Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

Ek het daarby baat gevind om met wyse persone te wandel

Ek het daarby baat gevind om met wyse persone te wandel

DIT was ’n koel oggend in Brookings, Suid-Dakota, VSA. Daar was ’n byt in die lug. Dit was vir my ’n teken dat ysige weer op pad is. Jy sal dalk verbaas wees om te weet dat ’n klein groepie van ons op daardie einste dag in ’n skuur gestaan en bewe het. Ons het voor ’n drinkbak vir diere gestaan waarin daar koue water was! Laat ek jou van myself vertel sodat jy kan verstaan waarom ons daar was.

MY KINDERJARE

Oom Alfred en my pa

Ek is op 7 Maart 1936 gebore, die jongste van vier kinders. Ons het op ’n plasie in die ooste van Suid-Dakota gewoon. Boerdery was belangrik vir ons gesin, maar dit was nie die belangrikste ding in ons lewe nie. My ouers is in 1934 as Jehovah se Getuies gedoop. Hulle het hulle aan ons hemelse Vader, Jehovah, toegewy. Om God se wil te doen was dus vir hulle van die allergrootste belang. My pa, Clarence, en later my oom Alfred, het as groepkneg (nou die koördineerder van die liggaam van ouer manne) gedien in ons klein gemeente in Conde, Suid-Dakota.

Om vergaderinge by te woon en om van huis tot huis te gaan om ander te vertel van die wonderlike hoop wat die Bybel vir die toekoms bied, was deel van ons gesin se roetine. My ouers se voorbeeld en die opleiding wat hulle ons gegee het, het ’n blywende indruk op ons as kinders gemaak. Ek en my suster, Dorothy, het Koninkryksverkondigers geword toe ons ses was. Ek het in 1943 by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit, wat kort tevore deel van ons vergaderinge geword het.

As ’n pionier in 1952

Byeenkomste was ’n belangrike deel van ons lewe. Broer Grant Suiter was die besoekende spreker by ’n streekbyeenkoms wat in 1949 by Sioux Falls, Suid-Dakota, gehou is. Ek kan nog steeds sy  toespraak onthou: “Dit is later as wat jy dink!” Hy het beklemtoon dat alle toegewyde Christene hulle lewe ten volle moet gebruik om die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk te verkondig. Dit het my aangespoor om my aan Jehovah toe te wy. By die volgende kringbyeenkoms, in Brookings, het ek in daardie koue stal, wat vroeër genoem is, gewag om gedoop te word. Op 12 November 1949 is vier van ons in daardie sinkbak gedoop.

Ek het dit my doelwit gemaak om te pionier. Ek het op 1 Januarie 1952, toe ek 15 was, begin pionier. Die Bybel sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word”, en daar was baie wyses in my familie wat my besluit om te pionier, ondersteun het (Spr. 13:20). My oom Julius, wat 60 jaar oud was, het my pioniermaat geword. Ten spyte van ons ouderdomsverskil het ons dit geniet om saam in die bediening te werk. Ek het baie by hom geleer. Dorothy het kort daarna ook ’n pionier geword.

KRINGOPSIENERS HET BELANGSTELLING IN MY GETOON

Gedurende my kinderjare het my ouers baie kringopsieners en hulle vrouens genooi om by ons te kom bly. ’n Egpaar wat my baie gehelp het, was Jesse en Lynn Cantwell. Hulle het ’n groot rol gespeel in my besluit om te pionier. Hulle persoonlike belangstelling het ’n begeerte in my aangewakker om teokratiese doelwitte te stel. Wanneer hulle gemeentes naby ons besoek het, het hulle my soms genooi om saam met hulle in die bediening uit te gaan. Ek het dit baie geniet en dit was baie opbouend!

Bud Miller en sy vrou, Joan, het ons volgende bedien. Ek was toe 18 jaar oud en het voor die kwessie van militêre diensplig te staan gekom. Ek het gedink dat die klassifikasie wat die plaaslike dienspligraad my aanvanklik gegee het, nie in ooreenstemming was met Jesus se vermaning aan sy volgelinge om neutraal te wees ten opsigte van die politiek nie. En ek wou die goeie nuus van die Koninkryk verkondig (Joh. 15:19). Ek het appèl aangeteken en die dienspligraad gevra om my as ’n bedienaar te klassifiseer.

Ek was baie bly dat broer Miller aangebied het om saam met my na die dienspligraad se verhoor te gaan. Hy was van nature ’n uitgaande persoon en het hom nie maklik laat intimideer nie. Dit het my baie vertroue gegee om ’n geestelike man met  so ’n persoonlikheid aan my sy te hê! As gevolg van daardie verhoor het die raad my in die laatsomer van 1954 as ’n bedienaar erken. Dit het dit vir my moontlik gemaak om ander teokratiese doelwitte te bereik.

As ’n nuwe Betheliet, by ’n plaasvoertuig

Om en by dié tyd het ek ’n uitnodiging ontvang om by Bethel te dien. My toewysing was by Watchtower Farm, soos dit destyds genoem is, op Staten Island, New York. Ek het die voorreg gehad om ongeveer drie jaar daar te dien. Dit was ’n wonderlike tyd, want ek het talle wyse persone ontmoet en ek kon saam met hulle werk.

BETHELDIENS

By WBBR saam met broer Franz

Die radiostasie WBBR was ook op die plaas op Staten Island. Dit is vanaf 1924 tot 1957 deur Jehovah se Getuies gebruik. Slegs 15 tot 20 lede van die Bethelgesin het op die plaas gedien. Die meeste van ons was jonk en onervare. Maar Eldon Woodworth, ’n ouer gesalfde broer, het saam met ons gewerk. Hy was werklik ’n wyse persoon. Sy vaderlike belangstelling in ons het ons geestelike standvastigheid gegee. Wanneer ander se onvolmaakthede die lewe moeilik gemaak het, het broer Woodworth gesê: “Dit is beslis wonderlik wat die Here reggekry het as jy dink aan wat hy het om mee te werk.”

Harry Peterson was baie ywerig in die bediening

Ons het die spesiale voorreg gehad om broer Frederick W. Franz ook by ons te hê. Sy wysheid en uitsonderlike kennis van die Skrif het ’n positiewe invloed op ons almal gehad, en hy het persoonlike belangstelling in elkeen van ons getoon. Ons kok was Harry Peterson; dit was vir ons makliker om hierdie van te gebruik as sy regte een, Papargyropoulos. Hy was ook een van die gesalfdes en was baie ywerig in die bediening. Broer Peterson het hard gewerk by Bethel, maar hy het nooit sy velddiens afgeskeep nie. Hy het elke maand honderde tydskrifte geplaas. Hy het ook baie goeie Bybelkennis gehad, en hy het baie van ons vrae beantwoord.

WYSE SUSTERS SE GOEIE VOORBEELD

Die plaasprodukte is by ’n inmakery op die perseel verwerk. Omtrent 42 600 liter vrugte en groente is elke jaar ingemaak en aan die hele Bethelgesin voorsien. Ek was bevoorreg om saam met Etta Huth, ’n baie wyse suster, te werk. Sy was verantwoordelik vir al die resepte by die inmakery. Tydens die inmaakseisoen het plaaslike susters  kom help, en Etta het gehelp om hulle werk te organiseer. Al het Etta ’n belangrike rol in die inmakery gespeel, het sy seker gemaak dat sy ’n goeie voorbeeld stel deur respek te toon vir die broers wat opsieners op die plaas was. Ek het haar beskou as ’n goeie voorbeeld van iemand wat haar aan teokratiese hoofskap onderwerp.

Ek en Angela saam met Etta Huth

Angela Romano was een van die jong susters wat met die inmakery kom help het. Etta het haar gehelp toe sy in die waarheid gekom het. Terwyl ek by Bethel gedien het, het ek dus nog ’n wyse persoon ontmoet, met wie ek nou al 58 jaar lank wandel. Ek en Angie is in April 1958 getroud en ons het baie diensvoorregte geniet. Lojaliteit aan Jehovah was deur die jare heen vir Angie van die allergrootste belang en het gehelp om ons huwelik sterk te hou. Ek kan ten volle staat maak op haar ondersteuning, maak nie saak voor watter uitdagings ons te staan kom nie.

’N SENDINGTOEWYSING EN DIE REISENDE WERK

Toe die WBBR-radiostasie op Staten Island in 1957 verkoop is, het ek ’n kort rukkie by die Brooklynse Bethel gedien. Toe is ek en Angie getroud en het ek Bethel verlaat. Ons het ongeveer drie jaar op Staten Island gepionier. Ek het selfs ’n tyd lank vir die nuwe eienaars van die radiostasie gewerk, wat die roepletters WPOW gebruik het.

Ek en Angie was vasbeslote om ons lewe eenvoudig te hou sodat ons gereed kon wees om te dien waar ons ook al nodig is. Gevolglik was ons vroeg in 1961 in ’n posisie om ’n toewysing as spesiale pioniers in Falls City, Nebraska, te aanvaar. Kort nadat ons hierdie toewysing ontvang het, is ons genooi om die Koninkryksbedieningskool by te woon. Dit was destyds ’n maand lange opleidingskursus in South Lansing, New York. Ons het die opleiding geniet en daarna uitgesien om dit in Nebraska te gebruik. Ons was dus verbaas om ’n nuwe toewysing te ontvang—as sendelinge in Kambodja! In hierdie pragtige land in Suidoos-Asië het ons baie dinge gesien, gehoor en geruik wat baie anders was as wat ons nog ooit ervaar het. Ons was gretig om die goeie nuus daar te verkondig.

Die politieke situasie het egter verander en ons moes na Suid-Viëtnam gaan. Ek het ongelukkig twee jaar later ernstige gesondheidsprobleme ontwikkel. Ons is dus aangespoor om na ons geboorteland terug te keer. Ek het tyd nodig gehad om gesond te word, maar toe ek gesond was, het ons weer die voltydse diens betree.

Saam met Angela in 1975, voor ’n televisieonderhoud

In Maart 1965 het ons die voorreg gehad om in die reisende werk te begin dien. Ek en Angie het 33 jaar die kring- en streekwerk geniet, wat heelwat voorbyeenkoms- en byeenkomswerk ingesluit het. Streekbyeenkomste was nog altyd vir my ’n hoogtepunt, en ek het daarvan gehou om dit te help organiseer. Ons was ’n paar jaar lank in die omgewing van die stad New York, en baie van die byeenkomste is by die Yankee-stadion gehou.

TERUG BY BETHEL EN TEOKRATIESE SKOLE

Soos in die geval van baie in die spesiale voltydse diens, het opwindende toewysings vir my en Angie voorgelê. Byvoorbeeld, in 1995 is ek gevra om ’n instrukteur by die Bedieningsopleidingskool te wees. Drie jaar later is ons na Bethel genooi.  Ek was baie bly om terug te wees waar ek my voltydse diens meer as 40 jaar vroeër begin het. Ek het ’n tyd lank in die Diensafdeling gewerk en ek was ’n instrukteur by verskeie skole. In 2007 het die Bestuursliggaam die skole wat by Bethel gehou is, onder die toesig van die nuwe Teokratiese Skole-afdeling geplaas. Dit was my voorreg om ’n paar jaar lank die opsiener te wees.

Ons het gesien hoe teokratiese opvoeding in onlangse jare aansienlike veranderinge ondergaan. Die Skool vir Gemeentelike Ouer Manne het in 2008 begin. Meer as 12 000 ouer manne het oor die volgende twee jaar by Patterson en die Brooklynse Bethel opleiding ontvang. Hierdie skool word steeds op verskeie ander plekke gehou, met behulp van opgeleide veldinstrukteurs. In 2010 het die naam van die Bedieningsopleidingskool verander na Bybelskool vir Ongetroude Broers. En ’n nuwe skool is begin, die Bybelskool vir Christenegpare.

Sedert die 2015 diensjaar is hierdie twee skole gekombineer en staan dit as die Skool vir Koninkrykspredikers bekend. Egpare of ongetroude broers en susters kan dit bywoon. Baie verkondigers regoor die wêreld was verheug om te hoor dat baie takke hierdie skool sou aanbied. Dit is opwindend om te sien hoe die geleenthede vir teokratiese opvoeding uitbrei, en ek geniet dit om baie broers en susters te ontmoet wat hulle vir sulke opleiding beskikbaar maak.

Wanneer ek terugkyk op my lewe, van voor ek in daardie drinkbak gedoop is tot nou, dank ek Jehovah vir die wyse persone wat my op die weg van die waarheid bygestaan het. Nie almal was my ouderdom of van dieselfde agtergrond nie. Maar hulle was almal geestelike mense. Hulle dade en gesindheid het duidelik getoon dat hulle Jehovah baie liefhet. Daar is baie wyses in sy organisasie met wie ons kan wandel. Ek het dit gedoen en grootliks daarby baat gevind.

Ek geniet dit om studente van regoor die wêreld te ontmoet