Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

Ons het God se onverdiende goedhartigheid op baie maniere ondervind

Ons het God se onverdiende goedhartigheid op baie maniere ondervind

AS ’N godvresende jong man het my pa, Arthur, gehoop om ’n Metodistepredikant te word. Maar sy planne het verander toe hy die lektuur van die Bybelstudente gelees en met hulle begin assosieer het. Hy is in 1914 op die ouderdom van 17 gedoop. Die Eerste Wêreldoorlog het gewoed, en hy is vir militêre diensplig opgeroep. Omdat hy geweier het om wapens te dra, is hy gevonnis tot tien maande in die Kingston-strafgevangenis in Ontario, Kanada. Nadat my pa vrygelaat is, het hy die voltydse diens betree as ’n kolporteur (pionier).

In 1926 het Arthur Guest met Hazel Wilkinson getrou, wie se ma in 1908 die waarheid geleer het. Ek is op 24 April 1931 gebore, die tweede van hulle vier kinders. Ons gesinslewe het om die aanbidding van Jehovah gedraai, en my pa se diep respek vir die Bybel het ons ’n lewenslange waardering vir God se Woord gegee. Ons het gereeld as ’n gesin aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem.—Hand. 20:20.

EK BLY NEUTRAAL EN EK BEGIN PIONIER

Die Tweede Wêreldoorlog het in 1939 uitgebreek, en die jaar daarna is die werk van Jehovah se Getuies in Kanada verbied. Openbare skole het patriotiese seremonies gehou waartydens die vlag gesalueer en die volkslied gesing is. Ek en my oudste suster, Dorothy, is verskoon van hierdie seremonies. Tot my verbasing het my onderwyseres my eendag probeer verneder deur te sê dat ek  ’n lafaard is. Ná skool het ’n paar van my klasmaats my aangeval en my geslaan. Maar daardie aanval het my eintlik meer vasbeslote gemaak om “eerder aan God as heerser gehoorsaam [te] wees as aan mense”.—Hand. 5:29.

In Julie 1942, op die ouderdom van 11, is ek in ’n watertenk op ’n plaas gedoop. Ek het dit geniet om gedurende die jaarlikse skoolvakansies as ’n vakansiepionier (nou ’n hulppionier) te dien. Een jaar het ek saam met drie ander broers vir houtkappers gaan preek wat in ontoegekende gebied in die noorde van Ontario gewoon het.

Op 1 Mei 1949 is ek as ’n gewone pionier aangestel. Die tak was besig met ’n bouprojek, en ek is genooi om te gaan help. Ek het op 1 Desember ’n lid van die Bethelgesin in Kanada geword. Ek is gevra om in die drukkery te dien en ek het geleer hoe om met die platpers te werk. Ek het ’n paar weke lank nagskof gewerk en ’n traktaat gedruk oor die vervolging van Jehovah se knegte in Kanada.

Later, terwyl ek in die Diensafdeling gewerk het, het ek onderhoude gevoer met pioniers wat die tak besoek het. Hulle was op pad na hulle toewysing in Quebec, waar ons werk hewig teëgestaan is. Een van die besoekers was Mary Zazula van Edmonton, Alberta. Omdat sy en haar ouer broer, Joe, geweier het om op te hou om die Bybel te studeer, is hulle deur hulle Ortodokse ouers uit die huis gesit. In Junie 1951 is hulle albei gedoop, en ses maande later het hulle begin pionier. Tydens die onderhoud het Mary se geestelikheid my baie beïndruk. Ek het vir myself gesê: ‘Tensy iets negatiefs kop uitsteek, is dit die meisie met wie ek gaan trou.’ Ons is nege maande later, op 30 Januarie 1954, getroud. ’n Week later is ons genooi om opleiding vir kringwerk te ontvang, en ons het die volgende twee jaar ’n kring in die noorde van Ontario bedien.

Omdat die wêreldwye predikingswerk so vinnig uitgebrei het, was meer sendelinge nodig. Ons het gedink dat ons moeilike omstandighede in enige toewysing sou kon verduur, aangesien ons Kanada se ysige winters en die lastige muskiete in die somer kon verdra. Ons het die 27ste klas van die Gileadskool bygewoon en in Julie 1956 gegradueer. Teen November was ons in ons nuwe toewysing—Brasilië.

SENDINGWERK IN BRASILIË

Toe ons by die tak in Brasilië aankom, is ons blootgestel aan die Portugese taal. Nadat ons geleer het om onsself in Portugees voor te stel en ’n tydskrifaanbieding van een minuut gememoriseer het, het ons velddiens begin doen. Ons het besluit dat ons tekste oor die lewe onder God se Koninkryk sou lees as ’n huisbewoner belangstelling toon. Op ons eerste dag in die velddiens het  ’n vrou aandagtig geluister. Ek het dus Openbaring 21:3, 4 gelees—en toe flou geword! My liggaam was nog nie gewoond aan die warm, vogtige weer nie. Dit was ’n voortdurende uitdaging.

Ons sendingtoewysing was in die stad Campos, waar daar nou 15 gemeentes is. Toe ons daar aangekom het, was daar net een afgesonderde groep in die stad, sowel as ’n sendinghuis waar vier susters gewoon het: Esther Tracy, Ramona Bauer, Luiza Schwarz en Lorraine Brookes (nou Wallen). My werk in die huis was om te help met die wasgoed en om hout bymekaar te maak om kos te kook. Een Maandagaand na ons Wagtoring-studie het ons ’n onverwagse besoeker gehad. My vrou het op die bank gelê terwyl ons oor die dag se bedrywighede gesels het. Toe sy opstaan, het ’n slang onder die kussing uitgeseil! Dit het ’n groot konsternasie veroorsaak, en ek moes die slang doodmaak.

Nadat ons ’n jaar lank Portugees geleer het, is ek as ’n kringopsiener aangestel. Ons het ’n eenvoudige lewe gelei. Ons het nie elektrisiteit gehad nie, het op matte geslaap en het met ’n perdekar gery. Eenkeer het ons per trein na ’n dorpie in die berge gereis sodat ons daar in afgesonderde gebied kon preek. Ons het ’n kamer in ’n losieshuis gehuur. Die takkantoor het 800 tydskrifte vir ons gestuur om in die bediening te gebruik. Ons moes ’n hele paar keer na die poskantoor gaan om al die bokse tydskrifte te kry en na ons blyplek te neem.

In 1962 is die Koninkryksbedieningskool vir broers en sendelingsusters op verskillende plekke in Brasilië gehou. As instrukteur het ek ses maande lank van een skool na die ander gereis—maar sonder Mary. Ek het klas gegee in Manaus, Belém, Fortaleza, Recife en Salvador. In Manaus het ek ’n streekbyeenkoms in die bekende operahuis gereël. Swaar reën het baie van die drinkwater besoedel en veroorsaak dat ons nie ’n geskikte eetsaal vir die byeenkoms gehad het nie. (In daardie dae is etes by byeenkomste bedien.) Ek het met die weermag in kontak gekom. ’n Gawe offisier het drinkwater vir die hele byeenkoms gereël en het soldate gestuur om twee groot tente vir ons op te rig, wat ons as ’n kombuis en ’n eetsaal gebruik het.

Terwyl ek weg was, het Mary in ’n Portugese sakegebied getuig, waar geld al was waarin die mense belanggestel het. Niemand het daarin belanggestel om oor die Bybel te praat nie. Sy het dus vir ’n paar Betheliete gesê: “Portugal is die laaste plek op aarde waar ek wil woon.” Raai wat! Kort daarna het ons ’n uitnodiging ontvang om in Portugal te gaan dien. Ons predikingswerk was op daardie stadium in Portugal verbied, maar ons het die toewysing aanvaar, al was Mary aanvanklik geskok.

 ONS TOEWYSING IN PORTUGAL

Ons het in Augustus 1964 in Lissabon, Portugal, aangekom. Die Portugese geheime polisie (PIDE) het ons broers hewig vervolg. As gevolg hiervan was dit beter dat niemand ons verwelkom nie en dat ons nie in aanraking met die plaaslike Getuies kom nie. Ons het in ’n losieshuis gebly terwyl ons vir ons verblyfpermitte gewag het. Nadat ons ons visums ontvang het, het ons ’n woonstel gehuur. Ons het uiteindelik in Januarie 1965 met die takkantoor kontak gemaak. Ons was so bly toe ons na vyf maande ons eerste vergadering kon bywoon!

Ons het uitgevind dat die polisie ons broers se huise daagliks deursoek. Omdat ons nie toegelaat is om ons Koninkryksale te gebruik nie, is gemeentelike vergaderinge in huise gehou. Honderde Getuies is na polisiestasies geneem vir ondervraging. Die polisie het veral die broers mishandel en probeer dwing om die name bekend te maak van dié wat die leiding neem. Gevolglik het die broers begin om mekaar se voorname te gebruik, soos José of Paulo, eerder as hulle vanne. Ons het dus dieselfde gedoen.

Dit was vir ons van die grootste belang om geestelike voedsel aan ons broers te voorsien. Mary het Wagtoring-studieartikels en ander lektuur op wasvelle getik, wat gebruik is om afskrifte te maak.

DIE GOEIE NUUS WORD IN DIE HOF VERDEDIG

In Junie 1966 is ’n belangrike hofsaak in Lissabon gehou. Al 49 lede van die Feijó-gemeente is voor die hof gebring omdat hulle ’n onwettige vergadering in ’n huis bygewoon het. Ek het hulle vir die verhoor voorberei deur te maak asof ek die staatsaanklaer is. Ons het geweet dat ons die saak sal verloor. Die 49 broers en susters het vonnisse ontvang wat gewissel het van 45 dae tot vyf en ’n half maande. Maar ’n goeie getuienis is gegee. Ons regsgeleerde het sy verdediging afgesluit deur moedig Gamaliël se woorde uit die Bybel aan te haal (Hand. 5:33-39). Daar was ook berigte oor die saak in die pers. Ons was baie bly dat ons moedige regsgeleerde ’n Bybelstudie aanvaar het en voor sy dood vergaderinge bygewoon het.

Ek is in Desember 1966 as die takopsiener aangestel en het baie tyd aan regsake bestee. Ons het alles in ons vermoë gedoen om vryheid van godsdiens vir Jehovah se Getuies in Portugal te bewerkstellig (Fil. 1:7). Ons het uiteindelik op 18 Desember 1974 wetlike erkenning ontvang. Broer Nathan Knorr en Frederick Franz, van die wêreldhoofkwartier, het Portugal besoek om in ons vreugde te deel. Ons het ’n geskiedkundige vergadering in Oporto en Lissabon gehou wat deur 46 870 bygewoon is.

Jehovah het dit moontlik gemaak vir die predikingswerk om uit te brei op eilande waar  Portugees gepraat word, insluitende die Asore, Kaap Verde, Madeira, São Tomé en Príncipe. Ons het ’n groter takkantoor nodig gehad. Nadat die bouwerk voltooi is, het broer Milton Henschel op 23 April 1988 die toewydingstoespraak gehou. Hierdie vreugdevolle geleentheid is deur 45 522 bygewoon, insluitende 20 broers en susters wat voorheen sendelinge in Portugal was.

ONS HET BY GETROUE VOORBEELDE BAAT GEVIND

Deur die jare heen het ons baie by getroue broers geleer. Ek het ’n waardevolle les geleer toe ek saam met broer Theodore Jaracz ’n sonebesoek gedoen het. Die tak wat ons besoek het, het ’n ernstige probleem gehad, en die lede van die takkomitee het gedoen wat hulle kon om dit op te los. Broer Jaracz het hulle gerusgestel en gesê: “Nou is dit tyd om terug te staan en die heilige gees te laat werk.” Tydens ’n besoek aan Brooklyn ’n paar dekades gelede het ek en my vrou, Mary, ’n aand saam met broer Franz en ’n paar ander deurgebring. Toe broer Franz aan die einde van die aand gevra is om iets te sê oor sy baie jare in Jehovah se diens, het hy gesê: “My raad is: Bly deur dik en dun by Jehovah se sigbare organisasie. Dit is die enigste een wat die werk doen wat Jesus sy dissipels beveel het om te doen—die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk!”

Ek en my vrou het groot genot daaruit geput om dit te doen. Ons het kosbare herinneringe van sonebesoeke aan takke regoor die wêreld. Hierdie besoeke het ons die geleentheid gegee om ons waardering te toon vir die getroue diens van Jehovah se knegte van alle ouderdomme en om hulle aan te moedig om voort te gaan om Jehovah te dien.

Die jare het verbygegaan, en ons is nou albei in ons 80’s. Mary het verskeie gesondheidsprobleme (2 Kor. 12:9). Beproewinge het ons geloof versterk en ons meer vasbeslote gemaak om lojaal aan Jehovah te bly. Wanneer ons nadink oor ons lewe, besef ons dat ons Jehovah se onverdiende goedhartigheid op baie maniere ondervind het. *

^ par. 29 Terwyl hierdie artikel vir publikasie voorberei is, het Douglas Guest op 25 Oktober 2015 getrou aan Jehovah gesterf.