Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOLG HULLE GELOOF NA | DEBORA

“Ek het as ’n moeder in Israel opgestaan”

“Ek het as ’n moeder in Israel opgestaan”

DEBORA het gekyk na die soldate wat op die berg Tabor om haar gestaan het. Om hulle daar te sien, het haar hart geroer. Sy het in die oggendlig gestaan en dink aan hulle dapperheid en die geloof van hulle leier, Barak. Hoewel daar 10 000 van hulle was, sou hulle geloof en moed werklik op hierdie dag getoets word. Hulle het op die punt gestaan om teen ’n wrede vyand op te trek, en hulle was in die minderheid en lig gewapen. Tog het hulle hierheen gekom—hoofsaaklik omdat hierdie vrou hulle bemoedig het.

Stel jou Debora voor, en hoe haar klere in die bries ritsel terwyl sy en Barak oor die uitgestrekte landskap uitkyk. Die berg Tabor het boontoe nouer geraak, en die top van die berg was plat. Dit was ongeveer 400 meter hoog, en van die piek af kon ’n mens die vlakte van Esdraelon sien, wat na die suidweste uitgestrek het. Die Kisonrivier het deur die grasvlakte gekronkel en by die berg Karmel in die Groot See uitgemond. Die rivierbedding was dalk wel daardie oggend droog, maar iets anders het op die breë vlakte geglinster. Sisera se leër het nadergekom, en hulle ysterwapens het dreigend in die sonlig geblink. Dit was die trots van Sisera se leër—900 strydwaens, wat moontlik ystersense gehad het wat weerskante by die as van elke strydwa uitgesteek het. Sisera wou die swak toegeruste Israeliete afmaai asof hy gars oes!

Debora het geweet dat Barak en sy manne op haar gewag het vir ’n bevel of ’n teken. Was sy die enigste vrou wat daar was? Hoe het sy gevoel oor die feit dat soveel verantwoordelikheid onder hierdie omstandighede op haar skouers gerus het? Het sy gewonder waarom sy daar was? Beslis nie! Jehovah, haar God, het vir haar gesê om hierdie oorlog te begin, en hy het ook aan haar geopenbaar dat hy ’n vrou sou gebruik om dit te beëindig (Rigters 4:9). Wat kan Debora en hierdie moedige krygsmanne ons omtrent geloof leer?

“GAAN, EN JY MOET JOU OOR DIE BERG TABOR VERSPREI”

Wanneer die Bybel Debora die eerste keer noem, verwys dit na haar as “’n profetes”. Hoewel daar nie baie vroue in die Bybel gemeld word wat profetesse was nie, was Debora beslis nie die enigste een nie. * Debora het nog ’n verantwoordelikheid gehad. Sy het blykbaar ook geskille opgelos deur Jehovah se antwoord te gee op probleme wat ontstaan het.—Rigters 4:4, 5.

Debora het in die bergagtige streek van Efraim, tussen die dorpe Bet-El en Rama, gewoon. Daar het sy onder ’n palmboom gesit en die volk gedien soos Jehovah haar gerig het. Debora se toewysing was ongetwyfeld ’n uitdaging, maar sy het nie toegelaat dat dit haar intimideer nie. Haar dienste was dringend nodig. Trouens, sy het later gehelp om ’n geïnspireerde lied te skryf, en dit het die volgende gesê omtrent die ontroue volk: “Hulle het nuwe gode gekies. Toe was daar oorlog in die poorte” (Rigters 5:8). Omdat die Israeliete Jehovah verlaat het om ander gode te dien, het Jehovah hulle aan hulle vyande oorgelewer. Die Kanaänitiese koning Jabin het hulle oorheers met behulp van ’n magtige generaal met die naam Sisera.

Sisera! Net sy naam het die Israeliete vrees- en paniekbevange gemaak. Die Kanaäniete se godsdiens en kultuur was wreed. Dit het kinderofferandes en tempelprostitusie ingesluit. Hoe was dit om onder die  beheer van ’n Kanaänitiese generaal en sy leër te lewe? Debora se lied openbaar dat dit byna onmoontlik was om in die land te reis en dat mense nie meer in dorpies gewoon het nie (Rigters 5:6, 7). Ons kan ons voorstel hoe mense in die woude en op die heuwels weggekruip het, te bang om te boer of in dorpe sonder mure te woon en doodbang om op die paaie te reis indien hulle aangeval, hulle kinders ontvoer en hulle vrouens verkrag sou word. *

Die Israeliete het 20 jaar lank onder ’n skrikbewind gelewe, totdat Jehovah bewyse gesien het dat sy hardkoppige volk gereed was om te verander, of soos die geïnspireerde lied van Debora en Barak sê: “Totdat ek, Debora, opgestaan het, totdat ek as ’n moeder in Israel opgestaan het.” Ons weet nie of Debora, wie se man se naam Lappidot was, in letterlike sin ’n moeder was nie, maar hier word die uitdrukking figuurlik gebruik. Jehovah het Debora die toewysing gegee om moederlike beskerming aan die nasie te voorsien. Hy het haar die opdrag gegee om ’n sterk man van geloof, die rigter Barak, te laat roep en vir hom te sê om teen Sisera op te trek.—Rigters 4:3, 6, 7; 5:7.

Debora het Barak aangespoor om as verlosser van God se volk op te tree

“Gaan, en jy moet jou oor die berg Tabor versprei”, het Jehovah deur middel van Debora beveel. Barak moes 10 000 manne uit twee van Israel se stamme byeenroep. Debora het hom vertel van God se belofte dat hulle die magtige Sisera en sy 900 strydwaens sou verslaan! Die belofte het Barak sekerlik dronkgeslaan, aangesien Israel nie ’n leër en feitlik geen wapens gehad het nie. Barak het nogtans ingestem om te gaan veg—maar net as Debora saam met hom na die berg Tabor sou gaan.—Rigters 4:6-8; 5:6-8.

Party het al gesê dat Barak ’n gebrek aan geloof gehad het, maar dit is ’n onregverdige beskuldiging. Hy het God immers nie vir nog wapens gevra nie. As ’n man van geloof het Barak eerder die waarde daarvan besef om Jehovah se verteenwoordiger daar te hê om hom en sy manne te versterk (Hebreërs 11:32, 33). Jehovah het gunstig gereageer. Hy het Debora toegelaat om te gaan, soos Barak gevra het. Maar Jehovah het haar ook geïnspireer om te voorspel dat die eer vir die oorwinning nie aan ’n man sou behoort nie (Rigters 4:9). God het besluit dat ’n vrou die goddelose Sisera sou teregstel!

In vandag se wêreld word vroue dikwels onregte aangedoen en moet hulle geweld en mishandeling verduur. Hulle word byna nooit met die waardigheid behandel waarmee God wou hê hulle behandel moes word nie. Maar in God se oë het mans en vroue gelyke waarde, en albei kan sy goedkeuring verkry (Romeine 2:11; Galasiërs 3:28). Debora se voorbeeld herinner  ons dat hy ook vroue met voorregte seën en toon dat hy hulle vertrou en dat hulle sy guns geniet. Dit is baie belangrik dat ons nie die vooroordele openbaar wat in hierdie wêreld so algemeen is nie.

“DIE AARDE [HET] GEBEWE; OOK HET DIE HEMEL GEDRUP”

Barak het sy leër byeengeroep. Hy het 10 000 manne bymekaargemaak wat dapper genoeg was om teen Sisera se magtige leër op te trek. Terwyl Barak sy manne teen die berg Tabor opgelei het, was hy ongetwyfeld bly dat hy ’n manier gevind het om hulle moed te gee. Ons lees: “Debora het saam met hom opgetrek” (Rigters 4:10). Stel jou voor hoe dit hierdie soldate aangemoedig het om te sien dat hierdie dapper vrou saam met hulle na die berg Tabor optrek en dat sy bereid is om ook haar lewe in gevaar te stel weens haar geloof in Jehovah God!

Toe Sisera uitvind dat Israel dit gewaag het om teen hom op te trek, het hy vinnig opgetree. ’n Aantal Kanaänitiese konings het ’n bondgenootskap met koning Jabin aangegaan, wat moontlik die magtigste onder hulle was. Sisera se magdom strydwaens het die aarde laat bewe terwyl hulle in formasie oor die vlakte aangejaag gekom het. Die Kanaäniete was seker dat hulle gou met Israel se patetiese leër sou afreken.—Rigters 4:12, 13; 5:19.

Wat sou Barak en Debora doen, aangesien die vyand nadergekom het? As hulle op die hange van die berg Tabor gebly het, sou hulle dalk die voordeel bo die naderende Kanaänitiese magte hê, want daardie strydwaens het gelyke grond nodig gehad om doeltreffend te veg. Maar Barak wou hê dat Jehovah hom in die stryd moes rig, en daarom het hy op Debora gewag. Uiteindelik het die oomblik aangebreek. Sy het gesê: “Staan op, want vandag sal Jehovah Sisera beslis in jou hand gee. Is dit nie Jehovah wat voor jou uitgetrek het nie?” Dan lees ons: “Barak het met tienduisend man agter hom aan teen die berg Tabor afgegaan.”—Rigters 4:14. *

Die Israelitiese soldate het teen die berg afgehardloop tot op die oop vlakte en reguit op daardie vreesaanjaende oorlogstuie afgestorm. Het Jehovah voor hulle uitgetrek, soos Debora belowe het? Die antwoord het baie vinnig bekend geword. “Die aarde [het] gebewe; ook het die hemel gedrup”, lees ons. Sisera se trotse magte is in verwarring gebring. En toe het dit begin reën! Die reën het in strome neergestort, en die oop vlakte het vinnig in ’n modderbad verander. Die swaar strydwaens met hulle ystersense was eerder ’n nadeel as ’n voordeel. Hulle het in die modder ingesink en heeltemal daarin vasgeval.—Rigters 4:14, 15; 5:4.

Die storm het Barak en sy manne nie gepla nie. Hulle het geweet waar dit vandaan kom. Hulle het reguit na die Kanaänitiese magte gehardloop. Die Israeliete het opgetree as God se skerpregters en al die manne in Sisera se leër doodgemaak. Die Kisonrivier het gestyg en oorstroom, en dit het die dooie lyke stroomaf na die Groot See toe weggespoel.—Rigters 4:16; 5:21.

Soos Debora voorspel het, het Jehovah vir sy volk geveg en Sisera se magte verslaan

Vandag stuur Jehovah nie meer sy knegte om oorlog te gaan voer nie. Maar hy vra sy volk wel om ’n geestelike oorlog te voer (Matteus 26:52; 2 Korintiërs 10:4). As ons probeer om God te gehoorsaam, neem ons ons standpunt in daardie oorlog in. Ons moet moedig wees, want diegene wat nou God se kant kies, sal dalk hewige teenstand ondervind. Maar Jehovah het nie verander nie. Hy verdedig nog steeds dié wat hulle geloof en vertroue in hom stel, soos Debora, Barak en die dapper soldate van eertydse Israel gedoen het.

“HOOGS GESEËND . . . ONDER DIE VROUE”

Een van die Kanaänitiese vyande het weggekom—Israel se grootste vyand! Sisera, wat God se volk so onderdruk het, het te voet van die slagveld af weggevlug. Hy het sy manne agtergelaat om in die modder te sterf en het die Israelitiese soldate ontwyk. Toe hy op vaste grond kom, het hy gevlug na die naaste bondgenoot waaraan hy kon dink. Hy het kilometers oor die oop vlaktes gehardloop, vreesbevange dat die Israelitiese soldate hom sou vind. Hy het na die tente van Heber gegaan, ’n Keniet wat die res van sy rondtrekkende volk na die suide agtergelaat het en ’n ooreenkoms met koning Jabin gehad het.—Rigters 4:11, 17.

 Sisera het uitgeput by Heber se kamp aangekom. Heber was nie by die huis nie, maar sy vrou, Jael, was daar. Sisera het blykbaar aangeneem dat Jael haar man se ooreenkoms met koning Jabin sou eer. Dalk was dit vir hom ondenkbaar dat ’n vrou anders as haar man kon optree of selfs anders as hy kon dink. Dit is duidelik dat Sisera Jael nie geken het nie! Sy het ongetwyfeld die goddeloosheid van die Kanaänitiese onderdrukking in die land gesien; sy het waarskynlik ook gesien dat sy ’n keuse moet maak. Sy kon hierdie goddelose man help of sy kon haar aan Jehovah se kant skaar en hierdie vyand van Sy volk ’n slag toedien. Maar hoe? Hoe kon ’n vrou so ’n sterk, geharde krygsman verslaan?

Jael moes vinnig dink. Sy het Sisera ’n plek aangebied om te rus. Hy het haar beveel om nie vir enigiemand wat na hom kom soek, te sê dat hy daar is nie. Toe hy gaan lê, het sy hom toegemaak, en toe hy vir water vra, het sy vir hom romerige melk gegee. Sisera het vinnig in ’n diep slaap verval. Jael het toe ’n paar huishoudelike items geneem wat tentbewoners dikwels en met vaardigheid gebruik het—’n tentpen en ’n hamer. Sy het naby Sisera se kop gaan hurk en moes die vreesinboesemende taak verrig om as Jehovah se skerpregter op te tree. Selfs ’n oomblik van onsekerheid of huiwering kon rampspoedig gewees het. Het sy gedink aan God se volk en hoe hierdie man hulle dekades lank wreed behandel het? Of het sy gedink aan die voorreg wat sy het om haar aan Jehovah se kant te skaar? Die verslag sê nie. Ons weet net dat sy vinnig opgetree het. Sy het Sisera doodgemaak!—Rigters 4:18-21; 5:24-27.

Barak het later sy prooi kom soek. Toe Jael hom die lyk gewys het met die tentpen deur die slape, het hy geweet dat Debora se profesie waar geword het. ’n Vrou het die magtige krygsman Sisera doodgemaak! Mense wat vandag oor hierdie verslag kritiek lewer en daaroor skepties is, het Jael al allerhande lelike name genoem, maar Barak en Debora het haar optrede goedgekeur. In hulle geïnspireerde lied het hulle Jael vir haar moedige daad geprys en gesê dat sy “hoogs geseënd . . . onder die vroue” is (Rigters 4:22; 5:24). Let op hoe groothartig Debora was. Sy het Jael nie beny omdat sy so geprys is nie; al wat vir haar belangrik was, was dat Jehovah se woord vervul is.

Sonder Sisera was koning Jabin nie meer vir die Israeliete ’n bedreiging nie. Die Kanaänitiese onderdrukking was uiteindelik verby. Daar was 40 jaar lank vrede (Rigters 4:24; 5:31). Hoe geseënd was Debora, Barak en Jael tog omdat hulle in Jehovah God geloof gestel het! As ons die geloof van Debora navolg deur ons moedig aan Jehovah se kant te skaar en ander aan te spoor om dit ook te doen, sal Jehovah ons seën met oorwinnings—en blywende vrede.

^ par. 7 Ander profetesse het Mirjam, Hulda en die vrou van Jesaja ingesluit.—Eksodus 15:20; 2 Konings 22:14; Jesaja 8:3.

^ par. 9 Die lied van Debora dui aan dat Sisera se buit, wanneer hy van militêre veldtogte teruggekeer het, meisies ingesluit het, soms meer as een meisie vir elke soldaat (Rigters 5:30). Die woord “moederskoot” wat in hierdie vers gebruik word, toon dat daardie vroue hoofsaaklik waarde gehad het weens hulle voortplantingsorgane. Verkragting was waarskynlik iets algemeens.

^ par. 17 Die stryd wat gevolg het, word twee keer in die Bybel beskryf—in die geskiedkundige verslag van Rigters hoofstuk 4 en in die lied van Debora en Barak in hoofstuk 5. Die twee verslae vul mekaar aan, en elkeen voorsien besonderhede wat nie in die ander genoem word nie.