Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Julle is deur onverdiende goedhartigheid vrygemaak

Julle is deur onverdiende goedhartigheid vrygemaak

“Die sonde moet nie meester oor julle wees nie, aangesien julle . . . onder onverdiende goedhartigheid [is].”—ROM. 6:14.

LIEDERE: 2, 61

1, 2. Waarom is Romeine 5:12 van groot belang vir Jehovah se Getuies?

GESTEL jy wil ’n lys maak van Bybelverse wat Jehovah se Getuies goed ken en dikwels gebruik. Sal Romeine 5:12 een van die eerste verse wees waaraan jy dink? Dink aan hoe dikwels jy al verwys het na hierdie woorde: “Net soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het.”

2 Hierdie vers word dikwels gebruik in die boek Wat leer die Bybel werklik? As jy hierdie boek met jou kinders of met ander studeer, sal jy Romeine 5:12 heel moontlik gebruik in hoofstuk 3, 5 en 6, wat handel oor God se voorneme met die aarde, die losprys en die toestand van die dooies. Maar hoe dikwels dink jy aan Romeine 5:12 wanneer dit kom by jou eie posisie voor Jehovah, jou dade en jou hoop vir die toekoms?

3. Wat moet ons almal omtrent sonde besef?

3 Ons almal is natuurlik sondaars. Ons maak elke dag foute. Maar ons het die versekering dat God onthou dat ons stof is, en hy is bereid om barmhartigheid aan ons te bewys (Ps. 103:13, 14). Jesus het die volgende versoek in die modelgebed ingesluit: “Vergewe  ons ons sondes” (Luk. 11:2-4). Ons het dus geen rede om te tob oor sondes wat God vergewe het nie. Dit is nogtans goed as ons nadink oor waarom hy ons kon vergewe en die feit dat hy ons wel vergewe het.

VERGIFNIS WEENS ONVERDIENDE GOEDHARTIGHEID

4, 5. (a) Wat help ons om te verstaan waarom Jehovah ons sondes kan vergewe? (b) Wat is die “onverdiende goedhartigheid” waarvan Romeine 3:24 praat?

4 Ons vind belangrike inligting in die hoofstukke voor en ná die apostel Paulus se woorde in Romeine 5:12. Dit sal ons help om te verstaan waarom Jehovah ons kan vergewe. In hoofstuk 3 lees ons: “Almal het gesondig . . . , en dit is as ’n vrye gawe dat hulle deur sy onverdiende goedhartigheid regverdig verklaar word op grond van die bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is” (Rom. 3:23, 24). Wat het Paulus met “onverdiende goedhartigheid” bedoel? Hy het ’n Griekse woord gebruik wat volgens een naslaanwerk kan verwys na “’n guns wat vryelik bewys word, . . . sonder dat iets in ruil daarvoor verwag word”. Dit is heeltemal onverdiend.

5 Die geleerde John Parkhurst het gesê: “Wanneer [hierdie Griekse woord] met verwysing na God of Christus gebruik word, verwys dit dikwels na hulle vrye en onverdiende guns of goedhartigheid wat verlossing en redding vir die mensdom moontlik maak.” Dit is dus gepas dat die Nuwe Wêreld-vertaling die uitdrukking “onverdiende goedhartigheid” gebruik. Maar hoe het God hierdie onverdiende goedhartigheid betoon? En hoe hou dit verband met jou hoop en jou verhouding met hom? Kom ons kyk.

6. Wie kan baat vind by God se onverdiende goedhartigheid?

6 Adam is die “een mens” deur wie sonde en die dood “in die wêreld ingekom het”. “Die dood” het dus “deur die oortreding van die een mens as koning geheers”. Paulus het verder gesê dat God “die oorvloed van [sy] onverdiende goedhartigheid . . . deur middel van die een persoon, Jesus Christus”, getoon het (Rom. 5:12, 15, 17). Die hele mensdom kan by hierdie onverdiende goedhartigheid baat vind. “Baie [sal] deur die gehoorsaamheid van die een persoon [Jesus] regverdig gemaak word.” Trouens, God se onverdiende goedhartigheid kan lei tot “die ewige lewe . . . deur middel van Jesus Christus”.—Rom. 5:19, 21.

7. Waarom is die losprys ’n blyk van onverdiende goedhartigheid?

7 Jehovah was nie verplig om sy Seun na die aarde te stuur om die losprys te voorsien nie. Boonop verdien onvolmaakte, sondige mense nie die losprys wat God en Jesus voorsien het en wat vergifnis moontlik maak nie. Die feit dat ons vergifnis kan verkry en die vooruitsig het om vir ewig te lewe, is dus werklik goedhartigheid wat ons nie verdien nie. Ons moet deur die manier waarop ons elke dag lewe, toon dat ons groot waardering het vir God se onverdiende goedhartigheid teenoor ons.

WAARDERING VIR GOD SE ONVERDIENDE GOEDHARTIGHEID

8. Watter verkeerde beskouing het sommige mense van hulle sondes?

8 Omdat ons onvolmaakte nakomelinge van Adam is, is ons geneig om verkeerde dinge te doen en te sondig. Maar dit sal ’n groot fout wees om te dink dat ons God se onverdiende goedhartigheid kan misbruik. Dit sal verkeerd wees om te redeneer: ‘Dit maak nie saak as ek iets verkeerds doen nie—selfs iets wat God as sonde beskou nie. Jehovah sal my vergewe.’ Selfs toe party van die apostels nog gelewe het, het sommige Christene ongelukkig so gedink. (Lees Judas 4.) Ons sal dalk nooit so iets hardop sê  nie; maar hierdie verkeerde beskouing kan diep binne ons wees of ander kan ons beïnvloed om so te begin dink.

9, 10. Hoe is Paulus en ander Christene van sonde en die dood vrygemaak?

9 Paulus het beklemtoon dat ons die volgende beskouing moet verwerp: ‘God verstaan. Hy sal my verkeerde dade of optrede oorsien.’ Waarom moet ons hierdie beskouing verwerp? Omdat Christene “met betrekking tot die sonde gesterf het”, soos Paulus geskryf het. (Lees Romeine 6:1, 2.) Waarom kan daar gesê word dat hulle “met betrekking tot die sonde gesterf het” terwyl hulle nog op die aarde gelewe het?

10 God het Paulus en ander Christene in sy dag op grond van die losprys vergewe. Daarna het Jehovah hulle met heilige gees gesalf om sy geestelike kinders te wees. As hulle getrou sou bly, sou hulle hemelse lewe ontvang en saam met Christus regeer. Maar terwyl hulle nog op die aarde gelewe en God gedien het, kon Paulus sê dat hulle “met betrekking tot die sonde gesterf het”. Hy het dit vergelyk met Jesus se dood en opstanding tot onsterflike geeslewe in die hemel. Die dood was nie meer meester oor Jesus nie. Dit was asof gesalfde Christene ook gesterf het, want hulle kon hulleself beskou as “dood met betrekking tot die sonde, maar as lewend met betrekking tot God deur Christus Jesus” (Rom. 6:9, 11). Hulle lewenswyse het verander. Hulle het nie meer hulle sondige begeertes gehoorsaam nie. Hulle het gesterf wat hulle vorige lewenswyse betref.

11. Hoe het diegene wat die hoop het om vir ewig in die Paradys te lewe, “met betrekking tot die sonde gesterf”?

11 Wat van ons? Wel, voordat ons Christene geword het, het ons dikwels gesondig en dalk nie besef hoe verkeerd of sleg ons dade in God se oë was nie. Ons was soos “slawe . . . vir die onreinheid en wetteloosheid”. Daar kan gesê word dat ons “slawe van die sonde was” (Rom. 6:19, 20). Toe het ons Bybelwaarheid leer ken, veranderinge in ons lewe gemaak, ons aan God toegewy en ons laat doop. Sedertdien is dit ons begeerte om “uit die hart gehoorsaam” te wees aan God se leringe en standaarde. Ons is “van die sonde vrygemaak” en het “slawe van die regverdigheid geword” (Rom. 6:17, 18). In ons geval kan daar dus ook gesê word dat ons “met betrekking tot die sonde gesterf het”.

12. Watter keuse moet elkeen van ons maak?

12 Gebruik nou Paulus se woorde om jouself te ondersoek. Hy het gesê: “Moet dan nie toelaat dat die sonde langer as koning in julle sterflike liggaam heers sodat julle die begeertes daarvan gehoorsaam nie” (Rom. 6:12). As ons doen wat ons onvolmaakte liggaam wil hê ons moet doen, beteken dit dat ons “toelaat dat die sonde . . . heers”. Ons kan “toelaat” of ons kan weier dat die sonde as koning heers, en daarom is die vraag: Wat beweeg my hart my om te doen? Vra jou af: ‘Laat ek soms toe dat verkeerde begeertes sterk word en my laat sondig? Of is ek dood met betrekking tot die sonde? Lewe ek met betrekking tot God deur Christus Jesus?’ As ons God se onverdiende goedhartigheid werklik waardeer, sal ons ons bes doen om sy wil te doen.

’N STRYD WAT JY KAN WEN

13. Waarom kan ons seker wees dat ons ons van sonde kan afkeer?

13 Jehovah se volk het hulle afgekeer van die lewe wat hulle gelei het voordat hulle God leer ken, liefgekry en begin dien het. Hulle vorige lewenswyse het moontlik dinge ingesluit ‘waaroor hulle hulle nou skaam’ en wat tot die dood sou lei (Rom. 6:21). Toe het hulle verander. Dit was die geval met baie van dié in Korinte aan wie Paulus geskryf het. Party was voorheen afgodedienaars,  egbrekers, homoseksuele, diewe, dronkaards, ensovoorts. Maar hulle is “skoon gewas” en “geheilig” (1 Kor. 6:9-11). Dit was heel moontlik ook die geval met sommige in die gemeente in Rome. Paulus het onder inspirasie vir hulle geskryf: “Moet ook nie voortgaan om julle lede vir die sonde aan te bied as wapens van onregverdigheid nie, maar bied julleself vir God aan as dié wat lewend geword het uit die dode, en ook julle lede vir God as wapens van regverdigheid” (Rom. 6:13). Paulus was seker dat hulle geestelik rein kon bly en dus sou aanhou om by God se onverdiende goedhartigheid baat te vind.

14, 15. Wat moet ons ons afvra as ons “uit die hart gehoorsaam” wil wees?

14 Dit is ook vandag die geval. Party broers en susters was dalk voorheen soos diegene in Korinte. Maar hulle het ook verander. Hulle het opgehou om ’n sondige lewe te lei en is “skoon gewas”. Ongeag in watter mate dit op jou van toepassing is, dit is belangrik dat jy dink aan wat jou posisie nou voor God is. Jy kan baat vind by God se onverdiende goedhartigheid en vergifnis. Is jy dus vasbeslote om nie jou “lede vir die sonde aan te bied” nie? Sal jy jou eerder ‘vir God aanbied as iemand wat lewend geword het uit die dode’?

15 As ons dit wil doen, moet ons beslis nie die ernstige sondes beoefen wat sommige in Korinte voorheen beoefen het nie. Dit is noodsaaklik as ons wil sê dat ons God se onverdiende goedhartigheid aanvaar het en dat ‘sonde nie meester oor ons is nie’. Maar is ons ook vasbeslote om “uit die hart gehoorsaam” te wees deur ons bes te doen om sondes te vermy wat sommige as minder ernstig beskou?—Rom. 6:14, 17.

16. Hoe weet ons dat ons meer moet doen as om net ernstige sondes te vermy?

16 Dink aan die apostel Paulus. Ons kan seker wees dat hy nie skuldig was aan die ernstige sondes wat in 1 Korintiërs 6:9-11 genoem word nie. Hy het nietemin erken dat hy nog steeds ’n sondaar was. Hy het geskryf: “Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek bewerk, weet ek nie. Want wat ek wil, dit beoefen ek nie; maar wat ek haat, dit doen ek” (Rom. 7:14, 15). Dit toon dat daar ander dinge was wat Paulus as sonde beskou het, en hy het ook teen hierdie verkeerde dinge gestry. (Lees Romeine 7:21-23.) Ons moet dit ook doen as ons “uit die hart gehoorsaam” wil wees.

17. Waarom wil jy eerlik wees?

17 Kyk byvoorbeeld na eerlikheid. Christene moet eerlik wees. (Lees Spreuke 14:5; Efesiërs 4:25.) Satan is “die vader van die leuen”. En Ananias en sy vrou het hulle lewe verloor omdat hulle leuens vertel het. Ons wil hulle nie navolg nie—ons vertel nie leuens nie (Joh. 8:44; Hand. 5:1-11). Maar is dit al wat eerlikheid behels? As ons God se onverdiende goedhartigheid werklik waardeer, sal ons ook op ander maniere toon dat ons eerlik is.

18, 19. Waarom behels eerlikheid meer as om nie leuens te vertel nie?

18 As iemand ’n leuen vertel, sê hy iets wat nie waar is nie. Maar Jehovah verwag meer van sy knegte as om nie leuens te vertel nie. Hy het die Israeliete aangespoor: “Julle moet heilig wees, want ek, Jehovah julle God, is heilig.” Toe het hy voorbeelde gegee om te toon wat dit beteken om heilig te wees. God het onder andere gesê: “Julle mag nie steel nie, en julle mag nie bedrieg nie, en geeneen van julle mag bedrieglik handel met sy metgesel nie” (Lev. 19:2, 11). Sommige persone maak ’n punt daarvan om nooit ’n leuen te vertel nie, maar ongelukkig bedrieg hulle ander nog steeds deur nie heeltemal eerlik te wees nie.

Is ons vasbeslote om nie leuens te vertel nie en om ander ook nie te bedrieg nie? (Sien paragraaf 19)

19 Byvoorbeeld, ’n man sê vir sy werkgewer of medewerkers dat hy die volgende  dag nie by die werk kan wees nie of dat hy vroeg huis toe moet gaan omdat hy ’n “mediese” afspraak het. In werklikheid is sy “mediese” afspraak net ’n vinnige besoek by ’n apteek of by die dokter se spreekkamer om ’n rekening te betaal. Die eintlike rede waarom hy nie by die werk sal wees nie, is dat hy op vakansie wil gaan en vroeër wil vertrek of dat hy sy gesin strand toe wil neem. Daar was dalk ’n greintjie waarheid in sy bewering dat hy ’n “mediese” afspraak het, maar sou jy sê dat hy eerlik was? Of het hy bedrieglik opgetree? Jy weet dalk van soortgelyke gevalle waar mense ander doelbewus bedrieg het. Hulle doen dit dalk om straf vry te spring of om hulleself ten koste van ander te bevoordeel. Al word daar nie ’n leuen vertel nie, moet ’n mens onthou dat God se bevel is: “Julle mag nie bedrieg nie.” Dink ook aan Romeine 6:19, wat sê: “Julle [moet] julle lede as slawe aanbied vir die regverdigheid met heiligheid in die vooruitsig.”

20, 21. Wat sal ons probeer vermy as ons God se onverdiende goedhartigheid waardeer?

20 Die punt is dat waardering vir God se onverdiende goedhartigheid meer behels as om sondes te vermy waaraan party in Korinte voorheen skuldig was, soos egbreuk of dronkenskap. As ons God se onverdiende goedhartigheid aanvaar, sal ons nie net seksuele onsedelikheid vermy nie; ons sal selfs onsedelike vermaak vermy. As ons ons lede as slawe vir die regverdigheid aanbied, sal ons nie net dronkenskap vermy nie; ons sal ook versigtig wees om nie soveel te drink dat ons byna dronk is nie. Dit sal dalk inspanning verg om teen hierdie verkeerde dinge te stry; maar ons kan die stryd wen.

21 Ons doelwit moet wees om ernstige sondes sowel as minder ernstige sondes te vermy. Ons sal weliswaar nie daarin slaag om alle sonde te vermy nie. Maar soos Paulus moet ons ons bes doen om teen sonde te stry. Hy het sy broers aangespoor: “Moet dan nie toelaat dat die sonde langer as koning in julle sterflike liggaam heers sodat julle die begeertes daarvan gehoorsaam nie” (Rom. 6:12; 7:18-20). As ons teen alle sondes stry, toon ons dat ons God se onverdiende goedhartigheid deur middel van Christus werklik waardeer.

22. Watter beloning wag op diegene wat toon dat hulle God se onverdiende goedhartigheid waardeer?

22 Danksy God se onverdiende goedhartigheid is ons sondes vergewe en kan ons aanhou om vergifnis te ontvang. Uit waardering hiervoor wil ons selfs hard stry teen sondes wat ander dalk as geringe sondes beskou. Paulus het getoon watter beloning op ons wag as ons dit doen: “Omdat julle van die sonde vrygemaak is maar slawe van God geword het, [het julle] julle vrug ten opsigte van heiligheid, en die uiteinde—die ewige lewe.”—Rom. 6:22.