Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

“Het jy my liewer as hulle?”

“Het jy my liewer as hulle?”

“Simon, seun van Johannes, het jy my liewer as hulle?”—JOH. 21:15.

LIEDERE: 128, 45

1, 2. Watter les het Jesus Petrus geleer?

SEWE van Jesus se dissipels het die hele nag op die See van Galilea probeer visvang, maar hulle het niks gevang nie. Jesus het hulle van die strand af dopgehou. Toe het hy vir hulle gesê: “‘Gooi die net aan die regterkant van die boot uit, en julle sal iets vind.’ Toe het hulle dit uitgegooi, maar weens die menigte visse kon hulle dit nie meer intrek nie.”—Joh. 21:1-6.

2 Nadat Jesus vir hulle ontbyt gemaak het, het Jesus vir Simon Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, het jy my liewer as hulle?” Waarvan het Jesus gepraat? Petrus was baie lief vir visvang. Moontlik het Jesus hom gevra waarvoor hy die liefste is. Is hy liewer vir sy werk as ’n visserman of vir Jesus en die dinge wat hy mense geleer het? Petrus het geantwoord: “Ja, Here, u weet dat ek geneentheid vir u het” (Joh. 21:15). Petrus het bedoel wat hy gesê het. Van toe af het hy gewys dat hy lief is vir Christus deur ywerig aan die predikingswerk deel te neem. Hy het ’n steunpilaar in die Christengemeente geword.

3. Waarvoor moet Christene versigtig wees?

 3 Wat leer ons uit Jesus se woorde aan Petrus? Ons moenie toelaat dat ons liefde vir Christus verswak en dat ons aandag van die Koninkryk afgelei word nie. Jesus het geweet dat ons lewe baie moeilik sou wees as gevolg van die sorge van hierdie stelsel van dinge. Jesus het in sy illustrasie van die saaier gesê dat party mense “die woord van die koninkryk” sou aanvaar en vordering sou maak, maar dat “die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom” die ‘woord sou verstik’ (Matt. 13:19-22; Mark. 4:19). As ons nie versigtig is nie, kan die sorge van die lewe veroorsaak dat ons nie meer so ywerig in Jehovah se diens is nie. Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom [nie].”—Luk. 21:34.

4. Hoe sal ons weet of ons liefde vir Christus sterk is? (Sien prent aan begin van artikel.)

4 Net soos Petrus wys ons dat ons lief is vir Christus deur die predikingswerk eerste in ons lewe te stel. Hoe kan ons aanhou om dit te doen? Ons moet onsself afvra: ‘Waarvoor is ek die liefste? Wat gee my meer vreugde? My diens aan Jehovah of ander dinge? Kom ons kyk na drie dinge wat ons liefde vir Christus kan verswak: werk, ontspanning en materiële dinge.

HOU WERK OP SY PLEK

5. Watter skriftuurlike verantwoordelikheid het gesinshoofde?

5 Om vis te vang was meer as net ’n stokperdjie vir Petrus. Dit was hoe hy vir sy gesin gesorg het. Jehovah het gesinshoofde vandag ook die verantwoordelikheid gegee om vir hulle gesin te sorg (1 Tim. 5:8). Hulle moet hard werk om dit te doen. Maar in hierdie laaste dae kan ons werk baie stresvol wees.

6. Waarom is ons werk vandag baie stresvol?

6 Omdat werk so skaars is, voel dié wat wel ’n werk het dat hulle langer en soms vir minder geld moet werk. En besighede probeer meer werk met minder mense doen. Werkers voel gespanne, uitgeput en word selfs siek. Baie is bekommerd dat hulle hulle werk sal verloor as hulle nie doen wat hulle werkgewer van hulle vra nie.

7, 8. (a) Aan wie moet ons eerstens lojaal wees? (b) Watter goeie les het ’n broer in Thailand geleer?

7 Vir Christene is dit belangriker om aan Jehovah God lojaal te wees as aan hulle werkgewer (Luk. 10:27). Ons werk om in ons daaglikse behoeftes te voorsien en sodat ons die predikingswerk kan doen. Maar as ons nie versigtig is nie kan ons werk veroorsaak dat ons ons aanbidding afskeep. Byvoorbeeld, ’n broer in Thailand vertel: “Ek het by ’n plek gewerk wat rekenaars regmaak. Die werk was interessant, maar ek moes lang ure werk. Ek het baie min tyd vir geestelike dinge gehad. Ek het uiteindelik besef dat as ek Koninkryksbelange eerste wou stel, ek ’n ander soort werk moes doen.” Wat het hierdie broer gedoen?

8 Hy het gesê: “Ná omtrent ’n jaar se beplanning het ek besluit om roomys te verkoop. In die begin het dit broekskeur  gegaan en ek het mismoedig geword. Die mense saam met wie ek gewerk het, het my uitgelag en gevra waarom ek gedink het dat dit beter is om roomys te verkoop as om rekenaars in ’n koel kantoor reg te maak. Ek het gebid en Jehovah gevra om my te help om te volhard en om my doelwit te bereik om meer tyd vir geestelike dinge te hê. Nie lank daarna nie het dinge begin verbeter. Ek het geleer waarvan mense hou en ek het lekkerder roomys gemaak. En dit was nie lank nie, toe verkoop ek elke dag al my roomys. Ek het meer geld verdien as toe ek met rekenaars gewerk het. Ek was gelukkiger omdat ek nie al die stres en bekommernis van my vorige werk gehad het nie. En die belangrikste van alles is dat ek nou nader aan Jehovah voel.”—Lees Matteus 5:3, 6.

9. Hoe kan ons ’n gebalanseerde beskouing van ons werk behou?

9 Jehovah waardeer dit as ons hard werk en dit kan ons gelukkig maak (Spr. 12:14). Maar ons werk moenie belangriker as ons diens aan Jehovah wees nie. Jesus het gesê: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge [basiese materiële behoeftes] sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6:33). Hoe weet ons of ons ’n gebalanseerde beskouing van werk het? Ons kan ons afvra: ‘Is my werk vir my interessant en opwindend terwyl geestelike dinge oninteressant en vervelig is?’ As ons oor hierdie vraag nadink, sal dit ons help om te sien vir wie ons die liefste is.

10. Watter belangrike les het Jesus ons geleer?

10 Jesus het vir ons gewys wat ons eerste in ons lewe moet stel. Eendag het hy Maria en haar suster, Marta, besoek. Terwyl Marta hard gewerk het om die kos voor te berei, het Maria by Jesus se voete gaan sit en na hom geluister. Toe Marta by Jesus gekla het dat Maria haar nie help nie, het hy gesê: “Wat Maria betref, sy het die goeie deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” (Luk. 10:38-42). Jesus het Marta ’n belangrike les geleer. Om te verhoed dat ons aandag deur alledaagse dinge afgelei word, en om ons liefde vir Christus te bewys, moet ons ‘die goeie deel kies’. Dit beteken dat daar niks belangriker as ons vriendskap met Jehovah is nie.

ONS BESKOUING VAN ONTSPANNING EN VERMAAK

11. Wat sê die Bybel oor rus en ontspanning?

11 Ons moet soms rus en ontspan omdat ons vandag so hard werk. God se Woord sê: “Vir ’n mens is daar niks beters nie as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk” (Pred. 2:24). Jesus het geweet dat mense rus nodig het. Byvoorbeeld, nadat hulle hard gewerk het in die predikingswerk, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom julle alleen na ’n eensame plek en rus ’n bietjie.”—Mark. 6:31, 32.

12. Wat kan gebeur as ons te lief is vir vermaak? Gee ’n voorbeeld.

12 Vermaak en ontspanning het ook sy plek. Maar ons moet versigtig wees dat dit nie die belangrikste ding in ons lewe word nie. In die eerste eeu het baie die gesindheid gehad: “Laat ons eet en  drink, want môre gaan ons sterf” (1 Kor. 15:32). Vandag het baie mense ook hierdie gesindheid. Byvoorbeeld, jare gelede het ’n jong man in Wes-Europa ons vergaderinge begin bywoon. Maar hy het so baie van vermaak gehou dat hy nie meer met Jehovah se volk geassosieer het nie. Later het hy besef dat sy liefde vir vermaak net vir hom probleme veroorsaak het. Hy het weer met sy Bybelstudie begin en het uiteindelik ’n verkondiger van die goeie nuus geword. Ná sy doop het hy gesê: “Die enigste ding waaroor ek jammer is, is dat ek soveel tyd gemors het voordat ek besef het dat om Jehovah te dien my gelukkiger kan maak as enige vermaak in die wêreld.”

13. (a) Watter gevaar kan vermaak en ontspanning inhou? (b) Wat kan ons help om ’n gebalanseerde beskouing van vermaak en ontspanning te hê?

13 Die doel van ontspanning is om ons te verkwik. Hoeveel tyd moet ons daaraan bestee? Dink hieraan: Ons almal hou daarvan om nou en dan nagereg te eet. Maar as ons net koek en lekkers eet, kan dit baie sleg vir ons gesondheid wees. As ons gesond wil wees, moet ons gesonde kos eet. ’n Dieet van vermaak en ontspanning sal ons geestelik laat verswak. As ons dit wil verhoed, moet ons ywerig in Jehovah se diens wees. Hoe weet ons of ons ’n gebalanseerde beskouing van ontspanning het? Kies ’n week en skryf die aantal ure neer wat jy aan geestelike dinge spandeer, soos om vergaderinge by te woon, aan die bediening deel te neem en persoonlike Bybelstudie en gesinsaanbidding te doen. Skryf dan neer hoeveel ure jy in dieselfde week aan ontspanning soos sport, stokperdjies, televisie en videospeletjies bestee. Wat sien jy as jy die aantal ure met mekaar vergelyk? Dalk moet jy minder “nagereg” eet.—Lees Efesiërs 5:15, 16.

14. Wat sal ons help om gesonde vermaak en ontspanning te kies?

14 Jehovah laat ons toe om ons eie ontspanning te kies en gesinshoofde kan ontspanning vir hulle gesin kies. Die Bybel wys hoe Jehovah oor sekere sake voel en hierdie beginsels kan ons help om goeie besluite te neem. * Gesonde ontspanning is ’n “gawe van God” (Pred. 3:12, 13). Nie almal sal natuurlik dieselfde ontspanning kies nie (Gal. 6:4, 5). Maar ons moet ons vermaak versigtig kies. Jesus het gesê: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Matt. 6:21). Wat ons dink, sê en doen moet wys dat niks belangriker as die Koninkryk is nie. Dit sal wys dat ons werklik vir Jesus lief is.—Fil. 1:9, 10.

ONS STRYD TEEN MATERIALISME

15, 16. (a) Hoe kan materialisme ’n strik vir Christene word? (b) Watter wyse raad het Jesus oor materiële dinge gegee?

15 Mense is vandag behep met die nuutste modes, elektroniese toestelle en so aan. Elke Christen moet homself afvra: ‘Hoe belangrik is materiële dinge vir my? Bestee ek meer tyd daaraan om na motors en modes te kyk en daaroor te dink as wat ek daaraan bestee om vir vergaderinge voor te berei? Is ek so  behep met alledaagse dinge dat ek minder tyd het om te bid of die Bybel te lees?’ As ons besef dat ons liefde vir materiële dinge groter is as ons liefde vir Christus, moet ons dink aan Jesus se woorde: “Waak teen elke soort hebsug” (Luk. 12:15). Waarom het Jesus hierdie ernstige waarskuwing gegee?

16 Jesus het gesê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie.” Hy het ook gesê: “Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie.” ’n Mens kan nie twee “here” dien nie, want ons sal “die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag” (Matt. 6:24). Omdat ons onvolmaak is, moet ons aanhou stry teen “die begeertes van ons vlees”, wat materialisme insluit.—Ef. 2:3.

17. (a) Waarom is dit vir party mense moeilik om ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge te hê? (b) Wat sal ons help om teen materialisme te veg?

17 Iemand wat net aan sy eie begeertes dink, sal dit moeilik vind om ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge te hê. Waarom? Want hulle het nie Jehovah se beskouing van sake nie. (Lees 1 Korintiërs 2:14.) Indien hulle nie helder kan dink nie, sal dit moeilik vir hulle wees om tussen reg en verkeerd te onderskei (Heb. 5:11-14). Dan word hulle begeerte na materiële dinge net sterker en sterker en hulle sal nooit genoeg kry nie (Pred. 5:10). Gelukkig is daar iets wat ’n mens omtrent materialisme kan doen. As ons gereeld God se Woord, die Bybel, lees, sal dit ons help om teen materialisme te veg (1 Pet. 2:2). Jesus het nagedink oor Jehovah se wysheid en dit het hom gehelp om die Duiwel se versoeking te weerstaan. As ons ook oor Bybelbeginsels nadink, sal dit ons help om materialisme te weerstaan (Matt. 4:8-10). As ons dit doen, sal ons wys dat ons Jesus meer as materiële dinge liefhet.

Wat het die eerste plek in jou lewe? (Sien paragraaf 18)

18. Wat is jy vasbeslote om te doen?

18 Toe Jesus vir Petrus gevra het: “Het jy my liewer as hulle?” het hy Petrus daaraan herinner dat hy geestelike dinge eerste in sy lewe moet stel. Petrus se naam beteken “’n stuk rots”, en sy goeie eienskappe was soos ’n rots (Hand. 4:5-20). Ons liefde vir Christus moet ook rotsvas wees, en ons moet ons werk, ontspanning en materiële dinge op hulle plek hou. As ons dit doen, wys ons dat ons met Petrus saamstem toe hy gesê het: “Here, u weet dat ek geneentheid vir u het.”

^ par. 14 Sien die artikel “Is jou ontspanning voordelig?” in Die Wagtoring van 15 Oktober 2011, bl. 9-12, par. 6-15.