Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 Sleutels tot gesinsgeluk

Die dissiplinering van kinders

Die dissiplinering van kinders

John: * Voordat my ouers my gestraf het omdat ek iets verkeerds gedoen het, het hulle werklik hard probeer om te verstaan waarom ek dit gedoen het en wat die omstandighede was. Ek probeer hulle voorbeeld navolg wanneer ek my dogters teregwys. My vrou, Alison, kom uit ’n ander agtergrond. Haar pa en ma was impulsiewer. Hulle het blykbaar hulle kinders gestraf sonder om hulle te bekommer oor die omstandighede rondom die voorval. Ek voel soms dat my vrou ons kinders ook op ’n ongevoelige manier dissiplineer.

Carol: My pa het ons gesin verlaat toe ek net vyf jaar oud was. Hy het geen belangstelling in my of my drie sussies getoon nie. My ma het baie hard gewerk om vir ons te sorg, en ’n groot deel van die verantwoordelikheid om na my jonger sussies te kyk, het op my skouers gerus. Dit was moeilik om my kinderjare te geniet terwyl ek die rol van ’n ouer moes vervul. Tot vandag toe is ek eerder ernstig as spelerig. Wanneer my kinders dissipline nodig het, tob ek oor hulle foute. Ek hou daarvan om te weet waarom iets gebeur het en wat hulle gedink het. My man, Mark, daarenteen, broei nie oor sake nie. Hy is grootgemaak deur ’n liefdevolle maar ferm pa, wat lojaal vir sy ma gesorg het. My man los probleme met ons dogters gou op. Hy som die situasie op, hanteer dit en dink dan nie verder daaraan nie.

SOOS die kommentare van John en Carol toon, kan jou opvoeding ’n geweldige invloed hê op die manier waarop jy jou kinders dissiplineer. Wanneer ’n man en vrou uit verskillende familieagtergronde kom, sal hulle idees oor die opleiding van kinders waarskynlik baie verskil. Soms veroorsaak hierdie verskille spanning in ’n huwelik.

Uitputting kan spanning vererger. Nuwe ouers leer gou dat die dissiplinering van kinders ’n vermoeiende, voltydse werk is. Joan, wat saam met haar man, Darren, twee dogters grootgemaak het, sê: “Ek is lief vir my dogters, maar hulle wou selde bed toe gaan wanneer ek wou hê hulle moes. Hulle het op die mees ongeleë tye wakker geword. Hulle het my   in die rede geval wanneer ek wou praat. Hulle het hulle skoene, klere en speelgoed laat rondlê en nooit die botter in die yskas teruggesit nie.”

Jack, wie se vrou ná hulle tweede kind aan nageboortelike depressie gely het, sê: “Ek het dikwels uitgeput van die werk af huis toe gekom en dan die helfte van die nag wakker gesit met ons pasgebore baba. As gevolg hiervan was dit moeilik om ons ouer dogter konsekwent te dissiplineer. Sy was jaloers omdat sy ons aandag met haar sussie moes deel.”

Wanneer moeë ouers bots oor hoe ’n kind opgelei moet word, kan ’n klein geskil in ’n groot stryery ontaard. Onopgeloste meningsverskille kan ’n wig word wat ’n paartjie uitmekaar dryf en vir ’n kind ’n opening gee om die een ouer teen die ander uit te speel. Watter Bybelbeginsels sal ’n paartjie help om ’n hegte huweliksband te behou terwyl hulle hulle kinders doeltreffend oplei?

Maak tyd vir jou huwelik

Die huwelik moet bestaan voordat die kinders gebore word en is bedoel om voort te duur lank nadat hulle die huis verlaat het. Die Bybel sê aangaande die huwelik: “Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:6). Daarenteen toon dieselfde gedeelte dat dit God voorneme was dat ’n kind uiteindelik “sy vader en sy moeder [sou] verlaat” (Matteus 19:5). Die grootmaak van kinders is eintlik net ’n fase in die huwelik, nie die grondslag daarvan nie. Ouers moet beslis tyd aan die opleiding van hulle kinders wy, maar dit sal goed wees as hulle onthou dat ’n sterk huwelik die beste grondslag is waarop dit gedoen kan word.

Wat is een manier waarop ’n paartjie hulle verhouding sterk kan hou gedurende die jare dat hulle kinders grootmaak? Indien dit enigsins moontlik is, moet julle gereeld ’n bietjie tyd opsysit om saam deur te bring sonder die kinders. As julle dit doen, sal julle tyd hê om belangrike gesinsake te bespreek en om net mekaar se geselskap te geniet. Dit is miskien nie maklik om tyd te maak wat julle as ’n paartjie saam kan deurbring nie. Alison, die moeder na wie vroeër verwys is, sê: “Sodra dit lyk of ek en my man ’n paar oomblikke saam sal hê, soek ons jongste dogter aandag of ondervind ons sesjarige die een of ander ‘krisis’, soos dat sy nie haar vetkryt kan kry nie.”

Joan en Darren, wat vroeër genoem is, het vir mekaar tyd gemaak deur ’n sekere tyd vas te stel waarop hulle dogters bed toe moet gaan. “Ons dogters moes altyd op ’n sekere tyd in die bed wees en klaar wees sodat die lig afgeskakel kan word”, sê Joan. “Dit het vir my en Darren tyd gegee om te ontspan en te gesels.”

Deur ’n spesifieke slaaptydroetine vir hulle kinders vas te stel, koop ’n paartjie nie net tyd vir hulleself uit nie, maar help hulle ’n kind ook om nie “meer van homself [of haarself] te dink as wat dit nodig is om te dink nie” (Romeine 12:3). Kinders wat geleer is om slaaptydreëls te respekteer, besef uiteindelik dat hulle ’n belangrike deel van die gesin is, maar nie die middelpunt daarvan nie—hulle moet aanpas by die gesin se roetine en nie van die gesin verwag om by hulle giere aan te pas nie.

PROBEER DIE VOLGENDE: Stel ’n spesifieke slaaptyd vas en pas dit konsekwent toe. As jou kind ’n rede gee waarom hy of sy nog ’n bietjie langer moet opbly, soos vir ’n glas water, kan jy dalk een versoek toestaan. Maar moenie toelaat dat jou kind slaaptyd onbepaald uitstel met ’n eindelose string versoeke nie. As jou kind smeek om vyf minute langer op te bly en jy die versoek wil toestaan, kan jy ’n wekker stel om ná vyf minute af te gaan. Wanneer dit afgaan, moet jy die kind in die bed sit sonder om enige verdere toegewings te maak. Laat jou ‘Ja, Ja beteken, jou Nee, Nee’.—Matteus 5:37.

Hou ’n verenigde front voor

“Luister, my seun, na die dissipline van jou vader, en moenie die wet van jou moeder  verlaat nie”, sê ’n wyse spreuk (Spreuke 1:8). Hierdie Bybelvers gee te kenne dat die vader sowel as die moeder die reg het om gesag oor hulle kinders uit te oefen. Maar selfs al kom ’n paartjie uit soortgelyke familieagtergronde, kan hulle verskil oor hoe ’n kind gedissiplineer moet word en watter gesinsreëls in ’n spesifieke situasie moet geld. Hoe kan ouers hierdie uitdaging die hoof bied?

John, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek voel dat dit belangrik is om nie voor die kinders te verskil nie.” Maar om ’n verenigde front voor te hou, is makliker gesê as gedaan, erken hy. “Kinders is baie oplettend”, sê John. “Selfs as ons nie sê dat ons verskil nie, kan ons dogter dit aanvoel.”

Hoe bied John en Alison hierdie uitdaging die hoof? Alison sê: “As ek nie saamstem met die manier waarop my man ons dogter dissiplineer nie, wag ek totdat sy buite hoorafstand is voordat ek my insette lewer. Ek wil nie hê sy moet dink dat sy ons verskillende standpunte kan uitbuit om haar sin te kry nie. As sy agterkom dat ons verskil, sê ek vir haar dat elke lid van die gesin Jehovah se reëling moet volg en dat ek my gewillig aan haar pa se hoofskap onderwerp, net soos sy haar aan ons gesag as ouers moet onderwerp” (1 Korintiërs 11:3; Efesiërs 6:1-3). John sê: “Wanneer ons as ’n gesin saam is, neem ek gewoonlik die leiding daarin om ons dogters te dissiplineer. Maar as Alison meer weet omtrent ’n situasie, laat ek haar die dissipline gee en dan ondersteun ek haar. As ek nie saamstem oor iets nie, sal ek dit later met haar bespreek.”

Hoe kan jy voorkom dat meningsverskille oor ’n kind se opleiding gegriefdheid tussen jou en jou maat laat ontstaan—en gevolglik julle kinders se respek vir julle ondermyn?

PROBEER DIE VOLGENDE: Kies ’n spesifieke tyd elke week om oor die opleiding van julle kinders te gesels, en bespreek enige meningsverskille wat julle dalk het, openlik met mekaar. Probeer jou maat se standpunt insien, en respekteer die feit dat jou maat sy of haar eie verhouding met die kind het.

Kom as ouers nader aan mekaar

Om kinders op te lei, is ongetwyfeld harde werk. By tye lyk dit dalk asof hierdie taak ’n groot hap uit jou energie neem. Maar vroeër of later sal jou kinders die huis verlaat, en jy en jou maat sal weer meer soos ’n paartjie voel. Sal die grootmaak van kinders julle huweliksband versterk of gespanne maak? Die antwoord sal afhang van hoe goed julle die beginsel toepas in Prediker 4:9, 10: “Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk. Want as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp.”

Wanneer ouers as ’n span saamwerk, kan die resultate baie bevredigend wees. Carol, wat vroeër aangehaal is, beskryf haar gevoelens as volg: “Ek het geweet dat my man talle goeie eienskappe het, maar om saam kinders groot te maak, het my ’n hele nuwe kant van hom laat sien. My respek en liefde vir hom het gegroei terwyl ek gesien het hoe liefdevol hy vir ons dogters sorg.” John sê van Alison: “Om my vrou in haar rol as ’n liefdevolle moeder te sien, het my liefde en bewondering vir haar laat toeneem.”

As jy tyd maak vir jou maat en julle as ’n span saamwerk gedurende die jare dat julle kinders grootmaak, sal julle huwelik sterker word namate julle kinders ouer word. Julle kan nouliks ’n beter voorbeeld vir julle kinders stel.

^ par. 3 Name is verander.

VRA JOU AF . . .

  • Hoeveel tyd bring ek elke week saam met my maat deur sonder dat die kinders by is?

  • Hoe ondersteun ek my maat wanneer hy of sy ons kinders dissiplineer?