Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 STUDIEARTIKEL 33

“Dié wat na jou luister”, sal gered word

“Dié wat na jou luister”, sal gered word

“Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.” – 1 TIM. 4:16.

LIED 67 “Preek getrou”

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat wil ons vir ons familielede hê?

“VAN die oomblik dat ek die waarheid geleer het, wou ek hê dat my hele familie saam met my in die Paradys moet wees,” sê ’n suster met die naam Pauline. * “Ek wou veral hê dat my man, Wayne, en ons jong seun Jehovah saam met my moet dien.” Het jy familielede wat Jehovah nog nie leer ken en liefgekry het nie? Jy voel waarskynlik oor hulle net soos Pauline oor haar familie gevoel het.

2. Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Ons kan nie ons familielede dwing om die goeie nuus te aanvaar nie, maar ons kan hulle aanmoedig om hulle verstande en harte vir die Bybel se boodskap oop te maak (2 Tim. 3:14, 15). Hoekom moet ons vir ons familielede getuig? Hoekom moet ons empatie betoon? Wat kan ons doen om ons familielede te help om ook Jehovah lief te kry? En hoe kan almal in ons plaaslike gemeente ons help?

HOEKOM MOET ONS VIR ONS FAMILIELEDE GETUIG?

3. Hoekom moet ons volgens 2 Petrus 3:9 vir ons familielede getuig?

3 Jehovah sal binnekort ’n einde aan hierdie stelsel maak. Slegs dié met die “regte gesindheid vir die ewige lewe” sal oorleef (Hand. 13:48). Ons gebruik baie tyd en energie om vir vreemdelinge in ons gemeenskap te getuig, en dit is net natuurlik dat ons ook wil hê dat ons familielede Jehovah saam met ons moet dien. Ons liefdevolle Vader, Jehovah, wil nie hê “dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom”. – Lees 2 Petrus 3:9.

4. Watter fout kan ons dalk maak wanneer ons vir ons familielede getuig?

 4 Ons moet in gedagte hou dat daar ’n regte en ’n verkeerde manier is om die boodskap van redding te verkondig. Ons is dalk taktvol wanneer ons vir ’n vreemdeling getuig, maar dalk té reguit wanneer ons met ons familielede praat.

5. Wat moet ons in gedagte hou voordat ons met ons familielede oor die waarheid praat?

5 Baie van ons is dalk spyt wanneer ons dink aan die eerste keer toe ons vir ons familielede probeer getuig het en wens dat ons dit anders gedoen het. Die apostel Paulus het die volgende raad aan Christene gegee: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kol. 4:5, 6). Dit is goed om hierdie raad in gedagte te hou wanneer ons met ons familielede praat. Anders veroorsaak ons dalk dat hulle glad nie met ons wil praat nie eerder as wat ons hulle oortuig om na ons te luister.

WAT KAN ONS DOEN OM ONS FAMILIELEDE TE HELP?

Jou empatie en gedrag kan die beste getuienis wees wat jy kan gee (Sien paragraaf 6-8) *

6-7. Gee ’n voorbeeld wat wys hoe belangrik dit is om empatie aan ’n ongelowige huweliksmaat te betoon.

6 Betoon empatie. Pauline, wat vroeër genoem is, sê: “Aan die begin wou ek net oor geestelike dinge met my man praat. Ons het nooit oor ‘normale’ dinge gepraat nie.” Maar Pauline se man, Wayne, het min omtrent die Bybel geweet en het nie verstaan waarvan Pauline praat nie. Dit het vir hom gelyk asof sy aan niks anders as haar godsdiens dink nie. Hy was bekommerd dat sy by ’n gevaarlike sekte aansluit en om die bos gelei word.

7 Pauline erken dat sy ’n ruk lank baie aande en naweke saam met haar geestelike  broers en susters deurgebring het – by vergaderinge, wanneer hulle velddiens gedoen het en wanneer hulle saam gekuier het. “Wayne het soms by ’n leë huis aangekom en het eensaam gevoel,” sê Pauline. ’n Mens kan verstaan dat Wayne na sy vrou en seun verlang het. Hy het nie die mense geken by wie hulle was nie, en dit het gelyk asof sy vrou se nuwe vriende vir Pauline belangriker as hy geword het. Wayne het toe gesê dat hy van Pauline wil skei. Kan jy aan maniere dink waarop Pauline meer empatie kon betoon?

8. Wat sal volgens 1 Petrus 3:1, 2 waarskynlik die grootste indruk op ons familielede maak?

8 Laat jou gedrag die praatwerk doen. Dikwels maak wat ons doen ’n groter indruk op ons familielede as wat ons sê. (Lees 1 Petrus 3:1, 2). Pauline het dit uiteindelik besef. “Ek het geweet dat Wayne lief is vir ons en nie regtig wou skei nie,” sê sy. Maar toe hy sê dat hy van haar wil skei, het sy besef dat sy dinge op Jehovah se manier moet begin doen. Sy sê: “Ek moes minder praat en eerder deur my gedrag ’n goeie voorbeeld stel.” Pauline het nie meer druk op Wayne geplaas om oor die Bybel te praat nie en het toe met hom oor alledaagse dinge begin praat. Wayne het opgelet dat sy meer saggeaard geword het en dat hulle seun hom beter begin gedra het (Spr. 31:18, 27, 28). Toe Wayne sien watter goeie uitwerking die Bybel se boodskap op sy gesin het, het hy sy verstand en hart oopgemaak vir die boodskap uit God se Woord. – 1 Kor. 7:12-14, 16.

9. Hoekom moet ons aanhou om ons familielede te probeer help?

9 Hou aan om jou familielede te probeer help. Jehovah stel vir ons die voorbeeld.  Hy gee mense oor en oor die geleentheid om die goeie nuus te aanvaar en die lewe te verkry (Jer. 44:4). En die apostel Paulus het vir Timoteus gesê om aan te hou om mense te help. Hoekom? Want deur dit te doen, sou hy homself red sowel as dié wat na hom geluister het (1 Tim. 4:16). Ons is lief vir ons familielede, en daarom wil ons hê dat hulle die waarhede in God se Woord moet ken. Pauline se woorde en dade het uiteindelik ’n goeie uitwerking op haar gesin gehad. Sy is nou gelukkig omdat sy Jehovah saam met haar man dien. Hulle albei is pioniers, en Wayne is ’n ouerman.

10. Hoekom moet ons geduldig wees?

10 Wees geduldig. Wanneer ons ons lewe verander volgens God se standaarde, vind ons familielede dit dalk moeilik om ons nuwe oortuigings en lewenstyl te aanvaar. Die eerste ding wat hulle dikwels oplet, is dat ons nie meer saam met hulle godsdienstige feeste vier nie en nie meer by die politiek betrokke is nie. Party van hulle is dalk aan die begin kwaad vir ons (Matt. 10:35, 36). Maar ons moenie ophou om hulle te probeer help nie. As ons ophou om hulle te probeer help om ons oortuigings te verstaan, het ons hulle in werklikheid geoordeel en besluit dat hulle nie die ewige lewe verdien nie. Jehovah het ons nie aangestel om te oordeel nie – hy het hierdie werk vir Jesus gegee (Joh. 5:22). As ons geduldig is, sal ons familielede dalk later bereid wees om na ons boodskap te luister. – Sien die venster “ Gebruik ons webwerf om te onderrig”.

11-13. Wat leer jy uit die manier waarop Alice haar ouers behandel het?

11 Wees ferm maar taktvol (Spr. 15:2). Kyk na die voorbeeld van Alice. Sy het oor Jehovah geleer terwyl sy ver van haar ouers gewoon het. Hulle het nie in God geglo nie en was baie betrokke by die politiek. Sy het besef dat sy hulle so gou as moontlik moet vertel van die goeie dinge wat sy leer. “As jy wag om jou familie van jou nuwe oortuigings en gebruike te vertel, sal hulle selfs meer geskok wees,” sê Alice. Sy het aan onderwerpe probeer dink waarin sy gehoop het haar ouers sou belangstel, soos liefde, en het dan vir hulle briewe geskryf en gevra wat hulle dink van wat die Bybel hieroor sê (1 Kor. 13:1-13). Sy het vir haar ouers dankie gesê dat hulle haar grootgemaak en versorg het, en sy het vir hulle geskenke gestuur. Wanneer sy vir hulle gaan kuier het, het sy uit haar pad gegaan om haar ma met huistakies te help. Aan die begin was Alice se ouers nie gelukkig toe sy hulle van haar nuwe oortuigings vertel nie.

12 Wanneer Alice by haar ouers se huis was, het sy by haar Bybelleesrooster gebly. “Dit het my ma gehelp om te verstaan hoe belangrik die Bybel vir my is,” sê Alice. Intussen het Alice se pa besluit om iets oor die Bybel te leer om te verstaan waarom sy dogter se denke verander het en omdat hy met die Bybel wou foutvind. “Ek het vir hom ’n Bybel gegee en ’n persoonlike nota daarin geskryf,” sê Alice. Wat het gebeur? Eerder as om fout te vind, is Alice se pa diep geraak deur wat hy in God se Woord gelees het.

13 Ons moet ferm maar taktvol wees, selfs al moet ons moeilike tye deurmaak (1 Kor. 4:12b). Alice moes byvoorbeeld teenstand van haar ma verduur. “Toe ek gedoop is, het Ma my ’n ‘slegte dogter’ genoem.” Hoe het Alice gereageer? “Eerder as om die onderwerp te vermy, het ek respekvol verduidelik dat ek klaar besluit het om een van Jehovah se Getuies te wees en dat ek nie my besluit gaan verander nie. Ek  het my ma probeer verseker dat ek haar regtig liefhet. Ons albei het gehuil, en ek het vir haar ’n lekker ete gemaak. Van toe af het my ma begin erken dat die Bybel my ’n beter mens maak.”

14. Hoekom moet ons nooit toelaat dat ons familie ons besluit om Jehovah te dien, verander nie?

14 Dit kan tyd neem voordat ons familielede heeltemal verstaan hoe belangrik dit vir ons is om Jehovah te dien. Toe Alice byvoorbeeld besluit het om te pionier eerder as om die loopbaan te volg wat haar ouers vir haar gekies het, het haar ma weer gehuil. Maar Alice het by haar besluit gebly. Sy sê: “As jy op een gebied ingee, sal jou familie waarskynlik druk op jou plaas wanneer dit by ander dinge kom. Maar as jy vriendelik maar ferm is met jou familie, sal party dalk na jou luister.” Dit is wat in Alice se geval gebeur het. Albei haar ouers is nou pioniers, en haar pa is ’n ouerman.

HOE KAN ALMAL IN DIE GEMEENTE HELP?

Hoe kan die gemeente ons ongelowige familielede help? (Sien paragraaf 15-16) *

15. Hoe kan die “goeie werke” van ander ons familielede volgens Matteus 5:14-16 en 1 Petrus 2:12 help?

15 Jehovah trek mense na hom toe deur middel van die “goeie werke” van die Christengemeente. (Lees Matteus 5:14-16; 1 Petrus 2:12.) Sê nou jou huweliksmaat is nie een van Jehovah se Getuies nie. Het hy of sy al broers en susters in jou gemeente ontmoet? Pauline, wat vroeër genoem is, het broers en susters oorgenooi sodat haar man, Wayne, hulle kon leer ken. Wayne vertel hoe een broer hom gehelp het om te verstaan watter soort mense die Getuies werklik is: “Hy het verlof gevra om ’n  sportwedstryd saam met my te kyk. En ek het gedink: ‘Hy’s normaal.’”

16. Hoekom moet ons ons familielede na die vergaderinge nooi?

16 ’n Uitstekende manier om ons familielede te help is om hulle te nooi om saam met ons na gemeentelike vergaderinge te kom (1 Kor. 14:24, 25). Wayne het sy eerste vergadering – die Gedenkmaal – bygewoon omdat dit ná werk was en die program nie so lank was nie. Hy sê: “Ek het nie die toespraak heeltemal verstaan nie, maar ek het die mense onthou. Hulle het my kom verwelkom en my hand ferm geskud. Ek kon sien dat hulle opreg is.” Daar was ’n paartjie wat reeds baie liefdevol teenoor Pauline was en het haar by die vergaderinge en in die bediening met haar seun gehelp. Toe Wayne uiteindelik besluit dat hy meer oor Pauline se nuwe oortuigings wil weet, het hy die man gevra om die Bybel met hom te studeer.

17. Waarvoor moet ons onsself nie blameer nie, maar hoekom moet ons nooit ophou om ons familielede te probeer help nie?

17 Ons hoop dat al ons familielede Jehovah saam met ons sal begin dien. Maar al probeer ons ook hoe hard om ons familielede te help om God te dien, kom hulle dalk nie in die waarheid nie. As dit die geval is, moet ons nie onsself blameer vir hulle besluit nie. Ons kan natuurlik niemand dwing om ons oortuigings te aanvaar nie. Maar jy moenie onderskat watter uitwerking dit op jou familielede kan hê wanneer hulle sien hoe gelukkig jy is omdat jy Jehovah dien nie. Bid vir hulle. Wees taktvol wanneer jy met hulle praat. Moenie ophou om hulle te probeer help nie! (Hand. 20:20). Wees oortuig daarvan dat Jehovah jou pogings sal seën. En as jou familielede besluit om na jou te luister, sal hulle gered word!

LIED 57 Preek vir alle soorte mense

^ par. 5 Ons wil graag hê dat ons familielede Jehovah moet leer ken, maar hulle moet self besluit of hulle hom wil dien of nie. Hierdie artikel sal bespreek wat ons kan doen om dit vir ons familielede makliker te maak om na ons te luister.

^ par. 1 Van die name is verander. In hierdie artikel verwys die woord “familielede” na dié in ons familie wat Jehovah nog nie dien nie.

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Jong broer help sy ongelowige pa om aan sy kar te werk. Op ’n gepaste tyd speel hy vir hom ’n video op jw.org®.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Suster luister aandagtig terwyl haar ongelowige man oor sy besige dag gesels. Later ontspan sy saam met haar gesin.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENTE: Die suster het broers en susters van haar gemeente oorgenooi. Hulle doen moeite om haar man te leer ken. Later woon die man die Gedenkmaal saam met sy vrou by.