Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe is handmeule in die ou tyd gebruik?

Handmeule is gebruik om graan tot meel te maal wat vir brood gebruik is. In feitlik elke huisgesin is sulke meule daagliks deur die vroue of knegte gebruik. In die ou tyd was die geluid van ’n handmeul deel van die daaglikse lewe.—Eksodus 11:5; Jeremia 25:10.

Artefakte van eertydse Egipte toon hoe die proses gewerk het. Graan is geplaas op ’n horisontale klip wat effens holrond was en soms ’n saalhandmeul genoem is. Die maler het voor die handmeul gekniel terwyl hy ’n kleiner meulsteen met albei hande vasgehou het. Dan het hy dit vorentoe en agtertoe oor die horisontale oppervlak beweeg om die graan te maal. Volgens een bron het sulke meulstene tussen twee en vier kilogram geweeg. Dit kon dodelik wees as dit as ’n wapen gebruik is.—Rigters 9:50-54.

Om graan te maal was so noodsaaklik vir die welsyn van ’n gesin dat ’n Bybelwet verbied het dat ’n meulsteen as pand geneem kan word. “Niemand mag ’n handmeul of die boonste maalklip daarvan as pand neem nie, want dan neem hy ’n siel as pand”, sê Deuteronomium 24:6.

Waarna verwys die woord “boesemposisie”?

Die Bybel sê dat Jesus “in die boesemposisie by die Vader is” (Johannes 1:18). Hierdie woord dui op die besonder hegte verhouding wat Jesus met God het en die feit dat hy sy guns geniet. Dit verwys ook na die gebruik wat die Jode gevolg het wanneer hulle saam geëet het.

In Jesus se dag het die Jode op banke gelê wat rondom die eettafel geplaas is. Elke gas was in so ’n liggaamsposisie dat sy gesig na die tafel en sy voete weg van die tafel af gewys het, terwyl hy op sy linkerelmboog op ’n kussing geleun het. Hierdie posisie het dit vir hom moontlik gemaak om sy regterhand te gebruik. Aangesien al die mense aan tafel op hulle linkerkant gelê het, die een langs die ander, “was die kop van een man na aan die borskas van die man wat agter hom gelê het”, verduidelik een bron, “en daarom was daar gesê dat hy ‘in die boesem lê’ van die ander”.

Om in die boesem van ’n gesinshoof of die gasheer van ’n feesmaal te lê, is as ’n spesiale eer en voorreg beskou. By Jesus se laaste Pasga was dit dus “die dissipel . . . vir wie Jesus lief was”, die apostel Johannes, wat in Jesus se boesem gelê het. Johannes kon dus ‘teen Jesus se bors terugleun’ om hom ’n vraag te vra.—Johannes 13:23-25; 21:20.