Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

’n Antieke skat word uit die rommel gered

’n Antieke skat word uit die rommel gered

WAT kom by jou op as jy aan ’n ashoop dink? Jy dink waarskynlik aan vullis en ’n slegte reuk. Jy sal beslis nie verwag om iets waardevols daar te vind nie, veral nie ’n kosbare skat nie.

Maar ’n eeu gelede is iets wat deur baie as ’n skat beskou word, juis op so ’n plek gevind—in die rommel. Die skat was nie ’n letterlike juweel nie, maar tog was dit baie waardevol. Watter soort skat is ontdek? Waarom is dit vandag vir ons belangrik?

’N ONVERWAGSE ONTDEKKING

Aan die begin van die 20ste eeu het Bernard P. Grenfell en Arthur S. Hunt, vakkundiges aan die Universiteit van Oxford, Egipte besoek. Daar, tussen die vullishope naby die Nylvallei, het hulle ’n aantal papirusfragmente ontdek. Later, in 1920, terwyl die twee kollegas besig was om ’n katalogus van die versameling saam te stel, het Grenfell ’n paar ander fragmente bekom wat in Egipte opgegrawe is. Hy het dit namens die John Rylands-biblioteek in Manchester, Engeland, verkry. Albei mans is egter dood voordat die katalogus voltooi is.

Colin H. Roberts, ’n ander vakkundige by die Universiteit van Oxford, het dit voltooi. Terwyl hy die fragmente gesorteer het, het hy ’n papirusfragment gevind wat 9 by 6 sentimeter groot was. Tot sy verbasing kon hy van die Griekse woorde daarop verstaan. Aan die een kant was daar woorde wat geneem is uit Johannes 18:31-33, en aan die ander kant was daar gedeeltes van vers 37 en 38. Roberts het besef dat hy op ’n kosbare skat afgekom het.

HOE OUD WAS DIT?

Roberts het vermoed dat hierdie papirusfragment baie oud was. Maar hoe oud? Om uit te vind, het hy die handskrif daarop vergelyk met ander antieke manuskripte waarvan die ouderdom bekend is—’n studierigting wat paleografie genoem word. * Deur hierdie metode te gebruik, kon hy bepaal ongeveer hoe oud dit is. Maar hy wou seker wees. Hy het dus ’n foto van die fragment geneem, kopieë daarvan aan drie papiroloë gestuur en hulle gevra om die ouderdom daarvan vas te stel. Tot watter slotsom het hierdie deskundiges gekom?

Deur die styl van die skrif en die hale daarvan te bestudeer, het al drie deskundiges tot die slotsom gekom dat die teks op die fragment geskryf is in die eerste helfte van die tweede eeu HJ—net ’n paar dekades ná die apostel Johannes se dood! Maar paleografie is nie ’n onfeilbare metode om manuskripte se ouderdom te bepaal nie, en ’n ander geleerde beweer dat die teks enige tyd gedurende die tweede eeu geskryf kon gewees het. Nogtans was—en is—hierdie klein stukkie papirus die oudste bestaande fragment van ’n manuskrip van die Christelike Griekse Geskrifte wat nog ooit gevind is.

WAT LEER ONS UIT DIE RYLANDS-FRAGMENT?

Waarom is hierdie fragment van Johannes se Evangelie vandag so belangrik vir liefhebbers van die Bybel? Om ten minste twee redes. Eerstens, die formaat van die fragment gee ons insig in hoeveel waardering die vroeë Christene vir die Skrif gehad het.

Waarom is hierdie fragment van Johannes se Evangelie vandag so belangrik vir liefhebbers van die Bybel?

In die tweede eeu HJ was geskrewe teks beskikbaar  in twee formate—die boekrol en die kodeks. Boekrolle het bestaan uit stukke papirus of perkament wat aanmekaarvasgeplak of -vasgewerk is om een lang vel te vorm. Hierdie vel kon dan opgerol en uitgerol word, wanneer nodig. In die meeste gevalle is daar net op die een kant van ’n boekrol geskryf.

Maar die klein fragment wat Roberts ontdek het, het skrif aan albei kante. Dit dui aan dat dit deel van ’n kodeks was, nie ’n boekrol nie. ’n Kodeks het bestaan uit velle perkament of papirus wat aanmekaarvasgewerk is en gevou is sodat dit soos ’n boek lyk.

In watter opsig was ’n kodeks beter as ’n boekrol? Wel, die vroeë Christene was predikers (Matteus 24:14; 28:19, 20). Hulle het die Bybel se boodskap verkondig waar hulle ook al mense kon vind—by die huis, op die markpleine en op straat (Handelinge 5:42; 17:17; 20:20). Dit was dus baie praktieser om die Skrif in ’n kompakte formaat te hê.

Die kodeks het dit ook vir gemeentes en individue makliker gemaak om hulle eie kopie van die Skrif te maak. Die Evangelies is dus oor en oor gekopieer, en dit het ongetwyfeld bygedra tot die vinnige groei van die Christelike godsdiens.

Die rylands-fragment voor- en agterkant

Nog ’n rede waarom die Rylands-fragment vandag vir ons belangrik is, is omdat dit bewys hoe noukeurig die oorspronklike Bybelteks gekopieer is. Hoewel die fragment net ’n paar verse van Johannes se Evangelie bevat, stem die inhoud daarvan amper presies ooreen met wat ons vandag in ons eie Bybel lees. Die Rylands-fragment toon dus dat die Bybel nie verander is nie, al is dit deur die jare heen oor en oor gekopieer.

Die Rylands-fragment van Johannes se Evangelie is natuurlik net een bewysstuk onder die duisende fragmente en manuskripte wat bevestig dat die Bybel se oorspronklike teks noukeurig gekopieer is. In sy boek The Bible as History, kom Werner Keller tot die slotsom: “Hierdie ou [manuskripte] ruim alle twyfel uit die weg oor die egtheid en betroubaarheid van die teks wat vandag in ons Bybels is.”

Christene se geloof is wel nie op argeologiese vondse gebaseer nie. Hulle glo dat “die hele Skrif . . . deur God geïnspireer [is]” (2 Timoteus 3:16). Hoe gerusstellend is dit nogtans wanneer kosbare skatte uit die verlede bevestig wat die Bybel nog altyd gesê het: “Die woord van Jehovah bly vir ewig”!—1 Petrus 1:25.

^ par. 8 Volgens die boek Manuscripts of the Greek Bible is paleografie “die wetenskaplike studie van eertydse skrif”. Die manier waarop mense skryf, verander met verloop van tyd. Hierdie veranderinge kan aandui hoe oud ’n manuskrip is as dit vergelyk word met ander dokumente waarvan die ouderdom op betroubare wyse bepaal is.