Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOORBLADONDERWERP | WAT JY OMTRENT ANGSTIGHEID KAN DOEN

Angstigheid oor jou gesin

Angstigheid oor jou gesin

“Kort ná my pa se dood het my man vir my gesê dat hy in ’n verhouding is met ’n ander vrou”, sê Janet. “’n Rukkie daarna het hy, sonder om ons te waarsku of te groet, sy goed gepak en my en ons twee kinders verlaat.” Janet het ’n werk gekry, maar haar salaris was so klein dat sy nie hulle huis kon bekostig nie. En sy het nie net finansiële bekommernisse gehad nie. “Die angstigheid oor al die nuwe verantwoordelikhede wat ek nou alleen moes hanteer, was oorweldigend”, sê sy. “Ek het skuldig gevoel dat ek nie vir my kinders kon gee wat ander ouers vir hulle kinders kan gee nie. Ek is nou nog bekommerd oor wat ander van my en my kinders dink. Hulle wonder dalk of ek alles in my vermoë gedoen het om my huwelik te red.”

Janet

Gebed help Janet om haar gevoelens onder beheer te hou en haar vriendskap met God op te bou. “Die aande is die moeilikste, wanneer alles so stil is en my kommergedagtes my teister. Om te bid en die Bybel te lees, help my om te slaap. Een van my gunstelingtekste is Filippense 4:6, 7: ‘Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak.’ Ek het baie nagte in gebed deurgebring en het gevoel hoe Jehovah se vrede my vertroos.”

Jesus se gerusstellende woorde oor gebed in sy Bergpredikasie is van toepassing op alle soorte bekommernisse: “Julle Vader weet watter dinge julle nodig het nog voordat julle hom vra” (Matteus 6:8). En tog moet ons hom vra. Gebed is die vernaamste manier waarop ons ‘nader aan God kan kom’. Wat gebeur as ons dit doen? “Hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.

 Ja, gebed doen meer as om ons net beter te laat voel omdat ons ons bekommernis uitgespreek het. Jehovah, die “Hoorder van . . . gebed”, tree op ten behoewe van almal wat hom in geloof soek (Psalm 65:2). Daarom het Jesus sy volgelinge geleer om “altyd te bid en nie moed op te gee nie” (Lukas 18:1). Ons moet aanhou om God te vra vir sy leiding en hulp en die vertroue hê dat hy ons vir ons geloof sal beloon. Ons hoef nooit te twyfel dat hy wil optree en dit kan doen nie. Om ‘onophoudelik te bid’, toon dat ons ware geloof het.—1 Tessalonisense 5:17.

WAT DIT WERKLIK BETEKEN OM GELOOF TE HÊ

Maar wat is geloof werklik? Om ons geloof op te bou, moet ons “kennis inneem van” God en hom as ’n persoon leer ken (Johannes 17:3). Ons doen dit eerstens deur God se denke ons eie te maak deur die Bybel te bestudeer. Ons leer dat hy elkeen van ons raaksien en wil help. Maar ware geloof behels meer as om net iets omtrent God te weet. Dit beteken ook om sy vriend te wees en hom te respekteer. Soos in die geval van ons vriendskappe met mense, kan ons so ’n band nie oornag smee nie. Ons geloof sal met verloop van tyd “toeneem” namate ons meer van God leer, “die dinge doen wat hom behaag” en sy daadwerklike hulp ondervind (2 Korintiërs 10:15; Johannes 8:29). Dit is die soort geloof wat Janet help om minder angstig te voel.

“Wat my werklik gehelp het om my geloof op te bou, was om heeltyd te sien hoe Jehovah my help”, sê Janet. “Baie keer moes ons onregverdige situasies verduur wat gevoel het asof dit ondraaglik is. Ek het baie gebid, en Jehovah het ons altyd ’n uitweg gegee wat ek nooit op my eie sou kon vind nie. Wanneer ek hom bedank, laat dit my dink aan hoeveel hy vir my gedoen het. Hy het ons altyd op die regte tyd gehelp, dikwels net betyds. En hy het my goeie vriende gegee wat ware Christenmans en -vroue is. Hulle is altyd daar wanneer ek hulle nodig het en is goeie voorbeelde vir my kinders.” *

“Ek weet waarom Jehovah in Maleagi 2:16 sê dat hy ‘egskeiding haat’. Vir ’n onskuldige huweliksmaat is dit die grootste skending van vertroue. Jare het verbygegaan sedert my man ons verlaat het, maar soms voel ek nog steeds ’n leemte. Wanneer ek so voel, probeer ek om iemand anders te help, en dit help my ook.” Deur sodoende die Bybelbeginsel toe te pas om haar nie af te sonder nie, verminder Janet haar angstigheid.—Spreuke 18:1. *

God is “’n vader van vaderlose seuns en ’n regter van weduwees”.—Psalm 68:5

“Ek put die grootste vertroosting uit die wete dat God ‘’n vader van vaderlose seuns en ’n regter van weduwees’ is”, sê Janet. “Hy sal ons nooit verlaat soos my man ons verlaat het nie” (Psalm 68:5). Janet weet dat God ons nie “met bose dinge” toets nie. Inteendeel, hy gee ‘mildelik aan almal’ wysheid en gee ons “krag wat bo die normale is” om ons te help om minder angstig te voel.—Jakobus 1:5, 13; 2 Korintiërs 4:7.

Maar sê nou ons is angstig omdat ons lewe in gevaar is?

^ par. 10 Vir nog praktiese wenke oor hoe om minder angstig te voel, sien die voorbladreeks “Is jy in beheer van jou lewe?” in die Ontwaak! van Julie 2015 wat beskikbaar is op www.jw.org/af.