Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

Ek laat dinge agter om Christus te volg

Ek laat dinge agter om Christus te volg

“As jy gaan preek, moet jy nie eers daaraan dink om terug te kom nie. As jy terugkom, gaan ek jou bene breek.” Met my pa se waarskuwing nog vars in my gedagtes het ek besluit om die huis te verlaat. Dit was die eerste keer dat ek dinge moes agterlaat om Christus te volg. Ek was net 16 jaar oud.

HOE het ek in hierdie situasie beland? Laat ek verduidelik. Ek is op 29 Julie 1929 gebore en het grootgeword in ’n klein dorpie in die provinsie Bulacan in die Filippyne. Die lewe daar was eenvoudig omdat mense min geld gehad het. Toe ek nog jonk was, het ’n oorlog uitgebreek, en die Japannese weermag het die Filippyne binnegeval. Maar omdat ons dorpie redelik ver van alles af was, het die oorlog ons nie regtig direk geraak nie. Niemand het ’n radio of ’n televisie gehad nie, en daar was ook nie koerante nie. Daarom was die enigste nuus wat ons oor die oorlog gehoor het, dit wat ander mense ons kom vertel het.

Ek was die tweede van agt kinders. Toe ek agt jaar oud was, het my oupa en ouma my kom haal om by hulle te gaan bly. Hoewel ons Katolieke was, het my oupa in ander godsdienste belanggestel en godsdienslektuur bymekaargemaak wat hy by sy vriende gekry het. Ek kan onthou dat hy my die boekies Protection, Safety, en Uncovered in die Tagalog-taal, * asook ’n Bybel, gewys het. Ek het dit geniet om die Bybel te lees, veral die vier Evangelies. Daarom wou ek graag Jesus se voorbeeld navolg.—Joh. 10:27.

EK LEER HOE OM CHRISTUS TE VOLG

Die Japannese weermag het die land in 1945 verlaat. My ouers het my omtrent dieselfde tyd gevra om terug te kom huis toe, en my oupa het my ook aangespoor om dit te doen. Daarom het ek gegaan.

Kort daarna, in Desember 1945, het ’n groep Getuies van Jehovah van die dorp Angat in ons dorpie kom preek. Een van die Getuies het na ons huis toe gekom en vir ons verduidelik wat die Bybel oor “die laaste dae” sê (2 Tim. 3:1-5). Hy het ons genooi na ’n Bybelstudie in ’n dorpie daar naby. My ouers het nie gegaan nie, maar ek het. Omtrent 20 mense het dit bygewoon, en party van hulle het vrae oor die Bybel gevra.

Omdat ek nie eintlik verstaan het waaroor hulle praat nie, het ek besluit om te loop. Maar net toe ek wou loop, het hulle ’n Koninkrykslied begin sing. Die lied het my baie beïndruk, en ek het toe besluit  om te bly. Ná die lied en gebed is almal genooi om die volgende Sondag ’n vergadering in Angat by te woon.

’n Hele paar van ons het omtrent agt kilometer ver geloop om die vergadering in die Cruz-gesin se huis by te woon. Daar was 50 mense by die vergadering. Dit het my beïndruk dat selfs die jong kinders antwoorde oor moeilike Bybelonderwerpe gegee het. Ná nog ’n paar vergaderinge het broer Damian Santos, ’n bejaarde pionier wat voorheen ’n burgemeester was, my genooi om daardie aand by hulle te bly. Ons het amper die hele nag oor die Bybel gepraat.

In daardie dae het baie van ons gou gereageer op die basiese Bybelwaarhede wat ons geleer het. Ná net ’n paar vergaderinge het die broers ons gevra: “Wil julle gedoop word?” Ek het geantwoord: “Ja, ek wil.” Ek het geweet dat ek ‘die Heer, Christus, soos ’n slaaf wou dien’ (Kol. 3:24). Op 15 Februarie 1946 is twee van ons in ’n rivier daar naby gedoop.

Ons het besef dat ons, as gedoopte Christene, net soos Jesus gereeld moes preek. My pa het glad nie hiervan gehou nie. Hy het gesê: “Jy is te jonk om te preek. Net omdat iemand jou in ’n rivier gedoop het, beteken dit nie dat jy nou ’n predikant is nie.” Ek het verduidelik dat dit God se wil is dat ons die goeie nuus van God se Koninkryk moet verkondig (Matt. 24:14). Ek het ook gesê: “Ek moet my belofte aan God nakom.” Dit is toe dat my pa my gedreig het met die woorde aan die begin van die artikel. Hy was daarop uit om my te keer om te preek. En dit het daartoe gelei dat ek vir die eerste keer dinge agtergelaat het om geestelike doelwitte na te streef.

Die Cruz-gesin het my genooi om by hulle in Angat te kom bly. Hulle het my en hulle jongste dogter, Nora, ook aangespoor om te pionier. Op 1 November 1947 het ons albei met ons pionierdiens begin. Nora het in ’n ander dorp gedien, terwyl ek in Angat gepionier het.

NOG ’N GELEENTHEID OM DINGE AGTER TE LAAT

In my derde jaar as ’n pionier het Earl Stewart, ’n broer van die takkantoor, ’n toespraak gehou vir meer as 500 mense op die openbare plein in Angat. Hy het die toespraak in Engels gehou, en daarna het ek ’n opsomming daarvan in Tagalog gegee. Ek het net sewe jaar lank skoolgegaan, maar ons onderwysers het gereeld Engels gepraat. Nog iets wat my gehelp het om my Engels te verbeter, was die feit dat ons baie min Bybelpublikasies in Tagalog gehad het. Daarom was baie van hierdie publikasies wat ek studeer het, in Engels. Ek het genoeg Engels geleer om daardie toespraak en later ander toesprake te tolk.

Die dag toe ek broer Stewart se toespraak getolk het, het hy vir die plaaslike gemeente gesê dat die takkantoor een of twee broers wat pionier, wou nooi om na Bethel toe te kom. Hulle sou daar help terwyl die sendelinge die “Teokrasie se vermeerdering”-byeenkoms in 1950 in New York, VSA, bywoon. Ek was een van die broers wat genooi is. Ek het weer eens alles wat vir my bekend was, agtergelaat, maar hierdie keer om by Bethel te gaan werk.

Ek het op 19 Junie 1950 by Bethel aangekom en met my nuwe toewysing begin. Bethel was op ’n stuk grond van een hektaar in ’n groot ou huis met baie bome. Omtrent 12 ongetroude broers het daar gewerk. Vroeg in die oggend het ek in die kombuis gehelp, en van negeuur af het ek klere gestryk in die wassery. Ek het dieselfde in die middag gedoen. Selfs nadat die sendelinge teruggekom het van die internasionale byeenkoms af, het ek aanhou dien by Bethel. Ek het tydskrifte toegedraai sodat dit gepos kon word, inskrywings hanteer en by ontvangs gewerk. Ek het enigiets gedoen wat hulle my gevra het.

EK VERLAAT DIE FILIPPYNE OM NA GILEADSKOOL TE GAAN

In 1952 was ek baie opgewonde toe ek en ses ander broers van die Filippyne ’n uitnodiging gekry het om die 20ste klas van Gileadskool by te woon. Baie van die dinge wat ons in die Verenigde State gesien en ervaar het, was vir ons nuut en vreemd. Dit was baie anders as die klein dorpie waaraan ek gewoond was.

Saam met mede-studente by Gilead

Ons moes byvoorbeeld leer om gereedskap en toestelle te gebruik wat vir ons onbekend was. En die weer was ook baie anders! Een oggend toe ek buitentoe gaan, was alles om my spierwit. Dit was die heel eerste keer dat ek sneeu gesien het. Toe het ek agtergekom dat dit koud is, baie koud!

 Maar ek het die fantastiese opleiding wat ek by Gilead gekry het, so geniet dat ek nie eers gedink het aan al die aanpassings wat ek moes maak nie. Die instrukteurs was doeltreffend in die manier waarop hulle ons geleer het. Ons het geleer hoe om betekenisvolle studie en navorsing te doen. Die opleiding wat ek by Gilead gekry het, het my gehelp om geestelik te groei.

Nadat ek gegradueer het, is ek aangewys om ’n ruk lank as ’n spesiale pionier in die Bronx, in die stad New York, te dien. Daarom kon ek in Julie 1953 die Nuwewêreldgemeenskap-byeenkoms bywoon, wat in dieselfde deel van die stad gehou is. Ná die byeenkoms het ek ’n nuwe toewysing gekry. Ek was weer op pad terug na die Filippyne toe.

EK LAAT DIE GEMAKLIKE STADSLEWE AGTER

Die broers by die takkantoor het vir my gesê: “Nou gaan jy met kringwerk begin.” Dit sou my ’n nuwe geleentheid gee om letterlik die voetstappe van Christus te volg, wat na verafgeleë dorpe en stede gereis het om Jehovah se skape te help (1 Pet. 2:21). Ek is na ’n groot kring aangewys in die sentrale gebied van Luzon, die grootste eiland in die Filippyne. Dit het die provinsies van Bulacan, Nueva Ecija, Tarlac en Zambales ingesluit. Om by party van die dorpies uit te kom, moes ek oor die Sierra Madre-berge gaan, iets wat baie moeilik was. Daar was geen openbare vervoer na hierdie plekke toe nie. Daarom moes ek trokdrywers vra of ek agterop hulle groot trokke kon sit, bo-op die stompe wat hulle aangery het. Gewoonlik het hulle my toegelaat om dit te doen, maar dit was glad nie gemaklik nie.

Die meeste gemeentes was nog nuut en redelik klein. Daarom het die broers dit waardeer wanneer ek hulle gehelp het om hulle vergaderinge en velddiens beter te organiseer.

Ek is later gevra om oor te gaan na ’n kring wat die hele Bicol-streek gedek het. Dit het meestal bestaan uit afgesonderde groepe waar spesiale pioniers besig was om in gebiede te werk waar niemand nog gepreek het nie. By een huis was die enigste toilet wat daar was, ’n gat in die grond met twee planke oor die middel van die gat. Toe ek op die planke trap, het ek saam met die planke in die gat geval. Dit het my nogal lank gevat om myself behoorlik skoon te kry sodat ek ontbyt kon gaan eet!

Gedurende daardie toewysing het ek aan Nora gedink, wat in Bulacan begin pionier het. Teen hierdie tyd was sy ’n spesiale pionier in die stad Dumaguete, en ek het toe vir haar gaan kuier. Ons het daarna ’n ruk lank vir mekaar geskryf en is toe in 1956 getroud. Die eerste week ná ons troue het ons die gemeente op Rapu Rapu-eiland gaan besoek. Daar moes ons berge klim en baie ver loop, maar dit het ons baie gelukkig gemaak om die broers in hierdie afgesonderde gebied as ’n getroude paartjie te besoek!

 GENOOI OM WEER BY BETHEL TE DIEN

Nadat ons byna vier jaar saam op die kring was, het ons ’n uitnodiging ontvang om by die takkantoor te dien. Ons het ons lang loopbaan by Bethel in Januarie 1960 begin. Deur die jare het ek baie geleer terwyl ek saam met broers gewerk het wat groot verantwoordelikhede gehad het. Nora het ook ’n hele paar verskillende toewysings by Bethel gehad.

Besig om ’n toespraak by ’n streekbyeenkoms te hou met ’n Cebuano-tolk

Omdat ek by Bethel was, het ek die voorreg gehad om die geweldige geestelike groei in die Filippyne te sien. Toe ek as ’n jong ongetroude man Bethel toe gekom het, was daar omtrent 10 000 verkondigers in die hele land. Nou is daar meer as 200 000 verkondigers in die Filippyne en honderde Betheliete wat die belangrike predikingswerk ondersteun.

Namate die werk deur die jare al hoe meer geword het, het Bethel te klein geword. Die Bestuursliggaam het ons toe gevra om na ’n stuk grond te soek waarop ons groter geboue kon bou. Ek en die opsiener van die drukkery het van huis tot huis in die buurt rondom die takkantoor gegaan en gevra of enigiemand hulle eiendom wil verkoop. Niemand wou nie. Een eienaar het selfs vir ons gesê: “Chinese mense verkoop nooit nie, ons koop net.”

Broer Albert Schroeder hou ’n toespraak en ek tolk

Maar eendag het ’n eienaar van een van die eiendomme ons onverwags gevra of ons sy grond wou koop. Hy was besig om na die Verenigde State toe te trek. Dit het ’n reeks gebeure aan die gang gesit wat ons skaars kon glo. Iemand anders in die buurt het ook besluit om sy eiendom te verkoop, en hy het ander mense rondom hom aangeraai om dieselfde te doen. Ons kon selfs die eiendom koop van die man wat gesê het: “Chinese mense verkoop nooit nie.” Binne ’n kort tydjie het die takkantoor se eiendom meer as drie keer groter geword. Ek is oortuig daarvan dat Jehovah God wou hê dat dit moes gebeur.

Toe ek in 1950 in Bethel was, was ek die jongste lid van die Bethelgesin. Nou is ek en my vrou ouer as almal in Bethel. Ek is glad nie spyt dat ek Christus gevolg het waar hy my ook al gestuur het nie. My ouers het my wel uit die huis geskop, maar Jehovah het my ’n groot gesin mede-gelowiges gegee. Ek twyfel glad nie dat, ongeag watter toewysing ons kry, Jehovah alles voorsien wat ons nodig het nie. Ek en Nora is baie dankbaar teenoor Jehovah vir alles wat hy vir ons gegee het, en ons moedig ander aan om ook so op Jehovah te vertrou.—Mal. 3:10.

Jesus het eenkeer ’n belastinggaarder met die naam Matteus Levi genooi en gesê: “Word my volgeling.” Wat het hy gedoen? “Hy het alles net so gelaat en opgestaan en [Jesus] gevolg” (Luk. 5:27, 28). Ek het ook soortgelyke geleenthede gehad, en ek spoor ander aan om dieselfde te doen en baie seëninge te geniet.

Ons is bly om nog steeds ’n aandeel te hê aan die groei in die Filippyne

^ par. 6 Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar word nie meer gedruk nie.