Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 STUDIEARTIKEL 31

‘Ons gee nie moed op nie’!

‘Ons gee nie moed op nie’!

“Daarom gee ons nie moed op nie.” – 2 KOR. 4:16.

LIED 128 Volhard tot die einde toe

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat moet Christene doen om die wedloop om die lewe te voltooi?

CHRISTENE is in ’n wedloop om die lewe. Of ons nou onlangs met die wedloop begin het en of ons al jare lank in die wedloop is, ons moet aanhou hardloop totdat ons die eindstreep bereik. Die raad wat die apostel Paulus aan die Christene in Filippi gegee het, kan ons aanspoor om die wedloop te voltooi. Party lede van daardie eerste-eeuse gemeente het Jehovah al jare lank gedien toe hulle Paulus se brief ontvang het. Hulle het goed gedoen in die wedloop, maar Paulus het hulle daaraan herinner om met volharding te bly hardloop. Hy wou hê dat hulle moes aanhou om sy voorbeeld na te volg en te “streef na die doel”. – Fil. 3:14.

2. Hoekom was Paulus se raad aan die Filippense op die regte tyd?

2 Die raad wat Paulus aan die Filippense gegee het, was op die regte tyd. Die broers in Filippi is vervolg vandat die gemeente gestig is. Dit het alles begin toe Paulus ’n goddelike uitnodiging ontvang het om ‘oor te kom na Masedonië’ en hy en Silas in 50 HJ in Filippi aangekom het (Hand. 16:9). Daar het hulle ’n vrou met die naam Lidia ontmoet, en sy “het geluister, en Jehovah het haar hart wyd oopgemaak” vir die goeie nuus (Hand. 16:14). Kort daarna is sy gedoop, sowel as almal wat in haar huis gebly het. Maar die Duiwel het onmiddellik probleme vir hulle begin veroorsaak. Manne van die stad het Paulus en Silas na die burgerlike magistrate toe gesleep en hulle valslik daarvan beskuldig dat hulle moeilikheid veroorsaak. Gevolglik is Paulus en Silas geslaan, in die tronk gegooi en later gevra om die stad te verlaat  (Hand. 16:16-40). Het hulle moed opgegee? Nooit nie! En wat van die broers en susters in die nuwe gemeente? Hulle kan geprys word, want hulle het ook volhard! Paulus en Silas se goeie voorbeeld het hulle ongetwyfeld baie aangemoedig.

3. Wat het Paulus besef, en watter vrae sal ons bespreek?

3 Paulus was vasbeslote om nie moed op te gee nie (2 Kor. 4:16). Hy het egter geweet dat hy op die doel gefokus moes bly as hy die wedloop wou voltooi. Wat kan ons uit Paulus se voorbeeld leer? Watter hedendaagse voorbeelde van geloof toon dat ons kan volhard ten spyte van enige probleme? En hoe kan ons hoop vir die toekoms ons meer vasbeslote maak om nooit moed op te gee nie?

HOE PAULUS SE VOORBEELD ONS KAN HELP

4. Hoe het Paulus bedrywig gebly ten spyte van sy omstandighede?

4 Dink aan Paulus se omstandighede toe hy aan die Filippense geskryf het. Omdat hy onder huisarres in Rome was, kon hy nie gaan preek nie. Maar hy het besig gebly deur vir besoekers te getuig en briewe aan verafgeleë gemeentes te skryf. Vandag gebruik baie Christene wat nie die huis kan verlaat nie, ook elke geleentheid om die goeie nuus te verkondig aan dié wat na hulle huis toe kom. Hulle skryf ook aanmoedigende briewe aan huisbewoners wat nie persoonlik besoek kan word nie.

5. Wat het Paulus gehelp om sy oë op die doel te hou, volgens Filippense 3:12-14?

5 Paulus het nie toegelaat dat sy aandag afgelei word deur die goeie of slegte dinge wat hy in die verlede gedoen het nie. Hy het gesê dat dit noodsaaklik is om die dinge te vergeet wat agter is as ons ons wil ‘uitstrek na die dinge wat voor is’, dit wil sê om die wedloop suksesvol te voltooi. (Lees Filippense 3:12-14.) Wat was van die dinge wat Paulus se aandag kon aflei? Eerstens, Paulus het baie dinge in die lewe bereik voordat hy ’n Christen geword het. Maar hy het hierdie dinge as “’n klomp vullis” beskou (Fil. 3:3-8). Tweedens, hy het dalk skuldig gevoel omdat hy die Christene voorheen vervolg het, maar hy het nie toegelaat dat dit hom keer om Jehovah te dien nie. En derdens, hy het nie geredeneer dat hy reeds genoeg vir Jehovah gedoen het nie. Paulus het ’n produktiewe bediening gehad, al was hy opgesluit, geslaan en gestenig en al het hy skipbreuk gely en baie keer nie kos en klere gehad nie (2 Kor. 11:23-27). Maar ondanks al sy sukses en lyding, het Paulus geweet dat hy Jehovah moes bly dien. Ons moet dieselfde doen.

6. Wat is van “die dinge wat agter is” wat ons dalk moet vergeet?

6 Hoe kan ons Paulus se voorbeeld navolg deur “die dinge wat agter is”, te vergeet? Party van ons voel dalk skuldig oor sondes van die verlede. As jy sukkel om hierdie gevoelens te oorkom, kan jy ’n persoonlike studieprojek oor Christus se losprysoffer begin. As ons oor hierdie onderwerp navorsing doen, daaroor nadink en daaroor bid, kan dit ons baie help om onnodige skuldgevoelens te verminder. Dalk hou ons selfs op om onsself te straf vir sondes waarvoor Jehovah ons reeds vergewe het. Kyk na nog ’n les wat ons by Paulus kan leer. Party het dalk ’n suksesvolle loopbaan opgegee om meer in Jehovah se diens te doen. Indien wel, kan ons die dinge wat agter is, probeer vergeet deur nie heeltyd te dink aan die materiële dinge wat ons kon gehad het nie (Num. 11:4-6; Pred. 7:10). “Die dinge wat agter is”, kan  selfs die dinge insluit wat ons in Jehovah se diens gedoen het of moeilike tye wat ons in die verlede deurgemaak het. Wanneer ons terugdink aan die manier waarop Jehovah ons oor die jare geseën en ondersteun het, kan dit ons natuurlik nader aan ons Vader bring. Maar ons wil nooit so tevrede wees met wat ons vir Jehovah gedoen het dat ons voel dat ons werk klaar is nie. – 1 Kor. 15:58.

In die wedloop om die lewe moet ons afleidings vermy en op ons doel gefokus bly (Sien paragraaf 7)

7. Wat moet ons volgens 1 Korintiërs 9:24-27 doen om die wedloop om die lewe te wen? Gee ’n voorbeeld.

7 Paulus het verstaan wat Jesus bedoel het toe hy gesê het: “Span julle kragtig in” (Luk. 13:23, 24). Paulus het geweet dat hy, net soos Christus, homself sy lewe lank kragtig moes inspan. Hy het dus ons lewe as Christene met ’n wedloop vergelyk. (Lees 1 Korintiërs 9:24-27.) ’n Hardloper in ’n wedloop bly gefokus op die eindstreep en vermy enige afleidings. Hardlopers wat byvoorbeeld vandag aan ’n wedloop in ’n stad deelneem, hardloop dalk ’n roete wat vol besighede en ander dinge is wat ’n mens se aandag moontlik kan aflei. Dink jy dat ’n hardloper sal stilstaan om te kyk na dinge wat in ’n winkelvenster uitgestal is? Nie as hy wil wen nie! In die wedloop om die lewe moet ons ook afleidings vermy. As ons op ons doel gefokus bly en onsself kragtig inspan net soos Paulus, sal ons die prys wen!

DINGE WAT ONS GELOOF KAN TOETS

8. Watter drie uitdagings sal ons bespreek?

8 Kom ons bespreek nou drie uitdagings wat kan veroorsaak dat ons minder in Jehovah se diens doen. Dit is uitgestelde verwagtinge, minder fisiese krag en probleme wat lank duur. Ons kan baie leer deur te kyk na hoe ander hierdie uitdagings hanteer het. – Fil. 3:17.

9. Watter uitwerking kan uitgestelde verwagtinge op ons hê?

9 Uitgestelde verwagtinge. Ons sien van nature uit na die goeie dinge wat Jehovah belowe het. Om die waarheid te sê, toe Jehovah se profeet Habakuk gesê het hoe graag hy wil hê dat Jehovah ’n einde moet  bring aan die goddeloosheid in Juda, het Jehovah vir hom gesê: “Bly in afwagting” (Hab. 2:3). Maar wanneer dit lyk of ons lank wag vir die dinge waarna ons uitsien, kan ons ons ywer verloor. Ons kan selfs mismoedig word (Spr. 13:12). Dit is iets wat aan die begin van die 20ste eeu gebeur het. In daardie tyd het baie gesalfde Christene verwag om hulle hemelse beloning in 1914 te ontvang. Maar toe dit nie gebeur nie, hoe het getroue persone hierdie situasie hanteer?

Royal en Pearl Spatz het nie hulle hemelse beloning in 1914 ontvang nie, maar hulle het Jehovah dekades lank getrou bly dien (Sien paragraaf 10)

10. Hoe het ’n paartjie dit hanteer toe hulle ’n uitgestelde verwagting gehad het?

10 Kyk na die voorbeeld van hoe twee lojale Christene so ’n uitdaging hanteer het. Broer Royal Spatz is in 1908 gedoop toe hy 20 was. Hy was oortuig dat hy kort voor lank sy beloning sou ontvang. Om die waarheid te sê, toe hy in 1911 ’n suster met die naam Pearl gevra het om met hom te trou, het hy vir haar gesê: “Jy weet wat in 1914 gaan gebeur. As ons gaan trou, dan moet ons dit nou doen!” Het hierdie Christenpaartjie moed opgegee in die wedloop om die lewe toe hulle nie hulle hemelse beloning in 1914 ontvang het nie? Nee, want vir hulle was dit belangriker om God se wil getrou te doen as om hulle beloning te ontvang. Hulle was vasbeslote om die wedloop met volharding te hardloop. En dit is wat Royal en Pearl gedoen het; hulle het bedrywig en getrou gebly totdat hulle hulle aardse loopbaan baie dekades later voltooi het. Jy sien ongetwyfeld uit na die tyd wanneer Jehovah sy naam en soewereiniteit sal regverdig en al sy beloftes sal vervul. Jy kan daarvan seker wees dat hierdie dinge op Jehovah se vasgestelde tyd sal gebeur. Tot dan moet ons besig bly in God se diens en nooit toelaat dat uitgestelde verwagtinge ons ontmoedig nie.

Selfs al was Arthur Secord baie oud, wou hy sy bes vir Jehovah doen (Sien paragraaf 11)

11-12. Hoekom kan ons aanhou om Jehovah getrou te dien, al het ons fisiese krag verminder? Gee ’n voorbeeld.

11 Minder fisiese krag. Anders as ’n letterlike hardloper, hoef jy nie fisies sterk te wees om aan te hou om geestelik sterker te word nie. Ja, baie wat fisies nie meer so sterk is nie, is nog steeds vasbeslote om aan te hou om geestelik te groei (2 Kor. 4:16). Toe Broer Arthur Secord * byvoorbeeld 88 jaar oud was, het hy reeds 55 jaar lank by Bethel gedien. Hy was fisies swak en sieklik. Eendag het ’n verpleegster na sy bed toe gekom om hom te versorg. Sy het na hom gekyk en liefdevol vir hom gesê: “Broer Secord, hierdie liggaam het al baie kilometers in Jehovah se diens gereis.” Arthur het egter nie in die verlede gelewe nie.  Hy het na haar gekyk, geglimlag en gesê: “Ja, dis waar. Maar dit is nie wat ons gedoen het wat belangrik is nie. Dis wat ons van nou af doen, wat tel.”

12 Miskien dien jy Jehovah al jare lank, en nou maak swak gesondheid dit vir jou moeilik om te doen wat jy voorheen gedoen het. As dit die geval is, moenie mismoedig word nie. Jy kan daarvan seker wees dat Jehovah nie jou getroue diens sal vergeet nie en dat dit vir hom kosbaar is (Heb. 6:10). En onthou, ons heelhartige toegewydheid aan Jehovah word nie gemeet aan hoeveel ons in sy diens doen nie. Ons wys eerder hoe toegewyd ons is deur ’n positiewe gesindheid te hê en deur alles te doen wat ons fisies kan (Kol. 3:23). Jehovah verstaan ons beperkings en hy verwag nie dat ons meer moet doen as wat ons kan nie. – Mark. 12:43, 44.

Anatoli en Lidija Melnik het getrou volhard ten spyte van moeilike tye (Sien paragraaf 13)

13. Hoe spoor die ondervinding van Anatoli en Lidija ons aan om Jehovah te bly dien, al gaan ons deur moeilike tye?

13 Probleme wat lank duur. Party van Jehovah se knegte is dekades lank vervolg en het moeilike tye verduur. Anatoli Melnik * was byvoorbeeld maar net 12 jaar oud toe sy pa gearresteer, opgesluit en verban is na Siberië, meer as 7 000 kilometer weg van sy familie in Moldowa. ’n Jaar later is Anatoli, sy ma en sy ouma en oupa ook na Siberië verban. Hulle kon later vergaderinge in ’n ander dorpie bywoon, maar hulle moes 30 kilometer ver in die sneeu loop en temperature onder vriespunt verduur. Later was broer Melnik drie jaar lank in die tronk, weg van sy vrou, Lidija, en hulle eenjarige dogtertjie. Al het hulle jare lank moeilike tye deurgemaak, het Anatoli en sy familie aangehou om Jehovah getrou te dien. Anatoli is nou 82 en dien op ’n Takkomitee in Sentraal-Asië. Mag ons, soos Anatoli en Lidija, ons bes in Jehovah se diens doen en aanhou volhard soos ons in die verlede gedoen het. – Gal. 6:9.

AANGESPOOR DEUR ONS HOOP VIR DIE TOEKOMS

14. Wat het Paulus besef moes hy doen om sy doel te bereik?

14 Paulus was oortuig dat hy die wedloop sal voltooi en sy doel sal bereik. As ’n gesalfde Christen het hy daarna uitgesien om “die prys van God se roeping na bo” te ontvang. Maar om daardie doel te bereik het hy besef dat hy daarna moes bly “streef” (Fil. 3:14). Paulus het ’n interessante illustrasie  gebruik om die Filippense te help om op hulle doel gefokus te bly.

15. Hoe het Paulus die onderwerp van burgerskap gebruik om die Christene in Filippi aan te spoor om getrou te bly?

15 Paulus het die Filippense herinner aan hulle hemelse burgerskap (Fil. 3:20). Hoekom was hierdie burgerskap belangrik? In daardie dae was Romeinse burgerskap iets wat baie mense graag wou hê, want dit het baie voordele ingehou. * Maar gesalfde Christene het ’n burgerskap gehad wat baie beter is, een wat baie meer voordele sou hê. Romeinse burgerskap kon glad nie hiermee vergelyk word nie! Daarom het Paulus die Filippense aangespoor om hulle as burgers te gedra “op ’n wyse wat die goeie nuus oor die Christus waardig is” (Fil. 1:27). Vandag stel gesalfde Christene ’n goeie voorbeeld terwyl hulle streef na hulle doel van ewige lewe in die hemel.

16. Wat moet ons volgens Filippense 4:6, 7 aanhou doen, of ons nou die hemelse of aardse hoop het?

16 Of ons nou die hoop het om vir ewig in die hemel of op ’n paradysaarde te lewe, ons moet bly streef na daardie doel. Ongeag wat ons omstandighede is, ons moenie kyk na die dinge wat agter is nie en ons moenie toelaat dat enigiets ons keer om Jehovah te dien nie (Fil. 3:16). Dalk wag ons al lank dat Jehovah se beloftes vervul word of miskien is ons nie meer so jonk en sterk nie. Ons is dalk jare lank vervolg en het deur moeilike tye gegaan. Wat ook al die geval is, ons “moet [ons] oor niks kwel nie”. Bid eerder tot God en smeek hom om jou te help, en hy sal jou ’n vrede gee wat baie beter is as enigiets wat jy jou kan voorstel. – Lees Filippense 4:6, 7.

17. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Net soos ’n hardloper hom inspan wanneer hy die eindstreep sien, wil ons heeltemal gefokus bly op die doel om die wedloop om die lewe te voltooi. Mag ons onsself volgens ons krag en omstandighede inspan en fokus op die wonderlike toekoms wat vir ons voorlê. Wat moet ons doen om in die regte rigting te bly hardloop en teen ’n pas wat ons kan volhou? Die volgende artikel sal ons help om die regte prioriteite te stel en om ‘seker te maak van die belangriker dinge’. – Fil. 1:9, 10.

LIED 79 Leer hulle om standvastig te bly

^ par. 5 Ons wil aanhou om as Christene te groei en te verbeter, maak nie saak hoe lank ons Jehovah al dien nie. Die apostel Paulus het sy medegelowiges aangespoor om nooit moed op te gee nie! Wanneer ons sy brief aan die Filippense lees, voel ons aangemoedig, en dit help ons om te volhard in die wedloop om die lewe. Hierdie artikel sal bespreek hoe ons Paulus se geïnspireerde woorde kan toepas.

^ par. 11 Lees broer Secord se lewensverhaal “My Part in Advancing Right Worship” in die Engelse Wagtoring van 15 Junie 1965.

^ par. 13 Lees broer Melnik se lewensverhaal “Van kleintyd geleer om God lief te hê” in die Ontwaak! van 22 Oktober 2004.

^ par. 15 Omdat Filippi ’n Romeinse kolonie was, het die inwoners van die stad party van die regte van Romeinse burgers gehad. Daarom kon die broers in Filippi Paulus se illustrasie verstaan.