Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 Leer jou kinders

Jesus het geleer om gehoorsaam te wees

Jesus het geleer om gehoorsaam te wees

IS DIT partykeer vir jou moeilik om gehoorsaam te wees?— * As dit is, is dit glad nie verbasend nie. Almal vind dit soms moeilik om gehoorsaam te wees. Het jy geweet dat selfs Jesus moes leer om gehoorsaam te wees?—

Weet jy aan wie alle jongmense gehoorsaam moet wees?— Ja, ons pa en ma. “Wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here”, sê die Bybel (Efesiërs 6:1). Wie is Jesus se vader?— Jehovah God, en hy is ook ons Vader (Matteus 6:9, 10). Maar as jy gesê het dat Josef Jesus se vader en Maria sy moeder was, sou jy ook reg gewees het. Weet jy hoe hulle sy ouers geword het?—

Die engel Gabriël het vir Maria gesê hoe sy ’n ma sou word al het sy nie met ’n man geslagsomgang gehad nie. Jehovah het hierdie swangerskap moontlik gemaak deur ’n groot wonderwerk te verrig. Gabriël het aan Maria verduidelik: “Krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, genoem word.”—Lukas 1:30-35.

God het die lewe van sy Seun in die hemel geneem en dit binne-in Maria gesit. Toe het daardie lewe binne-in haar gegroei net soos ander babas in hulle ma’s groei. Jesus is omtrent nege maande later gebore. Intussen het Josef met Maria getrou, en die meeste mense het aangeneem dat Josef Jesus se regte vader is. Eintlik was Josef sy pleegvader. ’n Mens kan dus sê dat Jesus twee vaders gehad het!

Toe Jesus net 12 was, het hy iets gedoen wat getoon het hoe lief hy was vir sy hemelse Vader, Jehovah. Dit was toe Jesus se familie, soos dit hulle gewoonte was, die lang reis na Jerusalem onderneem het vir die Pasga. Daarna, op pad huis toe na Nasaret, het Josef en Maria nie agtergekom dat Jesus nie by hulle was nie. Wonder jy dalk hoe hulle van hom kon vergeet het?—

Wel, teen daardie tyd het Josef en Maria al ander kinders gehad (Matteus 13:55, 56). Ander familielede het waarskynlik ook saam met hulle gereis, soos Jakobus en Johannes, saam met hulle pa, Sebedeus, en ma, Salome, wat moontlik Maria se suster was. Maria kon dus gedink het dat Jesus saam met ander familielede in die groep was.—Matteus 27:56; Markus 15:40; Johannes 19:25.

Toe Josef en Maria besef dat Jesus weg is, het hulle onmiddellik na Jerusalem teruggegaan. Hulle het desperaat na hulle seun gesoek. Op die derde dag het hulle hom in die tempel gekry. Maria het vir hom gesê: “Waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.” Maar Jesus het geantwoord: “Waarom moes julle na my gaan soek? Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?”—Lukas 2:45-50.

 Dink jy dit was verkeerd van Jesus om sy ma so te antwoord?— Wel, sy ouers het geweet dat hy lief was daarvoor om by God se huis te aanbid (Psalm 122:1). Was dit dan nie reg van Jesus om te dink dat God se tempel die eerste plek sou wees waar hulle na hom sou soek nie?— Later, het Maria bly dink aan wat Jesus gesê het.

Wat was Jesus se gesindheid teenoor Josef en Maria?— Die Bybel sê: “[Jesus] het saam met hulle afgegaan en in Nasaret gekom, en hy het aan hulle onderdanig gebly” (Lukas 2:51, 52). Wat kan ons uit Jesus se voorbeeld leer?— Ja, ons moet ook aan ons ouers gehoorsaam wees.

Nogtans was dit nie altyd maklik vir Jesus om gehoorsaam te wees nie—selfs nie aan sy hemelse Vader nie.

Die nag voor sy dood het Jesus vir Jehovah gevra of Hy van plan sou verander oor wat Hy wou hê Jesus moes doen (Lukas 22:42). Maar Jesus het God gehoorsaam al was dit nie maklik nie. Die Bybel sê dat “hy gehoorsaamheid geleer [het] uit die dinge wat hy gely het” (Hebreërs 5:8). Dink jy dat ons ook daardie les kan leer?—

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.