Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Soek ware rykdom

Soek ware rykdom

“Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom.”—LUK. 16:9.

LIEDERE: 32, 154

1, 2. Waarom sal daar altyd arm mense in hierdie wêreld wees?

VANDAG se ekonomiese wêreld is wreed en onregverdig. Jongmense sukkel om werk te kry. Baie mense het hulle lewe in gevaar gestel om na ryk lande te gaan. En selfs in ryk lande is daar baie arm mense. Die rykes word net al hoe ryker en die armes al hoe armer. Daar word gesê dat 1% van die rykste mense ryker as die res van die wêreld is. Dit is baie duidelik dat miljarde mense brandarm is terwyl ander meer geld het as wat hulle ooit in ’n leeftyd kan uitgee. Jesus het dit bevestig toe hy gesê het: “Julle het die armes altyd by julle.”—Mark. 14:7.

2 Jesus het geweet dat die ekonomiese stelsel nie sou verander totdat God se Koninkryk kom nie. Volgens die Bybel is die “koopmanne”, of die kommersiële stelsel, tesame met die politieke en godsdiensstelsel, deel van Satan se wêreld (Op. 18:3). God se knegte het hulle heeltemal van die politiek en valse godsdiens afgeskei. Maar hulle kan hulle nie geheel en al van die kommersiële wêreld afskei nie.

3. Watter vrae sal ons bespreek?

3 As Christene kan ons gerus ons beskouing van die  kommersiële wêreld ondersoek. Vra jou af: ‘Hoe kan ek my materiële besittings gebruik om te wys dat ek aan God getrou is? Hoe kan ek minder betrokke wees by die kommersiële wêreld? Watter ondervindinge wys dat God se knegte ten volle op hom vertrou?’

DIE ILLUSTRASIE VAN DIE ONREGVERDIGE BESTUURDER

4, 5. (a) Wat het met die bestuurder in Jesus se illustrasie gebeur? (b) Watter raad het Jesus sy volgelinge gegee?

4 Lees Lukas 16:1-9. Jesus se illustrasie oor die onregverdige, of oneerlike, bestuurder is baie interessant. Die bestuurder is daarvan beskuldig dat hy sy heer se geld gemors het. Hy het toe “praktiese wysheid” aan die dag gelê om ‘vriende te maak’ om hom te help wanneer hy sy werk verloor. * Jesus het natuurlik nie sy dissipels aangemoedig om skelm te wees nie. Hy het gesê dat mense van hierdie wêreld sulke dinge doen, maar ons leer nogtans ’n belangrike les uit die illustrasie.

5 Jesus het geweet dat die meeste van sy volgelinge, soos die bestuurder wat in ’n moeilike situasie beland het, ook in ’n onregverdige wêreld sal moet werk om geld te verdien. Hy het hulle aangespoor: “Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom, sodat wanneer dit faal, hulle [Jehovah en Jesus] julle in die ewige woonplekke sal ontvang.” Wat leer ons uit Jesus se raad?

6. Hoe weet ons dat die kommersiële stelsel nie deel van God se voorneme was nie?

6 Alhoewel Jesus nie verduidelik het waarom hy rykdom ‘onregverdig’ noem nie, toon die Bybel dat die idee om baie geld te maak nie deel van God se voorneme was nie. Jehovah het alles voorsien wat Adam en Eva in Eden nodig gehad het (Gen. 2:15, 16). Later, toe God sy heilige gees op gesalfdes uitgestort het, het “nie eers een . . . gesê dat enige van sy besittings sy eie was nie; maar hulle het alles gemeenskaplik besit” (Hand. 4:32). Die profeet Jesaja het voorspel dat mense alles op die aarde in oorvloed sal geniet (Jes. 25:6-9; 65:21, 22). Maar intussen het Jesus se volgelinge “praktiese wysheid” nodig. Hulle moet deur middel van die “onregverdige rykdom” vir hulle gesinne sorg, maar hulle moet ook God se wil doen.

GEBRUIK ONREGVERDIGE RYKDOM WYSLIK

7. Watter raad gee Lukas 16:10-13?

7 Lees Lukas 16:10-13. Die bestuurder in Jesus se illustrasie het vriende vir selfsugtige redes gemaak. Maar Jesus het sy volgelinge aangespoor om nie vir selfsugtige redes vriende in die hemel te maak nie. Hy het verduidelik dat die manier waarop ons “onregverdige rykdom” gebruik, sal wys of ons aan God getrou is. Hoe kan ons dit doen?

8, 9. Gee voorbeelde van hoe party getrou is in die gebruik van onregverdige rykdom.

8 Een manier waarop ons getrou kan wees in die gebruik van ons materiële dinge, is om geldelike bydraes te gee vir die wêreldwye predikingswerk wat Jesus voorspel het (Matt. 24:14). ’n Meisie in  Indië het ’n spaarbussie gehad waarin sy muntstukke gegooi het. Sy het selfs haar geld vir speelgoed in die bussie gegooi. Toe die spaarbussie vol was, het sy die geld vir die predikingswerk bygedra. ’n Broer in Indië wat ’n plaas het, het ’n klomp kokosneute aan ’n vertaalkantoor geskenk. Omdat die broers in elk geval kokosneute sou koop, het hy gevoel dat sy bydrae beter as geld is. Dit is praktiese wysheid. Die broers in Griekeland maak ook gereelde bydraes van olyfolie, kaas en ander kos aan die Bethelgesin.

9 ’n Broer wat ’n huis in Sri Lanka het, het dit vir vergaderinge en byeenkomste beskikbaar gestel. Daar bly ook ’n paar voltydse dienaars in die huis. Dit is ’n geldelike opoffering vir die broer, maar dit help die plaaslike broers wat nie baie geld het nie. In ’n land waar daar beperkings op ons werk is, gebruik die broers hulle huise as Koninkryksale en dit beteken dat pioniers en broers wat arm is nie ’n vergaderplek hoef te huur nie.

10. Watter seëninge ontvang ons as ons vrygewig is?

10 Hierdie voorbeelde toon hoe God se knegte “in die geringste getrou is”. Hulle gebruik hulle materiële dinge, wat minder werd is as geestelike skatte, om ander te help (Luk. 16:10). Hoe voel hierdie vriende van Jehovah oor sulke opofferings? Hulle weet dat as hulle vrygewig is, hulle ‘ware’ rykdom sal verkry (Luk. 16:11). ’n Suster wat gereelde bydraes aan die Koninkrykswerk maak, vertel van ’n seëning wat sy ontvang het: “Deur vrygewig te wees, het ek iets baie interessants in my lewe ondervind. Hoe vrygewiger ek met materiële dinge is, hoe vrygewiger voel ek oor die algemeen. Ek vergewe mense vryeliker, ek is geduldiger en ek aanvaar teleurstellings en raad makliker.” Baie het al geleer dat vrygewigheid hulle geestelik verryk.—Ps. 112:5; Spr. 22:9.

11. (a) Hoe is vrygewigheid ’n teken van “praktiese wysheid”? (b) Wat vind vandag onder God se volk plaas? (Sien prent aan begin van artikel.)

11 Ons toon ook “praktiese wysheid” wanneer ons ons materiële dinge gebruik om ander in die bediening te ondersteun. Broers wat nie in die voltydse diens kan wees nie of op ander plekke kan gaan help nie, het die versekering dat hulle bydraes ander in die bediening sal help (Spr. 19:17). Vrywillige bydraes help om lektuur te druk en die predikingswerk te ondersteun in arm lande waar baie mense die waarheid aanvaar. In lande soos die Kongo, Madagaskar en Rwanda is Bybels baie duur. ’n Bybel kan ’n week of ’n maand se loon kos. Ons broers moes soms kies of hulle ’n Bybel of kos vir die gesin gaan koop. Omdat bydraes gemaak word en “’n gelykmaking” van geld plaasvind, kan Jehovah se organisasie Bybels vertaal en gratis  versprei. Elke gesinslid en Bybelstudent wat geestelik honger is, kan nou ’n Bybel kry. (Lees 2 Korintiërs 8:13-15.) Diegene wat gee en diegene wat ontvang, kan Jehovah se vriend wees.

MINDER BETROKKE BY DIE “HANDELSBEDRYWIGHEDE VAN DIE LEWE”

12. Hoe het Abraham getoon dat hy op God vertrou het?

12 Nog ’n manier waarop ons Jehovah se vriend kan wees, is om minder betrokke te wees in die kommersiële wêreld en om ‘ware’ rykdom te soek. Dit is wat die getroue man Abraham gedoen het. Hy was gehoorsaam aan Jehovah en het die ryk stad Ur verlaat om in tente te gaan woon omdat hy Jehovah se vriend wou wees (Heb. 11:8-10). Hy het altyd op Jehovah vertrou en nie op materiële dinge nie (Gen. 14:22, 23). Jesus het ander aangemoedig om sulke geloof te hê. Hy het eenkeer vir ’n ryk jong man gesê: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê, en kom word my volgeling” (Matt. 19:21). Daardie man het nie die geloof van Abraham gehad nie, maar ander het wel ten volle op Jehovah vertrou.

13. (a) Watter raad het Paulus aan Timoteus gegee? (b) Hoe kan ons Paulus se raad vandag toepas?

13 Timoteus was ’n man van geloof. Nadat Paulus Timoteus ’n “goeie soldaat van Christus Jesus” genoem het, het hy gesê: “Geen mens wat as ’n soldaat dien, raak verwikkel in die handelsbedrywighede van die lewe nie, sodat hy die goedkeuring kan verkry van die een wat hom as ’n soldaat gewerf het” (2 Tim. 2:3, 4). Vandag doen Jesus se volgelinge, insluitende meer as ’n miljoen voltydse dienaars, hulle bes om Paulus se raad toe te pas. Hulle luister nie na die advertensies van hierdie gierige wêreld nie. Hulle dink aan die beginsel: “Die lener is ’n kneg van die man wat uitleen” (Spr. 22:7). Satan wil hê dat ons slawe van sy kommersiële wêreld moet wees. Party maak groot skuld om vir ’n huis, ’n kar, ’n graad of selfs ’n troue te betaal. As ons nie versigtig is nie, kan ons jare lank diep in die skuld wees. Ons toon praktiese wysheid as ons ons lewe eenvoudig hou, nie onnodige skuld maak nie en minder geld uitgee. Dan sal ons ’n slaaf van God, eerder as ’n slaaf van die kommersiële wêreld wees.—1 Tim. 6:10.

14. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen? Gee voorbeelde.

14 Om ’n eenvoudige lewe te lei, moet ons die Koninkryk eerste in ons lewe stel. ’n Egpaar het ’n winsgewende besigheid gehad. Maar hulle wou baie graag weer in die voltydse diens wees. Hulle het besluit om hulle besigheid, hulle boot en ander besittings te verkoop. Hulle het aansoek gedoen om met die bouprojek van die wêreldhoofkwartier by Warwick, New York, te gaan help. Dit was wonderlik, want hulle kon saam met hulle dogter en haar man by Bethel dien. Hulle het ook vir ’n paar weke saam met sy ouers aan die Warwick-projek gewerk. ’n Pioniersuster in Colorado, VSA, het deeltyds by ’n bank gewerk. Hulle was so tevrede met haar werk dat hulle haar ’n voltydse pos met drie keer soveel geld aangebied het. Maar sy het nie die aanbod aanvaar nie, want sy sou minder tyd vir haar bediening hê. Dit is maar net ’n paar voorbeelde van die  opofferings wat Jehovah se knegte gemaak het. As ons vasbeslote is om die Koninkryk eerste te stel, wys dit dat ons vriendskap met God en geestelike skatte vir ons belangriker as geld is.

WANNEER MATERIËLE RYKDOM FAAL

15. Watter soort rykdom maak ons die gelukkigste?

15 As ons baie geld het, beteken dit nie noodwendig dat ons God se seën het nie. Jehovah seën dié wat ‘ryk in goeie werke’ is. (Lees 1 Timoteus 6:17-19.) Byvoorbeeld, toe Lucia * gehoor het dat daar meer verkondigers in Albanië nodig was, het sy in 1993 soontoe getrek. Sy het nie ’n werk gehad nie, maar sy het ten volle op Jehovah vertrou. Sy het Albanees geleer en het meer as 60 persone gehelp om tot doop te vorder. Ons werk nie almal in sulke vrugbare gebiede nie, maar enigiets wat ons doen om mense te help om Jehovah se vriend te word, is iets wat ons nooit sal vergeet nie.—Matt. 6:20.

16. (a) Wat gaan uiteindelik met die kommersiële stelsel gebeur? (b) Hoe moet dit ons beskouing van materiële dinge beïnvloed?

16 In Lukas 16:9 sê Jesus “wanneer dit [onregverdige rykdom] faal”, en nie ‘as dit faal’ nie. Finansiële krisisse wat nou plaasvind, sal niks wees in vergelyking met wat binnekort oor die hele wêreld sal gebeur nie. Die politieke, godsdienstige en kommersiële stelsel—Satan se hele wêreld—sal vernietig word. Esegiël en Sefanja het voorspel dat goud en silwer, wat nog altyd die steunpilare van die kommersiële wêreld was, waardeloos sal wees (Eseg. 7:19; Sef. 1:18). Hoe sal ons voel as ons aan die einde van ons lewe in hierdie stelsel besef dat ons ware rykdom vir ’n klomp “onregverdige rykdom” verruil het? Ons sal dalk soos iemand voel wat sy hele lewe lank vir ’n hoop geld gewerk het en dan op die ou end besef dat dit alles vervals is (Spr. 18:11). Hierdie rykdom sal uiteindelik faal. Moenie die kans deur jou vingers laat glip om deur middel van onregverdige rykdom vriende in die hemel te maak nie. Alles wat ons doen om Jehovah se Koninkryk te ondersteun, sal ons geestelik ryk maak.

17, 18. Waarna kan vriende van God uitsien?

17 Wanneer God se Koninkryk kom, sal ons nie meer huise hoef te huur of lenings afbetaal nie. Kos sal volop en verniet wees. Niemand sal ooit weer ’n dokter of medisyne nodig hê nie. Jehovah se knegte op die aarde sal die beste van alles geniet. Goud, silwer en edelgesteentes sal vir versiering wees, en nie om mense ryk te maak nie. Ons huise sal van die beste hout, klip en metaal gebou word wat vir almal beskikbaar sal wees. Ons vriende sal ons help omdat hulle dit graag wil doen, nie omdat ons hulle betaal nie. Ons sal alles op die aarde met mekaar deel.

18 Dit is net ’n klein deeltjie van die wonderlike beloning wat ons sal geniet as ons vriende in die hemel maak. Stel jou voor hoe bly al Jehovah se knegte op die aarde sal wees wanneer hulle Jesus se woorde hoor: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is.”—Matt. 25:34.

^ par. 4 Jesus het nie gesê dat die beskuldiging teen die bestuurder waar was nie. Die Griekse woord wat in Lukas 16:1 met “beskuldig” vertaal word, kan ook beteken dat iemand moedswillig oor die man leuens vertel het. Die les fokus nie op die rede waarom die bestuurder sy werk verloor het nie, maar eerder op sy reaksie.

^ par. 15 Die lewensverhaal van Lucia Moussanett verskyn in die Ontwaak! van 22 Junie 2003, bl. 18-22.