Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOORBLADONDERWERP | JY KAN DIE BYBEL VERSTAAN

’n Boek wat verstaan moet word

’n Boek wat verstaan moet word

Daar bestaan geen twyfel dat die Bybel ’n baie ou boek is nie. Hoe oud is dit? Daar is sowat 3 500 jaar gelede in die Midde-Ooste met die skryf van die Bybel begin. Dit was gedurende die tyd van die magtige Sjang-dinastie van China en omtrent tien eeue voordat Boeddhisme in Indië begin het.—Sien die venster “ Feite oor die Bybel”.

Die Bybel verskaf bevredigende antwoorde op die belangrikste vrae in die lewe

’n Boek wat geskryf is met die doel om ’n nuttige en voordelige gids te wees, moet verstaanbaar en prakties wees. Die Bybel is so ’n boek. Dit verskaf bevredigende antwoorde op die belangrikste vrae in die lewe.

Byvoorbeeld, het jy al ooit gewonder: ‘Waarom is ons hier?’ Mense word al duisende jare lank deur hierdie vraag stomgeslaan, en hulle wonder nog steeds hieroor. Tog kan die antwoord gevind word in die eerste twee hoofstukke van die eerste boek in die Bybel, Genesis. Hier praat die Bybelverslag van “die begin”—miljarde jare gelede—toe ons fisiese heelal, insluitende die sterrestelsels, die sterre en die aarde ontstaan het (Genesis 1:1). Dan beskryf dit stap vir stap hoe die aarde bewoonbaar geword het, hoe verskillende lewensvorme ontstaan het en hoe die mens op die toneel verskyn het—sowel as die doel van dit alles.

GESKRYF OM VERSTAAN TE WORD

Die Bybel gee praktiese raad om ons te help om alledaagse probleme op te los. Hierdie raad is maklik om te verstaan. Daar is twee redes hiervoor.

Eerstens, die Bybel gebruik duidelike, direkte en treffende taal. Dit is nie vol abstrakte of raaiselagtige uitdrukkings nie, maar praat eerder van werklike dinge en beskryf dinge in menslike terme. Moeilike idees word uitgedruk deur woorde te gebruik waarmee ons in ons daaglikse lewe bekend is.

Byvoorbeeld, Jesus het talle eenvoudige illustrasies uit die daaglikse lewe gebruik om mense lesse te leer wat hulle hart raak. Baie van hierdie lesse kan gevind word in die Bergpredikasie, wat in hoofstuk 5 tot 7 van die Bybelboek Matteus opgeteken is. Volgens een skrywer is dit “’n praktiese toespraak” waarvan die doel is, “nie om ons kop met idees te vul nie, maar om ons gedrag te rig en te reguleer”. Jy kan hierdie hoofstukke moontlik  in 15 tot 20 minute lees, en jy sal verbaas wees om te sien hoe eenvoudig maar kragtig Jesus se woorde is.

Nog ’n rede waarom ons die Bybel maklik kan verstaan, is die inhoud. Dit is nie ’n boek vol mites en fabels nie. Maar soos The World Book Encyclopedia dit stel, handel dit grotendeels “oor uitsonderlike sowel as gewone mense” en “die stryd wat hulle gestry het, die hoop wat hulle gekoester het asook hulle teleurstellings en oorwinnings”. Ons kan ons maklik in hierdie verslae van werklike mense en gebeure inleef en die lewensbelangrike lesse verstaan wat ons hieruit leer.Romeine 15:4.

BESKIKBAAR VIR ALMAL

As jy ’n boek wil verstaan, moet dit in ’n taal wees wat jy ken. Vandag is die Bybel heel moontlik beskikbaar in ’n taal wat jy verstaan, ongeag waar jy woon of wat jou nasionaliteit is. Kyk na wat daarby betrokke is om hierdie merkwaardige prestasie moontlik te maak.

Vertaling. Die Bybel is oorspronklik in Hebreeus, Aramees en Grieks geskryf. Daarom kon nie almal dit lees nie. Opregte vertalers het baie hard gewerk om die teks in ander tale beskikbaar te stel. Danksy hulle harde werk, is die Bybel nou, in sy geheel of gedeeltelik, in sowat 2 700 tale vertaal. Dit beteken dat meer as 90 persent van die mensdom ten minste ’n deel van die Bybel in hulle moedertaal kan lees.

Publisering. Die oorspronklike teks van die Bybel is op bederfbare materiaal, soos leer en papirus, geskryf. Om die boodskap oor te dra, moes hierdie geskrifte noukeurig met die hand oorgeskryf word. Sulke kopieë was duur, en min mense kon dit bekostig. Maar toe Gutenberg se drukpers meer as 550 jaar gelede uitgevind is, kon die Bybel baie vinniger versprei word. Volgens ’n skatting is meer as vyfmiljard eksemplare van die Bybel, in sy geheel of gedeeltelik, al versprei.

Geen ander godsdiensgeskrif kan in hierdie opsigte met die Bybel vergelyk word nie. Dit is duidelik dat die Bybel geskryf is om verstaan te word. Dit kan egter moeilik wees, maar daar is hulp beskikbaar. Waar kan jy dit vind? En hoe kan jy daaruit voordeel trek? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.