Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

“Wie is aan Jehovah se kant?”

“Wie is aan Jehovah se kant?”

“Jehovah jou God moet jy vrees. Hom moet jy dien en hom moet jy aankleef.” — DEUT. 10:20.

LIED: 28, 32

1, 2. (a) Hoekom is dit verstandig om aan Jehovah se kant te wees? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

DIT maak sin om Jehovah aan te kleef, of na aan hom te bly. Niemand is magtiger, wyser of liefdevoller as ons God nie! Wie van ons sou nie graag aan sy kant wil wees nie? (Ps. 96:4-6). Maar tog het party van God se aanbidders nie Jehovah se kant gekies toe hulle die kans gehad het om dit te doen nie.

2 In hierdie artikel sal ons kyk na voorbeelde van persone wat gesê het dat hulle aan Jehovah se kant is, terwyl hulle besig was om dinge te doen wat Jehovah haat. Hierdie voorbeelde bevat lewensbelangrike lesse wat ons kan help om lojaal aan Jehovah te bly.

JEHOVAH DEURSOEK DIE HART

3. Hoekom het Jehovah Kain probeer help, en wat het Hy vir hom gesê?

3 Dink byvoorbeeld aan Kain. Hy het geen ander god behalwe Jehovah aanbid nie. Maar Kain se aanbidding was nie vir God aanvaarbaar nie. Saadjies van goddeloosheid was besig om in sy hart te groei (1 Joh. 3:12). Jehovah het Kain probeer help en vir hom gesê: “As jy jou daartoe wend om goed te doen, sal daar dan  nie ’n verheffing wees nie? Maar as jy jou nie daartoe wend om goed te doen nie, is daar sonde wat by die ingang lê en loer, en sy begeerte is na jou; en sal jý die oorhand daaroor kry?” (Gen. 4:6, 7). Jehovah het met ander woorde vir Kain gesê: “As jy berou het en my kant kies, dan sal ek ook aan jou kant wees.”

4. Wat het Kain gedoen toe hy die kans gehad het om aan Jehovah se kant te wees?

4 As Kain maar net die manier waarop hy gedink het, sou regstel, sou hy weer Jehovah se goedkeuring kon kry. Maar Kain het nie na die raad geluister nie. Verkeerde gedagtes en selfsugtige begeertes het veroorsaak dat hy verkeerde dinge doen (Jak. 1:14, 15). Toe Kain jonger was, het hy dalk nooit gedink dat hy eendag teen Jehovah sou kant kies nie. Maar later het hy iets gedoen wat niemand ooit verwag het nie — hy het teen God in opstand gekom en sy eie broer vermoor!

5. Watter soort gedagtes kan veroorsaak dat ons Jehovah se goedkeuring verloor?

5 Net soos Kain, lyk dit dalk asof ’n Christen Jehovah aanbid, terwyl hy eintlik besig is om verkeerde dinge te doen (Jud. 11). Iemand kan byvoorbeeld heeltyd oor onsedelike dinge fantaseer, selfsugtige begeertes hê of in sy hart ’n mede-Christen haat (1 Joh. 2:15-17; 3:15). Sulke gedagtes kan veroorsaak dat hy sonde doen. Maar intussen doen hy dalk velddiens en woon hy gereeld die vergaderinge by. Ander mense weet dalk nie wat ons dink en doen nie, maar Jehovah sien alles en weet wanneer ons nie heeltemal aan sy kant is nie. — Lees Jeremia 17:9, 10.

6. Hoe help Jehovah ons om ‘die oorhand te kry’ oor verkeerde begeertes as ons duidelik wys dat ons aan sy kant is?

6 Maar selfs wanneer ons foute maak, sal Jehovah ons nie sommer afskryf nie. Wanneer ’n persoon dinge doen wat maak dat hy van God af wegbeweeg, spoor Jehovah hom aan: “Keer terug tot my, en ek sal tot [jou] terugkeer” (Mal. 3:7). Jehovah wil hê dat ons slegte dinge moet verwerp, veral wanneer ons met swakhede sukkel (Jes. 55:7). As ons dit doen, sal hy wys dat hy aan ons kant is deur ons die geestelike, emosionele en fisiese krag te gee wat ons nodig het om ‘die oorhand te kry’ oor ons verkeerde begeertes. — Gen. 4:7.

“MOENIE MISLEI WORD NIE”

7. Hoe het Salomo sy vriendskap met Jehovah verloor?

7 Ons kan baie uit die voorbeeld van koning Salomo leer. Toe Salomo jonk was, het hy op Jehovah vertrou vir leiding. God het hom met baie wysheid geseën en hom die belangrike werk gegee om ’n pragtige tempel in Jerusalem te bou. Maar Salomo het sy vriendskap met Jehovah verloor (1 Kon. 3:12; 11:1, 2). God se Wet het uitdruklik gesê dat ’n Hebreeuse koning vir hom nie “baie vrouens [mag] neem nie, sodat sy hart nie afwyk nie” (Deut. 17:17). Maar Salomo het nie hierdie wet gehoorsaam nie. Hy het op die ou end 700 vrouens en 300 byvrouens gehad (1 Kon. 11:3). Salomo het ook God se wet oortree om nie met vrouens van ander nasies te trou nie. Baie van sy vrouens was nie Israeliete nie en het valse gode aanbid. — Deut. 7:3, 4.

8. Wat het Salomo nog gedoen wat Jehovah baie hartseer gemaak het?

8 Salomo het stadig maar seker opgehou om te doen wat Jehovah vereis, en later het hy baie slegte dinge begin doen. Salomo het ’n altaar gebou vir die valse godin Astoret en ten minste een altaar vir die valse god Kamos. Toe het hy saam met sy vrouens hierdie afgode aanbid. En van alle plekke het hy hierdie altare gebou op ’n berg reg voor Jerusalem, waar hy Jehovah se tempel gebou het! (1 Kon. 11:5-8; 2 Kon. 23:13). Miskien  het Salomo homself bedrieg deur te dink dat Jehovah sy ongehoorsaamheid sou ignoreer solank hy aanhou om ook offerandes by die tempel te bring.

9. Wat het gebeur omdat Salomo nie na God se waarskuwings geluister het nie?

9 Maar Jehovah ignoreer nooit sonde nie. Die Bybel sê: “En Jehovah het vertoornd geword op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van Jehovah . . . wat twee keer aan hom verskyn het. En aangaande hierdie saak het hy hom beveel om nie agter ander gode aan te loop nie; maar hy het nie onderhou wat Jehovah beveel het nie.” Daarom het God hom nie meer goedgekeur nie en opgehou om hom te ondersteun. Salomo se nakomelinge het ook die voorreg verloor om oor die hele nasie Israel te regeer, en hulle het honderde jare lank baie probleme gehad. — 1 Kon. 11:9-13.

10. Wat kan veroorsaak dat ons Jehovah se vriendskap verloor?

10 Net soos Salomo, kan ons ook ons vriendskap met Jehovah in gevaar stel as ons vriende is met mense wat nie Jehovah se standaarde verstaan of respekteer nie. Party is miskien deel van die gemeente, maar hulle het dalk nie ’n sterk verhouding met Jehovah nie. Of miskien is hulle ons familie, bure, werksmaats of skoolmaats, maar hulle is nie aanbidders van Jehovah nie. As die mense met wie ons assosieer, dink dat Jehovah se standaarde nie belangrik is nie, kan hulle uiteindelik ons vriendskap met Jehovah vernietig.

Watter invloed het die mense met wie jy assosieer op jou verhouding met Jehovah? (Sien paragraaf 11)

11. Wat kan ons help om te besluit of ons moet ophou om met iemand te assosieer?

11 Lees 1 Korintiërs 15:33. Die meeste mense het goeie eienskappe. En baie mense wat nie deel van die gemeente is nie, doen dalk nie altyd slegte dinge nie. Dalk ken jy sulke mense. Maar hoe weet jy of hulle goeie assosiasie is? Vra jou af: ‘Watter invloed sal hulle vriendskap op my verhouding met Jehovah hê? Sal hulle dit sterker maak? Wat is in hulle hart? Praat hulle byvoorbeeld heeltyd net oor modes, geld, elektroniese toestelle, vermaak of oor ander materiële dinge? Praat hulle dikwels sleg van ander mense, of hou hulle daarvan om vuil grappe te vertel?’ Jesus het gewaarsku: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matt. 12:34). As jy agterkom dat die mense met wie jy assosieer jou vriendskap met Jehovah in gevaar stel, moet jy dadelik iets doen! Dalk moet jy minder tyd saam met hulle spandeer of as dit nodig is die vriendskap beëindig. — Spr. 13:20.

JEHOVAH VEREIS UITSLUITLIKE TOEGEWYDHEID

12. (a) Wat het Jehovah vir die Israeliete gesê kort nadat hulle Egipte verlaat het? (b) Hoe het die Israeliete geantwoord toe Jehovah hulle gevra het om uitsluitlik aan hom toegewyd te wees?

12 Ons kan ook lesse leer uit wat met die Israeliete gebeur het kort nadat hulle uit  Egipte bevry is. Die volk het voor die berg Sinai bymekaargekom, en Jehovah het op ’n dramatiese manier vir hulle gewys dat hy daar by hulle is. Hulle het ’n donker wolk, weerligstrale en rook gesien, en hulle het donderweer en die harde geluid van ’n horing gehoor (Eks. 19:16-19). Toe het Jehovah hom aan die Israeliete geopenbaar as “’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis”. Hy het hulle verseker dat hy lojaal sou bly aan diegene wat hom liefhet en sy wette gehoorsaam. (Lees Eksodus 20:1-6.) Jehovah het met ander woorde vir sy volk gesê: “As julle wys dat julle aan my kant is, sal ek aan julle kant wees.” Hoe sou jy gereageer het as Jehovah so ’n belofte aan jou gemaak het? Jy sou sekerlik soos die Israeliete geantwoord het. Hulle het “met een stem geantwoord en gesê: ‘Al die woorde wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen’” (Eks. 24:3). Maar nie lank daarna nie het iets onverwags gebeur wat die Israeliete se lojaliteit sou toets.

13. Wat het die Israeliete se lojaliteit getoets?

13 Die donker wolk, weerligstrale en ander ontsagwekkende tekens van God het die Israeliete bang gemaak. Daarom het hulle Moses gevra om namens hulle met Jehovah op die berg Sinai te praat, en hy ingestem om dit te doen (Eks. 20:18-21). Maar Moses het ’n hele ruk lank weggebly. Dit het dalk vir die Israeliete gelyk asof hulle sonder hulle betroubare leier in die wildernis gestrand is. Blykbaar het die volk se geloof daarvan afgehang dat hulle Moses fisies sien. Hulle het baie angstig geraak en vir Aäron gesê: “Maak vir ons ’n god wat voor ons uit sal trek, want wat hierdie Moses betref, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet werklik nie wat met hom gebeur het nie.” — Eks. 32:1, 2.

14. Waarvan het die Israeliete hulleself oortuig, en hoe het Jehovah daarop gereageer?

14 Die volk het geweet dat afgodediens ’n ernstige sonde teen Jehovah is (Eks. 20:3-5). Maar kort voor lank het hulle ’n goue kalf begin aanbid! Al was die Israeliete openlik ongehoorsaam, het hulle hulleself op die een of ander manier daarvan oortuig dat hulle nog steeds aan Jehovah se kant is. Aäron het selfs hulle kalfaanbidding “’n fees vir Jehovah” genoem! Hoe het Jehovah gereageer? Hy het gevoel dat hulle hom verraai het. Jehovah het vir Moses gesê dat die volk “verderflik gehandel” het en dat hulle ‘afgewyk het van die weg wat Hy hulle beveel het’. Jehovah het so kwaad geword vir die Israeliete dat hy selfs daaraan gedink het om die hele nasie te vernietig. — Eks. 32:5-10.

15, 16. Hoe het Moses en Aäron gewys dat hulle heeltemal aan Jehovah se kant is? (Sien prent aan begin van artikel.)

15 Maar Jehovah het besluit om nie die hele nasie Israel te vernietig nie. Hy was genadig en het getroue aanbidders ’n kans gegee om te wys dat hulle aan sy kant is (Eks. 32:14). Nadat Moses gesien het hoe die mense voor ’n afgod skree, sing en dans, het hy die goue kalf fyngemaal totdat dit poeier was. Toe het hy gesê: “Wie is aan Jehovah se kant? Kom na my toe!” Toe het “al die seuns van Levi . . . by [Moses] begin bymekaarkom”. — Eks. 32:17-20, 26.

16 Hoewel Aäron gehelp het om die afgod te maak, het hy berou gehad en saam met die res van die Leviete Jehovah se kant gekies. Hierdie getroue knegte het nie net Jehovah se kant gekies nie, hulle het hulle ook afgeskei van diegene wat ongehoorsaam was. Dit was ’n wyse besluit, want daardie dag het duisende mense hulle lewe verloor omdat hulle ’n afgod aanbid het. Maar Jehovah het almal wat aan sy kant  was, belowe dat hy hulle sou seën. — Eks. 32:27-29.

17. Wat leer ons uit wat Paulus oor die goue kalf gesê het?

17 Nadat die apostel Paulus die aanbidding van die goue kalf genoem het, het hy gewaarsku: “Hierdie dinge het voorbeelde vir ons geword, dat ons nie . . . soos party van hulle, afgodedienaars word nie. [Die voorbeelde] is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het. Daarom, wie dink dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:6, 7, 11, 12). Paulus het gewys dat selfs ware aanbidders verkeerde dinge kan begin doen. Diegene wat dit doen, dink miskien dat hulle nog steeds Jehovah se goedkeuring het. Maar net omdat jy Jehovah se vriend wil wees of sê dat jy getrou aan hom is, beteken dit nie noodwendig dat jy Jehovah se goedkeuring het nie. — 1 Kor. 10:1-5.

18. Wat kan maak dat ons van Jehovah af wegbeweeg, en wat sal die gevolge wees?

18 Die Israeliete het angstig geraak omdat Moses lank gevat het om van die berg Sinai af te kom. Net so kan Christene vandag ook angstig raak omdat dit lyk asof Jehovah se dag van oordeel en die komende nuwe wêreld lank vat om te kom. Ons kan dalk begin dink dat hierdie beloftes ver in die toekoms vervul sal word of dat dit te goed klink om waar te wees. As ons nie versigtig is nie, kan sulke gedagtes maak dat ons op materiële dinge begin fokus in plaas daarvan om Jehovah se wil te doen. Ons kan van Jehovah af begin wegbeweeg en uiteindelik dinge begin doen wat ons nooit gedink het ons sou doen toe ons verhouding met Jehovah nog sterk was nie.

19. Watter belangrike waarheid moet ons nooit vergeet nie, en hoekom nie?

19 Ons moet nooit vergeet dat Jehovah vereis dat ons uitsluitlik toegewyd en heeltemal gehoorsaam aan hom moet wees nie (Eks. 20:5). Selfs al beweeg ons net ’n bietjie weg van Jehovah af, beteken dit dat ons eintlik Satan se wil doen, en dit kan net slegte gevolge hê. Daarom herinner Paulus ons: “Julle kan nie die beker van Jehovah en die beker van demone drink nie; julle kan nie deel hê aan ‘die tafel van Jehovah’ en die tafel van demone nie.” — 1 Kor. 10:21.

BLY NA AAN JEHOVAH!

20. Hoe kan Jehovah ons help, selfs nadat ons ’n fout gemaak het?

20 Die Bybelverslae oor Kain, Salomo en die Israeliete by die berg Sinai het almal iets belangriks in gemeen. Al hierdie mense het die kans gehad om ‘berou te toon en om te draai’ (Hand. 3:19). Ons kan duidelik sien dat Jehovah nie sommer iemand afskryf omdat hy ’n fout gemaak het nie. Jehovah het Aäron byvoorbeeld vergewe vir die fout wat hy gemaak het. Vandag kan Jehovah ons waarsku deur middel van ’n Bybelverslag, Bybelpublikasies of die liefdevolle raad van ’n mede-Christen. Wanneer ons na hierdie waarskuwings luister, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons genadig sal wees.

21. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen wanneer ons lojaliteit aan Jehovah getoets word?

21 Jehovah se onverdiende goedheid het ’n doel (2 Kor. 6:1). Dit gee ons ’n kans “om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp”. (Lees Titus 2:11-14.) Solank as wat ons in “hierdie teenswoordige stelsel van dinge” lewe, sal daar situasies wees wat ons uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah sal toets. Laat ons altyd gereed wees om te wys dat ons aan sy kant is, want dit is ‘Jehovah ons God wat ons moet vrees. Hom moet ons dien en hom moet ons aankleef’! — Deut. 10:20.