Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOLG HULLE GELOOF NA | JOSEF

“Is ek in die plek van God?”

“Is ek in die plek van God?”

JOSEF het in sy tuin gestaan terwyl die son sak. Dalk het hy dadelpalms en ander vrugtebome gesien, asook poele met waterplante en, net anderkant die muur, ’n deel van Farao se paleis. Verbeel jou dat Josef die bedrywigheid in sy eie huis in die agtergrond kon hoor; sy seuns, Manasse en Efraim, wat saamspeel en lag. Josef kon hom die toneel in die huis voorstel; sy vrou wat saggies lag vir die seuns se manewales. Hy het geglimlag. Hy het geweet dat hy geseënd is.

Josef het sy eersgeborene die naam Manasse gegee omdat dit na vergeetagtigheid verwys het (Genesis 41:51). Die manier waarop God hom in onlangse jare geseën het, het sekerlik die pyn verlig wat Josef ondervind het wanneer hy gedink het aan sy tuiste, sy broers en sy vader. Sy ouer broers se haat vir hom het sy lewe verander. Hulle het hom aangerand, dit oorweeg om hom dood te maak en hom toe as ’n slaaf aan reisende handelaars verkoop. Van toe af het sy lewe die een onvoorspelbare wending ná die ander geneem. Hy was om en by twaalf jaar lank ’n slaaf en in die tronk—’n tyd lank in ysterboeie. Maar nou was hy, naas Farao, die magtigste man in die nasie Egipte! *

Deur die jare heen het Josef gesien dat sake verloop het net soos Jehovah voorspel het. Die voorspelde sewe jaar van oorvloedige oeste was byna verby, en Josef het toegesien dat die nasie se oortollige graan gestoor word. Gedurende daardie tyd het hy twee seuns by sy vrou, Asenat, gehad. Nogtans het hy dikwels gedink aan sy familie, wat honderde kilometers daarvandaan was—veral sy jonger broer, Benjamin, en hulle dierbare vader, Jakob. Josef het dalk gewonder of dit met hulle goed gaan en of hulle veilig is. Hy het moontlik ook gewonder of sy ouer broers hulle gewelddadige gedrag verander het en of hy ooit sy verhouding met sy familie kon herstel en met hulle verenig kon word.

As die vrede in jou familie al ooit versteur is deur jaloesie, verraad of haat, het jy dalk iets in gemeen met Josef. Wat kan ons leer uit die geloof wat Josef geopenbaar het terwyl hy vir sy familie gesorg het?

“GAAN NA JOSEF TOE”

Josef se dae was besig, en die jare het verbygevlieg. Net soos Jehovah voorspel het in die droom wat hy Farao gegee het, het ’n drastiese verandering ná die sewende jaar van oorvloedige oeste plaasgevind. Die oeste het misluk! Kort voor lank is al die buurlande deur hongersnood bedreig. Maar die Bybel sê: “In die hele Egipteland is daar brood gevind” (Genesis 41:54). Die Egiptiese volk het ongetwyfeld baat gevind by Josef se geïnspireerde voorspelling en die feit dat hy dinge so goed georganiseer het.

Omdat Josef nederig gebly het, kon Jehovah aanhou om hom te gebruik

Die Egiptenaars het moontlik gevoel dat hulle baie aan Josef verskuldig is en hom geprys vir sy vermoë om te organiseer. Maar Josef sou wou gehad het dat sy God, Jehovah, alleen die lof hiervoor moes ontvang. As ons enige gawes wat ons het, in nederige diens aan ons God gebruik, kan hy dit gebruik op maniere wat ons ons nooit sou kon voorstel nie.

 Maar ná verloop van tyd het die Egiptenaars ook die gevolge van die hongersnood begin voel. Toe hulle by Farao om hulp geroep het, het hy eenvoudig vir hulle gesê: “Gaan na Josef toe. Wat hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” Toe het Josef die graanskure begin oopmaak waarin die oortollige graan gehou is, en die volk kon koop wat hulle nodig gehad het.—Genesis 41:55, 56.

Die mense in die omliggende lande was egter nie so bevoorreg nie. Josef se familie, wat honderde kilometers van Kanaän af gewoon het, het gely. Die bejaarde Jakob het gehoor dat daar in Egipte graan is, en hy het dus vir sy seuns gesê om soontoe te gaan om kos te gaan koop.—Genesis 42:1, 2.

Jakob het tien seuns gestuur, maar nie die jongste seun, Benjamin, nie. Hy het alte goed die keer onthou toe hy sy geliefde Josef alleen gestuur het om sy ouer broers te besoek. Dit was die laaste keer dat Jakob die seun gesien het. Die ouer seuns het Josef se deftige kleed—’n blyk van sy vader se liefde en agting—geskeur en vol bloed huis toe gebring. Hulle het die bedroefde ou man laat glo dat Josef deur wilde diere verslind is.—Genesis 37:31-35.

‘JOSEF HET ONMIDDELLIK ONTHOU’

Ná ’n lang reis het Jakob se seuns Egipte bereik. Toe hulle gevra het waar hulle graan kon koop, is hulle na ’n hooggeplaaste staatsamptenaar met die amptelike naam Safenat-Paneag gestuur (Genesis 41:45). Het hulle geweet, toe hulle hom sien, dat dit Josef is? Glad nie. Hulle het net ’n hooggeplaaste Egiptiese heerser gesien wie se hulp hulle nodig het. Om respek te toon, het hulle gedoen wat natuurlik was—hulle het “laag voor hom gebuig met hulle gesig na die aarde”.—Genesis 42:5, 6.

Wat van Josef? Hy het sy broers onmiddellik herken! Wat meer is, toe hy hulle daar voor hom sien neerbuig, het dit hom laat dink aan sy kinderdae. Die verslag sê vir ons dat ‘Josef onmiddellik die drome onthou het’ wat Jehovah hom gegee het toe hy maar net ’n seun was; drome wat ’n tyd voorspel het wanneer sy broers hulle laag voor hom sou neerbuig—presies soos wat nou gebeur het! (Genesis 37:2, 5-9; 42:7, 9). Wat sou Josef doen? Hulle omhels? Wraak neem?

Josef het geweet dat hy nie impulsief moet optree nie. Dit was duidelik dat Jehovah hierdie merkwaardige verloop van gebeure gerig het. Sy voorneme was daarby betrokke. Hy het belowe om van Jakob se nakomelinge ’n magtige nasie te maak (Genesis 35:11, 12). As Josef se broers nog steeds gewelddadige, selfsugtige en gewetenlose mans was, kon die langtermynuitwerking rampspoedig wees! En as Josef impulsief sou optree, kon hy moontlik die een of ander delikate balans by die huis versteur, wat dalk selfs sy vader en Benjamin in gevaar kon stel. Het hulle selfs nog gelewe? Josef het besluit om nie vir hulle te sê wie hy is nie, sodat hy sy broers kon toets en kon sien watter soort mense hulle geword het. Miskien sou hy dan weet wat Jehovah wil hê hy moet doen.

Jy sal jou waarskynlik nooit in daardie ongewone situasie bevind nie. Maar in vandag se wêreld  is stryery en onenigheid in die familie iets algemeens. Wanneer ons voor sulke uitdagings te staan kom, is ons dalk geneig om eenvoudig ons hart te volg en op ons onvolmaakte gevoelens te reageer. Dit is baie verstandiger om Josef na te volg en te probeer onderskei hoe God wil hê ons sake moet hanteer (Spreuke 14:12). Onthou, al is dit belangrik om met familielede vrede te maak, is vrede met Jehovah en sy Seun selfs noodsaakliker.—Matteus 10:37.

‘JULLE SAL GETOETS WORD’

Josef het ’n aantal toetse uitgedink om te sien watter soort persone sy broers geword het. Hy het begin deur hard met hulle te praat, deur middel van ’n tolk, en hulle daarvan te beskuldig dat hulle spioene van ’n ander land af is. In hulle verdediging het hulle hom vertel van hulle familie—insluitende die belangrike feit dat hulle ’n jonger broer by die huis het. Josef het sy opwinding probeer wegsteek. Het sy jonger broer werklik gelewe? Nou het Josef geweet hoe om voort te gaan. Hy het gesê: “Hieraan sal julle getoets word”, en toe het hy vir hulle gesê dat hy hierdie jonger broer moet sien. Ná ’n paar dae het hy hulle huis toe laat terugkeer om die jongste broer te gaan haal as een van hulle sou instem om as ’n gyselaar agter te bly.—Genesis 42:9-20.

Toe die broers sake bespreek het, sonder dat hulle bewus was dat Josef hulle kon verstaan, het hulle hulle verwyt vir die verskriklike sonde wat hulle 20 jaar tevore gepleeg het. “Ons is ongetwyfeld skuldig met betrekking tot ons broer”, het hulle gesê, “want ons het die benoudheid van sy siel gesien toe hy ons om medelye gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Daarom het hierdie benoudheid oor ons gekom.” Josef het verstaan wat hulle gesê het, en hy moes van hulle af wegdraai sodat hulle nie sy trane kon sien nie (Genesis 42:21-24). Maar hy het geweet dat ware berou baie meer behels as om net spyt te voel oor die gevolge van ’n goddelose daad. En daarom het hy met sy toets voortgegaan.

Hy het hulle huis toe gestuur en Simeon as ’n gevangene gehou. Hy het ook geld laat wegsteek in die kossakke wat hulle saamgeneem het. Die broers het teruggekeer huis toe en het Jakob met moeite oortuig om sy geliefde Benjamin saam met hulle na Egipte te laat gaan. Toe hulle in Egipte aangekom het, het hulle die bestuurder van Josef se huishouding openlik vertel van die geld wat hulle in hulle sakke gevind het en aangebied om die volle bedrag terug te betaal. Maar al was hierdie optrede bewonderenswaardig, wou Josef meer uitvind omtrent hulle ware karakter. Hy het vir hulle ’n fees voorberei en kon skaars sy emosies wegsteek toe hy Benjamin sien. Daarna het hy hulle huis toe gestuur, weer met baie kos, maar hierdie keer het hy ’n silwerbeker in Benjamin se sak laat wegsteek.—Genesis 42:26–44:2.

Toe het Josef sy plan deurgevoer. Hy het sy broers agterna laat sit, in hegtenis laat neem en hulle daarvan laat beskuldig dat hulle die beker gesteel het. Toe dit in Benjamin se sak gevind is, is hulle almal na Josef teruggebring. Nou was dit Josef se kans om te sien watter soort mense sy broers was. Juda het as hulle woordvoerder opgetree. Hy het om genade gesmeek en selfs gesê dat al 11 van hulle bereid is om slawe in Egipte te word. Josef het geantwoord dat net Benjamin as ’n slaaf in Egipte moet bly, maar dat die res van hulle moet gaan.—Genesis 44:2-17.

Juda het met emosiebelaaide woorde geantwoord. “Net hy [het] van sy moeder oorgebly . . . , en sy vader het hom werklik lief”, het Juda gesê. Hierdie woorde moes Josef se hart geraak het, want hy was die ouer seun van Jakob se geliefde vrou Ragel, wat gesterf het terwyl sy aan Benjamin geboorte gegee het. Soos sy vader, het Josef ongetwyfeld herinneringe van Ragel gekoester. Dalk het die feit dat hulle dieselfde moeder gehad het, Benjamin nog meer geliefd gemaak by Josef.—Genesis 35:18-20; 44:20.

Toe het Juda Josef gesmeek om Benjamin nie as slaaf te neem nie. Hy het selfs aangebied om in Benjamin se plek ’n slaaf te word. Toe het hy met hierdie hartverskeurende woorde gepleit: “Hoe kan ek na my vader toe optrek sonder dat die seun by my is, uit vrees dat ek dan die rampspoed sal aanskou wat my vader sal tref?” (Genesis 44:18-34).  Dit was beslis ’n bewys van ’n man wat verander het. Hy het nie net ’n berouvolle gees geopenbaar nie, maar ook ’n indrukwekkende mate van empatie, onselfsugtigheid en medelye.

Josef het gesien dat sy broers spyt was oor wat hulle aan hom gedoen het

Josef kon nie langer uithou nie. Hy moes eenvoudig uiting gee aan die emosies wat in hom opgekrop het. Hy het al sy huisknegte uitgestuur en so hard gehuil dat Farao dit in sy paleis kon hoor. Toe het hy uiteindelik vir hulle gesê wie hy is. “Ek is julle broer Josef”, het hy gesê. Sy broers was verstom, maar hy het hulle omhels en liefdevol getoon dat hy hulle vergewe het vir alles wat hulle aan hom gedoen het (Genesis 45:1-15). Sodoende het hy ’n gesindheid weerspieël soos dié van Jehovah, wat vryelik vergewe (Psalm 86:5). Doen ons dit ook?

‘JY LEWE NOG’!

Toe Farao die hele verhaal agter die opskudding in Josef se huis gehoor het, het hy gesê dat Josef sy bejaarde vader, tesame met die hele familie, na Egipte kan oorbring. ’n Ruk daarna is Josef uiteindelik met sy geliefde vader verenig. Jakob het gehuil en gesê: “[Nou] is ek bereid om te sterf, noudat ek jou aangesig gesien het, aangesien jy nog lewe.”—Genesis 45:16-28; 46:29, 30.

Trouens, Jakob het nog 17 jaar lank in Egipte gelewe. Hy het lank genoeg gelewe dat hy profetiese seëninge oor sy 12 seuns kon uitspreek. Aan Josef, sy 11de seun, het hy die dubbele porsie gegee wat die eersgeborene gewoonlik toegekom het. Twee van Israel se stamme sou van hom afstam. En wat van Juda, die vierde seun, wat bo sy broers uitgeblink het toe hy so ’n berouvolle gees getoon het? Hy het ’n groot seën ontvang: Die Messias sou deur sy geslagslyn kom!—Genesis hoofstuk 48 en 49.

Toe Jakob op die ouderdom van 147 gesterf het, het Josef se broers gevrees dat hulle broer, wat nou ’n magtige heerser was, wraak sou wou neem. Maar Josef het hulle liefdevol gerusgestel. Hy het al lank tevore vir hulle gesê dat hulle nie meer moet sleg voel oor wat gebeur het nie, aangesien Jehovah die familie se trek na Egipte bewerkstellig het. Nou het hy hulle hierdie merkwaardige vraag gevra: “Is ek in die plek van God?” (Genesis 15:13; 45:7, 8; 50:15-21). Josef het Jehovah as die volmaakte Regter beskou. Hy het nie gevoel dat hy die reg het om diegene te straf wat Jehovah vergewe het nie.—Hebreërs 10:30.

Het jy dit al ooit moeilik gevind om iemand te vergewe? Dit kan veral moeilik wees as iemand ons opsetlik leed aangedoen het. Maar as ons diegene wat werklik berouvol is, uit die hart vergewe, sal dit help om baie wonde te genees—insluitende ons eie. En ons sal Josef se geloof en die voorbeeld van sy barmhartige Vader, Jehovah, navolg.

^ par. 4 Sien die “Volg hulle geloof na”-artikels in Die Wagtoring van 1 Augustus 2014, 1 November 2014 en 1 Februarie 2015.