Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

’n Reis terug in tyd

’n Reis terug in tyd

 ’n Brief uit die Verenigde State

’n Reis terug in tyd

STEL jou voor hoe interessant dit sal wees om ’n reis terug in tyd te neem om te sien hoe jou voorouers geleef het. In sekere sin het ons so ’n reis onderneem. Ons het van Switserland na die Verenigde State van Amerika gereis. Die meeste mense dink die Verenigde State is in elke opsig baie modern, maar ons reis het ons tweehonderd jaar terug in tyd geneem. Kom ons vertel jou daarvan.

Omdat ons die Switsers-Duitse dialek kan praat, is ons genooi om drie maande in die deelstaat Indiana deur te bring. Ons doelwit was om die goeie nuus van God se Koninkryk aan Amiese gesinne bekend te maak wat die dialek van hulle voorouers behou het. Honderde van hierdie gesinne woon in Indiana.

Die Amiese mense is afstammelinge van ’n groep 17de-eeuse Anabaptiste. Hulle naam kom van hulle leier, Jakob Amman, wat in Switserland gewoon het. Uit hulle destydse studie van die Bybel het hierdie godvresende mense besef dat kinderdoop en militêre diens verkeerd is. Weens hulle standpunt het die regering hulle vervolg. ’n Paar het selfs met hulle lewe betaal vir hulle geloofsoortuigings. Vervolging het bly toeneem en baie van hulle moes na ander dele van Switserland en na Frankryk vlug. Teen die middel van die 19de eeu het duisende na die Verenigde State gevlug. Hulle het hulle kultuur en die Switsers-Duitse dialek saam met hulle gebring.

Toe ons hierdie sagmoedige mense besoek het, was hulle verbaas om ons voor hulle deur te sien en te hoor dat ons hulle dialek praat! Stel jou die toneel voor.

“Hoe ken julle ons taal?” vra hulle in Switserse Duits.

“Omdat ons van Switserland af kom”, antwoord ons.

“Maar julle is nie Amies nie!” Hulle is verward.

Baie deure gaan oop en ons kry ’n kykie in ’n lewenstyl wat lyk of dit uit die verre verlede kom. In plaas van gloeilampe het hulle olielampe; in plaas van motors, perdekarre; in plaas van lopende water, ’n put en ’n windpomp; in plaas van radio’s, samesang.

Wat ons die meeste beïndruk, is die nederigheid en beskeidenheid van diegene wat ons besoek. Baie Amiese mense lê hulle daarop toe om die Bybel elke dag te lees, en hulle waardeer Bybelbesprekings. Dit gee ons die geleentheid om met hulle te gesels oor God se voorneme vir die mensdom en die aarde.

Kort voor lank weet almal dat daar besoekers uit Switserland in die omgewing is. Baie vra dat ons hulle familielede besoek, wat ons  met graagte doen. Toe ons ’n uitnodiging kry om ’n Amiese skool te besoek, is ons baie opgewonde. Wat wag op ons?

Ons klop aan die skooldeur. Die onderwyser maak dit oop en nooi ons dadelik in die klaskamer in, waar 38 pare nuuskierige oë die vier vreemdelinge aanstaar. Agt klasse is saam in een klaskamer, en die leerders is tussen 7 en 15 jaar oud. Die meisies dra almal blou rokke en wit kappies; die seuns, swart broeke en donkerblou hemde. Die vertrek het ’n hoë plafon. Drie van die mure is vlootblou geverf, en teen die voorste muur is die skryfbord. Langsaan is ’n aardbol en ’n paar opgerolde wêreldkaarte. In die hoek is ’n groot ysterstoof.

Terwyl ons voor in die klas gaan sit, hou die kinders ons met groot nuuskierigheid dop. Elke klas word na die onderwyser se tafel geroep en oor die vorige dag se huiswerk gevra. Ons is aangenaam verras toe die onderwyser die kinders uitvra oor ’n les oor die Switserse Alpe. Die handboeke is redelik oud, en die onderwyser vra ons of Switserland nog steeds is soos sy boeke dit beskryf. Gaan die koeie nog steeds in die somer op na die hoogliggende weivelde of is daar nog steeds sneeu op die berge? Wanneer ons ons kleurfoto’s van die sneeubedekte pieke vir hulle wys en hulle dit met die swart-en-wit foto’s in sy handboek vergelyk, glimlag hy breed.

Die onderwyser se vrou, wat sy assistent is, vra ’n vraag wat dikwels gevra word: “Kan julle jodel?” Ons kan nie. Maar, omdat ons weet hoe goed die Amiese mense kan sing en jodel, vra ons dat hulle vir ons ’n liedjie sing. Ons versoek word toegestaan en ons luister in vervoering na hierdie koor van 40 stemme. Hierna stuur die onderwyser die kinders uit vir pouse.

Die onderwyser se vrou vra ons nou om iets vir hulle te sing. Gewapen met verskeie volksliedjies in Switserse Duits stem ons in om vir hulle te sing. Die nuus versprei op die speelgrond en in ’n ommesientjie is al die kinders terug in die klaskamer. Ons staan voor in die klas en doen ons bes om vir hulle te sing.

Later word ons genooi vir middagete by ’n Amiese gesin van 12. ’n Lang houttafel is vol smaaklike kos—kapokaartappels, ham, mielies, brood, kaas, groente, tertjies en ander nageregte. Voor die ete doen elkeen ’n stille gebed. Terwyl die kos omgestuur word, gesels ons oor Switserland, die land van hulle voorvaders, en hulle vertel ons van hulle lewe op die plaas. Die kinders fluister en giggel gedurende die ete. Wanneer almal klaar geëet het, word ’n tweede gebed gedoen, en dit is die teken dat die kinders van die tafel verskoon is—maar nie om te gaan speel nie. Elkeen het sy taak, soos om die tafel af te dek en die skottelgoed te was, wat behels dat hulle eers die water pomp en dit verhit.

Terwyl die kinders die skottelgoed was, nooi die ouers ons om saam met hulle in die sitkamer te gaan sit. Daar is nie ’n rusbank nie, maar ons gaan sit op gemaklike houtwiegstoele. Hulle haal ’n ou Duitse Bybel uit die kas en, soos dit die gewoonte is in Amiese gesinne, geniet ons kort voor lank ’n lewendige geestelike bespreking. Wat is Jehovah God se voorneme vir die aarde en die mensdom? Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat die sagmoediges die aarde sal beërf? Is God werklik van plan om goddelose mense vir ewig in ’n brandende hel te folter? Wie voer Jesus se opdrag uit om die goeie nuus in die hele bewoonde aarde te verkondig? Dit verskaf ons vreugde om al hierdie vrae—en nog baie meer—met geestelikgesinde mense uit hulle Bybel te bespreek.

Nou het ons aangename herinneringe aan ons reis terug in tyd, wat propvol wonderlike ondervindinge was. Ons hoop en bid dat hierdie besoeke en gesprekke in Switserse Duits nie net baie deure nie, maar ook baie harte geopen het om die juiste kennis van die waarheid in God se Woord, die Bybel, te verkry.