Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Die Apostoliese Vaders—Werklik apostolies?

Die Apostoliese Vaders—Werklik apostolies?

 Die Apostoliese Vaders—Werklik apostolies?

TEEN die begin van die tweede eeu G.J. het valse leringe die helder waters van Christelike waarheid begin vertroebel. Net soos geïnspireerde profesie voorspel het, het sekere persone ná die dood van die apostels die waarheid verlaat en hulle eerder tot “mites” gewend (2 Timoteus 4:3, 4, voetnoot in NW). Omstreeks 98 G.J. het Johannes, die laaste apostel wat nog gelewe het, gewaarsku teen sulke dwaalleringe en teen mense wat getroue Christene ‘probeer mislei’.—1 Johannes 2:26; 4:1, 6

Kort voor lank het manne wat later as die Apostoliese Vaders bekend gestaan het, op die toneel verskyn. Watter standpunt het hulle ten opsigte van godsdiensbedrog ingeneem? Het hulle ag geslaan op die apostel Johannes se goddelik geïnspireerde waarskuwing?

 Wie was hulle?

Die uitdrukking “Apostoliese Vaders” is al toegepas op godsdiensskrywers wat moontlik een van Jesus se apostels geken het of wat moontlik onderrig is deur dissipels wat deur die apostels geleer is. Oor die algemeen het hierdie manne tussen die einde van die eerste eeu G.J. en die middel van die tweede eeu gelewe. * Onder hulle was Klemens van Rome, Ignatius van Antiogië, Papias van Hiërapolis en Polikarpus van Smirna. Gedurende dieselfde tydperk was daar die ongenoemde skrywers van werke soos Die Didaché, die Brief van Barnabas, die Martelaarskap van Polikarpus en die tweede brief van Klemens.

Vandag is dit moeilik om te beoordeel presies in watter mate die leringe van die Apostoliese Vaders met Jesus se leringe ooreengekom het. Die oogmerk van hierdie manne was ongetwyfeld om ’n sekere vorm van die Christelike geloof te bewaar of andersins te bevorder. Hulle het afgodediens en losse sedes veroordeel. Hulle het geglo dat Jesus die Seun van God is en dat hy opgewek is. Maar hulle was nie in staat om die stygende gety van afvalligheid te stuit nie. Inteendeel, party van hulle het dit aangehelp.

Onbeduidende veranderinge?

Sekere vroeë “Christelike” denkrigtings het in werklikheid afgewyk van die leringe van Christus en sy apostels. Byvoorbeeld, in teenstelling met die gebruik wat deur Jesus by die Here se Aandmaal ingestel is, het die skrywer van Die Didaché aanbeveel dat die wyn voor die brood omgestuur word (Matteus 26:26, 27). Hierdie skrywer het ook gesê dat dit voldoende sou wees om water oor die kop van ’n doopkandidaat te giet as daar nie genoeg water was waarin hy onderdompel kon word nie (Markus 1:9, 10; Handelinge 8:36, 38). Dieselfde werk het Christene aangespoor om sekere rituele te onderhou, soos dié wat hulle verplig het om twee keer per week te vas en die Onse Vader presies drie keer per dag op te sê.—Matteus 6:5-13; Lukas 18:12.

Ignatius het op sy beurt ’n nuwe organisasie van die Christengemeente in gedagte gehad, met net een biskop wat “in die plek van God” die leiding neem. Hierdie biskop sou gesag oor baie priesters uitoefen. Sulke versinsels het die weg gebaan vir nog onskriftuurlike leringe.—Matteus 23:8, 9.

Oordrywing, martelaarskap en afgodediens

Party Apostoliese Vaders is deur oordrywing meegesleur. Papias het gedors na waarheid en het na die Christelike Griekse Geskrifte verwys. Terselfdertyd het hy die volgende omtrent die voorspelde Duisendjarige Heerskappy van Christus geglo: wingerdstokke sou 10 000 takke hê, elke tak 10 000 lote, elke loot 10 000 spruite, elke spruit 10 000 trosse, elke tros 10 000 druiwe, en elke druif sou gelykstaande wees aan 1 000 liter wyn.

Polikarpus was bereid om eerder ’n marteldood  te sterf as om sy Christelike geloof prys te gee. Hy is na bewering onderrig deur die apostels en ander wat Jesus geken het. Hy het uit die Bybel aangehaal, en dit lyk of hy volgens Christelike beginsels probeer lewe het.

Party mense was egter so toegewyd aan Polikarpus dat dit aan afgodediens gegrens het. Die Martelaarskap van Polikarpus sê dat die “getroues” ná sy dood gretig was om sy oorskot op te eis. Hulle het sy gebeente as “kosbaarder as die uitsonderlikste juwele en meer gesuiwer as goud” beskou. Dit is duidelik dat die besmette waters van dwaling aan die toeneem was.

Apokriewe geskrifte

Party Apostoliese Vaders het nie-Bybelse geskrifte aanvaar asof dit geïnspireer was. Klemens van Rome haal byvoorbeeld die apokriewe werke Wysheid en Judit aan. Die skrywer van Die Brief van Polikarpus verwys na Tobias om geloofwaardigheid te gee aan die idee dat aalmoesery krag het om die gewer van die dood te verlos.

In die tweede eeu G.J. het valse evangelies onegte verslae oor Jesus se lewe versprei, en die Vaders het dikwels geloofwaardigheid daaraan verleen. Ignatius het byvoorbeeld uit die sogenaamde Evangelie van die Hebreërs aangehaal. En aangaande Klemens van Rome sê een bron: “Klemens ken Christus blykbaar, nie deur die Evangelies nie, maar deur niekanonieke geskrifte.”

’n Vloedgolf van dwalinge

Deur van mites, mistieke idees en filosofie gebruik te maak om die Christelike geloof te verklaar, het hierdie manne die weg gebaan vir ’n vloedgolf van dwalinge. Klemens het byvoorbeeld na die mitologiese verhaal van die feniks as bewys van die opstanding verwys. Die feniks, ’n fabelagtige voël wat glo uit sy eie as herrys, is in Egiptiese mitologie met sonaanbidding verbind.

Nog ’n skrywer wat skriftuurlike waarheid geringgeag het, was die skrywer van die Brief van Barnabas. Hy het die Mosaïese Wet vertolk asof dit bloot sinnebeeldig was. Volgens hom het rein diere—herkouers met gesplete hoewe—mense voorgestel wat oor God se Woord peins, of dit herkou. Die gesplete hoef, het die skrywer gesê, het afgebeeld dat die regverdige man “in hierdie wêreld wandel” terwyl hy terselfdertyd na lewe in die hemel uitsien. Sulke vertolkings is nie op die Skrif gegrond nie.—Levitikus 11:1-3.

Die getuienis van die apostel Johannes

Gedurende die eerste eeu het die apostel Johannes gewaarsku: “Geliefdes, moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het, want talle valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1). Hoe gepas was hierdie woorde tog!

Teen die einde van die eerste eeu het baie sogenaamde Christene reeds die leringe van Jesus en sy apostels verlaat. In plaas van die stygende gety van afvalligheid te stuit, is die Apostoliese Vaders daardeur meegesleur. Hulle het waarheid met gif besoedel. Die apostel Johannes het van sulke persone gesê: “Elkeen wat vooruitdring en nie in die leer van die Christus bly nie, het God nie” (2 Johannes 9). Hierdie goddelik geïnspireerde waarskuwing was—en is—kristalhelder vir alle opregte soekers na skriftuurlike waarheid.

[Voetnoot]

^ par. 5 Die skrywers, teoloë en filosowe na wie daar oor die algemeen as die Kerkvaders verwys word, het tussen die tweede en die vyfde eeu G.J. gelewe.

[Lokteks op bladsy 29]

Party Apostoliese Vaders, insluitende Klemens, het na mites, mistieke idees en filosofie in hulle geskrifte verwys

[Prent op bladsy 28]

Polikarpus was bereid om ’n marteldood te sterf

[Erkenning]

The Granger Collection, New York