Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOLG HULLE GELOOF NA

Sy is “deur werke regverdig verklaar”

Sy is “deur werke regverdig verklaar”

RAGAB het by haar venster uitgekyk toe die eerste môrelig oor die vlakte om Jerigo stroom. Buite die stad was ’n invallende leër—die krygsmag van Israel. Toe hulle dié oggend weer om die stad begin trek, het die stof agter hulle opgeslaan en het horinggeskal weer die lug gevul.

Jerigo was Ragab se tuiste; sy het die stad se strate, huise en besige markte en winkels geken. Die mense het sy selfs beter geken. Sy kon aanvoel hoe hulle vrees dag ná dag toeneem terwyl Israel hierdie vreemde ritueel voortgesit het—om elke dag een keer om die stad te trek. Maar terwyl die geluid van hulle horings deur die strate en pleine van Jerigo weergalm het, het Ragab nie die vrees en wanhoop ervaar wat haar volk ervaar het nie.

Ragab het gesien hoe die leër vroeg op hierdie sewende dag om die stad begin trek. Sy het ook gesien hoe Israel se priesters saam met die krygsmanne stap, op horings blaas en die heilige verbondsark dra, wat die teenwoordigheid van hulle God, Jehovah, voorgestel het. Ons kan ons voorstel hoe Ragab se hand op ’n skarlaken tou rus wat by haar venster in die groot muur van Jerigo uithang. Hierdie tou het Ragab herinner aan haar hoop dat sy en haar familielede die vernietiging van die stad sou oorleef. Was Ragab ’n verraaier? Beslis nie in Jehovah se oë nie; hy het haar beskou as ’n vrou met merkwaardige geloof. Kom ons gaan terug na die begin van Ragab se verhaal en kyk wat ons by haar kan leer.

RAGAB, DIE PROSTITUUT

Ragab was ’n prostituut. In die verlede het hierdie feit party Bybelkommentators so geskok dat hulle beweer het dat sy bloot die eienares van ’n herberg was. Maar die Bybel verbloem nie die feite nie (Josua 2:1; Hebreërs 11:31; Jakobus 2:25). In die Kanaänitiese samelewing is Ragab se beroep waarskynlik as aanvaarbaar beskou. Maar die blote feit dat iets in ’n mens se kultuur aanvaarbaar is, beteken nie dat dit jou gewete—die innerlike sin vir reg en verkeerd wat Jehovah aan ons almal gegee het—nie sal kwel nie (Romeine 2:14, 15). Ragab het haar moontlik geskaam oor haar lewenswyse. Soos baie ander wat vandag so ’n lewe lei, het sy miskien gevoel dat sy vasgevang is, dat sy geen ander keuse het as sy vir haar familielede wil sorg nie.

Ragab het ongetwyfeld na ’n beter lewe gesmag. Haar geboorteland was vol geweld en verdorwenheid, insluitende bloedskande en bestialiteit (Levitikus 18:3, 6, 21-24). Die feit dat hierdie euwels so algemeen was in die land, was grootliks te wyte aan godsdiens. Die tempels het rituele prostitusie bevorder, en die aanbidding van demoniese gode soos Baäl en Molog het ingesluit dat kinders lewend in offervure verbrand is.

Jehovah was nie blind vir wat in Kanaän gebeur nie. Trouens, weens al die goddelose gebruike van die Kanaäniete het Jehovah gesê: “Die land [is] onrein, en ek sal straf daaroor bring vir sy oortreding, en die land sal sy inwoners uitbraak” (Levitikus 18:25). Wat het ‘straf vir sy oortreding’ behels? God het Israel belowe: “Jehovah jou God sal hierdie nasies beslis bietjie vir bietjie voor jou wegstoot” (Deuteronomium 7:22). Jehovah het die land eeue tevore aan die nageslag van Abraham belowe, en ‘God kan nie lieg nie’.—Titus 1:2; Genesis 12:7.

 Maar Jehovah het ook bepaal dat sekere groepe in die land heeltemal uitgewis sou word (Deuteronomium 7:1, 2). As die regverdige “Regter van die hele aarde” het hy elke hart gelees en goed geweet hoe diepgewortel hulle goddeloosheid en verdorwenheid is (Genesis 18:25; 1 Kronieke 28:9). Hoe het dit vir Ragab gevoel om in hierdie veroordeelde stad te woon? Ons kan ons net voorstel hoe sy gevoel het toe sy berigte oor Israel hoor. Sy het uitgevind dat die God van Israel sy volk—wat verdrukte slawe was—’n algehele oorwinning gegee het oor die Egiptiese leër, die sterkste krygsmag in die destydse wêreld. En nou het Israel op die punt gestaan om Jerigo aan te val! Tog het die mense van hierdie stad met hulle goddeloosheid volgehou. Ons kan sien waarom daar in die Bybel na Ragab se mede-Kanaäniete verwys word as “dié wat ongehoorsaam was”.—Hebreërs 11:31.

Ragab was anders. Deur die jare heen het sy moontlik nagedink oor die berigte wat sy oor Israel en hulle God, Jehovah, gehoor het. Hy was heeltemal anders as die Kanaänitiese gode! Hier was ’n God wat eerder vir sy volk geveg het as om hulle te veronreg, wat sy aanbidders eerder sedelik verhef het as om hulle te verderf. Hierdie God het vroue as kosbaar beskou, nie as blote seksvoorwerpe wat gekoop, verkoop en in walglike aanbidding verlaag kon word nie. Toe Ragab hoor dat Israel oorkant die Jordaan kamp opgeslaan het, gereed om die stad binne te val, was sy sekerlik ontsteld oor wat dit vir haar volk kon beteken. Het Jehovah Ragab raakgesien en die goeie in haar op prys gestel?

Daar is vandag baie mense wat soos Ragab is. Hulle voel vasgevang in ’n lewenswyse wat hulle van hulle waardigheid en vreugde beroof; hulle voel dat niemand hulle raaksien nie en dat hulle waardeloos is. Ragab se verhaal is ’n vertroostende herinnering daaraan dat God ons almal raaksien. Ongeag hoe terneergedruk ons voel, “hy [is] nie ver van elkeen van ons af” nie (Handelinge 17:27). Hy is naby aan almal wat geloof in hom stel en is gereed en gretig om hulle hoop te bied. Het Ragab geloof in hom gestel?

SY HET DIE SPIOENE ONTVANG

Eendag, ’n ruk voordat Israel om Jerigo getrek het, het twee vreemdelinge voor Ragab se deur gestaan. Die twee manne het gehoop dat hulle nie gesien sou word nie, maar in hierdie stad waar die atmosfeer so gespanne was, was baie op die uitkyk na enigiemand wat Israelitiese spioene kon wees. Die oplettende Ragab was moontlik gou om haar eie gevolgtrekkings te maak. Dit was niks ongewoons dat vreemde manne na haar deur toe gekom het nie, maar hierdie twee wou net verblyf hê—nie die dienste van ’n prostituut nie.

Die twee manne was in werklikheid spioene uit die kamp van Israel. Hulle aanvoerder, Josua, het hulle gestuur om vas te stel waar Jerigo se verdediging sterk en waar dit swak is. Dit was die eerste en moontlik die sterkste stad in Kanaän wat Israel sou binneval. Josua wou weet presies waarvoor hy en sy manskappe te staan sou kom. Die spioene het ongetwyfeld Ragab se huis doelbewus gekies. Dit was juis hier, by die huis van ’n prostituut, waar vreemdelinge moontlik nie aandag sou trek nie.  Die spioene het dalk ook gehoop dat hulle nuttige inligting sou kry uit gesprekke wat hulle in die verbygaan hoor.

Die Bybel sê dat Ragab “die boodskappers gasvry ontvang” het (Jakobus 2:25). Sy het die manne ingenooi, en selfs as sy vermoed het wie hulle is en waarom hulle daar is, het sy aan hulle verblyf gegee. Miskien het sy gehoop dat sy meer sou leer omtrent hulle God, Jehovah.

Maar skielik het boodskappers van die koning van Jerigo daar aangekom! Die nuus het versprei dat spioene van Israel na Ragab se huis toe gekom het. Wat sou Ragab doen? Sou sy nie haar en al haar familielede in gevaar stel as sy hierdie twee vreemdelinge beskerm nie? Sou die mense van Jerigo nie hulle almal doodmaak as sy aan hierdie vyande skuiling gee nie? Aan die ander kant het Ragab nou geweet presies wie hierdie manne is. Was dit dalk nou haar geleentheid om haar aan Jehovah se kant te skaar, aangesien sy reeds geweet het dat Jehovah ’n baie beter God as haar god is?

Ragab het nie veel tyd gehad om te dink nie, maar sy was vindingryk en het vinnig opgetree. Sy het die spioene laat wegkruip tussen vlasstingels wat op die plat dak van haar huis gelê het om droog te word. Toe het sy vir die koning se boodskappers gesê: “Ja, die manne het na my toe gekom, en ek het nie geweet van waar hulle was nie. En toe die poort teen donker toegemaak moes word, het die manne uitgegaan. Ek weet glad nie waarheen die manne gegaan het nie. Sit hulle gou agterna, want julle sal hulle inhaal” (Josua 2:4, 5). Stel jou voor hoe Ragab die gesigte van die koning se boodskappers dopgehou het. Sou hulle agterkom hoe vinnig haar hart klop?

Ragab het haar lewe gewaag deur twee knegte van Jehovah onder vlasstingels weg te steek

Haar plan het gewerk! Die koning se manne het hulle in die rigting van die Jordaandriwwe gehaas (Josua 2:7). Ragab het sekerlik saggies gesug van verligting. Sy het ’n eenvoudige strategie gebruik om moorddadige manne wat nie daarop geregtig was om die waarheid te hoor nie, in die verkeerde rigting te laat gaan, en sy het Jehovah se onskuldige knegte gered.

Ragab het gou teruggegaan na haar huis se dak en vir die twee spioene vertel wat sy gedoen het. Sy het ook ’n belangrike feit onthul: Haar volk het moed verloor en was doodbang vir die invallers. Die spioene was ongetwyfeld baie bly oor hierdie brokkie goeie nuus. Die krag van Israel se God, Jehovah, het die goddelose Kanaäniete vreesbevange laat word! Ragab het toe iets geopenbaar wat vir ons van selfs groter belang is. Sy het gesê: “Jehovah julle God is God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder” (Josua 2:11). Die berigte wat sy oor Jehovah gehoor het, was genoeg om  haar tot die volgende besef te laat kom: Israel se God was haar vertroue waardig. Sy het geloof in Jehovah gestel.

Daar het geen twyfel by Ragab bestaan dat Jehovah sy volk die oorwinning sou gee nie. Sy het dus om genade gesmeek en gesoebat dat sy en haar familielede gespaar moet word. Die spioene het ingestem en die voorwaarde gestel dat Ragab hulle geheim moet bewaar en ’n skarlaken tou by haar venster in die stadsmuur moet laat uithang sodat die krygsmanne haar en haar familielede kan beskerm.—Josua 2:12-14, 18.

Ons kan ’n baie belangrike waarheid oor geloof by Ragab leer. Dit is soos die Bybel sê: “Geloof volg . . . op wat gehoor word” (Romeine 10:17). Sy het betroubare berigte gehoor oor die krag en die geregtigheid van Jehovah God, en daarom het sy geloof en vertroue in hom gestel. Vandag het ons baie meer inligting oor Jehovah tot ons beskikking. Sal ons ons inspan om hom te leer ken en sal ons geloof in hom stel op grond van wat ons in sy Woord, die Bybel, leer?

’N MAGTIGE VESTING VAL

Die twee spioene het Ragab se raad gevolg en met ’n tou wat by haar venster uitgehang het, teen die muur afgeklouter en toe in die rigting van die berge weggeglip. Daar was baie grotte teen die steil hange noord van Jerigo waar die spioene kon wegkruip totdat dit veilig was om na Israel se kamp terug te keer met die goeie nuus wat hulle by Ragab gehoor het.

Ragab het geloof gestel in die God van die Israeliete

Later het die mense van Jerigo seker gebewe van vrees toe hulle hoor dat Jehovah die water van die Jordaanrivier wonderdadig afgesny het sodat Israel op die droë rivierbedding kon deurtrek (Josua 3:14-17). Maar hierdie nuus het Ragab net verder verseker dat daar grondige rede is vir haar geloof in Jehovah.

Toe het die lang dae aangebreek waartydens Israel om Jerigo getrek het—ses dae, een keer elke dag. Nou was dit die sewende dag, en dit was anders. Soos aan die begin van hierdie artikel genoem is, het die leër met sonsopkoms om die stad begin trek. Op dié dag het hulle egter nie net een keer om Jerigo getrek nie, maar verskeie kere (Josua 6:15). Wat het die Israeliete in die mou gevoer?

Uiteindelik, nadat hulle die sewende keer op hierdie sewende dag om die stad getrek het, het die leër tot stilstand gekom. Die horinggeskal het opgehou. Dit was doodstil. Die spanning in die stad het seker breekpunt bereik. Toe, nadat Josua die bevel gegee het, het die leër van Israel hulle stemme vir die eerste keer verhef en hard geskreeu. Het die wagte op die muur van Jerigo gedink dat dit ’n vreemde soort aanval is, hierdie blote geskreeu? Indien wel, het hulle nie lank so gedink nie. Die yslike muur het onder hulle voete begin bewe. Dit het geskud, gekraak en toe inmekaargestort! Maar nadat die stof gaan lê het, het ’n deel van die muur nog gestaan. Ragab se huis was nog daar, ’n duidelike bewys van een vrou se geloof. Stel jou net haar gevoelens voor toe sy sien hoe Jehovah haar beskerm het! * Haar familielede was veilig!—Josua 6:10, 16, 20, 21.

Jehovah se volk het Ragab eweneens weens haar geloof gerespekteer. Toe hulle sien dat slegs hierdie een huis tussen die puin van die muur bly staan het, het hulle geweet dat Jehovah met hierdie vrou was. Sy en haar familielede het die vernietiging van hierdie bose stad oorleef. Ná die geveg is Ragab toegelaat om naby die kamp van Israel te woon. Mettertyd het Ragab deel van die Joodse volk geword. Sy het met ’n man genaamd Salmon getrou. Hulle seun, Boas, was ’n man met merkwaardige geloof. Hy het met Rut, die Moabitiese vrou, getrou (Rut 4:13, 22). * Koning Dawid en later die Messias self, Jesus Christus, het van hierdie voortreflike familie afgestam.—Josua 6:22-25; Matteus 1:5, 6, 16.

Ragab se verhaal toon dat ons almal vir Jehovah belangrik is. Hy sien ons almal raak, lees ons hart en is bly wanneer hy sien hoe geloof in iemand se hart toeneem, soos met Ragab die geval was. Haar geloof het haar tot optrede beweeg. Die Bybel sê dat sy “deur werke regverdig verklaar” is (Jakobus 2:25). Hoe verstandig sal dit tog van ons wees om haar geloof na te volg!

^ par. 27 Interessant genoeg, Jehovah het die ooreenkoms tussen die twee spioene en Ragab eerbiedig.

^ par. 28 Om meer oor Rut en Boas te leer, sien die artikels “Volg hulle geloof na” in Die Wagtoring van 1 Julie en 1 Oktober 2012.