Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 Leer jou kinders

Markus het nie tou opgegooi nie

Markus het nie tou opgegooi nie

MARKUS het een van die vier Bybelboeke oor Jesus se lewe geskryf. Dit is die kortste en die maklikste om te lees. Wie was Markus? Dink jy hy het Jesus geken?— * Kom ons kyk watter moeilike toetse Markus moes deurmaak en vind uit waarom Markus nooit opgehou het om ’n Christen te wees nie.

Markus word vir die eerste keer in die Bybel by name genoem nadat koning Herodes Agrippa die apostel Petrus in die tronk gegooi het. Een aand het ’n engel Petrus uit die tronk bevry, en hy het dadelik gegaan na die huis van Markus se moeder, Maria, wat in Jerusalem gewoon het. Petrus is uit die tronk vrygelaat omtrent tien jaar nadat Jesus tydens die Pasga in 33 G.J. doodgemaak is.—Handelinge 12:1-5, 11-17.

Weet jy waarom Petrus na Maria se huis toe gegaan het?— Hy het heel moontlik lede van haar familie geken en het geweet dat Jesus se dissipels vergaderinge in haar huis gehou het. Markus se neef Barnabas was al lank ’n dissipel, ten minste sedert die Pinksterfees in 33 G.J. Die vrygewigheid wat hy destyds teenoor nuwe dissipels getoon het, word in die Bybel genoem. Jesus het dus moontlik vir Barnabas geken, sowel as sy tante Maria en haar seun Markus.—Handelinge 4:36, 37; Kolossense 4:10.

In sy Evangelie het Markus geskryf dat daar op die aand toe Jesus in hegtenis geneem is, ’n jong man teenwoordig was wat slegs ’n kleed “om sy naakte lyf” gedra het. Markus het geskryf dat die jong man ontsnap het toe vyande Jesus gegryp het. Wie dink jy was daardie jong man?— Ja, dit was heel moontlik Markus! Toe Jesus en sy apostels dus laat daardie aand vertrek het, het Markus blykbaar vinnig ’n kleed aangetrek en hulle gevolg.—Markus 14:51, 52.

Wie is hierdie jong man dalk? Wat gebeur met hom, en waarom?

Markus het inderdaad ’n ryk geestelike agtergrond gehad. Hy was waarskynlik teenwoordig toe heilige gees op Pinkster 33 G.J. uitgestort is en het noue omgang met getroue knegte van God, soos Petrus, gehad. Maar hy was ook ’n metgesel van sy neef Barnabas, wat Saulus gehelp het deur hom aan Petrus voor te stel ongeveer drie jaar nadat Jesus in ’n visioen aan Saulus verskyn het. Jare later het Barnabas na Tarsus gegaan om Saulus daar te vind.—Handelinge 9:1-15, 27; 11:22-26; 12:25; Galasiërs 1:18, 19.

 In 47 G.J. is Barnabas en Saulus gekies om sendingwerk te doen. Hulle het Markus saamgeneem, maar om die een of ander onbekende rede het Markus hulle later verlaat en teruggekeer na sy huis in Jerusalem. Saulus, wat onder sy Romeinse naam Paulus bekend geword het, was woedend. En hy het nie geïgnoreer wat hy as ’n ernstige tekortkoming aan Markus se kant beskou het nie.—Handelinge 13:1-3, 9, 13.

Toe Paulus en Barnabas van hulle sendingreis teruggekeer het, het hulle vertel van die wonderlike sukses wat behaal is (Handelinge 14:24-28). Maande later het die twee beplan om terug te gaan na waar hulle gepreek het en nuwe bekeerlinge te besoek. Barnabas wou Markus saamneem, maar weet jy wat Paulus daarvan gedink het?— Hy “het nie gedink dat dit gepas is” nie, aangesien Markus hulle vroeër verlaat het om huis toe te gaan. Wat volgende gebeur het, moes Markus beslis hartseer gemaak het!

Humeure het opgevlam, en ná “’n skerp uitbarsting van toorn” het Paulus en Barnabas uitmekaar gegaan. Barnabas het Markus saamgeneem om in Siprus te preek, en Paulus het Silas gekies en weer die nuwe dissipels besoek, soos vroeër beplan is. Hoe seergemaak moes Markus tog gevoel het dat hy die oorsaak was van die moeilikheid tussen sy vriende Paulus en Barnabas!—Handelinge 15:36-41.

Ons weet nie waarom Markus vroeër huis toe gegaan het nie. Hy het waarskynlik gevoel dat hy ’n goeie rede het. Hoe dit ook al sy, Barnabas was klaarblyklik oortuig dat dit nie weer sou gebeur nie. En hy was reg. Markus het nie tou opgegooi nie!  Later het hy sendingwerk saam met Petrus in vergeleë Babilon gedoen. Van daar af het Petrus groete gestuur en bygevoeg: “En so ook Markus, my seun.”1 Petrus 5:13.

Wat ’n hegte geestelike band het Petrus en Markus tog gehad! Dit kan ook duidelik gesien word wanneer ons Markus se Evangelie lees. Markus se verslag weerspieël Petrus se skerpsinnige, eerstehandse waarnemings. Vergelyk byvoorbeeld die verslae van ’n storm op die See van Galilea. Markus verstrek besonderhede oor waar Jesus in die boot geslaap het en waarop hy geslaap het, dinge wat ’n visserman soos Petrus sou opmerk. Kom ons kyk self hierna deur die Bybelverslae in Matteus 8:24; Markus 4:37, 38 en Lukas 8:23 saam te lees en met mekaar te vergelyk.

Later, toe Paulus ’n gevangene in Rome was, het hy Markus geprys vir sy lojale ondersteuning (Kolossense 4:10, 11). En toe Paulus weer daar in die tronk was, het hy aan Timoteus geskryf en hom gevra om Markus saam te bring en het verduidelik: “Hy is vir my nuttig om diens te verrig” (2 Timoteus 4:11). Ja, watter groot diensvoorregte het Markus tog geniet omdat hy nie tou opgegooi het nie!

Watter seëninge het Markus ontvang omdat hy nie tou opgegooi het nie?

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.