Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Geskenke wat geskik is vir ’n koning

Geskenke wat geskik is vir ’n koning

“Sterrewiggelaars uit oostelike streke [het] hulle skatte oopgemaak en vir hom geskenke gegee: goud en wierook en mirre.”—Matteus 2:1, 11.

WAT sou jy vir ’n baie belangrike persoon as ’n geskenk gee? In Bybeltye was sekere speserye so kosbaar soos goud—so waardevol dat dit ’n geskikte geskenk vir ’n koning was. * Daarom was twee van die geskenke wat die sterrewiggelaars vir die “koning van die Jode” gegee het, aromatiese speserye.—Matteus 2:1, 2, 11.

Balsemolie

Die Bybel sê ook dat die koningin van Skeba, toe sy Salomo besoek het, “aan die koning honderd-en-twintig talente goud en ’n baie groot hoeveelheid balsemolie en edelstene gegee [het]; en nog nooit was daar soveel balsemolie as wat die koningin van Skeba aan koning Salomo gegee het nie” (2 Kronieke 9:9). * Konings het ook balsemolie aan Salomo gestuur as ’n vriendskaplike gebaar.—2 Kronieke 9:23, 24.

Waarom was sulke speserye en verwante produkte so waardevol en duur in Bybeltye? Want dit het talle belangrike gebruike gehad. Dit is byvoorbeeld gebruik in skoonheidsorg, godsdiensrituele en wanneer dooies begrawe is. (Sien die venster “ Die gebruike van aromatiese speserye in Bybeltye.”) Speserye was nie net duur as gevolg van die hoë aanvraag daarvoor nie, maar ook weens die vervoer- en bemarkingskostes.

DIE ARABIESE WOESTYN MOES OORGESTEEK WORD

Kassia

In Bybeltye het party plante waarvan speserye verkry is, in die Jordaanvallei gegroei. Ander speserye moes egter ingevoer word. ’n Verskeidenheid speseryprodukte word in die Bybel genoem. Saffraan, aalwyn, balsem, kaneel, wierook en mirre is onder dié wat bekender is. En daar was die algemene geurmiddels, soos komyn, kruisement en dille.

Waar het die eksotiese speserye vandaan gekom? Aalwyn, kassia en kaneel het gekom van die gebiede wat vandag China, Indië en Sri Lanka genoem word. Speserye soos mirre en wierook is verkry van bome en struike wat in woestyngebiede vanaf die suide van Arabië tot by Somalië in Afrika gegroei het. En nardus was ’n Indiese produk wat net in die Himalajas voorgekom het.

Saffraan

Om Israel te bereik, moes baie soorte speserye deur Arabië vervoer word. Dit was gedeeltelik die rede waarom Arabië gedurende die tweede en eerste millennium VHJ “die monopolie gehad het wat die vervoer van goedere tussen Oos en Wes betref”, verduidelik The Book of Spices. Eertydse dorpe, vestings en karavaanherberge in die Negev in  die suide van Israel dui die roetes van speseryhandelaars aan. Volgens ’n verslag deur UNESCO se Wêrelderfenissentrum “weerspieël [hierdie plekke ook] hoe uiters winsgewend die handel was . . . wat van die suide van Arabië tot by die Middellandse See gedryf is”.

“Klein in maat, baie duur en altyd in aanvraag—speserye was baie gesogte handelsitems.” —The Book of Spices

Karavane wat met hierdie aromatiese speserye belaai is, het gereeld afstande van ongeveer 1 800 kilometer deur Arabië gereis (Job 6:19). Die Bybel verwys na ’n karavaan Ismaelitiese handelaars wat speserye soos “labdanum en balsem en harsagtige bas” van Gilead na Egipte geneem het (Genesis 37:25). Jakob se seuns het hulle broer Josef as ’n slaaf aan hierdie handelaars verkoop.

“DIE GROOTSTE HANDELSGEHEIM VAN ALLE TYE”

Dille

Arabiese handelaars het die speseryhandel eeue lank beheer. Hulle was die enigste verskaffers van speserye uit Asië, soos kassia en kaneel. Om te verhoed dat Mediterreense lande direk met lande in die Ooste begin handel dryf, het die Arabiere vergesogte stories versprei oor hoe gevaarlik dit is om speserye te bekom. Volgens The Book of Spices was die ware bron van speserye “waarskynlik die grootste handelsgeheim van alle tye”.

Komyn

Watter stories het die Arabiere versprei? Herodotus, ’n Griekse geskiedskrywer uit die vyfde eeu VHJ, het geskryf van stories oor vreesaanjaende voëls wat neste uit kaneelbas op ontoeganklike kranse gebou het. Om hierdie kosbare speserye te bekom, is groot stukke vleis aan die voet van die krans gesit, het hy geskryf. Die gulsige voëls het dan soveel vleis na hulle neste gedra dat die  neste op die grond neergestort het. Dan is die kaneelbas vinnig bymekaargemaak en aan die handelaars verkoop. Sulke stories het algemeen bekend geword. As gevolg van die “beweerde gevare om [kaneel] te oes, was dit baie duur”, sê The Book of Spices.

Kruisement

Uiteindelik is die Arabiere se geheim ontdek en het hulle hulle monopolie verloor. Teen die eerste eeu VHJ het Aleksandrië, in Egipte, ’n groot hawe en kommersiële sentrum vir speserye geword. Toe seevaarders geleer het hoe om van die moesonwinde van die Indiese Oseaan gebruik te maak, het Romeinse skepe van Egipte na Indië begin seil. Gesogte speserye het dus vryelik beskikbaar geword en was nie meer so duur nie.

Vandag kan die waarde van speserye glad nie met dié van goud vergelyk word nie. En ons sal beslis nie dink dat speserye ’n geskikte geskenk vir ’n koning is nie. Nogtans gebruik miljoene mense regoor die wêreld dit om hulle kos geurig en smaaklik te maak en word dit in parfuum en medisyne gebruik. Ja, die aanloklike geure van speserye maak dit vandag gewild, net soos dit duisende jare gelede was.

Kaneel

^ par. 3 In die Bybel verwys die woorde in die oorspronklike taal wat as “spesery” of “speserye” weergegee word, hoofsaaklik na welriekende plantprodukte en nie na geurmiddels vir kos nie.

^ par. 4 “Balsemolie” verwys na aromatiese olies of gom wat van bome en struike verkry is.