Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOORBLADONDERWERP: WAAROM SOVEEL LYDING? WANNEER SAL DIT EINDIG?

Soveel onskuldige lewens verwoes!

Soveel onskuldige lewens verwoes!

Die klein Noelle was ’n liefdevolle kind wat daarvan gehou het om te teken. Een somersaand het sy op die een of ander manier in die gesin se agterplaas gekom en in die swembad geval. Sy het slegs twee weke voor haar vierde verjaarsdag verdrink.

Charlotte, Daniel, Olivia, Josephine . . . Dit is die name van ’n paar van die 20 ses- of sewejarige kinders wat onder die 26 slagoffers was wat op 14 Desember 2012 by ’n skool in Connecticut, VSA, doodgeskiet is. By ’n gedenkdiens het president Obama die kinders se name uitgeroep en vir die bedroefde gehoor gesê: “Hierdie tragedies moet tot ’n einde kom.”

Die 18-jarige Bano het Irak in 1996 verlaat en saam met haar gesin na Noorweë getrek. Haar vriende het haar die bynaam Sonskyn gegee. Maar ongelukkig was Bano een van die 77 slagoffers wie se lewe op 22 Julie 2011 kortgeknip is deur ’n ekstremis, wat gespog het: “Ek is so jammer . . . dat ek nie nog mense kon teregstel nie.”

Soortgelyke hartverskeurende verhale is regoor die wêreld iets algemeens. Dink aan die droefheid en pyn wat ongelukke, misdaad, oorlog, terrorisme, natuurrampe en ander tragedies al tot gevolg gehad het. Soveel onskuldige lewens is uitgewis en daar was soveel lyding, dikwels om geen verklaarbare rede nie!

Party mense gee God die skuld en redeneer dat ons Skepper nie vir die mensdom omgee nie. Ander kom tot die slotsom dat God ons lyding sien, maar eenvoudig nie wil ingryp nie. Nog ander sê dat sulke tragedies voorbeskik is. Dit lyk asof daar geen einde is aan menings oor die onderwerp nie. Waar kan ons betroubare en bevredigende antwoorde vind? In die volgende artikels sal ons aan die hand van God se Woord, die Bybel, bespreek wat die oorsake van lyding is en hoe dit tot ’n einde gebring sal word.