Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

’n Arm begin — ’n Ryk einde

’n Arm begin — ’n Ryk einde

Ek is gebore in ’n houthuisie met net een vertrek in ’n klein dorpie met die naam Liberty in Indiana, VSA. My ouers het reeds drie kinders gehad toe ek gebore is — my ouer broer en twee susters. Later het hulle nog drie kinders gehad, my twee jonger boeties en my klein sussie.

Die houthuisie waar ek gebore is

GEDURENDE my skooljare het daar nie veel gebeur nie. In my skool was jy van graad een tot matriek saam met dieselfde kinders in ’n klas. Jy het die name van die meeste mense in die dorp geken, en hulle het jou naam geken.

Ek was een van sewe kinders, en toe ek jonk was het ek geleer hoe om plaaswerk te doen

Daar was baie plasies rondom Liberty, en die meeste mense het met mielies geboer. Toe ek gebore is, het my pa op een van hierdie plase gewerk. As ’n tiener het ek geleer om ’n trekker te ry en om ander plaaswerk te doen.

My ouers was nie meer jonk toe ek gebore is nie. My pa was al 56, en my ma 35. Nogtans was my pa ’n fris, gesonde, sterk man wat lief was vir harde werk en wat sy kinders geleer het om ook hard te werk. Hy het nooit baie geld verdien nie, maar hy het gesorg dat ons ’n dak oor ons kop, klere aan ons lyf en kos op die tafel het. En hy was altyd daar vir ons. My pa is oorlede toe hy 93 was, en my ma toe sy 86 was. Nie een van hulle het Jehovah gedien nie. En van al my broers en susters is daar net een boetie wat Jehovah dien. Hy dien getrou as ’n ouer man al vandat die reëling vir ouer manne in die vroeë 1970’s begin het.

 MY JONG DAE

My ma was baie godsdienstig, en ons het elke Sondag saam met haar na die Baptistekerk gegaan. Toe ek 12 jaar oud was, het ek vir die eerste keer van die Drie-eenheid gehoor. Ek was nuuskierig en het vir my ma gevra: “Hoe kan Jesus op dieselfde tyd die Seun en die Vader wees?” Ek onthou nog wat sy gesê het: “My seun, dis ’n raaisel. Ons is nie veronderstel om dit te verstaan nie.” Dit was definitief ’n raaisel vir my. Maar nogtans is ek in ’n stroompie gedoop toe ek 14 was — drie keer onder die water gedompel, vir die Drie-eenheid!

1952 — Toe ek 17 was, voordat ek met my diensplig in die weermag begin het

Toe ek op hoërskool was, het ek ’n vriend gehad wat ’n goeie bokser was. Hy het my oorreed om ook te probeer boks. Ek het begin oefen en by ’n boks-organisasie met die naam Golden Gloves aangesluit. Maar ek kon nie baie goed boks nie, en ná ’n paar gevegte het ek opgehou. Later is ek opgeroep vir diensplig in die Amerikaanse weermag en na Duitsland gestuur. Terwyl ek daar was, is ek gestuur om ’n skool vir onderoffisiere by te woon. Hulle het gedink dat ek die regte eienskappe het om ’n leier te wees en wou hê dat ek die weermag my loopbaan moes maak. Maar ek wou nie in die weermag bly nie. Ná twee jaar, toe ek my diensplig voltooi het, is ek in 1956 eervol ontslaan. Nie lank daarna nie het ek by ’n heel ander soort weermag aangesluit.

1954-1956 — Ek was twee jaar lank in die Amerikaanse weermag

’N NUWE LEWE BEGIN

Tot op hierdie stadium van my lewe het ek geleer om macho te wees. My idee van wat ’n ware man is, was baie beïnvloed deur flieks en deur wat ek in die gemeenskap rondom my gesien het. Ek het nie gedink dat predikers manlik genoeg was nie. Maar toe het ek ’n paar dinge begin leer wat my hele lewe verander het. Eendag, terwyl ek deur die dorp gery het met my rooi kar met ’n afslaankap, het twee meisies vir my beduie om na hulle toe te kom. Ek het hulle geken. Hulle was die jonger sussies van my ouer suster se man. In elk geval, die twee meisies was Jehovah se Getuies. Ek het al vantevore Die Wagtoring en Ontwaak! by hulle gekry, maar eintlik het ek gevoel dat Die Wagtoring ’n bietjie bo my vuurmaakplek is. Maar hierdie keer het hulle my genooi om die Gemeentelike Boekstudie by te woon. Dit was ’n klein vergadering om die Bybel te studeer en te bespreek, en is by hulle huis gehou. Ek het vir hulle gesê dat ek daaroor sou dink. Die meisies het geglimlag en gevra: “Belowe jy?” Ek het gesê: “Ek belowe.”

Ek was toe ’n bietjie spyt dat ek daardie belofte gemaak het, maar ek het gevoel dat ek nie op my woord kan teruggaan nie. Daarom het ek daardie aand na die boekstudie gegaan. Die kinders het my die meeste beïndruk. Ek kon nie glo dat hulle die Bybel so goed ken nie! Al het ek elke Sondag saam met my ma kerk toe gegaan, het ek bitter min van die Bybel geweet. Ek was nou vasbeslote om meer te leer, en ek het ’n Bybelstudie aanvaar. Een van die eerste dinge wat ek geleer het, is dat God die Almagtige se persoonlike naam Jehovah is. Toe ek my ma jare vroeër oor Jehovah se Getuies uitgevra het, het sy net gesê: “O, hulle aanbid die een of ander ou man met die naam Jehovah.” Maar nou het alles vir my begin sin maak!

Ek het vinnig vordering gemaak omdat ek geweet het dat dit die waarheid is. Ek is in Maart 1957 gedoop, minder as nege maande nadat ek daardie eerste vergadering bygewoon het. My uitkyk op die lewe het verander. Wanneer ek terugdink aan die  macho-manier waarop ek dinge gedoen het, is ek bly dat ek uit die Bybel geleer het wat ’n ware man is. Jesus was ’n volmaakte man. Hy het innerlike krag gehad en was fisies sterker as wat enige ‘macho-man’ kan droom om te wees. Maar hy het nooit baklei nie. Hy het hom eerder “laat teister”, net soos voorspel is (Jes. 53:2, 7). Ek het geleer dat ’n ware navolger van Jesus ‘teer moet wees teenoor almal’. — 2 Tim. 2:24.

Ek het in 1958 begin pionier. Maar nie lank daarna nie moes ek vir ’n rukkie ophou, want ek het besluit om te trou — met Gloria. Sy was een van die twee meisies wat my genooi het om die boekstudie by te woon! Ek was nog nooit spyt daaroor nie. Gloria is vandag vir my nog net so kosbaar as wat sy vir my was toe ons getrou het. Sy is vir my soos die Hope-diamant, maar ek hoef nie te hoop nie. Ek het met haar getrou! Maar laat sy julle ’n bietjie van haarself vertel:

“Ek was een van 17 kinders. My ma was ’n getroue Getuie, en sy is oorlede toe ek 14 was. Dit is toe dat my pa begin studeer het. Ná my ma se dood, het my pa ’n reëling met die skoolhoof gemaak. My ouer suster was amper klaar met hoërskool, en my pa het gevra dat ek en sy beurte maak om skool toe te gaan. Op hierdie manier kon een van ons elke dag by die huis bly om na die ander kinders te kyk en aandete reg te hê wanneer my pa van die werk af kom. Die skoolhoof het ingestem, en ons het dit gedoen totdat my suster hoërskool klaargemaak het. Twee Getuie-gesinne het met ons studeer, en 11 van ons het Getuies van Jehovah geword. Ek het van velddiens gehou, al was ek nog altyd baie skaam. Sam het my oor die jare hiermee gehelp.”

Ek en Gloria is in Februarie 1959 getroud. Ons het dit geniet om saam te pionier. Later daardie jaar, in Julie, het ons aansoek gedoen om by Bethel te dien, want ons wou baie graag by die wêreldhoofkwartier gaan werk. ’n Liewe broer, Simon Kraker, het die onderhoud met ons gevoer. Hy het vir ons gesê dat Bethel nie op daardie stadium getroude paartjies aanvaar nie. Ons het nooit ophou hoop dat ons eendag by Bethel sou dien nie, maar baie tyd het verbygegaan voordat dit gebeur het!

Ons het aan die wêreldhoofkwartier geskryf en gevra dat hulle ons stuur na waar daar hulp nodig is. Hulle het ons geantwoord, en ons is net een keuse gegee: Pine Bluff, Arkansas. In daardie dae was daar twee gemeentes in Pine Bluff — een vir wit mense en een vir swart mense. Ons is na die “swart” gemeente gestuur, wat omtrent 14 verkondigers gehad het.

RASSESKEIDING EN RASSISME

Julle wonder dalk hoekom daar rasseskeiding in gemeentes van Jehovah se Getuies was. En die antwoord is eenvoudig, in daardie dae was daar nie eintlik ’n keuse nie. Dit was teen die wet vir verskillende rasse om met mekaar te meng, en dan was daar natuurlik altyd ’n kans dat ons aangeval kon word. Op baie plekke was dit gevaarlik vir wit en swart broers om saam te aanbid. As hulle dit sou waag, sou die Koninkryksaal heel moontlik verwoes word. Sulke dinge het gebeur. As swart Getuies van huis tot huis gepreek het in ’n wit buurt, sou hulle in hegtenis geneem word en waarskynlik geslaan word. Ons het die wet gehoorsaam sodat ons die predikingswerk gedoen kon kry en gehoop dat dinge later beter sou word.

Daar was ook uitdagings in ons bediening. Terwyl ons in ’n swart gebied gewerk het, het ons partykeer per ongeluk aan ’n deur geklop waar wit mense gebly het. Ons moes dan vinnig besluit of ons ’n kort gedagte uit die Bybel gaan deel en of ons eerder net om verskoning moet vra en aanstap. Op party plekke was dit maar net hoe dinge was in daardie dae.

Ons moes natuurlik ook hard werk om geld te verdien sodat ons kon aanhou pionier. Die meeste van ons werkies het drie dollar ’n dag betaal. Gloria het as ’n bediende by ’n paar huise gewerk. By een huis is ek toegelaat om haar te help sodat die werk gouer gedoen kon word. Hulle het vir ons middagete gegee. Dit was gevries en is ’n TV-ete genoem. Ek en Gloria het dit saam geëet voordat ons teruggegaan het huis toe. Gloria het ’n ander gesin se wasgoed elke week gestryk. Ek het in die tuin gewerk, vensters gewas en ander werkies om die huis gedoen. By een wit gesin se huis het ons saam die vensters gewas, Gloria aan die binnekant en ek aan die  buitekant. Dit het die hele dag gevat, daarom het hulle vir ons middagete gegee. Gloria het in die huis geëet, maar nie saam met die gesin nie. En ek het buite in die garage geëet. Ek het nie omgegee nie, die kos was lekker. Die gesin was baie vriendelik, maar hulle was vasgevang in daardie stelsel, in daardie manier van dink. Ek onthou nog wat gebeur het toe ons eenkeer petrol ingegooi het. Nadat ek die kar volgemaak het, het ek die man gevra of Gloria die badkamer kan gebruik. Hy het my net aangegluur en gesê: “Dis gesluit.”

VRIENDELIKHEID WAT ONS ALTYD SAL ONTHOU

Ons het ook lekker tye saam met die broers gehad en ons het ons bediening baie geniet! Toe ons in Pine Bluff aangekom het, het ons by die broer gaan bly wat toe die gemeentekneg was. Op daardie stadium was sy vrou nie ’n Getuie nie, en Gloria het ’n Bybelstudie met haar begin. Ek het ’n studie begin met hulle dogter en hulle skoonseun. Die ma en die dogter het altwee besluit om Jehovah te dien en is gedoop.

Ons het goeie vriende in die wit gemeente gehad. Hulle sou ons oornooi vir ete, maar ons kon eers gaan as dit donker was. Die Ku Klux Klan (KKK), ’n organisasie wat bekend was vir rassisme en geweld, was toe baie bedrywig. Ek onthou dat ek een aand met Halloween ’n man wat ’n wit laken en gepunte hoed gedra het, op sy stoep sien sit het. Hy was trots daarop om soos ’n lid van die KKK aangetrek te wees. Maar sulke dinge het nie die broers gekeer om liefdevol teenoor mekaar te wees nie. Eenkeer het ons nie genoeg geld gehad om na die streekbyeenkoms te gaan nie. Om ons te help het ’n broer aangebied om ons 1950-Ford te koop. Eendag, omtrent ’n maand later, was ons pootuit nadat ons van deur tot deur in die warm son geloop het en Bybelstudies gehou het. ’n Verrassing het vir ons by die huis gewag. Ons kar was voor die huis geparkeer! Daar was ’n briefie op die voorruit wat gesê het: “Julle kan julle kar terugkry. Dis ’n geskenk van my. Julle broer.”

Nog iets het gebeur wat ek nooit sal vergeet nie. In 1962 is ek genooi om die Koninkryksbedieningskool by te woon in South Lansing, New York. Broers wat toesig gehou het oor die gemeentes, kringe en streke sou ’n hele maand lank opleiding ontvang. Toe ek die uitnodiging gekry het, het ek sonder werk gesit, en ons het nie eintlik geld gehad nie. Maar ek het vir ’n onderhoud gegaan by ’n telefoonmaatskappy in Pine Bluff. As ek die werk gekry het, sou ek die eerste swart man gewees het wat by daardie maatskappy werk. Uiteindelik het hulle vir my gesê dat ek die werk gekry het. Wat sou ek doen? Ek het nie geld gehad om New York toe te gaan nie. Ek het dit ernstig oorweeg om die werk te vat en nie die uitnodiging na die skool te aanvaar nie. Om die waarheid te sê, ek was op die punt om ’n brief aan Bethel te skryf toe iets gebeur wat ek nooit sal vergeet nie.

’n Suster in ons gemeente, wie se man nie in die waarheid was nie, het vroeg een oggend aan ons  deur geklop en vir my ’n koevert gegee. Dit was vol geld. Sy en haar kinders het ’n paar weke lank elke oggend vroeg opgestaan en in die katoenlande gaan werk om genoeg geld bymekaar te maak sodat ek New York toe kon gaan. Sy het gesê: “Gaan skool toe en leer soveel as wat jy kan, en kom terug en leer ons!” Ek het die telefoonmaatskappy gevra of ek dalk vyf weke later kon begin werk as wat ons oorspronklik ooreengekom het. Die antwoord was ’n besliste: “Nee!” Maar dit het nie saak gemaak nie. Ek het klaar besluit. Ek is so bly dat ek nie daardie werk gevat het nie!

Dit is wat Gloria oor ons tydjie in Pine Bluff onthou: “Ek het baie lief geword vir ons gebied! Ek het tussen 15 en 20 Bybelstudies gehad. Ons het in die oggend van huis tot huis gegaan en dan het ons vir die res van die dag Bybelstudies gehou, partykeer tot 11-uur in die aand. Die velddiens was so lekker! Ek sou glad nie omgegee het om daar te bly en aan te hou pionier nie. Om eerlik te wees, ek wou nie regtig van toewysing verander en op die kring gaan nie, maar Jehovah het iets anders in gedagte gehad.” Hy het beslis.

DIE LEWE AS ’N REISENDE OPSIENER

Terwyl ons in Pine Bluff gepionier het, het ons aansoek gedoen om spesiale pioniers te word. Ons het verwag dat ons aanvaar sou word, want ons streekopsiener wou hê dat ons ’n gemeente in Texas moes gaan help en dat ons daar as spesiale pioniers moes dien. Ons het baie van hierdie idee gehou. Ons het gewag en gewag vir ’n antwoord van die Genootskap af, maar die posbus was elke dag leeg. Uiteindelik was daar ’n brief — ons is gevra om op die kring te dien! Dit was in Januarie 1965. Broer Leon Weaver, wat nou die koördineerder van die Verenigde State se Takkomitee is, is op dieselfde tyd as ’n kringopsiener aangestel.

Ek was senuweeagtig om ’n kringopsiener te word. Omtrent ’n jaar vroeër het die streekopsiener, James A. Thompson jr., na my kwalifikasies gekyk. Hy het my liefdevol raad gegee oor ’n paar dinge waarop ek kon verbeter, en vir my gesê wat nodig is om ’n goeie kringopsiener te wees. ’n Rukkie nadat ek as ’n kringopsiener begin dien het, het ek besef hoe baie ek daardie raad nodig gehad het. Nadat ek aangestel is, was broer Thompson die eerste streekopsiener saam met wie ek gedien het. Ek het baie by daardie getroue geestelike broer geleer.

Ek waardeer die hulp wat ek van getroue geestelike broers gekry het

In daardie dae het ’n kringopsiener baie min opleiding gekry. Ek het ’n week saam met ’n kringopsiener spandeer terwyl hy ’n gemeente besoek het en mooi gekyk wat hy doen. Die volgende week het hy weer saam met my ’n gemeente besoek en gekyk wat ek doen. Hy het voorstelle gemaak en my raad gegee. Maar daarna was ons op ons eie. Ek onthou  nog dat ek vir Gloria gesê het: “Moet hy regtig nou al gaan?” Maar mettertyd het ek iets belangriks besef. Daar sal altyd goeie broers wees wat jou kan help — as jy hulle toelaat om jou te help. Ek waardeer nog steeds die hulp wat ek gekry het by ervare broers soos J.R. Brown, wat toe ’n kringopsiener was, en Fred Rusk van die Bethelgesin.

Mense was baie rassisties in daardie dae. Eenkeer, terwyl ons ’n dorp in Tennessee besoek het, het die KKK ’n optog daar gehou. Ek onthou ook toe ons velddiensgroep eenkeer vir ’n rukkie by ’n eetplek gestop het om te rus. Ek het opgestaan om na die badkamer te gaan en het gesien hoe ’n rowwe ou, vol rassistiese tatoeëermerke, opstaan en my volg. Maar ’n wit broer, wat baie groter as ek of die rowwe ou was, het ook by die badkamer ingekom. “Is alles oukei, broer Herd?”, het hy gevra. Die rowwe ou het hom gou uit die voete gemaak, sonder om die badkamer te gebruik. Oor die jare het ek gesien dat vooroordeel niks te doen het met ’n persoon se velkleur nie. Dit het te doen met sonde — die sonde wat Adam aan ons almal oorgedra het. En ek het geleer dat ’n broer ’n broer is, maak nie saak wat sy velkleur is nie. En as dit nodig is, sal hy vir jou sterf.

’N RYK EINDE

Ons was 12 jaar lank op die kring en het 21 jaar lank streekwerk gedoen. Ons het ryk seëninge ontvang en baie aanmoedigende ondervindinge gehad. Maar ons sou nog verder geseën word. In Augustus 1997 is ons droom uiteindelik bewaarheid. Ons is genooi om by die Bethel in die Verenigde State te gaan dien — omtrent 38 jaar nadat ons die eerste keer aansoek gedoen het. Ons het die volgende maand met ons Betheldiens begin. Ek het gedink dat die verantwoordelike broers by Bethel wou hê dat ek net ’n ruk lank moes uithelp, maar dit is nie hoe dinge uitgedraai het nie.

Gloria is vandag vir my nog net so kosbaar as wat sy vir my was toe ons getrou het

My eerste toewysing was in die Diensafdeling. Daar het ek baie geleer. Daardie broers hanteer sensitiewe en moeilike vrae van ouer manne en kringopsieners regoor die land. Ek het waardeer hoe geduldig en behulpsaam die broers met my was terwyl hulle my opgelei het. Maar ek dink dat as ek weer gevra sou word om daar te werk, ek nog steeds baie by daardie broers sou kon leer.

Ek en Gloria geniet die lewe in Bethel. Ons het nog altyd daarvan gehou om vroeg op te staan, en hierdie gewoonte help nogal baie as jy in Bethel is. Ná omtrent ’n jaar het ek begin dien as ’n helper vir die Dienskomitee van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. En in 1999 is ek as ’n lid van die Bestuursliggaam aangestel. Ek het baie dinge in hierdie toewysing geleer. Maar die belangrikste les wat ek geleer het, is dat Jesus Christus, en nie ’n mens nie, die hoof van die Christengemeente is.

Sedert 1999 het ek die voorreg om op die Bestuursliggaam te dien

As ek terugdink aan my lewe, voel ek partykeer ’n bietjie soos die profeet Amos. Jehovah het daardie nederige herder raakgesien wat die eenvoudige werk gehad het om wildevye te prik — kos wat net arm mense geëet het. God het Amos as ’n profeet aangestel, ’n toewysing waarin hy ryklik geseën is (Amos 7:14, 15). Net so het Jehovah my ook raakgesien, die seun van ’n arm plaaswerker in Liberty, Indiana, en hy het my ryklik geseën — met meer seëninge as wat ek kan opnoem! (Spr. 10:22). Ek was miskien arm toe my lewe begin het, maar nou is ek geestelik ryk, ryker as wat ek ooit kon droom om te wees!