Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

“My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”

“My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”

“Hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig.” — JOH. 18:37.

LIED: 15, 74

1, 2. (a) Hoe is die wêreld besig om al hoe meer verdeeld te raak? (b) Watter vrae gaan ons in hierdie artikel bespreek?

“VANDAT ek baie klein was, het ek heeltyd gesien hoe mense onregverdig behandel word”, sê ’n suster in Suid-Europa, wat terugdink aan dinge wat in haar verlede gebeur het. “Daarom het ek die politieke stelsel in my land verwerp en het ek idees ondersteun wat baie mense as ekstremisties beskou het. Ek het ook jare lank met ’n terroris uitgegaan.” ’n Broer in die suide van Afrika het ook voorheen gedink dat dit reg is om geweld te gebruik. Hy sê: “Ek het geglo dat my stam beter is as al die ander stamme, en ek het by ’n politieke party aangesluit. Ons is geleer om ons teenstanders, selfs mense van ons eie stam wat ander politieke partye ondersteun het, met spiese dood te maak.” ’n Suster wat in Sentraal-Europa bly, erken: “Ek was bevooroordeeld, en ek het almal gehaat wat van ’n ander nasionaliteit of godsdiens was.”

2 Vandag het al hoe meer mense die gesindheid wat hierdie drie persone voorheen gehad het. Daar is oral groepe wat geweld gebruik om onafhanklikheid te kry. Op politieke gebied raak mense meer verdeeld, en in baie lande raak mense vyandiger teenoor uitlanders. Net soos die Bybel voorspel het, is mense in hierdie laaste  dae “nie bereid tot enige ooreenkoms nie” (2 Tim. 3:1, 3). Hoe kan Christene hulle eenheid beskerm terwyl die wêreld meer verdeeld raak? Ons kan baie leer deur te kyk na wat Jesus in ’n sekere situasie gedoen het toe daar in die eerste eeu politieke onrus in die land was. Ons gaan drie belangrike vrae bespreek: Hoekom het Jesus geweier om by die politiek betrokke te raak? Hoe het hy gewys dat God se knegte nie in politieke sake moet kant kies nie? En hoe het Jesus ons geleer dat daar nooit ’n rede is om geweld te gebruik nie?

JESUS SE GESINDHEID TEENOOR MENSE WAT ONAFHANKLIKHEID WOU HÊ

3, 4. (a) Watter politieke verwagtinge het die Jode in Jesus se dag gehad? (b) Watter invloed het hierdie verwagtinge op Jesus se dissipels gehad?

3 Baie van die Jode vir wie Jesus gepreek het, wou graag onafhanklik van die Romeine wees. Joodse Selote, of nasionaliste, het hierdie gevoelens onder die mense aangehits. Baie van hierdie ekstremiste was volgelinge van ’n man met die naam Judas die Galileër. Hy was ’n valse messias en het baie mense in die eerste eeu mislei. Die Joodse geskiedskrywer Josefus sê dat hierdie Judas “sy landgenote aangehits het om in opstand te kom, en hy het hulle lafaards genoem omdat hulle ingestem het om belasting aan die Romeine te betaal”. Die Romeine het Judas tereggestel (Hand. 5:37). Party van die Selote het selfs geweld gebruik om te kry wat hulle wou hê.

4 Die meeste Jode het gretig gewag op die koms van ’n politieke Messias. Hulle het verwag dat die Messias hulle van die Romeine sou bevry en hulle nasie tot sy vorige heerlikheid sou herstel (Luk. 2:38; 3:15). Baie het geglo dat die Messias ’n aardse koninkryk in Israel sou oprig. Dan sou miljoene Jode wat oral versprei was, terugkeer na hulle land. Johannes die Doper het selfs eenkeer vir Jesus gevra: “Is u die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (Matt. 11:2, 3). Johannes wou dalk geweet het of iemand anders die Jode sou bevry. Jesus het ná sy opstanding met twee dissipels gepraat wat op pad was na Emmaus. Hulle het ook gehoop dat die Messias Israel sou bevry. (Lees Lukas 24:21.) Kort daarna het Jesus se apostels hom gevra: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” — Hand. 1:6.

5. (a) Hoekom wou die mense van Galilea Jesus as hulle koning hê? (b) Hoe het Jesus hulle gehelp om te verstaan waarom hy gekom het?

5 Die mense van Galilea wou Jesus as hulle koning hê omdat hulle verkeerde verwagtinge omtrent die Messias gehad het. Hulle het seker gedink dat Jesus ’n baie goeie leier sou wees. Hy was ’n uitstekende spreker, hy kon siek mense gesond maak en hy kon selfs aan honger mense kos voorsien. Nadat Jesus vir omtrent 5 000 mans kos gegee het, het hy besef wat die mense van plan was om te doen. “Omdat Jesus geweet het dat hulle op die punt staan om hom te kom gryp om hom koning te maak, het hy weer na die berg weggegaan, heeltemal alleen” (Joh. 6:10-15). Die volgende dag was die mense dalk nie meer so opgewonde nie. Jesus was nou aan die anderkant van die See van Galilea en het aan die skare verduidelik watter werk hy eintlik kom doen het. Hy het gekom om die nasie geestelik te help, nie materieel nie. Hy het vir hulle gesê: “Moenie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat vir die ewige lewe bly.” — Joh. 6:25-27.

6. Hoe het Jesus dit duidelik gemaak dat hy nie politieke mag op die aarde wou hê nie? (Sien prent aan begin van artikel.)

6 Kort voor Jesus se dood het hy besef dat party van sy volgelinge verwag het dat hy ’n aardse koninkryk gaan oprig wat vanaf Jerusalem sou regeer. Hy het hulle reggehelp deur hulle die illustrasie van die minas te  vertel. Dit het gewys dat Jesus, die “man van adellike geboorte”, vir ’n lang tyd moes weggaan (Luk. 19:11-13, 15). Jesus het ook vir die Romeinse owerheid gewys dat hy nie kant kies in politieke sake nie. Pontius Pilatus het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?” (Joh. 18:33). Dalk was hy bang dat Jesus politieke onrus sou veroorsaak. Dit was iets waaroor Pilatus heeltyd gedurende sy tyd as heerser bekommerd was. Jesus het geantwoord: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie” (Joh. 18:36). Hy het geweier om betrokke te raak in politieke sake, want sy Koninkryk sou in die hemel wees. Hy het vir Pilatus gesê dat hy in die wêreld ingekom het “om van die waarheid te getuig”. — Lees Johannes 18:37.

Fokus jy op die wêreld se probleme of op God se Koninkryk? (Sien paragraaf 7)

7. Hoekom kan dit moeilik wees om selfs nie in ons hart ’n politieke groep te ondersteun nie?

7 Wanneer ons, soos Jesus, presies verstaan wat by ons toewysing betrokke is, sal ons dit vermy om selfs in ons hart ’n politieke groep te ondersteun wat onafhanklikheid wil kry. Dit is dalk nie so maklik nie. Een reisende opsiener sê: “Mense in ons gebied raak al hoe meer ekstremisties. Daar is ’n gees van nasionalisme, en baie mense aanvaar eenvoudig dat hulle lewe beter sal wees as hulle politieke onafhanklikheid kan kry. Ons is baie bly dat die broers hulle Christelike eenheid beskerm deur eerder daarop te fokus om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Hulle vertrou op God om ongeregtigheid en ander probleme op te los.”

HOE HET JESUS VERDELENDE POLITIEKE VERSKILLE HANTEER?

8. Hoe is Jode in die eerste eeu onregverdig behandel?

8 Wanneer mense onregverdig behandel word, lei dit baie keer tot sterk politieke gevoelens. In Jesus se dag het belasting veroorsaak dat baie mense kant gekies het in die politiek. Die opstand van Judas die Galileër, wat vroeër genoem is, het begin omdat mense moes registreer om seker te maak dat hulle belasting aan die Romeine betaal. Onderdane van die Romeinse Ryk, insluitende diegene wat na Jesus geluister het, moes byvoorbeeld belasting betaal op goedere, grond en huise. En omdat belastinggaarders so korrup was, het dit die probleem net erger gemaak. Belastinggaarders kon ’n posisie op ’n openbare veiling koop wat hulle die mag gegee het om belasting in te vorder, en hulle kon hierdie mag gebruik om baie geld te maak. Saggeus, die hoofbelastinggaarder in Jerigo, het ryk geword deur mense af te pers en hulle te veel belasting te laat betaal (Luk. 19:2, 8). Dit is waarskynlik iets wat baie belastinggaarders gedoen het.

9, 10. (a) Hoe het Jesus se vyande probeer om hom te laat kant kies in ’n politieke saak? (b) Wat leer ons uit Jesus se antwoord? (Sien prent aan begin van artikel.)

 9 Jesus se vyande het hom probeer vasvra met ’n vraag oor ’n sekere soort belasting. Dit was in verband met die “hoofbelasting”, ’n belasting van een denarius wat deur alle Romeinse onderdane betaal moes word. (Lees Matteus 22:16-18.) Die Jode het hierdie belasting gehaat omdat dit gewys het dat hulle onderdane van die Romeine was. Die “partyaanhangers van Herodes” het die vraag oor die hoofbelasting gevra, want hulle het gehoop dat as Jesus iets teen hierdie belasting sê, hy dalk van opstand teen die regering aangekla kon word. As Jesus gesê het dat hierdie belasting betaal moet word, sou mense dalk ophou om hom te volg.

10 Jesus was versigtig om nie kant te kies nie en het nie betrokke geraak by die vraag oor die hoofbelasting nie. Hy het gesê: “Betaal . . . aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matt. 22:21). Jesus het natuurlik geweet dat baie belastinggaarders korrup was. Maar Jesus wou nie hê dat sy aandag afgelei moet word van God se Koninkryk, wat die enigste ware oplossing vir die probleem sou wees nie. Hierdeur het hy ’n voorbeeld vir al sy volgelinge gestel. Hulle moenie kant kies in politieke sake nie, selfs al lyk ’n sekere saak dalk reg of regverdig. Christene soek eerder die Koninkryk van God en sy regverdigheid. Daarom het hulle nie sterk opinies oor sekere onregte nie en sal hulle nie iets daarteen sê nie. — Matt. 6:33.

11. Wat kan ons doen as ons graag wil hê dat mense regverdig behandel moet word?

11 Baie Getuies van Jehovah het dit reggekry om ontslae te raak van sterk politieke idees wat hulle voorheen gehad het. Een suster in Groot-Brittanje sê: “Nadat ek klasse in sosiale studies op universiteit gehad het, het my beskouing van sake ekstremisties geword. Ek wou swart mense se regte verdedig omdat ons jare lank so onregverdig behandel is. Al kon ek oortuigende argumente voer, was ek nog steeds gefrustreerd. Ek het nie besef dat die oorsake van rassisme uit mense se harte verwyder moet word nie. Maar toe ek die Bybel begin studeer, het ek besef dat ek by my eie hart moes begin. En dit was ’n wit suster wat my geduldig gehelp het om dit te doen. Ek dien nou as ’n gewone pionier in ’n gebaretaalgemeente, en ek leer om vriende te wees met alle soorte mense.”

“SIT JOU SWAARD TERUG IN SY PLEK”

12. Watter soort “suurdeeg” het Jesus gesê moet sy dissipels vermy?

12 In Jesus se dag het die godsdiensleiers dikwels by die politiek betrokke geraak. Volgens die boek Daily Life in Palestine at the Time of Christ het “die godsdienssektes waarin die Jode verdeel was, min of meer ooreengestem met wat ons vandag politieke partye sou noem”. Daarom het Jesus sy dissipels gewaarsku: “Hou julle oë oop, pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes” (Mark. 8:15). Jesus het hier waarskynlik gepraat van twee politieke groepe: die Fariseërs en die aanhangers van Herodes se politieke party. Die Fariseërs wou hê dat die Jode onafhanklikheid moes kry. In Matteus se verslag lees ons dat Jesus in hierdie gesprek ook van die Sadduseërs gepraat het. Hulle wou hê dat dinge moes bly soos dit was omdat die Romeinse regering baie van hulle toegelaat het om belangrike politieke posisies te hê. Jesus het sy dissipels ernstig gewaarsku om van die leringe, of suurdeeg, van hierdie drie groepe weg te bly (Matt. 16:6, 12). Dit is interessant dat Jesus hierdie dinge gesê het kort nadat die mense hom koning wou maak.

13, 14. (a) Hoe het verskille oor godsdiens en die politiek tot geweld en onregverdigheid gelei? (b) Hoekom gee onregverdige behandeling ons nie die reg om geweld te gebruik nie? (Sien prent aan begin van artikel.)

 13 Wanneer godsdiens met die politiek meng, lei dit dikwels tot geweld. Jesus het sy dissipels geleer om nie in sulke sake kant te kies nie. Dit is een van die redes hoekom die hoofpriesters en die Fariseërs Jesus wou doodmaak. Hulle het gevoel dat hy hulle posisie in die politiek en godsdiens bedreig. Hulle het gesê: “As ons hom so laat begaan, sal hulle almal geloof in hom stel, en die Romeine sal kom en ons plek sowel as ons nasie wegneem” (Joh. 11:48). Daarom het die hoëpriester Kajafas gereël dat Jesus doodgemaak word. — Joh. 11:49-53; 18:14.

14 Kajafas het soldate gestuur om Jesus in die middel van die nag te arresteer. Jesus het geweet van hierdie skelm plan, en daarom het hy gedurende sy laaste ete saam met sy apostels vir hulle gesê om ’n paar swaarde te gaan kry. Twee swaarde sou genoeg wees om die apostels iets baie belangriks te leer (Luk. 22:36-38). Petrus was waarskynlik baie kwaad omdat Jesus onregverdig in die nag gearresteer is, en daarom het hy sy swaard gebruik om een van die mans aan te val (Joh. 18:10). Maar Jesus het vir Petrus gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matt. 26:52, 53). Hierdie kragtige les was in ooreenstemming met Jesus se gebed vroeër daardie aand — hulle moes geen deel van die wêreld wees nie. (Lees Johannes 17:16.) God is die een wat onregverdigheid sal regstel.

15, 16. (a) Hoe het God se Woord Christene gehelp om konflik te vermy? (b) Watter verskil sien Jehovah wanneer hy kyk na wat vandag in die wêreld gebeur?

15 Die suster in Suid-Europa wat vroeër genoem is, het dieselfde les geleer. Sy sê: “Ek het gesien dat geweld nie tot geregtigheid lei nie. Ek het ook gesien dat mense wat geweld gebruik, dikwels hulle lewe verloor. En baie ander raak verbitterd. Ek was so bly toe ek in die Bybel leer dat God die enigste een is wat ware geregtigheid op die aarde kan bring. Dit is die boodskap wat ek al die afgelope 25 jaar verkondig.” Die broer in die suide van Afrika het sy spies met “die swaard van die gees”, God se Woord, vervang. Hy verkondig nou ’n boodskap van vrede aan sy bure, maak nie saak aan watter stam hulle behoort nie (Ef. 6:17). En nadat die suster in Sentraal-Europa een van Jehovah se Getuies geword het, het sy met ’n broer getrou wat aan ’n etniese groep behoort wat sy voorheen gehaat het. Hulle al drie het hierdie veranderinge gemaak omdat hulle graag meer soos Christus wou wees.

16 Dit is so belangrik om hierdie veranderinge te maak! Die Bybel vergelyk die mensdom met ’n onstuimige see — ’n see van mense wat nie vrede ken nie (Jes. 17:12; 57:20, 21; Op. 13:1). Terwyl politieke verskille mense opstook, hulle verdeel en tot geweld lei, behou ons ons vrede en eenheid. En wanneer Jehovah na ons verdeelde wêreld kyk, maak dit sy hart sekerlik baie bly wanneer hy die eenheid onder sy volk sien. — Lees Sefanja 3:17.

17. (a) Op watter drie maniere kan ons eenheid bevorder? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Ons het gesien dat daar drie maniere is waarop ons Christelike eenheid kan bevorder: (1) Ons vertrou op God se Koninkryk om ongeregtigheid reg te stel, (2) ons weier om kant te kies in politieke sake en (3) ons verwerp geweld. Maar partykeer kan vooroordeel ons eenheid in gevaar stel. In die volgende artikel gaan ons sien hoe ons, net soos die Christene in die eerste eeu, hierdie uitdaging suksesvol kan hanteer.