Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Watter soort pen en ink het mense in Bybeltye gebruik?

RIETPENNE UIT EGIPTE, OMSTREEKS DIE EERSTE EEU HJ

Aan die einde van die derde van sy drie briewe wat in die Bybel ingesluit is, het die apostel Johannes gesê: “Ek het baie dinge gehad om aan jou te skryf, en tog wil ek nie verder met ink en pen aan jou skryf nie.” ’n Letterlike vertaling van die oorspronklike Griekse woorde wat Johannes gebruik het, toon dat hy nie verder met “swart [ink] en ’n riet” wou skryf nie.—3 Johannes 13, The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scripture.

Die kopiïs se pen was ’n stuk harde riet. Een punt is skuins afgesny en ’n dun gleufie is daarin gemaak. ’n Kopiïs kon die punt met ’n puimsteen skerp maak. Die riet het baie gelyk soos ’n moderne vulpen met ’n metaalpunt, en dit het op ’n soortgelyke manier gewerk.

Die meeste ink, of “swart”, was ’n mengsel van roet of lampswart en ’n rubberagtige gom, wat as ’n bindmiddel gedien het. Die ink is as ’n droë poeier verkoop en is met water tot die regte vloeibaarheid gemeng. Wanneer daar met die ink geskryf is, het dit eenvoudig op die oppervlak van die papirus of perkament droog geword en nie in die materiaal ingetrek nie. ’n Skrywer kon dus enige fout uitvee met ’n nat spons, wat ook deel van die kopiïs se standaardbenodigdhede was. Hierdie besonderheid oor ink wat in die ou tyd gebruik is, verklaar wat Bybelskrywers moontlik ingedagte gehad het toe hulle gepraat het van name wat uitgewis, of uitgevee, word uit God se gedenkboek.—Eksodus 32:32, 33; Openbaring 3:5, Kingdom Interlinear.

Watter soorte tente het die apostel Paulus gemaak?

Naaldwerkgereedskap uit die eerste of tweede eeu HJ

Handelinge 18:3 sê dat die apostel Paulus ’n tentmaker van ambag was. In Bybeltye het tentmakers stukke materiaal van kameel- of bokhaar geweef. Hulle het die stukke materiaal aanmekaar vasgewerk om tente vir reisigers te maak. Baie tente uit hierdie tyd is egter van leer gemaak. Ander is gemaak van linne, wat in Paulus se tuisstad Tarsus vervaardig is. Paulus het moontlik sommige van of al hierdie materiaal gebruik. Maar terwyl Paulus saam met Aquila gewerk het, het hy dalk linnesonskerms gemaak wat gebruik is om die binnehowe van woonhuise te oordek.

Paulus was waarskynlik nog jonk toe hy hierdie ambag aangeleer het. Egiptiese papirusgeskrifte dui aan dat vakleerlinge in Egipte gedurende die periode van die Romeinse besetting ’n ambag op ongeveer 13-jarige ouderdom begin aanleer het. As Paulus op hierdie ouderdom sy ambag begin aanleer het, het hy dalk teen die tyd dat hy 15 of 16 was die kuns bemeester om materiaal in die regte grootte en vorm uit te sny en dit dan met verskillende else en stiktegnieke aanmekaar te werk. “Toe Paulus sy vakleerlingskap voltooi het, is hy moontlik sy eie gereedskap gegee”, sê die boek The Social Context of Paul’s Ministry. “Die messe en else wat hy nodig gehad het,” sê dieselfde naslaanwerk, “sou dit maklik gemaak het om hierdie ambag te beoefen selfs wanneer hy gereis het”, en Paulus sou maklik daarop kon terugval om hom as ’n reisende sendeling te onderhou.