Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

Jehovah het my meer gegee as wat ek verdien

Jehovah het my meer gegee as wat ek verdien

Ek was maar net 17 jaar oud en het die bekommernisse en drome van ’n tipiese tiener gehad. Ek het daarvan gehou om met my vriende te kuier, te swem en sokker te speel. Maar een aand het my lewe drasties verander. Ek was by ’n verskriklike motorfietsongeluk betrokke, en daarna was ek van die nek af verlam. Dit was ongeveer 30 jaar gelede, en ek is nou al lank bedlêend.

Ek het grootgeword in die stad Alicante, op die ooskus van Spanje. Ek het ’n baie ongelukkige gesinslewe gehad, en daarom het ek as ’n jongmens baie tyd op die straat deurgebring. Naby ons huis was daar ’n winkel wat motorbande reggemaak het. Ek het bevriend geword met een van die werkers, José María. Hy was ’n gawe man wat my die aandag gegee het wat ek so graag by my eie gesin wou hê. Wanneer ek deur ’n moeilike tyd gegaan het, was hy werklik vir my soos ’n broer—’n ware vriend, hoewel hy 20 jaar ouer is as ek.

José María het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Ek kon sien dat hy vir die Bybel lief is, en hy het dikwels met my oor Bybelwaarhede gepraat. Uit respek het ek na hom geluister, maar ek het nooit werklik belanggestel in wat hy sê nie. Ek was in my tienerjare en het in ander dinge belanggestel. Maar dit sou binnekort verander.

’N ONGELUK WAT MY LEWE VERANDER HET

Ek hou nie baie daarvan om oor daardie ongeluk te praat nie. Wat ek kan sê, is dat ek dwaas en roekeloos was. In net een dag het my lewe heeltemal verander. Skielik was ek nie meer ’n jong tiener vol lewenslus nie, maar verlam en in ’n hospitaalsaal vasgevang. Dit was baie moeilik om my situasie te aanvaar. Ek het aanhou dink: ‘Watter nut het my lewe nou?’

José María het my kom besoek, en hy het gereël dat lede van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies my in die hospitaal kom besoek. Daardie gereelde besoeke het my hart geraak. Onmiddellik nadat ek uit die waakeenheid ontslaan is, het ek die Bybel begin studeer. Ek het die waarheid geleer oor waarom mense ly en doodgaan en waarom God toelaat dat slegte dinge gebeur. Ek het ook geleer oor God se beloftes vir die toekoms wanneer daar net volmaakte mense op die aarde sal wees en niemand ooit sal sê: “Ek is siek” nie (Jesaja 33:24). Vir die eerste keer in my lewe het ek ’n wonderlike hoop vir die toekoms gehad.

Toe ek uit die hospitaal ontslaan is, het ek vinnig in my studie van die Bybel gevorder. Met behulp van ’n spesiale rolstoel kon ek selfs party van die vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon en aan die predikingswerk deelneem. Op 5 November 1988, toe ek 20 jaar oud was, is ek in ’n spesiale bad gedoop. Jehovah God het my ’n hele nuwe uitkyk  op die lewe gegee. Maar wat kon ek doen om my waardering te toon?

BESIG IN JEHOVAH SE DIENS ONDANKS MY GESTREMDHEID

Ek was vasbeslote om nie toe te laat dat my toestand my verhinder om alles in my vermoë in Jehovah se diens te doen nie. Ek wou vordering maak (1 Timoteus 4:15). Aan die begin was dit nie maklik nie omdat my gesin teen my nuwe geloof gekant was. Maar ek het my medegelowiges gehad, wat my geestelike broers en susters was. Hulle het seker gemaak dat ek elke vergadering bywoon en dat ek gereeld aan die predikingswerk deelneem.

Maar met verloop van tyd het dit duidelik geword dat ek 24 uur per dag spesiale sorg nodig sou hê. Ek het lank gesoek en uiteindelik ’n gepaste sentrum vir gestremdes gevind in die stad Valencia, 160 kilometer noord van Alicante. Hierdie sentrum het my tuiste geword.

Hoewel ek bedlêend is, is ek vasbeslote om ander van my geloof te vertel

Hoewel ek bedlêend was, was ek vasbeslote om te volhard. Ek het my ongeskiktheidspensioen en ander toelae gebruik om ’n rekenaar te koop, wat ek langs my bed laat opstel het. Ek het ook ’n selfoon gekoop. Elke oggend skakel een van die versorgers my rekenaar en my selfoon aan. Ek gebruik die rekenaar met behulp van ’n beheerstok wat ek met my ken beheer. Ek het ook ’n spesiale staaf wat ek met my mond vashou. Dit maak dit vir my moontlik om die letters op ’n sleutelbord te tik en die syfers op my selfoon te druk.

Ek kan die syfers op my selfoon met ’n staaf druk

Hoe het hierdie tegnologie my gehelp? Ek gebruik dit hoofsaaklik om die webwerf jw.org te besoek en in die Wagtoring—AANLYN BIBLIOTEEK navorsing te doen. Watter wonderlike hulpmiddele is dit tog vir my! Ek bestee elke dag ure daaraan om Bybelpublikasies te bestudeer en navorsing daarin te doen sodat ek kan aanhou om kennis in te neem van God en sy wonderlike eienskappe. En wanneer ek ook al eensaam of ’n bietjie mismoedig voel, is daar altyd iets op die webwerf wat my opbeur.

My rekenaar laat my ook toe om na die gemeentelike vergaderinge te luister en daaraan deel te neem. Ek kan kommentaar lewer, bid, toesprake hou en selfs die voorlesing vir die Wagtoring-studie doen wanneer dit my beurt is. Hoewel ek nie die vergaderinge kan bywoon nie, voel ek nog steeds dat ek deel van die plaaslike gemeente is.

My selfoon en rekenaar stel my ook in staat om ’n volle aandeel aan die predikingswerk te hê. Ek kan wel nie van huis tot huis gaan soos die meeste van Jehovah se Getuies doen nie. Maar dit verhinder my nie. Ek gebruik hierdie toestelle om ander van my geloof te vertel. Trouens, ek geniet my telefoongesprekke soveel dat die plaaslike ouer manne my selfs gevra het om telefoongetuieniswerk in ons  gemeente te reël. Dit word baie deur huisgebonde lede van die gemeente waardeer.

Ek hou ’n Bybelstudie

Maar my lewe draai nie net om tegnologie nie. Dierbare vriende besoek my elke dag. Hulle bring familielede saam, asook ander wat in die Bybel belangstel. Dikwels vra hulle my selfs om die leiding in Bybelbesprekings te neem. Ander kere besoek ’n gesin my, en dan geniet ek saam met hulle gesinsaanbidding. Ek geniet dit veral wanneer jong kinders langs my bed sit en my vertel waarom hulle vir Jehovah lief is.

Ek geniet gesinsaanbidding saam met vriende

Ek waardeer dit dat so baie mense my besoek. My kamer is dikwels vol mense, aangesien vriende my van oraloor kom besoek. Soos jy jou kan voorstel, is die versorgers by die sentrum verbaas oor al hierdie liefdevolle aandag. Ek dank Jehovah elke dag omdat hy my toelaat om van so ’n wonderlike broederskap deel te wees.

EK GOOI NIE TOU OP NIE

Wanneer iemand my groet en my vra hoe dit gaan, sê ek eenvoudig: “Ek byt vas, ek het nog nie tou opgegooi nie!” Ek weet natuurlik dat ek nie alleen is in hierdie stryd nie. Wat ons omstandighede of beperkings ook al is, alle Christene is in ’n stryd—“die goeie stryd van die geloof” (1 Timoteus 6:12). Wat het my gehelp om so lank te volhard? Ek bid elke dag en dank Jehovah omdat hy my ’n doel in die lewe gegee het. Ek probeer ook om soveel as moontlik te doen in my diens aan God en hou my oë op die toekomstige hoop gerig.

José María

Ek dink dikwels aan die nuwe wêreld en hoe dit sal wees om weer te kan hardloop en te kan spring. Soms grap ek met my goeie vriend José María—wat aan polio ly—oor hoe ons nog eendag ’n maraton gaan hardloop. “Wie gaan wen?”, vra ek hom. “Dit maak nie saak wie wen nie”, antwoord hy. “Wat werklik saak maak, is om in die Paradys te wees om die maraton te hardloop.”

Dit was nie vir my maklik om te aanvaar dat ek gestremd is nie. Ek weet dat ek iets dwaas gedoen het toe ek ’n tiener was, en hiervoor het ek duur betaal. Maar ek is tog so dankbaar dat Jehovah my nie verlaat het nie. Hy het my soveel gegee—’n groot geestelike familie, die wil om te lewe, die vreugde om ander te help en ’n wonderlike hoop vir die toekoms. As ek my gevoelens in net een sin moet opsom, sal ek waarskynlik sê dat Jehovah my werklik meer gegee het as wat ek verdien.