Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

“Loof Jah”—Waarom?

“Loof Jah”—Waarom?

“Loof Jah . . . want dit is lieflik—lof is gepas.”—PS. 147:1.

LIEDERE: 104, 152

1-3. (a) Wanneer is Psalm 147 moontlik geskryf? (b) Wat kan ons uit Psalm 147 leer?

ONS prys gewoonlik iemand wat iets baie goed gedoen het. As ons mense prys, hoeveel te meer moet ons Jehovah God nie loof nie! Ons loof hom vir sy ontsaglike krag wat ons in die skepping kan sien en ook vir sy liefde vir mense wat duidelik gesien kan word in die losprysoffer van sy Seun.

2 Die skrywer van Psalm 147 wou Jehovah baie graag loof. Hy het ander ook aangespoor om God saam met hom te loof.—Lees Psalm 147:1, 7, 12.

3 Ons weet nie wie hierdie psalm geskryf het nie, maar hy het blykbaar geleef toe Jehovah die Israeliete uit Babilon bevry het en hulle na Jerusalem teruggekeer het (Ps. 147:2). Die psalmis het Jehovah geloof, want die Israeliete kon Jehovah weer in hulle eie land aanbid. Maar hy het nog redes genoem om Jehovah te loof. Watter redes het hy genoem? En watter redes het jy om Jehovah in jou lewe te loof?—Ps. 147:1.

 JEHOVAH GENEES DIE GEBROKENES VAN HART

4. Hoe het die Israeliete gevoel toe koning Kores hulle bevry het, en waarom het hulle so gevoel?

4 Stel jou voor hoe die Israeliete in Babilon moes gevoel het. Die Babiloniërs het met hulle gespot en gesê: “Sing vir ons een van die liedere van Sion.” Maar Jerusalem, hulle grootste rede vir vreugde, was vernietig (Ps. 137:1-3, 6). Die Jode het nie lus gevoel om te sing nie. Hulle was hartseer en hulle het vertroosting nodig gehad. Maar net soos Jehovah voorspel het, het Kores, die koning van Persië, hulle verlos. Hy het Babilon verower en gesê: “Jehovah . . . het my opgedra om vir hom ’n huis te bou in Jerusalem . . . Wie daar ook al onder julle is van sy hele volk, mag Jehovah sy God met hom wees. En laat hom optrek” (2 Kron. 36:23). Dit moes die Israeliete in Babilon baie vertroos het!

5. Wat sê die psalmis oor Jehovah se krag om ons te genees?

5 Jehovah het nie net die nasie Israel vertroos nie, maar hy het ook elke Israeliet individueel vertroos. Jehovah doen vandag dieselfde. Die psalmis het gesê dat God ‘die gebrokenes van hart genees’ (Ps. 147:3). Ja, Jehovah help almal wat siek of depressief is. Jehovah wil ons graag vertroos en ons emosionele wonde genees (Ps. 34:18; Jes. 57:15). Hy gee ons die wysheid en krag sodat ons probleme ons nie onderkry nie.—Jak. 1:5.

6. Wat leer ons uit die psalmis se woorde in Psalm 147:4? (Sien prent aan begin van artikel.)

6 Die psalmis het toe na die hemel gekyk en gesê dat Jehovah ‘die getal van die sterre bepaal’ en dat ‘hy hulle almal by hulle name noem’ (Ps 147:4). Hy kon die sterre sien, maar hy het geen idee gehad hoeveel daar werklik is nie. Party meen dat daar net in ons Melkwegstelsel miljarde sterre is. En daar is moontlik biljoene sterrestelsels in die heelal! Dit is vir mense onmoontlik om die sterre te tel, maar die Skepper kan! Hy ken die sterre so goed dat hy elkeen van hulle ’n naam gegee het (1 Kor. 15:41). Die God wat weet waar elke ster is, ken jou ook. Hy weet presies waar jy is, presies hoe jy voel en wat jy elke oomblik nodig het!

7, 8. (a) Wat hou Jehovah in gedagte wanneer hy sy knegte red? (b) Gee ’n voorbeeld van hoe medelydend Jehovah is.

7 Jehovah weet wat jy deurmaak, en hy kan jou met jou probleme help. (Lees Psalm 147:5.) Jy voel dalk dat jou probleme net te veel raak en te moeilik is om te verduur. God weet dat ons perke het en hy weet “dat ons stof is” (Ps. 103:14). Ons is onvolmaak en ons maak dikwels dieselfde foute oor en oor. Ons is so jammer oor verkeerde dinge wat ons gesê het, verkeerde begeertes wat ons gehad het en dat ons op ander mense jaloers was! Jehovah maak nie sulke foute nie, maar hy verstaan hoe ons voel!—Jes. 40:28.

8 Miskien het jy al self gesien hoe Jehovah jou gehelp het om ’n moeilike situasie te verduur (Jes. 41:10, 13). Kioko, ’n pioniersuster, het byvoorbeeld baie mismoedig gevoel nadat sy in ’n nuwe toewysing aangekom het. Hoe  het sy geweet dat Jehovah haar probleme verstaan het? Omdat baie in haar nuwe gemeente verstaan het hoe sy voel. Dit was asof Jehovah vir haar gesê het: “Ek is lief vir jou, nie net omdat jy ’n pionier is nie, maar ook omdat jy my dogter is en aan my toegewy is. Ek wil hê dat jy as een van my Getuies gelukkig moet wees!” Hoe het die Almagtige vir jou gewys dat ‘sy verstand onbeskryflik’ is, of dat hy presies weet hoe jy voel?

JEHOVAH VOORSIEN WAT ONS NODIG HET

9, 10. Wat is die belangrikste manier waarop Jehovah ons help? Gee ’n voorbeeld.

9 Ons almal het kos, klere en ’n blyplek nodig. Dalk is jy bekommerd dat jy nie genoeg kos sal hê nie. Maar Jehovah het die aarde geskep om genoeg voedsel vir almal te kan voorsien, selfs “aan die jong rawe wat bly roep”. (Lees Psalm 147:8, 9.) As Jehovah selfs vir die rawe sorg, kan ons daarvan seker wees dat hy ook in ons fisiese behoeftes sal voorsien.—Ps. 37:25.

10 Maar Jehovah voorsien bowenal in ons geestelike behoeftes en hy gee ons “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan” (Fil. 4:6, 7). Toe ’n tsoenami Japan in 2011 getref het, het Moetsoeo en sy vrou gesien hoe Jehovah hulle gehelp het. Hulle het alles verloor wat hulle besit het. Hulle het die tsoenami oorleef deur op die dak van hulle huis te klim en moes daardie aand in ’n koue, donker kamer op die tweede vloer van hulle huis slaap. Die volgende oggend het hulle iets gesoek wat hulle geestelik kon aanmoedig. Die enigste boek wat hulle kon kry, was ons Jaarboek vir 2006. Die opskrif “Die ergste tsoenami’s in die geskiedenis” het dadelik Moetsoeo se aandag getrek. ’n Aardbewing in Soematra in 2004 het die ergste tsoenami’s in die geskiedenis veroorsaak. Moetsoeo en sy vrou het gehuil toe hulle die ondervindinge van hulle broers en susters gelees het. Hulle kon voel hoe Jehovah hulle op presies die regte tyd die aanmoediging gegee het wat hulle nodig gehad het. Jehovah het ook op ander maniere vir hulle gesorg. Die broers uit ander dele van Japan het kos en klere gebring. Maar wat hulle die meeste aangemoedig het, was die besoeke aan die gemeente deur die verteenwoordigers van God se organisasie. Moetsoeo sê: “Dit het gevoel asof Jehovah hier by ons was en vir ons gesorg het. Dit het ons baie vertroos!” Jehovah voorsien eers geestelike hulp, en dan fisiese hulp.

VIND BAAT BY GOD SE HULP

11. Wat moet ons doen om baat te vind by God se hulp?

11 Jehovah is altyd gereed om ‘die sagmoediges te ondersteun’ (Ps. 147:6a). Maar hoe kan ons by sy hulp baat vind? Ons vriendskap met Jehovah moet baie sterk wees. Om so ’n vriendskap te hê, moet ons sagmoedig wees (Sef. 2:3). Sagmoediges wag op Jehovah om ’n einde aan onregverdigheid en lyding te maak. Sulke persone maak Jehovah baie bly.

12, 13. (a) Wat moet ons vermy as ons by God se hulp wil baat vind? (b) Wie maak Jehovah bly?

 12 Maar Jehovah “verneder die goddeloses tot die grond toe” (Ps. 147:6b). Ons wil nie hê dat dit met ons moet gebeur nie! Ons wil hê dat Jehovah ons moet liefhê, en daarom moet ons haat wat hy haat (Ps. 97:10). Ons moet byvoorbeeld seksuele onsedelikheid haat. Dit beteken dat ons alles moet vermy wat ons kan laat sondig, insluitende dinge soos pornografie (Ps. 119:37; Matt. 5:28). Dit kan baie moeilik wees, maar as ons Jehovah se seën wil hê, is dit die moeite werd.

13 Om hierdie stryd te wen, moet ons op Jehovah vertrou en nie op onsself nie. Sal Jehovah bly wees as ons op onsself of op ander vertrou? Nee! Jehovah ‘skep geen behae in die krag van die perd nie’ en ook nie in die “bene van die man”, asof ’n mens ons kan red nie (Ps. 147:10). Ons moet eerder op Jehovah vertrou en smeek dat hy ons moet help. Jehovah sal nooit moeg word as ons hom oor en oor vra om ons te help nie. “Jehovah het behae in dié wat hom vrees, in dié wat op sy liefderyke goedhartigheid wag” (Ps. 147:11). Ons weet dat Jehovah ons altyd sal help om die stryd teen ons verkeerde begeertes te wen omdat hy vir ons lief is.

14. Waarvan was die psalmis oortuig?

14 Jehovah verseker ons dat hy ons sal help wanneer ons probleme het. Toe die Israeliete na Jerusalem teruggekeer het, het die psalmis daaraan gedink hoe Jehovah hulle gehelp het. Hy het gesing: “Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; hy het jou kinders in jou geseën. Hy stel vrede in jou gebied” (Ps. 147:13, 14). Die psalmis het veilig gevoel omdat hy oortuig was dat Jehovah die stad se hekke sou versterk om sy aanbidders te beskerm!

Hoe kan God se Woord ons help as dit voel of ons probleme ons oorweldig? (Sien paragraaf 15-17)

15-17. (a) Hoe kan ons beproewinge ons soms laat voel, maar hoe gebruik Jehovah sy Woord om ons te help? (b) Gee ’n voorbeeld van hoe God se Woord “met spoed beweeg”.

15 Party probleme kan jou angstig laat voel. Jehovah kan jou die wysheid gee om jou met jou probleme te help. Die psalmis het van sy God gesê: “Hy stuur sy bevel na die aarde; met spoed beweeg sy woord voort.” Toe het hy na sneeu, ryp en ys verwys en gevra: “Wie kan voor sy koue standhou?” Dan sê hy dat Jehovah ‘sy woord uitstuur en hulle laat smelt’ (Ps. 147:15-18). Ons alwyse en almagtige God, wat mag het oor hael en sneeu, kan jou help om enige probleem te oorkom.

16 Vandag gebruik Jehovah sy Woord die Bybel om ons te help. En ‘sy woord beweeg met spoed voort’ in die sin dat hy geestelike leiding gee wanneer ons dit nodig het. Dink hoe dit ons help wanneer ons die Bybel lees, die publikasies van die “getroue en verstandige slaaf” bestudeer, na JW Broadcasting kyk, jw.org besoek, met ouer manne gesels en saam met mede-Christene kuier (Matt. 24:45). Het jy al self gesien hoe vinnig Jehovah is om jou te help?

17 Simone was iemand wat die krag van God se Woord ondervind het. Sy het waardeloos gevoel en het selfs gevoel dat God haar nooit sal aanvaar nie. Wanneer sy so gevoel het, het sy  nooit opgehou bid nie en Jehovah altyd gevra om haar te help. Sy het nooit haar persoonlike studie van die Bybel afgeskeep nie. Sy sê: “Ek was nooit in ’n situasie waar ek nie Jehovah se krag en leiding kon voel nie.” Dit het haar gehelp om meer positief te wees.

18. Waarom voel jy dat Jehovah na aan jou is, en watter redes het jy om hom te loof?

18 Die psalmis het geweet hoe geseënd God se eertydse volk was. Hulle was die enigste nasie wat God se “woord” en sy “voorskrifte en sy regterlike beslissings” gehad het. (Lees Psalm 147:19, 20.) Ons het vandag die voorreg om die enigste mense op die aarde te wees wat God se naam dra. Ons is baie bly dat ons Jehovah ken, dat ons sy Woord het om ons te rig en dat ons ’n goeie verhouding met hom kan hê. Jy het net soos die skrywer van Psalm 147 baie goeie redes om te sê “Loof Jah”, en om ander aan te spoor om dit ook te doen!