Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 STUDIEARTIKEL 24

Breek alle redenasies af wat teen die kennis van God is!

Breek alle redenasies af wat teen die kennis van God is!

“Ons werp redenasies omver, en elke hoë ding wat teen die kennis van God opgerig word.” – 2 KOR. 10:5.

LIED 124 Bly lojaal

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter waarskuwing het die apostel Paulus aan gesalfde Christene gegee?

“MOENIE langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie,” het die apostel Paulus gewaarsku (Rom. 12:2). Paulus het hierdie woorde aan die eerste-eeuse Christene gerig. Hoekom het hy hierdie direkte waarskuwing aan manne en vroue gegee wat aan God toegewy en met heilige gees gesalf was? – Rom. 1:7.

2-3. Hoe probeer Satan ons teen Jehovah draai, maar hoe kan ons dinge uitroei wat diep in ons verstande gewortel is?

2 Paulus was bekommerd omdat party Christene blykbaar beïnvloed is deur die skadelike redenasies en filosofieë wat deur Satan se wêreld bevorder is (Ef. 4:17-19). Dit kan met enigeen van ons gebeur. In ’n desperate poging om ons teen Jehovah te draai, gebruik Satan, die god van hierdie wêreld, verskillende taktieke. Een van hierdie taktieke is om enige selfsugtige neiging wat ons dalk het, soos om belangrik of beroemd te wil wees, uit te buit. Hy kan selfs sekere aspekte van ons agtergrond, kultuur of opvoeding gebruik om ons sover te kry om soos hy te dink.

3 Is dit vir ons moontlik om “sterk verskanste”, of diepgewortelde, dinge uit te roei? (2 Kor. 10:4). Let op hoe Paulus antwoord: “Ons werp redenasies omver, en elke hoë ding wat teen die kennis van God opgerig word; en ons bring elke gedagte in gevangenskap om dit aan die Christus gehoorsaam te maak” (2 Kor. 10:5). Ja, met Jehovah se hulp kan ons beheer kry oor verkeerde redenasies. Net soos medisyne  die uitwerking van gif kan teëwerk, kan God se Woord ons help om die giftige uitwerking van Satan se wêreld teë te werk.

‘HERVORM JULLE VERSTAND’

4. Watter veranderinge het baie van ons gemaak toe ons die waarheid geleer het?

4 Dink terug aan die veranderinge wat jy moes maak toe jy die waarheid van God se Woord geleer het en besluit het om Jehovah te dien. Baie van ons moes ophou om verkeerde dinge te doen (1 Kor. 6:9-11). Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah ons gehelp het om sulke slegte gebruike te oorkom!

5. Watter twee dinge moet ons volgens Romeine 12:2 doen?

5 Ons moet egter nooit voel dat ons nie meer enige veranderinge hoef te maak nie. Al het ons voordat ons gedoop is, opgehou om ernstige sondes te pleeg, moet ons nog steeds hard probeer om enigiets te vermy wat ons in die versoeking kan bring om weer hierdie dinge te doen. Hoe kan ons dit doen? Paulus antwoord: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm” (Rom. 12:2). Daar is dus twee dinge wat ons moet doen. Eerstens, ons “moenie langer . . . gevorm”, of beïnvloed, word deur hierdie wêreld nie. Tweedens, ons moet “verander” deur ons verstand te hervorm.

6. Wat leer ons uit Jesus se woorde in Matteus 12:43-45?

6 Die verandering wat Paulus in gedagte gehad het, is meer as net ’n oppervlakkige verandering in hoe ons lyk. Dit raak ons hele lewe. (Sien die venster “ Het ons heeltemal verander of gee ons net voor?”) Ons moet ons verstand hervorm – ons diepste gevoelens, gesindhede en neigings. Daarom moet elkeen van ons ons afvra: ‘Is die veranderinge wat ek maak om  ’n Christen te word net oppervlakkig, of word ek werklik ’n Christen in my hart en verstand?’ Die verskil is belangrik. Jesus het in sy woorde in Matteus 12:43-45 getoon wat gedoen moet word. (Lees.) Hierdie woorde leer ons ’n belangrike les: Dit is nie genoeg om net ontslae te raak van verkeerde gedagtes nie; ons moet dit vervang met gedagtes wat God goedkeur.

‘WORD VERNUWE IN DIE KRAG WAT JULLE VERSTAND AANDRYF’

7. Hoe kan ons die mens wat ons van binne is, verander?

7 Is dit moontlik om die mens wat ons van binne is, te verander? God se Woord antwoord: “Julle . . . moet [vernuwe] word in die krag wat julle verstand aandryf en julle met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Ef. 4:23, 24). Ja, dit is moontlik om die mens wat ons van binne is, te verander, maar dit is nie maklik om dit te doen nie. Ons moet meer doen as om net ons verkeerde begeertes te onderdruk. Ons moet ‘die krag wat ons verstand aandryf’, verander. Dit behels dat ons ons begeertes, ons neigings en ons beweegredes verander. Dit verg aanhoudende inspanning.

8-9. Hoe wys die ondervinding van ’n broer dat ons die mens wat ons van binne is, moet verander?

8 Kom ons kyk na die voorbeeld van ’n broer wat in die verlede baie gewelddadig was. Nadat hy opgehou het om te drink en te baklei, het hy gekwalifiseer om gedoop te word. Dit was ’n wonderlike getuienis vir die klein gemeenskap waar hy gebly het. Maar een aand, kort nadat hy gedoop is, is hy op ’n onverwagse manier getoets. ’n Dronk man het na sy huis toe gekom en wou met hom baklei. Eers het ons broer die versoeking weerstaan om te baklei. Maar toe die man Jehovah se naam gelaster het, was die broer so ontsteld dat hy nie meer sy woede kon beheer nie. Hy het buitentoe gegaan en die man geslaan. Wat was die probleem? Al het ’n studie van die Bybel hom gehelp om sy gewelddadige neigings te onderdruk, het hy dit nog nie reggekry om die krag wat sy verstand aandryf, te verander nie. Met ander woorde, hy het nog nie die mens wat hy van binne was, verander nie.

9 Maar hierdie broer het nie moed opgegee nie (Spr. 24:16). Met die hulp van die ouer manne het hy goeie vordering gemaak. Hy het later gekwalifiseer om ’n ouer man te word. Toe het hy een aand, buite die Koninkryksaal, ’n soortgelyke uitdaging gehad as wat hy jare vroeër gehad het. ’n Dronk man wou een van die ander ouer manne slaan. Wat het ons broer gedoen? Hy het op ’n kalm en nederige manier met die dronk man gepraat, hom gekalmeer en hom gehelp om by die huis te kom. Hoekom het ons broer anders opgetree? Hy het die krag wat sy verstand aandryf, verander. Die mens wat hy van binne was, het verander in ’n vreedsame, nederige persoon – alles tot eer van Jehovah!   

10. Wat behels dit om hierdie veranderinge te maak?

10 Hierdie veranderinge gebeur nie oornag nie en ook nie outomaties nie. Dalk is “ywerige inspanning” oor ’n lang tydperk nodig (2 Pet. 1:5). Hierdie veranderinge sal nie gebeur net omdat ons al lank in die waarheid is nie. Ons moet ons bes doen om die mens wat ons van binne is, te verander. ’n Paar basiese stappe sal ons help om dit te doen. Kom ons ondersoek party van hierdie stappe.

 HOE OM DIE KRAG WAT ONS VERSTAND AANDRYF, TE VERANDER

11. Hoe help gebed ons om die krag wat ons verstand aandryf, te verander?

11 Gebed is die eerste belangrike stap. Ons moet bid soos die psalmis gebid het: “Skep in my ook ’n suiwer hart, o God, en plaas in my ’n nuwe, standvastige gees” (Ps. 51:10). Ons moet erken dat ons die krag wat ons verstand aandryf, moet verander en Jehovah moet vra om ons te help. Hoe kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons sal help om die verandering te maak? Die belofte wat Jehovah aan die hardkoppige Israeliete in Esegiël se dag gemaak het, kan ons aanmoedig: “Ek sal hulle een hart gee, en ’n nuwe gees sal ek in hulle plaas . . . en hulle ’n hart van vlees gee [dit wil sê, ’n hart wat gewillig is om God se leiding te volg]” (Eseg. 11:19). Jehovah was bereid om daardie Israeliete te help om te verander, en hy is bereid om ons ook te help.

12-13. (a) Waaroor moet ons volgens Psalm 119:59 nadink? (b) Watter vrae moet jy jou afvra?

12 Bepeinsing is die tweede belangrike stap. Terwyl ons God se Woord deeglik lees, moet ons tyd maak om te bepeins, of om diep na te dink, oor watter gedagtes en gevoelens ons moet verander. (Lees Psalm 119:59; Heb. 4:12; Jak. 1:25.) Ons moet enige gedagtes en gevoelens wat deur die wêreld se idees beïnvloed is, identifiseer. Ons moet eerlik erken wat ons swakhede is en dan hard werk om daarvan ontslae te raak.

13 Vra jou byvoorbeeld af: ‘Is daar ’n greintjie afguns of jaloesie in my hart?’ (1 Pet. 2:1). ‘Is ek trots op my agtergrond, opvoeding en finansiële status?’ (Spr. 16:5). ‘Sien ek neer op ander wat nie dieselfde dinge as ek het nie of wat van ’n ander ras is?’ (Jak. 2:2-4). ‘Hou ek van die dinge wat Satan se wêreld aanbied?’ (1 Joh. 2:15-17). ‘Geniet ek onsedelike en gewelddadige vermaak?’ (Ps. 97:10; 101:3; Amos 5:15). Die antwoorde op hierdie persoonlike vrae kan jou help om te sien of daar dalk dinge is waaraan jy moet werk. Wanneer ons “sterk verskanste” redenasies uit ons hart verwyder, sal ons ons hemelse Vader se hart bly maak. – Ps. 19:14.   

14. Hoekom is dit so belangrik om goeie assosiasie te kies?

14 Om goeie assosiasie te kies is die derde belangrike stap. Of ons dit nou besef of nie, ons vriende het ’n groot invloed op ons (Spr. 13:20). By die werk of by die skool is ons waarskynlik omring deur mense wat ons nie sal help om soos God te dink nie. Maar by ons Christelike vergaderinge kan ons mense ontmoet wat die beste soort vriende is. Dit is waar ons gemotiveer, of aangespoor, kan word tot “liefde en goeie werke”. – Heb. 10:24, 25.

WORD ‘STANDVASTIG GEMAAK IN DIE GELOOF’

15-16. Hoe probeer Satan om ons denke te verander?

15 Onthou egter dat Satan vasbeslote is om ons denke te verander. Hy gebruik allerhande redenasies om die goeie invloed wat God se Woord op ons het, teë te werk.

16 Satan vra nog steeds dieselfde vraag wat hy Eva in die tuin van Eden gevra het: “Is dit werklik so dat God gesê het . . . ?” (Gen. 3:1). In die wêreld onder Satan se beheer hoor ons dikwels vrae wat ons kan laat twyfel aan wat ons glo, soos: ‘Keur God werklik nie huwelike tussen mense van dieselfde geslag goed nie? Wil God werklik nie hê dat jy Kersfees en verjaarsdae  moet vier nie? Wil jou God werklik hê dat jy moet weier om ’n bloedoortapping te kry? Wil ’n liefdevolle God werklik nie hê dat jy met uitgesette familie of vriende moet assosieer nie?’

17. Wat moet ons doen wanneer mense ons oortuigings bevraagteken, en wat kan volgens Kolossense 2:6, 7 die gevolg wees?

17 Ons moet oortuig wees van wat ons glo. As ons nie bevredigende antwoorde het op belangrike vrae oor ons oortuigings nie, kan dit lei tot ernstige twyfelgedagtes. Sulke twyfelgedagtes kan uiteindelik ons denke beïnvloed en ons geloof vernietig. Wat moet ons dus doen? God se Woord sê dat ons ons denke moet verander, sodat ons kan seker maak, of aan onsself kan bewys, wat “die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:2). As ons gereeld studeer, kan ons aan onsself bewys dat die dinge wat ons in die Bybel geleer het, die waarheid is. Ons kan heeltemal oortuig wees daarvan dat Jehovah se standaarde reg is. Dan sal ons net soos ’n boom met stewige wortels wees, “standvastig gemaak” in die geloof. – Lees Kolossense 2:6, 7.

18. Wat sal ons help om die giftige uitwerking van Satan se wêreld teë te werk?

18 Niemand kan jou geloof vir jou sterk maak nie. Daarom moet jy aanhou om vernuwe te word in die krag wat jou verstand aandryf. Hou aan bid; smeek Jehovah vir sy gees om jou te help. Dink diep na oor wat jy leer; hou aan om jou denke en beweegredes te ondersoek. Kies goeie vriende; omring jouself met mense wat jou sal help om jou denke te verander. Deur dit te doen, sal jy die giftige uitwerking van Satan se wêreld teëwerk en sal jy “redenasies . . . en elke hoë ding wat teen die kennis van God opgerig” is, suksesvol afbreek. – 2 Kor. 10:5.

LIED 50 My toewydingsgebed

^ par. 5 Ons denke word beïnvloed deur ons agtergrond, ons kultuur en ons opvoeding. Ons kom dalk agter dat verkeerde gesindhede diep gewortel is, of deel van ons persoonlikheid geword het. Hierdie artikel sal bespreek hoe ons beheer kan kry oor enige verkeerde neigings wat ons dalk ontwikkel het.