Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Is Jesus God?

Is Jesus God?

BAIE mense beskou die Drie-eenheid as “die sentrale leerstelling van die Christelike godsdiens”. Volgens hierdie lering is die Vader, die Seun en die heilige gees drie persone in een God. Kardinaal John O’Connor het oor die Drie-eenheid gesê: “Ons weet dat dit ’n baie diep verborgenheid is wat ons nie eens begin verstaan nie.” Waarom is dit so moeilik om die Drie-eenheid te verstaan?

The Illustrated Bible Dictionary gee een rede. Hierdie publikasie erken aangaande die Drie-eenheid: “Dit is nie ’n Bybelse leerstelling in die sin dat enige formulering daarvan in die Bybel gevind kan word nie.” Omdat die Drie-eenheid “nie ’n Bybelse leerstelling” is nie, het Trinitariërs desperaat Bybeltekste probeer vind—selfs verdraai—om ondersteuning vir hulle lering te vind.

’n Teks wat die Drie-eenheid leer?

Een voorbeeld van ’n Bybelteks wat dikwels verkeerd gebruik word, is Johannes 1:1. In die Ou Afrikaanse Bybelvertaling lui hierdie teks: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God [Grieks, ton the·on′], en die Woord was God [the·os′].” Hierdie vers bevat twee vorme van die Griekse selfstandige naamwoord the·os′ (god). Die eerste keer word dit voorafgegaan deur ton (die), ’n vorm van die Griekse bepaalde lidwoord, en in hierdie geval verwys die woord the·on′ na God die Almagtige. Maar in die tweede geval het the·os′ geen bepaalde lidwoord nie. Is die lidwoord per ongeluk weggelaat?

Waarom is dit so moeilik om die Drie-eenheidsleer te verstaan?

Johannes se Evangelie is geskryf in Koine, of gewone Grieks, wat spesifieke reëls het in verband met die gebruik van die bepaalde lidwoord.  Die Bybelgeleerde A. T. Robertson erken dat wanneer die onderwerp sowel as die predikaat lidwoorde het, “albei iets spesifieks is en as identies, een en dieselfde en uitruilbaar behandel word”. Robertson gebruik Matteus 13:38 as ’n voorbeeld, wat sê: “Die saailand [Grieks, ho a·gros′] is die wêreld [Grieks, ho ko′smos].” Die grammatika help ons om te verstaan dat die wêreld ook die saailand is.

Maar sê nou die onderwerp het ’n bepaalde lidwoord, maar nie die predikaat nie, soos in Johannes 1:1? Die geleerde James Allen Hewett haal hierdie vers as ’n voorbeeld aan en beklemtoon: “In hierdie soort konstruksie is die onderwerp en die predikaat nie dieselfde, gelyk aan mekaar, identies of enigiets van dié aard nie.”

Ter toeligting gebruik Hewett 1 Johannes 1:5, wat sê: ‘God is lig.’ In Grieks is “God” ho the·os′, en dit het dus ’n bepaalde lidwoord. Maar fos vir “lig” word nie deur enige lidwoord voorafgegaan nie. Hewett sê: “’n Mens kan altyd . . . van God sê dat Hy deur lig gekenmerk word; ’n mens kan nie altyd van lig sê dat dit God is nie.” Soortgelyke voorbeelde word gevind in Johannes 4:24: “God is ’n Gees”, en in 1 Johannes 4:16: “God is liefde.” In albei hierdie verse het die onderwerpe bepaalde lidwoorde, maar die predikate, “Gees” en “liefde”, het nie. Die onderwerp en die predikaat is dus nie uitruilbaar nie. Hierdie verse kan nie beteken “Gees is God” of “liefde is God” nie.

Die identiteit van “die Woord”?

Baie kenners van Grieks en Bybelvertalers erken dat Johannes 1:1 nie die identiteit nie, maar eerder ’n eienskap van “die Woord” beklemtoon. Die Bybelvertaler William Barclay sê: “Omdat [die apostel Johannes] nie ’n bepaalde lidwoord voor theos gebruik het nie, word dit ’n beskrywing . . . Johannes identifiseer die Woord nie hier as God nie. Om dit baie eenvoudig te stel, hy sê nie dat Jesus God is nie.” Die geleerde Jason David BeDuhn sê eweneens: “As jy in Grieks die lidwoord by theos weglaat in ’n sin soos die een in Johannes 1:1c, sal jou lesers aanneem dat jy ‘’n god’ bedoel. . . . Die afwesigheid daarvan maak theos baie anders as die bepaalde ho theos, net so anders as wat ‘’n god’ in Engels is as ‘God’.” BeDuhn voeg by: “In Johannes 1:1 is die Woord nie die enigste God nie, maar ’n god, of goddelike wese.” Of om dit te stel in die woorde van Joseph Henry Thayer, ’n geleerde wat aan die American Standard Version gewerk het: “Die Logos [of, Woord] was goddelik, nie die goddelike Wese self nie.”

Jesus het ’n duidelike onderskeid tussen hom en sy Vader getref

Is dit nodig dat die identiteit van God “’n baie diep verborgenheid” moet wees? Vir Jesus was dit blykbaar nie. In sy gebed tot sy Vader het Jesus ’n baie duidelike onderskeid tussen hom en sy Vader getref toe hy gesê het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). As ons Jesus glo en die eenvoudige leringe van die Bybel verstaan, sal ons hom as die goddelike Seun van God respekteer. Ons sal Jehovah ook as “die enigste ware God” aanbid.