Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Versterk jou geloof in die dinge waarop jy hoop

Versterk jou geloof in die dinge waarop jy hoop

“Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word.”—HEB. 11:1.

LIEDERE: 81, 134

1, 2. (a) Hoe verskil die dinge waarop ware Christene hoop van die dinge waarop mense in Satan se wêreld hoop? (b) Watter belangrike vrae sal ons nou bespreek?

WARE Christene het beslis ’n wonderlike hoop! Maak nie saak of ons van die gesalfdes of die “ander skape” is nie, ons het almal die hoop om te sien dat God se oorspronklike voorneme vervul word en dat Jehovah se naam geheilig word (Joh. 10:16; Matt. 6:9, 10). Daar is niks belangrikers waarna enige mens kan uitsien nie. Ons sien ook uit na die beloning van die ewige lewe, hetsy as deel van God se “nuwe hemele” of as deel van sy “nuwe aarde” (2 Pet. 3:13). Intussen hou ons vas aan die hoop dat God sal aanhou om sy volk geestelik voorspoedig te maak.

2 Mense in Satan se wêreld hoop ook op sekere dinge, maar hulle twyfel dalk of hulle hoop bewaarheid sal word. Byvoorbeeld, miljoene dobbelaars hoop dalk om ’n lotery te wen, maar daar is beslis geen waarborg dat hulle sal wen nie. Aan die ander kant is ware geloof “die gewaarborgde verwagting” dat ons Christelike hoop vervul sal word (Heb. 11:1). Maar jy wonder miskien: ‘Hoe kan ek my hoop sekerder maak? En watter voordele hou dit in as ek sterk geloof het in die dinge waarop ek hoop?’

3. Waarop is Christelike geloof gegrond?

 3 Geloof is nie ’n eienskap waarmee sondige mense gebore word nie; dit is ook nie iets wat vanself ontwikkel nie. ’n Christen verkry geloof as hy God se heilige gees toelaat om ’n invloed op sy hart uit te oefen (Gal. 5:22). Die Bybel sê nie dat Jehovah geloof het of geloof nodig het nie. Omdat Jehovah almagtig en volmaak wys is, kan niks hom keer om sy beloftes te vervul nie. Ons hemelse Vader is so seker dat sy beloftes vervul sal word dat dit vir hom is asof dit reeds bewaarheid is. Daarom sê hy: “Dit het geskied!” (Lees Openbaring 21:3-6.) Ons geloof is gegrond op die feit dat Jehovah “die getroue God” is, wat altyd doen wat hy belowe.—Deut. 7:9.

LEER BY EERTYDSE MANNE EN VROUE VAN GELOOF

4. Watter hoop het getroue manne en vroue gehad wat voor Christus gelewe het?

4 Hoofstuk 11 van die boek Hebreërs gee die name van 16 manne en vroue van geloof. Die geïnspireerde skrywer het gesê dat hulle en baie ander “deur hulle geloof [’n gunstige] getuienis” ontvang het (Heb. 11:39). Hulle het almal ’n “gewaarborgde verwagting” gehad dat God se beloofde “saad” ’n einde aan Satan se opstand sal maak en Jehovah se oorspronklike voorneme sal vervul (Gen. 3:15). Hierdie getroue mense het gesterf voordat die beloofde “saad”, Jesus Christus, dit vir mense moontlik gemaak het om hemelse lewe te ontvang (Gal. 3:16). Maar danksy Jehovah se beloftes, wat beslis vervul sal word, sal hulle opgewek word en volmaakte menselewe op ’n paradysaarde geniet.—Ps. 37:11; Jes. 26:19; Hos. 13:14.

5, 6. Waarop het Abraham en sy gesin gehoop, en hoe het hulle hulle geloof sterk gehou? (Sien prent aan begin van artikel.)

5 Hebreërs 11:13 sê van knegte van God wat voor Christus gelewe het: “In geloof het hulle almal gesterf, hoewel hulle nie die vervulling van die beloftes verkry het nie, maar hulle het dit van ver gesien en dit verwelkom.” Een van hierdie mense was Abraham. Het hy die wonderlike hoop om onder die beloofde “saad” se heerskappy te lewe, duidelik in gedagte gehou? Jesus het hierdie vraag beantwoord toe hy vir sy teenstanders gesê het: “Abraham, julle vader, het hom grootliks verbly in die vooruitsig om my dag te sien, en hy het dit gesien en hom verbly” (Joh. 8:56). Dieselfde was waar van Sara, Isak, Jakob en baie ander wie se hoop gevestig was op die toekomstige Koninkryk, “waarvan God die bouer en maker is”.—Heb. 11:8-11.

6 Hoe het Abraham en sy gesin hulle geloof sterk gehou? Hulle het waarskynlik van God geleer deur na getroue ouer persone te luister, deur betroubare geskrifte te lees of deur middel van openbarings wat God hulle gegee het. Wat meer is, hulle het nie vergeet wat hulle geleer het nie, maar het God se beloftes en vereistes as belangrik beskou en daaroor nagedink. Omdat hulle hoop so seker was, het hierdie manne en vroue lojaal aan God gebly, selfs as dit beteken het dat hulle moes ly.

7. Watter voorsienings het Jehovah ons gegee sodat ons sterk geloof kan opbou, en wat moet ons met hierdie voorsienings doen?

7 Om ons te help om ons geloof sterk te hou, het Jehovah ons sy volledige Woord, die Bybel, gegee. As ons “gelukkig” en “suksesvol” wil wees, moet ons God se Woord gereeld lees, elke dag indien moontlik. (Ps. 1:1-3; lees Handelinge 17:11.) Dan moet ons, soos eertydse knegte van Jehovah, oor God se beloftes bly nadink en sy vereistes gehoorsaam. Jehovah gebruik ook “die getroue en verstandige slaaf” om ons van ’n oorvloed geestelike voedsel te  voorsien (Matt. 24:45). As ons waardering het vir die dinge wat ons leer uit die geestelike voorsienings wat Jehovah ons gee, sal ons soos die eertydse manne en vroue van geloof wees wat seker was van hulle Koninkrykshoop.

8. Hoe kan gebed ons geloof versterk?

8 Gebed het ook ’n belangrike rol daarin gespeel om die geloof van Jehovah se eertydse knegte sterk te hou. Hulle geloof is versterk wanneer hulle ervaar het dat God hulle gebede verhoor (Neh. 1:4, 11; Ps. 34:4, 15, 17; Dan. 9:19-21). Ons kan ook in gebed vir Jehovah sê waaroor ons besorg is, en ons weet dat hy ons hoor en ons versterk om vreugdevol te volhard. En wanneer ons gebede verhoor word, versterk dit ons geloof. (Lees 1 Johannes 5:14, 15.) Aangesien geloof ’n aspek van die vrug van die gees is, moet ons aanhou om God vir sy gees te vra, soos Jesus ons aangespoor het.—Luk. 11:9, 13.

9. Waaroor en vir wie moet ons bid?

9 Ons moenie net bid wanneer ons God se hulp wil hê nie. Die “wonderlike werke” waarvoor ons Jehovah elke dag kan dank en loof, is “te talryk” om op te noem! (Ps. 40:5). Ons gebede moet ook toon dat ons “dink aan dié in gevangenisboeie asof [ons] saam met hulle geboei is”. En ons moet bid vir ons wêreldwye broederskap, veral vir diegene “wat die leiding onder [ons] neem”. Ons hart word geraak wanneer ons sien hoe Jehovah ons gebede verhoor!—Heb. 13:3, 7.

HULLE HET LOJAAL GEBLY

10. Watter voorbeelde is daar van knegte van God wat lojaal gebly het, en wat het hulle die krag gegee om dit te doen?

10 In Hebreërs hoofstuk 11 beskryf die apostel Paulus die beproewinge wat baie ongenoemde knegte van God verduur het. Die apostel noem byvoorbeeld vroue van geloof wat hulle seuns aan die dood afgestaan het, maar hulle later deur middel van ’n opstanding terugontvang het. Dan noem hy ander wat “nie bevryding deur die een of ander losprys wou aanvaar nie, sodat hulle ’n beter opstanding kon verkry” (Heb. 11:35). Hoewel ons nie met sekerheid kan sê wie Paulus hier in gedagte gehad het nie, is party, soos Nabot en Sagaria, met klippe doodgegooi omdat hulle aan God gehoorsaam was en sy wil gedoen het (1 Kon. 21:3, 15; 2 Kron. 24:20, 21). “Bevryding” was beslis moontlik vir Daniël en sy vriende, maar hulle het besluit om lojaal te bly. Hulle geloof in God se krag het hulle in staat gestel om as ’t ware ‘die bekke van leeus toe te stop’ en ‘die krag van vuur te stuit’.—Heb. 11:33, 34; Dan. 3:16-18, 20, 28; 6:13, 16, 21-23.

11. Watter beproewinge het party van die profete weens hulle geloof verduur?

11 Profete soos Migaja en Jeremia is weens hulle geloof bespot en in die gevangenis gegooi. Ander, soos Elia, “het rondgeswerf in woestyne en berge en grotte en gate van die aarde”. Hulle het almal volhard omdat hulle ’n “gewaarborgde verwagting [gehad het] van dinge waarop gehoop word”.—Heb. 11:1, 36-38; 1 Kon. 18:13; 22:24-27; Jer. 20:1, 2; 28:10, 11; 32:2.

12. Wie het die beste voorbeeld tydens beproewinge gestel, en wat het hom gehelp om dit te doen?

12 Nadat Paulus verskeie manne en vroue van geloof beskryf het, het hy die beste voorbeeld genoem wat daar is—ons Here Jesus Christus. “Vir die vreugde wat hom voorgehou is,” sê Hebreërs 12:2, “het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en het hy aan die regterhand van die troon van God gaan sit.” Ja, ons moet ‘noukeurig let op’ die voorbeeld van geloof  wat Jesus ondanks hewige beproewinge gestel het. (Lees Hebreërs 12:3.) Soos Jesus het baie vroeë Christene hulle lewe verloor omdat hulle lojaal aan Jehovah gebly het. Die dissipel Antipas was een van hulle (Op. 2:13). Hierdie Christene sou beloon word met ’n opstanding tot lewe in die hemel—’n voortrefliker opstanding as die “beter opstanding” waarna eertydse manne van geloof uitgesien het (Heb. 11:35). ’n Ruk nadat die Koninkryk in 1914 opgerig is, is al hierdie getroue gesalfdes, wat in die dood geslaap het, opgewek tot geeslewe in die hemel waar hulle saam met Jesus oor die mensdom sal regeer.—Op. 20:4.

HEDENDAAGSE VOORBEELDE VAN GELOOF

13, 14. Watter beproewinge het Rudolf Graichen verduur, en wat het hom gehelp om te volhard?

13 Vandag volg miljoene knegte van God die voorbeeld van Jesus deur hulle hoop duidelik voor oë te hou en nie toe te laat dat beproewinge hulle geloof verswak nie. Kyk na die voorbeeld van Rudolf Graichen, wat in 1925 in Duitsland gebore is. Hy het gedink aan prente van Bybeltonele wat teen die mure in hulle huis gehang het. “Een prent”, het hy geskryf, “was van die wolf en die lam, die bokkie en die luiperd, die kalf  en die leeu, wat almal in vrede bymekaar is en deur ’n klein seuntjie gelei word. . . . Hierdie prente het ’n blywende indruk op my gemaak” (Jes. 11:6-9). Rudolf is jare lank wreed vervolg, eers deur die Nazi-Gestapo en later deur die kommunistiese Stasi van Oos-Duitsland, maar hy het sy geloof in ’n aardse paradys sterk gehou.

14 Rudolf het ook voor ander hewige beproewinge te staan gekom. Sy dierbare moeder het in die Ravensbrück-konsentrasiekamp aan tifus gesterf, en sy pa se geloof het so verswak dat hy ’n dokument onderteken het waarin hy gesê het dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies is nie. Nadat Rudolf uit die tronk vrygelaat is, het hy die voorreg geniet om as ’n kringopsiener te dien, en later is hy na die Gileadskool genooi. Hy is as ’n sendeling na Chili gestuur, waar hy weer as ’n kringopsiener gedien het. Maar Rudolf se beproewinge was nog nie verby nie. ’n Jaar nadat hy met Patsy, ’n medesendeling, getrou het, het hulle babadogtertjie gesterf. Later het sy geliefde vrou ook gesterf. Sy was net 43 jaar oud. Rudolf het ten spyte van al hierdie beproewinge volhard. Selfs toe hy bejaard en siek was, het hy as ’n gewone pionier en ’n ouer man gedien. Sy lewensverhaal is in Die Wagtoring van 1 Augustus 1997, bladsy 20-25. [1]

15. Watter hedendaagse voorbeelde het ons van Getuies van Jehovah wat vervolging vreugdevol verduur?

15 Jehovah se Getuies hou aan om hulle te verbly in hulle hoop, al ondervind hulle hewige vervolging. Byvoorbeeld, honderde van ons broers en susters is in tronke in Eritrea, Singapoer en Suid-Korea. In die meeste gevalle is dit omdat hulle Jesus se woorde gehoorsaam om nie die swaard op te neem nie (Matt. 26:52). Isaac, Negede en Paulos is al meer as 20 jaar lank in ’n gevangeniskamp in Eritrea! Hulle kon dus nie trou of na hulle bejaarde ouers omsien nie, maar hulle bly lojaal al word hulle wreed mishandel. As ’n mens na hulle foto’s op jw.org gaan kyk, sal jy sien dat hulle positief is en hulle geloof sterk hou. Selfs hulle bewaarders het hulle begin respekteer.

Vind jy baat by hedendaagse voorbeelde van geloof in jou gemeente? (Sien paragraaf 15, 16)

16. Hoe kan sterk geloof jou beskerm?

16 Die meeste van Jehovah se knegte verduur nie wrede vervolging nie. Hulle ondervind ander toetse van geloof. Baie gaan gebuk onder armoede of het gely weens burgeroorloë of natuurrampe. Ander het soos Abraham, Isak, Jakob en Moses ’n gerieflike lewe of roem prysgegee. Hulle stry hard teen die versoeking om ’n materialistiese of selfsugtige lewe te lei. Wat stel hulle in staat om dit te doen? Hulle liefde vir Jehovah en hulle sterk geloof in die belofte dat hy alle ongeregtigheid uit die weg sal ruim. Hulle weet dat hy sy getroue knegte sal beloon met die ewige lewe in ’n nuwe wêreld waarin daar regverdigheid sal wees.—Lees Psalm 37:5, 7, 9, 29.

17. Wat is jy vasbeslote om te doen, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?

17 Ons het in hierdie artikel gesien dat ons geloof sterk sal bly as ons nadink oor God se beloftes en gereeld bid. En sterk geloof sal ons help om tydens toetse van geloof te volhard, want dan het ons “die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word”. Maar die Bybel se beskrywing van geloof behels meer as dit, soos die volgende artikel sal toon.

^ [1] (paragraaf 14) Sien ook die artikel “My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly” in die Ontwaak! van 22 April 2002, wat die lewensverhaal bevat van Andrej Hanák van Slowakye.