beswyk nie.” Saul en sy manne het beslis moed verloor  weens Goliat. Dalk het hulle die menslike fout gemaak om hulleself te vergelyk met hierdie reus van ’n man wat byna twee keer so lank soos hulle was. Hulle het in hulle verbeelding gesien hoe hierdie gepantserde reus gou-gou met hulle klaarspeel. Maar Dawid het nie so geredeneer nie. Soos ons sal sien, het hy ’n ander beskouing gehad. Daarom het hy gesê dat hy teen Goliat sal veg.—1 Samuel 17:32.

Saul het beswaar gemaak: “Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is nog maar ’n seun, en hy is van sy seunsjare af ’n krygsman.” Was Dawid werklik ’n kind? Nee, maar hy was te jonk om by die leër aan te sluit, en hy het dalk baie jonk gelyk. Maar Dawid was reeds bekend as ’n dapper vegter en was moontlik teen dié tyd in sy laat tienerjare.—1 Samuel 16:18; 17:33.

Dawid het Saul gerusgestel deur hom te vertel wat met die leeu en die beer gebeur het. Het hy gespog? Nee. Dawid het geweet wie hom gehelp het. Hy het gesê: “Jehovah, wat my uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer verlos het, hy sal my uit die hand van hierdie Filistyn verlos.” Saul het uiteindelik ingegee en gesê: “Gaan, en mag Jehovah met jou wees.”—1 Samuel 17:37.

Sal jy graag die geloof wil hê wat Dawid gehad het? Dan moet jy onthou dat Dawid se geloof nie blote wensdenkery was nie. Hy het geloof in sy God gehad weens kennis en ondervinding. Hy het geweet dat Jehovah ’n liefdevolle Beskermer en ’n Vervuller van beloftes is. As ons sulke geloof wil aankweek, moet ons aanhou leer van die God van die Bybel. Die goeie resultate wat ons sien wanneer ons toepas wat ons leer, sal ook ons geloof versterk.—Hebreërs 11:1.

“VANDAG SAL JEHOVAH JOU IN MY HAND OORLEWER”

Saul het sy eie wapenrusting vir Dawid gegee om aan te trek. Dit was soortgelyk aan Goliat s’n, was van koper gemaak en het waarskynlik ’n groot geskubde pantser ingesluit. Maar toe Dawid met hierdie groot en swaar toerusting probeer loop, het hy gou besef dat dit nie vir hom sal werk nie. Hy is nie as ’n soldaat opgelei nie, en daarom was hy nie daaraan gewoond om wapenrusting te dra nie, veral nie die wapenrusting wat Saul, die langste man in die nasie Israel, gedra het nie! (1 Samuel 9:2). Hy het dit uitgetrek en gekies om die toerusting te gebruik waaraan hy gewoond was—dit wat ’n herder gebruik om sy kudde te beskerm.—1 Samuel 17:38-40.

Dawid het sy herderstaf, ’n skouersak en ’n slinger gehad. ’n Slinger klink dalk nie na veel nie, maar dit was in werklikheid ’n baie doeltreffende wapen. Hierdie wapen het bestaan uit ’n strook leer of lap waaraan twee lang rieme vas was, en dit was die ideale wapen vir ’n herder. Hy het gewoonlik ’n klip in die strook leer gesit, dit vinnig bokant sy kop geswaai, dan een van die rieme laat los en die klip met dodelike akkuraatheid laat wegskiet. Hierdie wapen was so doeltreffend dat leërs soms afdelings soldate met slingers gehad het.

Met hierdie toerusting het Dawid hom na sy vyand gehaas. Ons kan ons net voorstel hoe innig Dawid gebid het terwyl hy in die droë rivierbedding in die vallei gebuk het en vyf klein, gladde klippe opgetel het. Toe het hy na die gevegsfront gegaan—hy het nie gestap nie, maar gehardloop!

Wat het Goliat gedink toe hy sy teenstander sien? “Hy [het] hom begin verag”, lees ons, “omdat hy ’n seun was en rooierig, met ’n mooi voorkoms.” Goliat het bulderend gevra: “Is ek ’n hond, dat jy met stokke na my toe kom?” Hy het blykbaar Dawid se staf gesien, maar hom nie gesteur aan die slinger nie. Hy het Dawid vervloek in die naam van die Filistynse gode en gesweer dat hy die vlees van hierdie veragtelike vyand aan die voëls en diere van die veld sal gee.—1 Samuel 17:41-44.

Tot vandag toe word Dawid se antwoord onthou as ’n bewys van hoe groot sy geloof was. Stel jou net voor hoe die jong man na Goliat uitroep: “Jy kom na my toe met ’n swaard en met ’n spies en met ’n werpspies, maar ek kom na jou toe met die naam van Jehovah van die leërs, die God van die gevegslinies van Israel, wat jy uitgetart het.” Dawid het geweet dat menslike krag en wapens nie juis saak gemaak het nie. Goliat was oneerbiedig teenoor Jehovah God, en Jehovah sou daarop reageer. Soos Dawid dit gestel het: “Die stryd behoort aan Jehovah.”—1 Samuel 17:45-47.

Dawid het goed geweet hoe groot Goliat is en watter wapens hy het. Maar Dawid het hom nie  daardeur laat afskrik nie. Hy het nie dieselfde fout as Saul en sy soldate gemaak nie. Dawid het homself nie met Goliat vergelyk nie. Hy het Goliat eerder met Jehovah vergelyk. Goliat was 2,9 meter lank en het bo ander mans uitgetoring, maar hoe groot was hy in vergelyking met die Soewerein van die heelal? Soos enige ander mens was hy skaars groter as ’n insek—’n insek wat binnekort deur Jehovah uitgewis sou word!

Dawid het na sy vyand toe gehardloop en sy hand in sy sak gesteek om ’n klip uit te haal. Hy het die klip in die slinger gesit en dit toe bokant sy kop geswaai totdat dit begin fluit het. Goliat het nader aan Dawid beweeg, moontlik met sy skilddraer reg voor hom. Goliat se lengte was eintlik tot sy nadeel, aangesien ’n skilddraer van gemiddelde lengte die skild nie hoog genoeg sou kon hou om die reus se kop te beskerm nie. En dit is juis waarna Dawid gemik het.—1 Samuel 17:41.

Dawid het besef dat selfs ’n reus klein is in vergelyking met Jehovah God

Dawid het die klip laat wegskiet. Stel jou die stilte voor terwyl die klip deur die lug trek. Jehovah het ongetwyfeld seker gemaak dat Dawid nie nog ’n klip nodig gehad het nie. Die klip het die teiken getref—dit het diep in Goliat se voorkop weggesink. Die kolossale man het neergeval, met sy gesig op die grond! Die skilddraer het waarskynlik angsbevange gevlug. Dawid het nader gehardloop, Goliat se swaard geneem en die reus se kop daarmee afgekap.—1 Samuel 17:48-51.

Saul en sy soldate het uiteindelik weer moed gehad. Met ’n magtige oorlogskreet het hulle op die Filistyne afgestorm. Die geveg het afgeloop net soos Dawid vir Goliat gesê het: “Jehovah . . . sal julle in ons hand gee.”—1 Samuel 17:47, 52, 53.

Vandag voer God se knegte nie letterlik oorlog nie. Daardie tyd is verby (Matteus 26:52). Ons moet nietemin die geloof van Dawid navolg. Soos Dawid moet ons Jehovah as ’n werklike persoon beskou—as die enigste God wat ons moet dien en vir wie ons ontsag moet hê. Soms laat ons probleme ons dalk klein voel, maar ons probleme is klein in vergelyking met Jehovah se onbeperkte krag. As ons Jehovah as ons God kies en soos Dawid geloof in hom stel, hoef geen uitdaging, geen probleem, ons vreesbevange te maak nie. Jehovah het die krag om die oorwinning oor enigiets te behaal!