Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

’n Ryk Christelike erfenis het my gehelp om te floreer

’n Ryk Christelike erfenis het my gehelp om te floreer

DIT was die middel van die nag. Ek en ’n broer het op die oewer van die Nigerrivier gestaan. Dit is ’n groot rivier wat amper 1,6 kilometer wyd is en baie vinnig vloei. Daar was ’n burgeroorlog in Nigerië, en ons kon ons lewe verloor het as ons die rivier oorgesteek het. Maar ons moes dit waag, meer as een keer. Hoe het ek in hierdie posisie beland? Kom ons gaan terug na waar dit alles begin het.

In 1913 is my pa, John Mills, op die ouderdom van 25 in die stad New York gedoop. Broer Russell het die dooptoespraak gehou. Kort daarna het my pa na Trinidad toe gegaan waar hy met Constance Farmer getrou het, ’n ywerige Bybelstudent. My pa het sy vriend William R. Brown gehelp om die “Fotodrama van die Skepping” te wys. Hulle het dit gedoen totdat die Browns in 1923 ’n nuwe toewysing in Wes-Afrika gekry het. My ma en pa, wat albei die hemelse hoop gehad het, het aangehou om Jehovah in Trinidad te dien.

LIEFDEVOLLE OUERS

My ouers het nege kinders gehad en het hulle eerste kind Rutherford genoem. Hy is vernoem na die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. Ek is op 30 Desember 1922 gebore en is vernoem na Clayton J. Woodworth, die redakteur van The Golden Age (nou die Ontwaak!). Ons ouers het gesorg dat ons ’n basiese opvoeding kry, maar hulle het ons veral aangemoedig om geestelike doelwitte te hê. Ons ma het die ongelooflike vermoë gehad om met oortuiging uit die Skrif te redeneer. Ons pa het daarvan gehou om vir ons Bybelstories te vertel en het sy hele liggaam gebruik om die stories te laat lewe.

Hulle pogings het goeie resultate gehad. Van die vyf seuns het drie van ons die Gileadskool bygewoon. Drie van ons susters het jare lank in Trinidad en Tobago gepionier. Ons ouers het ons “in die huis van Jehovah geplant” deur middel van hulle onderrigting en goeie voorbeeld. Hulle aanmoediging het ons gehelp om daar te bly en “in die voorhowe van ons God” te floreer. – Ps. 92:13.

Die predikingswerk was vanaf ons huis georganiseer. Pioniers het daar bymekaargekom en dikwels oor broer George Young gepraat, ’n Kanadese sendeling wat Trinidad besoek het. My ouers was baie opgewonde wanneer hulle oor die Browns gepraat het, wat teen daardie tyd in Wes-Afrika  was. Dit alles het my gemotiveer om velddiens te begin doen toe ek tien jaar oud was.

VROEË BEDRYWIGHEDE

Ons tydskrifte was baie reguit in daardie dae. Dit het gewys hoe valse godsdiens mense verkeerde dinge leer, hoe gierig die besigheidswêreld is en hoe korrup die politiek is. As gevolg hiervan het die godsdiensleiers in 1936 die goewerneur van Trinidad oortuig om al die publikasies van die organisasie te verbied. Ons het die publikasies weggesteek, maar ons het aangehou om dit te gebruik totdat al ons voorraad opgeraak het. Ons het gepreek deur plakkate te dra en strooibiljette te versprei terwyl ons inligtingsoptogte gehou het en op fietse gery het. En saam met die klankmotorgroep van die dorpie Tunapuna, het ons selfs in die mees afgeleë dele van Trinidad gepreek. Dit was opwindend! Hierdie geestelike omgewing het daartoe gelei dat ek op die ouderdom van 16 gedoop is.

Die Tunapuna klankmotorgroep

My familie-erfenis en hierdie vroeë ondervindinge het my die begeerte gegee om ’n sendeling te word. Hierdie begeerte was nog steeds sterk toe ek in 1944 na Aruba gegaan het en by broer Edmund W. Cummings aangesluit het. Ons was baie bly toe tien mense die Gedenkmaal in 1945 bygewoon het. Die volgende jaar was die eerste gemeente op die eiland gestig.

Met Oris het ek die lewe nog meer geniet

Kort daarna het ek informeel vir ’n werksmaat, Oris Williams, getuig. Oris het hard probeer om die leerstellings wat sy geleer is te verdedig. Maar sy het die Bybel studeer en geleer wat God se Woord regtig sê en is op 5 Januarie 1947 gedoop. Later het ons op mekaar verlief geraak en getrou. Sy het in November 1950 begin pionier. Met Oris het ek die lewe nog meer geniet.

OPWINDENDE DIENS IN NIGERIË

In 1955 is ons genooi om die Gileadskool by te woon. Ek en Oris het ons daarvoor gereedgekry deur by ons werk te bedank, ons huis en ander besittings te verkoop en totsiens te sê vir Aruba. Op 29 Julie 1956 het ons saam met die 27ste klas van Gilead gegradueer en is ons gevra om in Nigerië te gaan dien.

Saam met die Bethelgesin in Lagos, Nigerië, in 1957

Oris het die volgende oor daardie tyd gesê: “Jehovah se gees kan jou help om aan te pas wanneer jy as ’n sendeling deur moeilike tye gaan. Anders as my man wou ek nooit ’n sendeling gewees het nie. Ek sou eerder graag ’n huis wou hê en met ’n gesin begin. Ek het my denke verander toe ek besef hoe dringend dit is om die goeie nuus te verkondig. Toe ons aan Gilead gegradueer het, was ek gereed en vasbeslote om as ’n sendeling te preek. Toe ons op die passasierskip Queen Mary geklim het, het Worth Thornton, van broer Knorr se kantoor, vir ons kom afsien. Hy het vir ons gesê dat ons by Bethel gaan dien. ‘Ag nee!’, het ek gesê. Maar ek het gou aangepas en lief geword vir Bethel, waar ek verskillende toewysings gehad het. Ek het dit die meeste geniet om as ’n ontvangsdame te dien. Ek is lief vir mense, en hierdie werk het my in direkte kontak gebring met die broers van Nigerië. Baie wat daar aangekom het, was vol stof, moeg, dors en honger. Ek het dit geniet om na hulle behoeftes om te sien en hulle gemaklik te laat voel. Dit was alles heilige diens aan Jehovah, en dit is wat my gelukkig en tevrede gemaak het.” Ja, elke toewysing het ons gehelp om te floreer.

In 1961 in Trinidad het ons familie bymekaargekom, en broer Brown het ons vertel van sy opwindende ondervindinge wat hy in Afrika gehad het. Toe het ek almal van die groei in Nigerië vertel. Broer Brown het sy arms liefdevol om my gesit en vir my pa gesê: “Johnny, jy kon toe nooit Afrika toe gaan nie, maar Woodworth het!” My pa het toe gesê: “Hou so aan, Worth! Hou so aan!” Sulke aanmoediging van hierdie ywerige knegte van Jehovah het my begeerte versterk om my bediening ten volle uit te voer.

William “Bible” Brown en sy vrou, Antonia, het ons baie aangemoedig

In 1962 het ek die voorreg gehad om verdere opleiding by die 37ste klas van Gilead te ontvang, ’n kursus van tien maande. Broer Wilfred Gooch, wat toe die takopsiener in Nigerië was, het die 38ste klas bygewoon en was gevra om in Engeland te dien. Ek het toe die takopsiener van die takkantoor in Nigerië geword. Ek het, net soos broer Brown, baie gereis en die dierbare broers in Nigerië beter leer ken en liefgekry. Al het hulle nie baie van die materiële dinge gehad wat mense in meer ontwikkelde  lande het nie, was hulle gelukkig en tevrede. Dit het gewys dat ’n betekenisvolle lewe nie van geld of materiële besittings afhang nie. As ’n mens dink aan hulle omstandighede, was dit wonderlik om te sien hoe skoon en netjies hulle was wanneer hulle vergaderinge bygewoon het. Wanneer hulle na die streekbyeenkoms toe gegaan het, het baie van hulle in lorries en bolekajas * (busse wat oop is aan die kante en wat plaaslik gemaak word) aangekom. Daar was dikwels interessante slagspreuke op hierdie busse. Een van hulle was: “Klein druppeltjies water vorm ’n groot oseaan.”

Dit is so waar! Elke bietjie wat ’n persoon doen, maak ’n verskil, en ons het ons deel bygedra. Teen 1974 het Nigerië die eerste land buite die Verenigde State geword wat 100 000 verkondigers gehad het. Die werk het floreer!

Hierdie groei het plaasgevind terwyl daar van 1967 tot 1970 ’n burgeroorlog in Nigerië was. Ons broers wat aan die ander kant van die Nigerrivier in Biafra gebly het, was maande lank van die takkantoor afgesny. Ons moes net geestelike voedsel vir hulle neem. Soos in die inleiding genoem is, het ons ’n paar keer die rivier oorgesteek. Gebed en vertroue op Jehovah het ons gehelp.

Ek onthou nog goed hoe gevaarlik dit was om die Nigerrivier oor te steek. Daar was soldate wat sommer sonder rede op ’n mens geskiet het, asook siektes en ander gevare. Dit was alreeds baie moeilik om verby die regering se soldate te kom, maar dit was selfs gevaarliker om verby die rebelle te kom wat aan die ander kant van die rivier was. Een aand het ek die Nigerrivier met ’n passasiersbootjie van Asaba na Onitsha oorgesteek om die opsieners in Enugu aan te moedig. Op ’n ander geleentheid het ons ons broers in Aba besoek gedurende die tyd dat almal in die dorp verplig was om hulle ligte saans af te sit sodat hulle vyande hulle nie kon sien nie. Hierdie besoek het hulle baie versterk. In Port Harcourt moes ons ons vergadering vinnig met gebed afsluit toe die regering se soldate deur die Biafraanse verdediging buitekant die dorp deurgebreek het.

Daardie vergaderinge was baie belangrik omdat dit ons dierbare broers verseker het van Jehovah se liefdevolle besorgdheid. By die vergaderinge het hulle ook raad gekry oor neutraliteit en eenheid, wat op daardie stadium baie nodig was. Die broers in Nigerië het hierdie moeilike tyd suksesvol deurgemaak. Hulle liefde vir mekaar was baie sterker as die haat wat tussen die stamme was, en hulle het hulle Christelike eenheid behou. Dit was ’n voorreg om hulle gedurende daardie moeilike tyd te ondersteun!

In 1969 was broer Milton G. Henschel die voorsitter van die “Vrede op aarde”-internasionale byeenkoms by Yankee-stadion, New York, en as sy assistent het ek baie geleer. Dit was net op die regte tyd, want in 1970 het ons die “Mense van sy welbehae”-internasionale byeenkoms in Lagos, Nigerië, gehou. Hierdie byeenkoms, wat kort ná die burgeroorlog gehou is, was slegs suksesvol omdat Jehovah dit geseën het. Dit was ’n besonderse geleentheid omdat die byeenkoms in 17 tale gehou is en 121 128 mense dit bygewoon het. Broer Knorr, broer Henschel en besoekers wat met gehuurde vliegtuie van die Verenigde State en Engeland gekom het, het een van die grootste Christelike doopgeleenthede sedert Pinkster bygewoon – 3 775 nuwe dissipels is gedoop! Om hierdie geleentheid te organiseer was seker die besigste tyd in my lewe. Die vermeerdering in die aantal verkondigers was merkwaardig!

Daar was 121 128 mense by die “Mense van sy welbehae”- internasionale byeenkoms, wat in 17 tale gehou is, insluitende Ibo

Gedurende die meer as 30 jaar wat ek in Nigerië was, het ek dit geniet om soms as ’n reisende opsiener en as ’n sone-opsiener in Wes-Afrika te dien. Die sendelinge was baie dankbaar vir die persoonlike aandag en aanmoediging wat hulle gekry het. Dit het my baie bly gemaak om hulle te verseker dat ons hulle nie vergeet het nie! Hierdie werk het my geleer dat persoonlike belangstelling in mense baie belangrik is omdat dit hulle help om te floreer en om Jehovah se organisasie sterk en verenig te hou.

Ons kon slegs met Jehovah se hulp die probleme wat die burgeroorlog en siekte oor ons gebring het, hanteer. Dit was altyd duidelik dat Jehovah ons geseën het. Oris het gesê:

 “Ons albei het meer as een keer malaria gehad. In een geval het Worth sy bewussyn verloor en moes hy na ’n hospitaal in Lagos geneem word. Hulle het vir my gesê dat hy dit dalk nie sal oorleef nie, maar ek is baie dankbaar dat hy wel oorleef het! Toe hy sy bewussyn herwin het, het hy met die verpleër wat hom versorg het oor God se Koninkryk gepraat. Later het ek saam met Worth gegaan om die verpleër, mnr. Nwambiwe, te besoek om sy belangstelling in die Bybel verder te ontwikkel. Hy het die waarheid aanvaar en later ’n ouer man in Aba geword. Ek het ook die voorreg gehad om baie mense, selfs getroue Moslems, te help om toegewyde dienaars van Jehovah te word. Ons het dit baie geniet om die mense van Nigerië, hulle kultuur, gebruike en taal te leer ken en lief te kry.”

Dit was nog ’n les wat ons geleer het: As ons in ons toewysing in die buiteland wou floreer, moes ons leer om lief te word vir ons broers en susters maak nie saak hoeveel hulle kultuur van ons s’n verskil het nie.

NUWE TOEWYSINGS

Nadat ons by Bethel in Nigerië gedien het, het ons in 1987 ’n nuwe toewysing gekry om as veldsendelinge in St. Lucia te dien, ’n pragtige eiland in die Karibiese See. Ons het hierdie toewysing baie geniet, maar dit het weer ander uitdagings gehad. In Afrika het mans met baie vrouens getrou, maar in St. Lucia het paartjies saamgebly sonder dat hulle getroud is. God se kragtige Woord het baie van ons Bybelstudies gemotiveer om veranderinge in hulle lewe te maak.

Ek was baie lief vir Oris gedurende die 68 jaar wat ons getroud was

Hoe ouer ons geword het, hoe minder het ons kragte geword, en daarom was dit baie liefdevol van die Bestuursliggaam om ons in 2005 na die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, VSA, te stuur. Ek dank Jehovah nog steeds elke dag vir Oris. In 2015 het ons vyand die dood haar weggeneem, en ek het nie woorde om te sê hoe baie ek haar mis nie. Sy was ’n uitstekende maat en ’n liefdevolle en lieflike vrou. Ek was baie lief vir haar gedurende die 68 jaar wat ons saam was. Ons het gevind dat die resep vir geluk, in die huwelik en in die gemeente, is om hoofskap te respekteer, vryelik te vergewe, nederig te bly en die vrug van die gees te weerspieël.

Wanneer daar teleurstellings was of wanneer ons mismoedig gevoel het, het ons op Jehovah vertrou om ons te help om hom te bly dien. Terwyl ons aangehou het om aanpassings te maak, het ons gesien hoe dinge al hoe beter word – en die beste dinge lê nog vir ons voor! – Jes. 60:17; 2 Kor. 13:11.

In Trinidad en Tobago het Jehovah die werk van my ouers en ander geseën. Volgens die nuutste verslae is daar nou 9 892 verkondigers. In Aruba het baie broers en susters hulle deel gedoen om die eerste gemeente waarvan ek deel was, te versterk. Daardie eiland het nou 14 gemeentes wat floreer. In Nigerië is daar nou 381 398 verkondigers! En op die eiland St. Lucia is daar 783 wat Jehovah se Koninkryk ondersteun.

Ek is nou in my 90’s. Psalm 92:14 sê van diegene wat in die huis van Jehovah geplant is: “Hulle sal nog in die grysheid bly floreer, vet en vars sal hulle bly.” Ek is so dankbaar vir die lewe wat ek in Jehovah se diens gehad het. Die ryk Christelike erfenis wat ek gekry het, het my aangemoedig om Jehovah ten volle te dien. Jehovah se lojale liefde het my gehelp om “in die voorhowe van [my] God” te floreer. – Ps. 92:13.

^ par. 18 Sien die Ontwaak! van 8 Junie 1972, bl. 18-20.