Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Wat is die “Evangelie van Judas”?

Wat is die “Evangelie van Judas”?

IN April 2006 het koerante regoor die wêreld opspraakwekkende berigte bevat oor ’n span geleerdes wat die inhoud van ’n pas ontdekte antieke geskrif aan die publiek beskikbaar sou stel. Die titel daarvan is die “Evangelie van Judas”. Hierdie berigte het verwys na bewerings van geleerdes dat hierdie geskrif die karakter Judas, die dissipel wat Jesus verraai het, in ’n heeltemal nuwe lig stel. Volgens sulke bewerings was Judas eintlik ’n held—die apostel wat Jesus die beste verstaan het en wat hom oorgelewer het om tereggestel te word omdat Jesus hom gevra het om dit te doen.

Is hierdie geskrif eg? En indien wel, ontstaan die vrae: Openbaar dit voorheen verborge kennis aangaande die geskiedkundige figure Judas Iskariot, Jesus Christus of vroeë Christene? Behoort dit ’n uitwerking te hê op ons begrip van die Christelike godsdiens?

DIE ONTDEKKING VAN DIE “EVANGELIE VAN JUDAS”

Daar bestaan steeds onsekerheid oor hoe die “Evangelie van Judas” ontdek is. Die dokument is nie deur argeoloë ontdek en gedokumenteer nie, maar het eerder skielik in die laat 1970’s of vroeë 1980’s op die oudhedemark verskyn. Dit is waarskynlik in 1978 in Egipte in ’n verlate graf ontdek, moontlik in ’n grot. Dit was een van vier afsonderlike geskrifte in ’n kodeks (’n soort antieke boek) wat geskryf is in Kopties (’n taal wat uit eertydse Egipties afkomstig is).

Die leergebonde kodeks, wat eeue lank in die droë Egiptiese klimaat behoue gebly het, was broos en het vinnig begin verniel. In 1983 is ’n paar geleerdes toegelaat om die kodeks vlugtig te sien; maar die vraprys was buitensporig, en dit is toe nie verkoop nie. Nog jare van verwaarlosing en swak berging het daartoe gelei dat die kodeks nog vinniger verniel het. In 2000 is dit deur ’n Switserse oudhedehandelaar gekoop. Sy het dit uiteindelik gegee aan ’n internasionale span deskundiges wat, met die ondersteuning van die Maecenas-stigting vir Antieke Kuns en die National Geographic Society, die ingewikkelde taak aangepak het om die kodeks, waarvan party dele toe net uit fragmente bestaan het, te restoureer en weer aanmekaar te  sit. Hierdie span sou ook vasstel hoe oud die kodeks is en die inhoud daarvan vertaal en uitlê.

Radiokoolstofdatering het bevestig dat die kodeks waarskynlik uit die derde of die vierde eeu HJ dateer. Maar die geleerdes het vermoed dat die Koptiese teks van die “Evangelie van Judas” heelwat vroeër uit die oorspronklike Griekse weergawe vertaal is. In watter tydperk en teen watter agtergrond is die “Evangelie van Judas” oorspronklik saamgestel?

DIE “EVANGELIE VAN JUDAS”—’N GNOSTIESE EVANGELIE

Die eerste verwysing na ’n werk met die naam “Evangelie van Judas” word gevind in die geskrifte van Ireneus, die biskop van Lyon in die laat tweede eeu HJ. In ’n werk getiteld Teen die Dwaalleringe skryf Ireneus aangaande een van die talle groepe wie se leringe hy teëgestaan het: “Hulle verkondig dat Judas die verraaier . . . ’n beter begrip van die waarheid gehad het as al die ander [en] die geheimenis van die verraad volbring het. Deur hom is alle dinge, op die aarde en in die hemel, dus in verwarring gedompel. Hulle kom met ’n denkbeeldige geskiedenis soos dié vorendag, wat hulle die Evangelie van Judas noem.”

“Dit is nie ’n Evangelie wat in Judas se tyd geskryf is deur iemand wat hom enigsins geken het nie”

Ireneus was veral daarop uit om verskeie leringe van die Gnostiese Christene te weerlê, wat beweer het dat hulle geheime kennis besit. Gnostisisme is ’n breë term wat talle groepe insluit, elkeen met sy eie begrip en uitlegging van Christelike “waarheid”. Gnostici het uitleggings bevorder wat op hulle eie geskrifte gebaseer was, waarvan die aantal gedurende die tweede eeu HJ skerp toegeneem het.

Sulke Gnostiese evangelies het dikwels aangevoer dat die vername apostels van Jesus sy boodskap verkeerd verstaan het en dat daar ’n geheime lering is wat Jesus oorgedra het en wat slegs ’n uitverkore groepie kon begryp. * Party van daardie Gnostici het geglo dat die fisiese wêreld ’n gevangenis is. Daarom was die “skeppergod” van die Hebreeuse Geskrifte in werklikheid ’n mindere god wat die ander volmaakte gode teëgestaan het. ’n Persoon met ware “kennis” het hierdie “geheim” verstaan en wou bevry word uit sy fisiese liggaam.

Hierdie beskouing word weerspieël in die “Evangelie van Judas”. Dit begin met die woorde: “Die geheime woorde van ’n openbaring wat Jesus in ’n gesprek aan Judas Iskariot bekend gemaak het, gedurende agt dae, drie dae voordat hy die Pasga gevier het.”

Was hierdie kodeks dieselfde geskrif waaroor Ireneus geskryf het, wat eeue lank blykbaar verlore was? Marvin Meyer, ’n lid van die span wat hierdie kodeks eerste ontleed en vertaal het, sê dat Ireneus se “kort beskrywing redelik goed pas by die huidige Koptiese geskrif getiteld die Evangelie van Judas”.

DIE KARAKTER JUDAS IN HIERDIE EVANGELIE—’N DEBAT ONDER GELEERDES

In die “Evangelie van Judas” lag Jesus smalend wanneer sy dissipels hulle gebrek aan juiste kennis openbaar. Maar Judas is die enigste van die 12 apostels wat toon dat hy die ware aard van Jesus verstaan. Daarom praat Jesus privaat met hom oor “die geheime van die koninkryk”.

Die eerste vertaling van die geskrif deur die span geleerdes is grootliks beïnvloed deur Ireneus se beskrywing van die evangelie. In hulle vertaling word Judas deur Jesus begunstig as die enigste dissipel wat die geheime sou verstaan en die “koninkryk” sou “bereik”. Die misleide apostels sou ’n plaasvervanger vir Judas benoem, maar hy sou dan die “dertiende gees” word, wat al die ander dissipels sou “oortref”, want, Jesus sê, “jy sal die menseliggaam waarin ek woon, offer”.

Suksesvolle skrywers, soos Bart Ehrman en Elaine Pagels, wat ook vooraanstaande geleerdes op die gebied van die vroeë Christelike godsdiens en Gnostisisme is, het gou hulle eie ontledings  van en kommentare oor die “Evangelie van Judas” gepubliseer, wat grotendeels gegrond was op die vertaling deur die oorspronklike span. Maar kort daarna het ander geleerdes, soos April DeConick en Birger Pearson, hulle besorgdheid uitgespreek. Hulle het beweer dat die National Geographic Society die publisering van die antieke geskrif bespoedig het sodat hulle dit eksklusiewe mediadekking kon gee. Ook is die gewone akademiese proses waarvolgens die teks voor publisering deeglik deur medekollegas ontleed en beoordeel word, nie gevolg nie, aangesien daar van die span vereis is om ’n vertroulikheidsooreenkoms te onderteken.

Geeneen van die geleerdes wat hierdie geskrif ontleed het, beweer dat dit akkurate geskiedkundige inligting bevat nie

DeConick en Pearson, wat onafhanklik van mekaar gewerk het, het albei tot die slotsom gekom dat van die sleutelgedeeltes van die gefragmenteerde kodeks verkeerd vertaal is deur die vorige geleerdes. Volgens DeConick se vertaling van die geskrif noem Jesus Judas die “Dertiende Demoon”, nie die “dertiende gees” nie. * Jesus sê ook duidelik vir Judas dat hy nie na die “koninkryk” sal opvaar nie. Jesus sê nie vir Judas dat hy die ander dissipels sal “oortref” nie, maar eerder: “Jy sal iets ergers doen as hulle almal. Want jy sal die menseliggaam waarin ek woon, offer.” Volgens DeConick is die “Evangelie van Judas” ’n antieke Gnostiese geskrif wat ’n bespotting maak van al die apostels. Die besliste slotsom waartoe DeConick en Pearson gekom het, is dat Judas in hierdie “Evangelie van Judas” glad nie ’n held is nie.

TOT WATTER SLOTSOM KAN ONS KOM?

Hetsy hulle die Judas van hierdie evangelie as ’n held of ’n demoon beskou het, geeneen van die geleerdes wat hierdie geskrif ontleed het, beweer dat dit akkurate geskiedkundige inligting bevat nie. Bart Ehrman verduidelik: “Dit is nie ’n Evangelie wat deur Judas geskryf is nie, of wat selfs hierdie bewering maak nie. . . . Dit is nie ’n Evangelie wat in Judas se tyd geskryf is deur iemand wat hom enigsins geken het nie . . . Dit is dus nie ’n boek wat ons van verdere inligting kan voorsien oor wat werklik in Jesus se leeftyd gebeur het nie.”

Die “Evangelie van Judas” is ’n Gnostiese geskrif uit die tweede eeu HJ, wat oorspronklik in Grieks geskryf is. Geleerdes is dit nog nie eens of hierdie pas ontdekte “Evangelie van Judas” dieselfde geskrif is waarna Ireneus verwys het nie. Maar dit is duidelik dat die “Evangelie van Judas” slegs belangrike getuienis voorsien aangaande ’n tydperk waarin die “Christelike godsdiens” verdeeld geraak het weens baie wedywerende sektes en teenstrydige leerstellings. Die “Evangelie van Judas” ondermyn nie die Skrif nie, maar bevestig in werklikheid eerder die apostels se waarskuwings, soos dié van Paulus in Handelinge 20:29, 30: “Ek weet dat [daar] ná my vertrek . . . uit julle eie midde . . . manne [sal] opstaan en verdraaide dinge [sal] spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek.”

^ par. 11 Hierdie evangelies word dikwels vernoem na diegene wat Jesus se ware leringe na bewering beter verstaan het, soos die geval is met die “Evangelie van Tomas” en die “Evangelie van Maria Magdalena”. Altesaam sowat 30 van hierdie eertydse geskrifte is al geïdentifiseer.

^ par. 18 Die geleerdes wat die beskouing het dat Judas in hierdie teksgedeelte ’n demoon is—iemand wat Jesus se identiteit beter as die ander dissipels verstaan het—meen dat daar ’n ooreenkoms is tussen hierdie teksgedeelte en die Evangelieverslae in die Bybel waar die demone Jesus se identiteit akkuraat uitgewys het.—Markus 3:11; 5:7.