Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOLG HULLE GELOOF NA | JOSEF

“Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen?”

“Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen?”

JOSEF het die swaar, warm lug ingeasem en die geur van lotusblomme en ander waterplante geruik. Hy is gelei deur ’n karavaan handelaars, wat nou deur die laagvlaktes van die uitgestrekte Nyldelta getrek het. Stel jou ’n ry mans voor wat hulle kamele langs ’n waterstroom na nog ’n Egiptiese stad lei en elke nou en dan ’n reier of ’n ibis wat in die vlak water kos soek, laat skrik en opvlieg. Josef het weer gedink aan sy tuiste in die winderige hooglande van Hebron, honderde kilometers agter hom; hy was nou in ’n ander wêreld.

Stel jou apies voor wat bo in die dadelpalms en vyebome babbel en raas. Vir Josef was die woorde van die mense by wie hulle verbybeweeg het, byna net so onverstaanbaar. Dalk het hy ’n paar woorde of frases probeer onthou. Hy kon maar net sowel die taal begin leer. Sover hy geweet het, sou hy nooit weer sy tuisland sien nie.

Josef was nog só jonk—17 of 18 jaar oud—maar hy moes uitdagings die hoof bied wat talle volwasse mans sou afskrik. Sy eie broers, wat deur jaloesie verteer is omdat Josef sy pa se gunsteling was, het hom amper vermoor. Maar toe het hulle hom eerder aan hierdie handelaars verkoop (Genesis 37:2, 5, 18-28). Nou, ná ’n weke lange reis, het die handelaars waarskynlik al hoe opgewekter geraak namate hulle nader aan die groot stad gekom het waar hulle gehoop het om ’n wins te maak deur Josef asook hulle kosbare goedere te verkoop. Hoe het Josef voorkom dat wanhoop in sy hart posvat en hom heeltemal oorweldig? En hoe kan ons vandag voorkom dat die uitdagings en terugslae van die lewe ons geloof vernietig? Ons kan baie by Josef leer.

“JEHOVAH WAS MET JOSEF”

“[Josef] is na Egipte afgebring, en Potifar, ’n hofbeampte van Farao, die hoof van die lyfwag, ’n Egiptenaar, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het” (Genesis 39:1). Hierdie paar woorde in die Bybelverslag gee ons ’n idee van hoe vernederend dit vir hierdie jong man moes gewees het om weer eens verkoop te word. Hy was niks meer as ’n besitting nie! Ons kan ons voorstel hoe Josef sy nuwe eienaar, ’n Egiptiese hofbeampte, deur die besige stadstrate vol basaars na sy nuwe tuiste volg.

Sy tuiste! Dit was baie anders as enigiets wat Josef nog ooit sy tuiste genoem het. Hy het grootgeword in ’n nomadiese gesin wat in tente gewoon het en dikwels getrek het terwyl hulle na hulle kuddes skape omgesien het. Hier het ryk Egiptenaars soos Potifar in swierige, helderkleurige huise gewoon. Argeoloë sê dat die eertydse Egiptenaars gehou het van welige, ommuurde tuine met skadubome en stil waterpoele waarin hulle papirus-, lotus- en ander waterplante gekweek het. Party huise was heeltemal omring deur ’n tuin en het ’n stoep gehad waar mense kon sit om die briesie te geniet, asook hoë vensters vir vars lug en baie vertrekke, insluitende ’n groot eetsaal en ’n woondeel vir knegte.

Het hierdie weelde Josef uitermate beïndruk? Waarskynlik nie. Hy was moontlik eerder pynlik bewus van hoe alleen hy was. Die Egiptenaars se taal, kleredrag en persoonsversorging—en veral hulle godsdiens—was vir hom vreemd. Hulle het ’n verstommende aantal gode aanbid, die okkulte  en toorkunste beoefen en ’n morbiede belangstelling in die dood en die hiernamaals gehad. Maar een ding het voorkom dat Josef deur eensaamheid oorweldig word. Die Bybelverslag sê: “Jehovah was met Josef” (Genesis 39:2). Josef het sekerlik sy hart voor sy God uitgestort. Die Bybel sê: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep” (Psalm 145:18). Wat het Josef nog gedoen om nader aan sy God te kom?

Die jong man het geweier om in wanhoop te verval, en hy het sy werk tot die beste van sy vermoë gedoen. Hy het Jehovah dus baie gegee om te seën, en Josef het kort voor lank die guns van sy nuwe heer verkry. Potifar het gesien dat sy jong kneg geseën word deur Jehovah, die God van Josef se volk, en hierdie seëninge het ongetwyfeld groter voorspoed vir die Egiptenaar se huis meegebring. Josef het geleidelik in sy heer se agting gestyg totdat Potifar alles aan hierdie bekwame jong man toevertrou het.—Genesis 39:3-6.

Josef het ’n belangrike voorbeeld gestel vir jongmense wat God vandag dien. Byvoorbeeld, op skool bevind hulle hulle soms in ’n omgewing wat vir hulle vreemd en onbekend is, ’n wêreld wat behep is met die okkulte en wat ’n sombere en hopelose uitkyk op die lewe het. As jy in hierdie situasie is, moet jy in gedagte hou dat Jehovah nie verander het nie (Jakobus 1:17). Hy is nog steeds met almal wat aan hom lojaal bly en hulle inspan op ’n manier wat hom behaag. Hy seën hulle ryklik, en hy sal dit ook in jou geval doen.

Volgens die verslag het Josef in die tussentyd meer volwasse geword. Die tiener het ’n man geword, en nogal een wat “mooi van gestalte en mooi in voorkoms” was. Hierdie woorde gee te kenne dat gevaar voorgelê het, want die gawe van fisiese skoonheid bring dikwels ongewenste en onvanpaste aandag mee.

Potifar se vrou het die lojale jong Josef raakgesien

‘HY HET NOOIT NA HAAR GELUISTER NIE’

Vir Josef was lojaliteit belangrik, maar vir Potifar se vrou was dit nie. Ons lees: “Die vrou van sy heer [het] haar oë na Josef begin opslaan en gesê: ‘Kom lê by my’” (Genesis 39:7). Het Josef in die versoeking gekom om hierdie heidense vrou se skaamtelose toenadering te aanvaar? Die Bybel gee ons geen rede om aan te neem dat Josef immuun was teen die begeertes en drange wat jong mans algemeen ondervind of dat hierdie vrou, die vertroetelde vrou van ’n welgestelde en invloedryke hofbeampte, onaantreklik was nie. Sou Josef probeer redeneer dat sy heer nooit sou uitvind nie? Sou hy verlok word deur die gedagte aan die moontlike materiële voordele wat so ’n verhouding kon meebring?

 Ons weet nie vir seker wat alles deur Josef se gedagtes gegaan het nie. Maar ons het ’n duidelike bewys van wat in sy hart was. Dit word geopenbaar deur sy antwoord: “My heer weet nie wat by my in die huis is nie, en alles wat hy het, het hy in my hand gegee. Daar is niemand in hierdie huis groter as ek nie, en hy het niks van my teruggehou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?” (Genesis 39:8, 9). Stel jou voor hoe die jong man hierdie woorde met vasbeslotenheid sê. Net die gedagte aan die daad wat sy voorgestel het, het hom ontstel. Waarom?

Soos Josef gesê het, het sy heer hom vertrou. Potifar het sy hele huis in Josef se hande gelaat en niks teruggehou nie, behalwe sy vrou. Hoe kon Josef hierdie vertroue skend? Selfs die gedagte was vir hom afskuwelik. Maar daar was iets wat vir hom selfs walgliker was: die gedagte om teen sy God, Jehovah, te sondig. Josef het baie by sy ouers geleer omtrent God se beskouing van die huwelik en getrouheid aan ’n huweliksmaat. Jehovah het die eerste huwelik voltrek en het sy beskouing daarvan duidelik gemaak. ’n Man en ’n vrou moet mekaar aankleef—hulle moet “een vlees word” (Genesis 2:24). Enigiemand wat hierdie verbintenis probeer verbreek het, kon hom God se woede op die hals haal. Byvoorbeeld, die mans wat amper die vrou van Abraham, Josef se oumagrootjie, en die vrou van Isak, Josef se ouma, onteer het, het byna rampspoedige gevolge gely (Genesis 20:1-3; 26:7-11). Josef het hierdie les goed geken, en hy was vasbeslote om in ooreenstemming daarmee te lewe.

Potifar se vrou het nie gehou van wat sy gehoor het nie. Hoe kon hierdie nederige slaaf haar aanbod van die hand wys en dit selfs beskryf as ’n “groot kwaad”! Nogtans het sy nie tou opgegooi nie. Dalk was haar trots gekrenk, wat haar selfs meer vasbeslote gemaak het om Josef se nee in ’n ja te verander. Sy het sodoende ’n gesindheid geopenbaar soos dié van Satan, wat Jesus versoek het. Satan se poging het ook misluk, en pleks van op te gee, het Satan eenvoudig vir “’n ander geskikte tyd” gewag (Lukas 4:13). Getroue mense moet dus vasbeslote en standvastig wees. En dit is presies wat Josef was. Hoewel hierdie situasie “dag na dag” voortgeduur het, het hy nie toegegee nie. Ons lees: “Hy [het] nooit na haar geluister” nie (Genesis 39:10). Maar Potifar se vrou was ’n vasbeslote verleidster.

Sy het ’n tyd gekies toe al die knegte buite die huis was. Sy het geweet dat Josef sou moes inkom om sy werk te doen. En toe hy inkom, het sy van die geleentheid gebruik gemaak. Sy het sy kleed gegryp en ’n laaste keer by hom gepleit: “Kom lê by my!” Josef het vinnig opgetree. Hy het hom uit haar greep probeer losruk—maar sy het vasgehou aan sy kleed. Hy het hom daarvan losgemaak en dit in haar hande agtergelaat. En toe het hy gevlug!—Genesis 39:11, 12.

Dit laat ons dalk dink aan die apostel Paulus se geïnspireerde raad: “Vlug vir die hoerery!” (1 Korintiërs 6:18). Wat ’n uitstekende voorbeeld het Josef tog vir alle ware Christene gestel! Die lewe dwing ons dalk om noue omgang te hê met diegene wat geen agting vir God se sedewette het nie, maar dit beteken nie dat ons voor verkeerde invloede moet swig nie. Ons moet vlug, ongeag die gevolge.

In Josef se geval was die gevolge baie erg. Potifar se vrou wou wraak neem. Sy het onmiddellik begin skreeu en die knegte wat buite was, geroep. Sy het beweer dat Josef haar probeer verkrag het en weggehardloop het toe sy skreeu. Sy het die kleed as bewys gehou en gewag dat haar man huis toe kom. Toe Potifar by die huis kom, het sy hom dieselfde leuen vertel en geïmpliseer dat dit alles sy skuld was omdat hy hierdie vreemdeling in hulle huis ingebring het. Hoe het Potifar gereageer? Ons lees dat sy “toorn ontvlam” het! Hy het Josef in die gevangenis laat opsluit.—Genesis 39:13-20.

“MET BOEIE HET HULLE SY VOETE GEKNEL”

Ons weet min van Egiptiese tronke in daardie dae. Argeoloë het die ruïnes van sulke plekke gevind—groot vestingagtige geboue met selle en kerkers. Josef het die plek later beskryf met ’n woord wat letterlik “die put” beteken, wat op ’n donker, hopelose plek dui (Genesis 40:15, voetnoot in NW). In die boek Psalms leer ons dat Josef aan verdere pyniging onderwerp is: “Met boeie het hulle  sy voete geknel, in ysters het sy siel gekom” (Psalm 105:17, 18). Die Egiptenaars het gevangenes soms in boeie gesit wat hulle arms by die elmboë agter hulle rug vasgemaak het; ander moes ’n ysterband om hulle nek dra. Hoe pynlik moes hierdie mishandeling tog vir Josef gewees het—en hy het niks gedoen om dit te verdien nie!

Wat meer is, dit was nie ’n kortstondige terugslag nie. Die verslag sê: “Hy het daar in die gevangenis gebly.” Josef was jare lank in daardie verskriklike plek! * En hy het nie geweet of hy ooit vrygelaat sou word nie. Hoe het hy, toe daardie eerste skokkende dae in weke en toe in maande verander het, voorkom dat wanhoop hom oorweldig?

Die verslag gee ons hierdie bemoedigende antwoord: “Jehovah was egter voortdurend met Josef en het steeds liefderyke goedhartigheid teenoor hom bewys” (Genesis 39:21). Geen gevangenismure, geen boeie, geen donker kerkers kan verhinder dat Jehovah se lojale liefde sy knegte bereik nie (Romeine 8:38, 39). Ons kan ons goed voorstel hoe Josef intens tot sy geliefde hemelse Vader oor sy lyding gebid het en toe die soort vrede en kalmte ontvang het wat net “die God van alle vertroosting” kan voorsien (2 Korintiërs 1:3, 4; Filippense 4:6, 7). Wat het Jehovah nog vir Josef gedoen? Ons lees dat hy Josef “guns in die oë van die hoofbeampte van die gevangenis” laat vind het.

Die gevangenes is klaarblyklik werk gegee, en Josef het Jehovah weer iets gegee om te seën. Hy het hard gewerk en sy bes gedoen ongeag watter taak hy gegee is, en hy het die res in Jehovah se hande gelaat. Met Jehovah se seën het Josef vertroue en respek verwerf, net soos hy in Potifar se huishouding gedoen het. Ons lees: “Daarom het die hoofbeampte van die gevangenis al die gevangenes wat in die gevangenis was, in Josef se hand gegee; en alles wat hulle daar gedoen het, het hý laat doen. Die hoofbeampte van die gevangenis het na absoluut niks omgesien wat in sy hand was nie, want Jehovah was met Josef, en wat hy gedoen het, het Jehovah laat slaag” (Genesis 39:22, 23). Hoe vertroostend moes dit tog vir Josef gewees het om te weet dat Jehovah na hom omsien!

Josef het in die tronk hard gewerk, en Jehovah het hom geseën

In die lewe ondervind ons dalk verpletterende terugslae en probleme, selfs wrede onregte, maar ons kan uit Josef se geloof leer. As ons deur gebed na aan Jehovah bly, sy gebooie getrou gehoorsaam en ons inspan om te doen wat reg is in sy oë, sal ons hom iets gee om te seën. In Josef se geval het Jehovah selfs groter seëninge in gedagte gehad, soos ons in toekomstige artikels in hierdie reeks sal sien.

^ par. 23 Die Bybel dui aan dat Josef omtrent 17 of 18 jaar oud was toe Potifar hom gekoop het en dat hy lank genoeg in Potifar se huis gebly het om ’n jong man te word—dalk ’n paar jaar. Hy was 30 toe hy uit die gevangenis vrygelaat is.—Genesis 37:2; 39:6; 41:46.