Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

Jehovah het my altyd vertroos

Jehovah het my altyd vertroos

Op die wesoewer van die Indusrivier, is die eeue-oue stad Sukkur. Hierdie gebied staan nou bekend as Pakistan. Dit is waar ek op 9 November 1929 gebore is. Min of meer daardie selfde tyd het my ouers ’n stel helderkleurige boeke by ’n Engelse sendeling gekry. Hierdie boeke was op die Bybel gebaseer en het ’n groot rol in my lewe gespeel. Dit het my gehelp om een van Jehovah se Getuies te word.

HIERDIE boeke is die reënboogstel genoem. Die pragtige prente daarin het my absoluut gefassineer, en dit het gemaak dat ek van kleins af meer van die Bybel wou weet.

Terwyl die Tweede Wêreldoorlog ’n bedreiging vir Indië geword het, het my eie wêreld in duie gestort. My ouers is uitmekaar en het later geskei. Ek kon nie verstaan hoekom twee mense vir wie ek lief is, nie meer bymekaar wou wees nie. Ek het so hartseer en alleen gevoel. Ek was die enigste kind en het troos en hulp nodig gehad, maar ek kon dit nêrens kry nie.

Ek en my ma het toe in Karatsji, die provinsiale hoofstad, gebly. Eendag het ’n ouerige dokter, Fred Hardaker, na ons huis toe gekom. Hy was ook een van Jehovah se Getuies, net soos die sendeling by wie my ouers daardie boeke gekry het. Hy het vir my ma ’n Bybelstudie aangebied. My ma wou nie ’n studie hê nie, maar sy het gesê dat ek dalk daarin sou belangstel. Ek het sommer die volgende week saam met broer Hardaker begin studeer.

 Ek het ’n paar weke later Christelike vergaderinge by broer Hardaker se mediese kliniek begin bywoon. Omtrent 12 bejaarde Getuies het daar bymekaargekom om te aanbid. Hulle het my vertroos en my soos hulle eie seun behandel. Ek onthou nog hoe hulle langs my gesit het sodat hulle my in die oë kon kyk en met my kon gesels. Hulle was ware vriende vir my, iets wat ek op daardie stadium baie nodig gehad het.

Kort daarna het broer Hardaker my genooi om saam met hom velddiens te doen. Hy het my geleer hoe om met ’n draagbare grammofoon te werk sodat ons vir mense plate kon speel wat kort Bybeltoesprake bevat het. ’n Paar van die toesprake was nogal reguit, en party mense het nie van die boodskap gehou nie. Maar ek het dit baie geniet om vir ander te getuig. Ek was vol ywer vir Bybelwaarheid en wou graag vir ander mense daarvan vertel.

Die Britse regering het al hoe meer druk op Jehovah se Getuies geplaas omdat die Japannese weermag op die punt gestaan het om Indië aan te val. In Julie 1943 het hierdie druk my persoonlik geaffekteer toe die skoolhoof, ’n Anglikaanse geestelike, my uit die skool geskors het. Hy het vir my ma gesê dat ek ’n slegte voorbeeld vir die ander kinders is omdat ek met Jehovah se Getuies assosieer. Sy was geskok en het my nie meer toegelaat om enigiets met die Getuies te doen te hê nie. Later het sy my na my pa toe gestuur in Peshawar, ’n dorp omtrent 1 370 kilometer noord van waar ons gebly het. Ek het geestelik swak geword omdat ek geen geestelike voedsel of assosiasie gehad het nie.

EK WORD WEER GEESTELIK GESOND

In 1947 het ek na Karatsji teruggegaan om werk te soek. Terwyl ek daar was, het ek dokter Hardaker se kliniek besoek. Hy het my vriendelik gegroet en was baie bly om my te sien.

“So, waarmee kan ek jou help?” het hy gevra omdat hy gedink het dat ek daar is vir mediese raad.

Ek het geantwoord: “Dokter, ek is nie fisies siek nie, ek is geestelik siek. Ek het ’n Bybelstudie nodig.”

“Wanneer wil jy begin?” het hy gevra.

Ek het gesê: “Sommer nou, as dit moontlik is.”

Daardie aand het ons die Bybel saam studeer, en ek het dit baie geniet. Ek was so bly om weer saam met Jehovah se knegte te wees. My ma het haar bes gedoen om te keer dat ek met die Getuies assosieer, maar hierdie keer was ek vasbeslote om die waarheid my eie te maak. Op 31 Augustus 1947 het ek my toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur my te laat doop. Ek het kort daarna, op die ouderdom van 17, begin pionier.

EK GENIET DIE PIONIERDIENS

My eerste pioniertoewysing was in Quetta, ’n voormalige Britse militêre buitepos. In 1947 is die land verdeel in Indië en Pakistan. * Dit het oral godsdiensgeweld veroorsaak en het daartoe gelei dat omtrent 14 miljoen mense moes trek. Dit was een van die grootse migrasies in die mensegeskiedenis. Moslems in Indië het Pakistan toe getrek, terwyl Hindoes en Sikhs in Pakistan Indië toe getrek het. Te midde van al hierdie chaos het ek op ’n oorvol trein in Karatsji geklim. Al was dit gevaarlik, het ek byna die hele pad Quetta toe aan ’n handreling aan die buitekant van die trein vasgehou.

In 1948, by ’n kringbyeenkoms in Indië

In Quetta het ek George Singh, ’n spesiale pionier in sy 20’s, ontmoet. George het vir my ’n ou fiets gegee waarmee ek in die heuwelagtige gebied kon rondry. Ek het die meeste van die tyd op my eie velddiens gedoen. Binne ses maande het ek 17 Bybelstudies gehad, en party van hulle het in die waarheid gekom. Een van hulle was Sadiq Masih, ’n offisier in die weermag. Hy het my en George gehelp om Bybellektuur in Oerdoe, die landstaal van Pakistan, te vertaal. Sadiq het later ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus geword.

Aan boord van die Queen Elizabeth op pad na Gileadskool

Later het ek teruggegaan Karatsji toe en saam met nuwe sendelinge van die Gileadskool, Henry Finch en Harry Forrest, gedien. Hulle het vir my baie waardevolle teokratiese opleiding gegee! Ek het eenkeer saam met broer Finch in die noorde van Pakistan gaan preek. Aan die voet van ’n hoë bergreeks het ons baie Oerdoe-sprekende mense ontmoet. Hulle was baie nederig en wou graag meer van die Bybel weet. Twee jaar later kon ek ook die  Gileadskool bywoon. Daarna het ek teruggegaan Pakistan toe waar ek van tyd tot tyd kringwerk gedoen het. Ek het saam met drie ander broers in ’n sendinghuis in Lahore gebly.

EK HERSTEL NÁ ’N KRISIS

Ongelukkig was daar in 1954 ’n stryery onder die sendelinge in Lahore, en daarom het die takkantoor ons ander toewysings gegee. Ek het ernstige raad ontvang omdat ek kant gekies het in die stryery. Ek was verpletterd, en het gedink dat ek ’n geestelike mislukking was. Ek het teruggetrek Karatsji toe en later na Londen, Engeland, getrek. Ek het gehoop dat ek geestelik ’n nuwe begin daar kon maak.

In my gemeente in Londen was daar baie lede van die Bethelgesin. Pryce Hughes, die vriendelike takkneg, het my onder sy vlerk geneem. Eendag het hy my vertel van ’n keer toe hy ernstige raad gekry het by Joseph F. Rutherford, wat destyds die opsiener van die wêreldwye predikingswerk was. Toe broer Hughes sy optrede wou regverdig, het broer Rutherford hom ernstig tereggewys. Dit het my verbaas dat broer Hughes geglimlag het toe hy hieraan gedink het. Hy het gesê dat hy eers daaroor ontsteld was, maar later het hy besef dat hy die ernstige raad nodig gehad het en dat dit ’n bewys van Jehovah se liefde was (Heb. 12:6). Wat hy my vertel het, het my hart geraak en my gehelp om my diens aan Jehovah weer te geniet.

Omtrent dieselfde tyd het my ma ook Londen toe getrek en die Bybel studeer saam met John E. Barr, wat later op die Bestuursliggaam gedien het. Sy het geestelik gevorder en is in 1957 gedoop. Later het ek gehoor dat my pa ook die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer het voordat hy gesterf het.

In 1958 het ek met Lene getrou, ’n Deense suster wat in Londen gebly het. Die jaar daarna het ons ’n dogtertjie met die naam Jane gehad — sy was die eerste van ons vyf kinders. Ek het ook diensvoorregte in die Fulham-gemeente ontvang. Maar later moes ons na ’n warmer klimaat toe trek as gevolg van Lene se gesondheid. Daarom het ons in 1967 na Adelaide, Australië, geëmigreer.

’N HARTVERSKEURENDE TRAGEDIE

In ons gemeente in Adelaide was daar 12 gesalfde Christene. Hulle was baie ywerig en het ’n goeie voorbeeld in die bediening gestel. Ons het sommer vinnig in ’n goeie geestelike roetine gekom.

In 1979 is Daniel, ons vyfde kind, gebore. Hy het Downsindroom * gehad en was erg daardeur gestrem.  Die dokters het gesê dat hy nie lank sou lewe nie. Dit is selfs vandag nog vir my moeilik om te beskryf hoeveel angs ons ervaar het. Ons het ons bes gedoen om vir hom te sorg en ook seker gemaak dat ons nie ons ander vier kinders afskeep nie. Daniel het partykeer blou geword omdat hy twee gate in sy hart gehad het en nie altyd genoeg suurstof gekry het nie. Daarom moes ons ’n hele paar keer met hom hospitaal toe jaag. Maar al was hy so siek, was hy baie slim en liefdevol. Hy was ook baie lief vir Jehovah. Wanneer ons gesin voor ’n ete gebid het, het hy sy klein handjies bymekaargesit, sy kop geknik en kliphard “Amen!” gesê. Eers dan sou hy sy kos eet.

Toe Daniel vier was, het hy bloedkanker gekry. Ek en Lene was fisies en emosioneel uitgeput. Dit het vir my gevoel asof ek ’n senuwee-ineenstorting gaan kry. Maar toe ons ons laagste punt bereik het, het ons kringopsiener, Neville Bromwich, ons kom besoek. Daardie aand het hy, met trane in sy oë, vir ons twee ’n stywe drukkie gegee. Ons almal het gehuil. Ek kan nie vir julle sê hoe baie sy liefdevolle woorde ons vertroos het nie. Hy is omtrent een-uur die oggend daar weg. Kort daarna het Daniel gesterf. Dit het ons hart gebreek toe ons hom verloor het. Maar ons het deur ons hartseer gewerk, en ons is vas oortuig dat niks — nie eers die dood — Daniel van Jehovah se liefde kan skei nie (Rom. 8:38, 39). Ons sien daarna uit om saam met hom in God se nuwe wêreld te wees! — Joh. 5:28, 29.

EK GENIET DIT OM ANDER TE HELP

Ek dien vandag nog steeds as ’n gemeentelike ouer man, al het ek twee groot beroertes gehad. Die dinge wat ek deurgemaak het, help my om meegevoel met ander te hê en hulle probleme te verstaan. Ek probeer om mense nie te oordeel nie. Ek vra my eerder af: ‘Watter uitwerking het hulle agtergrond op hulle denke en emosies gehad? Hoe kan ek vir hulle wys dat ek omgee? Hoe kan ek hulle aanmoedig om Jehovah se wil te doen?’ Ek geniet dit baie om herdersbesoeke in die gemeente te doen! Om die waarheid te sê, wanneer ek ander vertroos en hulle geestelik aanmoedig, voel dit asof ek besig is om myself te vertroos en aan te moedig.

Ek hou nog steeds daarvan om herdersbesoeke te doen

Ek voel soos die psalmskrywer wat gesê het: “Toe my verontrustende gedagtes binne-in my baie geword het, het [Jehovah se] vertroostinge my siel begin streel” (Ps. 94:19). Hy het my deur familieprobleme, godsdiensteenstand, persoonlike teleurstellings en depressie gehelp. Jehovah was nog altyd vir my ’n ware Vader!

^ par. 19 Pakistan het eers bestaan uit Wes-Pakistan (nou Pakistan) en Oos-Pakistan (nou Bangladesj).

^ par. 29 Sien die artikel “Die uitdaging en die beloning om ’n kind met Downsindroom groot te maak” in die Ontwaak! van Junie 2011.