Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 Leer jou kinders

Hulle is “Seuns van die Donder” genoem

Hulle is “Seuns van die Donder” genoem

GEDURENDE ’n storm hoor jy dalk harde donder. Het dit jou al ooit bang gemaak? * Wel, Jesus noem twee van sy volgelinge “Seuns van die Donder”. Kom ons kyk hoekom.

Hierdie twee volgelinge van Jesus is Jakobus en Johannes. Hulle is broers, seuns van Sebedeus en sy vrou, Salome. Salome is waarskynlik ’n suster van Jesus se moeder, Maria. Jesus, Jakobus en Johannes is dus moontlik neefs en was dalk goeie vriende terwyl hulle grootgeword het.

Sebedeus is ’n visserman, en Jakobus en Johannes ook. Die twee is van die eerstes wat Jesus kies om sy volgelinge te wees. Wanneer hy hulle nooi om hom te volg, laat hulle onmiddellik hulle vissersbedryf agter en volg hulle hom. Later kies Jesus 12 van sy volgelinge om sy apostels te wees. Jakobus en Johannes is twee van hulle.

’n Paar maande voordat Jesus doodgemaak word, gaan hy en sy dissipels deur die bergstreek Samaria. Dit word laat, en hulle is almal baie moeg. Maar die Samaritane sê dat hulle nie wil hê dat Jesus en sy apostels by hulle in hulle stad moet oornag nie. Weet jy hoekom?— Kom ons kyk.

Jesus en sy apostels is Jode, en die meeste Jode is gemeen teenoor Samaritane. Jesus is natuurlik nooit so nie. Hy is vriendelik teenoor hulle, soos Jakobus en Johannes ook moet  wees. Maar die twee dissipels word kwaad vir die Samaritane wat hulle nie verwelkom het nie, en hulle vra vir Jesus: ‘Wil u hê ons moet sê dat vuur uit die hemel kom en hulle doodmaak?’ Wat dink jy sê Jesus?— Hy sê vir hulle dat dit verkeerd van hulle is om so ’n slegte ding te sê! Jakobus en Johannes moet meer oor barmhartigheid leer.

Nog ’n groot probleem wat Jakobus en Johannes het, is dat hulle eerste, of die belangrikste, wil wees. Kort voor Jesus se dood stuur hulle hulle moeder na hom om te sê: “Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand.” Wel, wanneer die ander tien apostels hoor wat Jakobus en Johannes gedoen het, is hulle kwaad. Sou jy ook kwaad gewees het?

Waarskynlik. Ons hou nie daarvan wanneer ander eerste wil wees en probeer om die belangrikste te wees nie. Later leer Jakobus en Johannes hoe verkeerd en liefdeloos hulle was, en hulle verander. Hulle word baie liefdevolle, goedhartige apostels. Wat kan ons hieruit leer?

’n Les wat ons by Jesus moet leer, is dat ons ook goedhartig teenoor mekaar moet wees. Jesus het mense goed behandel, insluitende mans, vroue en kinders. Sal jy altyd hard probeer om sy voorbeeld te onthou en dit te volg?

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.