Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Gee God werklik om vir vroue?

Gee God werklik om vir vroue?

“Sonde het by ’n vrou begin, en as gevolg van haar moet ons almal sterf.”—ECCLESIASTICUS, TWEEDE EEU VHJ

“Jy is die duiwel se poort: jy is die eerste een wat van daardie verbode vrug geëet het: jy is die eerste oortreder van die goddelike wet . . . Jy het God se beeld, die man, so maklik vernietig.”—TERTULLIANUS, OOR DIE KLEREDRAG VAN VROUE, TWEEDE EEU HJ

DAARDIE eertydse aanhalings kom nie uit die Bybel nie. Dit is eeue lank gebruik om diskriminasie teen vroue te regverdig. Selfs vandag haal party ekstremiste, wat beweer dat vroue vir die mensdom se probleme verantwoordelik is, nog steeds godsdienstekste aan om die onderdrukking van vroue te regverdig. Was dit werklik God se voorneme dat vroue deur mans geminag en mishandel word? Wat sê die Bybel? Kom ons kyk.

Is vroue deur God vervloek?

Nee. Dit is eerder “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word,” wat deur God ‘vervloek’ is (Openbaring 12:9; Genesis 3:14). Toe God gesê het dat Adam oor sy vrou sou “heers”, het God nie daardeur te kenne gegee dat hy die onderwerping van vroue deur mans goedkeur nie (Genesis 3:16). Hy het bloot voorspel watter hartseer gevolge sonde vir die eerste egpaar sou hê.

Die mishandeling van vroue is dus ’n direkte gevolg van die sondige natuur van die mens, dit is nie God se wil nie. Die Bybel ondersteun nie die gedagte dat vroue aan mans onderwerp moet word om vir die eerste sonde versoening te doen nie.—Romeine 5:12.

Het God vroue as minderwaardig geskep in vergelyking met mans?

Nee. Genesis 1:27 sê: “God het die mens na sy beeld begin skep, na God se beeld het hy hom geskep; man en vrou het hy hulle geskep.” Van die begin af is mense—mans sowel as vroue—geskep met die vermoë om God se eienskappe te weerspieël. Hoewel Adam en Eva hulle eie unieke emosionele en fisiese samestelling gehad het, het hulle albei dieselfde opdrag ontvang en dieselfde regte voor hulle Maker gehad.—Genesis 1:28-31.

Voor Eva geskep is, het God gesê: “Ek gaan vir hom [Adam] ’n helper maak, as ’n komplement van hom” (Genesis 2:18). Gee die woord “komplement” te kenne dat die vrou minderwaardig is in vergelyking met die man? Nee, want hierdie Hebreeuse woord kan ook vertaal  word as “eweknie” of “’n hulp wat pas by” die man. Dink aan die komplementerende rolle van ’n chirurg en ’n narkotiseur tydens ’n operasie. Kan die een sonder die ander klaarkom? Hoewel die chirurg die operasie uitvoer, is hy belangriker as die narkotiseur? Nouliks! So ook het God die man en vrou geskep om ten nouste saam te werk, nie om met mekaar mee te ding nie.—Genesis 2:24.

Wat toon dat God besorg is oor vroue?

God het vooruitgesien wat gevalle, sondige mans sou doen en het vroeg reeds sy voorneme uitgespreek om vroue te beskerm. Die skrywer Laure Aynard het met verwysing na die Mosaïese Wet, wat in die 16de eeu VHJ ingestel is, in haar boek La Bible au féminin (Die Bybel en die vroulike geslag) gesê: “Wanneer die Wetsverbond van die vrou praat, is dit gewoonlik om haar te beskerm.”

Die Wet het byvoorbeeld beveel dat vaders sowel as moeders geëer en gerespekteer word (Eksodus 20:12; 21:15, 17). Dit het ook vereis dat swanger vroue met die nodige agting behandel word (Eksodus 21:22). Selfs vandag staan die beskerming wat daardie wette van God gebied het, in skerp teenstelling met die gebrek aan wetlike regte waarmee sommige vroue in baie wêrelddele te kampe het. Maar dit is nie al nie.

’n Wet wat God se beskouing van vroue weerspieël

Die Wet wat Jehovah God die nasie Israel gegee het, het die volk—manne en vroue—in talle fisiese, sedelike en geestelike opsigte tot voordeel gestrek. Solank die nasie gehoorsaam was, was hulle “hoog bo al die ander nasies van die aarde” (Deuteronomium 28:1, 2). Wat was die vrou se plek onder die Wet? Let op die volgende.

1. Individuele vryheid. Anders as vroue in baie ander eertydse nasies, het Israelitiese vroue baie vryheid geniet. Hoewel die rol van gesinshoof aan die man toegewys is, kon die vrou  “’n stuk grond oorweeg en dit verkry” en ‘’n wingerd plant’ omdat haar man haar ten volle vertrou het. As sy kon spin en weef, kon sy selfs haar eie besigheid bedryf (Spreuke 31:11, 16-19). ’n Vrou onder die Mosaïese Wet is as ’n individu uit eie reg beskou, nie bloot as ’n bykomstigheid om die man se aansien te verhoog nie.

In eertydse Israel kon vroue ook ’n persoonlike verhouding met God hê. Die Bybel praat van Hanna, wat oor ’n persoonlike saak tot God gebid het en sonder haar man se medewete ’n gelofte afgelê het (1 Samuel 1:11, 24-28). ’n Vrou van die stad Sunem het die profeet Elisa gewoonlik op die Sabbatdag geraadpleeg (2 Konings 4:22-25). Vroue, soos Debora en Hulda, is deur God gebruik as sy verteenwoordigers. Dit is interessant dat vername manne en priesters bereid was om hulle om raad te vra.—Rigters 4:4-8; 2 Konings 22:14-16, 20.

2. Toegang tot opvoeding. Aangesien vroue by die Wetsverbond ingesluit is, is hulle genooi om na die voorlesing van die Wet te luister, wat hulle die geleentheid gebied het om te leer (Deuteronomium 31:12; Nehemia 8:2, 8). Hulle kon ook opgelei word om aan sekere aspekte van openbare aanbidding deel te neem. Byvoorbeeld, party vroue het waarskynlik “georganiseerde diens” by die tabernakel verrig terwyl ander in ’n gemengde koor gesing het.—Eksodus 38:8; 1 Kronieke 25:5, 6.

Vroue in eertydse Israel het aan sakebedrywighede deelgeneem

Baie vroue het die nodige kennis en vaardighede gehad om ’n winsgewende besigheid te bedryf (Spreuke 31:24). Anders as die destydse kulture in ander lande—waarin slegs die vader sy seuns geleer het—het moeders in Israel gehelp om seuns op te voed totdat hulle volwassenes was (Spreuke 31:1). Dit is duidelik dat vroue in eertydse Israel allesbehalwe onopgevoed was.

3. Geëer en gerespekteer. Die Tien Gebooie  het uitdruklik gesê: “Eer jou vader en jou moeder” (Eksodus 20:12). In die spreuke van wyse koning Salomo lees ons: “Luister, my seun, na die dissipline van jou vader, en moenie die wet van jou moeder verlaat nie.”—Spreuke 1:8.

Die Wet het breedvoerige voorskrifte bevat oor hoe ongetroudes mekaar moes behandel, en dit het respek vir vroue getoon (Levitikus 18:6, 9; Deuteronomium 22:25, 26). ’n Goeie man moes sy vrou se fisiese en biologiese beperkings in ag neem.—Levitikus 18:19.

4. Regte moes beskerm word. In sy Woord beskryf Jehovah homself as “’n vader van vaderlose seuns en ’n regter van weduwees”. Hy was met ander woorde die Beskermer van diegene wie se regte nie deur ’n vader of ’n huweliksmaat beskerm is nie (Psalm 68:5; Deuteronomium 10:17, 18). Eenkeer, toe die weduwee van ’n profeet onregverdig behandel is deur ’n skuldeiser, het Jehovah ’n wonderwerk verrig sodat sy haar skuld kon betaal en haar waardigheid kon behou.—2 Konings 4:1-7.

Voordat die Israeliete in die Beloofde land ingegaan het, het die familiehoof Selofhad gesterf sonder om ’n seun agter te laat. Sy vyf dogters het Moses dus versoek om hulle “’n besitting” in die Beloofde Land te gee. Jehovah het hulle baie meer gegee as wat hulle versoek het. Hy het vir Moses gesê: ‘Gee hulle ’n erflike besitting onder hulle vader se broers, en jy moet hulle vader se erfdeel op hulle laat oorgaan.’ Van toe af kon vroue in Israel ’n erfenis van hulle vader ontvang en dit aan hulle nakomelinge nalaat.—Numeri 27:1-8.

God se beskouing van vroue word verkeerd voorgestel

Onder die Mosaïese Wet het vroue ’n eerbare status geniet, en hulle regte is gerespekteer. Maar van die vierde eeu VHJ het die Griekse kultuur, wat vroue as minderwaardig beskou het, ’n invloed op Judaïsme begin uitoefen.—Sien die venster “Diskriminasie teen vroue in eertydse geskrifte”.

Byvoorbeeld, die Griekse digter Hesiodos (agtste eeu VHJ) het al die mensdom se probleme aan vroue toegeskryf. In sy Theogony praat hy van “die vroulike geslag wat tot die sterflike mens se groot nadeel onder hulle woon”. Hierdie idee het vroeg in die tweede eeu VHJ in Judaïsme veld gewen. Die Talmoed, wat vanaf die tweede eeu HJ saamgestel is, het die volgende waarskuwing aan mans gegee: “Moenie baie met vroue gesels nie, want dit sal uiteindelik tot ontug lei.”

Deur die eeue heen het hierdie wantroue ’n groot invloed gehad op vroue se rol in die Joodse samelewing. In Jesus se dag is hulle toegang tot die tempelgebied reeds tot die Voorhof van die Vroue beperk. Net mans het  godsdiensonderrig ontvang, en vroue is waarskynlik in die sinagoge van mans geskei. Die Talmoed haal een Rabbi se woorde soos volg aan: “Wie ook al sy dogter die Tora [die Wet] leer, leer haar onbetaamlikheid.” Deur God se beskouing verkeerd voor te stel, het Joodse godsdiensleiers minagting vir vroue by baie mans laat ontstaan.

Toe Jesus op aarde was, was hy bewus van sulke vooroordele, wat diep in tradisie gewortel was (Matteus 15:6, 9; 26:7-11). Het sulke leringe die manier beïnvloed waarop hy vroue behandel het? Wat kan ons uit sy gedrag en gesindheid leer? Het die ware Christelike godsdiens verligting vir vroue gebring? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.