Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 UIT ONS ARGIEF

Hoe die eerste Koninkryksaadjies in Portugal gesaai is

Hoe die eerste Koninkryksaadjies in Portugal gesaai is

TERWYL ’n skip op pad na Europa deur die golwe van die Atlantiese Oseaan gevaar het, het een van die passasiers, George Young, met ’n glimlag teruggedink aan die werk wat hy in Brasilië vir die Koninkryk gedoen het. * Maar broer Young moes nou begin fokus op sy nuwe toewysing in Spanje en Portugal waar die meeste mense nog nooit die goeie nuus gehoor het nie. Hy wou graag reël dat broer J.F. Rutherford Bybeltoesprake in hierdie lande kom hou, en hy wou 300 000 pamflette daar versprei!

George Young het regoor die wêreld geseil om die goeie nuus te verkondig

Toe broer Young in 1925 in Lissabon aankom, was die situasie in die land onstabiel. In 1910 was daar ’n revolusie wat ’n einde gemaak het aan die monargie, en die land het ’n republiek geword. Dit het ook veroorsaak dat die Katolieke Kerk baie van sy mag verloor het. Die bevolking het nou meer vryheid gehad, maar daar was nog steeds onrus in die land.

Min of meer dieselfde tyd dat broer Young reëlings vir broer Rutherford se toespraak getref het, was daar ’n poging om die land se regering oor te neem. Die regering het die weermag gevra om in te gryp en die beheer van die land oor te neem. Die sekretaris van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap het broer Young gewaarsku dat hy baie teenstand sou kry. Maar dit het broer Young nie gekeer nie. Hy het aansoek gedoen vir ’n permit om die gimnasium van die Hoërskool Camões te gebruik, en dit is goedgekeur!

Broer Rutherford se toespraak sou op 13 Mei gehou word. Almal was baie opgewonde! Die openbare toespraak “Hoe om vir ewig op die aarde te lewe” is op plakkate teen geboue en in koerante geadverteer. Die godsdiensteenstanders het dadelik ’n artikel in hulle koerant gepubliseer om hulle lesers teen hierdie nuwe “valse profete” te waarsku. Die teenstanders het ook duisende brosjures met inligting teen die leringe van broer Rutherford by die ingang van die gimnasium uitgedeel.

Nogtans het daar omtrent 2 000 mense opgedaag. Die plek was stampvol, en omtrent nog 2 000 mense moes weggewys word. Party belangstellendes het teen die kante van die gimnasium aan die toulere gehang, en ander het op die oefentoerusting gesit.

Daar was ’n paar uitdagings. Teenstanders het geskree en stoele gebreek. Maar broer Rutherford het kalm gebly en op ’n tafel geklim sodat almal hom kon hoor. Nadat hy teen omtrent middernag klaar gepraat het, het meer as 1 200 belangstellendes hulle naam en adres gegee sodat Bybellektuur aan hulle gestuur kon word. Die volgende dag het die koerant O Século ’n artikel oor broer Rutherford se toespraak gepubliseer.

Teen September 1925 is Die Wagtoring in Portugees uitgegee in Portugal. (’n Portugese uitgawe van die tydskrif was reeds vroeër in Brasilië  uitgegee.) Omtrent daardie tyd het Virgílio Ferguson, een van die Bybelstudente in Brasilië, planne begin maak om na Portugal te trek sodat hy met die Koninkrykswerk kon help. Hy het vroeër saam met broer Young in die klein takkantoor van die Bybelstudente in Brasilië gewerk. Kort voor lank was Virgílio saam met sy vrou, Lizzie, op pad om broer Young te gaan help. Broer Ferguson het net op die regte tyd gekom, want broer Young sou kort daarna met nuwe toewysings begin, onder andere in die Sowjetunie.

Lizzie en Virgílio Ferguson se verblyfpermit, 1928

Toe die weermag die regering oorneem en ’n diktator die mag gee om oor Portugal te regeer, het moeilike tye vir die land voorgelê en is ons werk al hoe meer teëgestaan. Maar broer Ferguson het nie die land verlaat nie. Hy het moedig aangehou om die klein groepie Bybelstudente te beskerm en te versterk sodat hulle bedrywig kon bly. Hy het aansoek gedoen om gereeld vergaderinge in sy huis te hou, en in Oktober 1927 het hy toestemming gekry om dit te doen.

Gedurende die eerste jaar dat ’n diktator oor Portugal regeer het, het omtrent 450 mense op Die Wagtoring ingeteken. Die woord van die waarheid is ook deur middel van pamflette en boekies na ander dele van die Portugese Ryk versprei. Dit het plekke soos Angola, die Asore, Goa, Kaap Verde, Madeira, Mosambiek en Oos-Timor bereik.

In die laat 1920’s het ’n nederige Portugese tuinier, Manuel da Silva Jordão, in Lissabon gaan bly. Terwyl hy nog in Brasilië was, het hy ’n openbare toespraak gehoor wat deur broer Young gehou is. Hy het dadelik besef dat dit die waarheid is en wou graag vir broer Ferguson help om die predikingswerk uit te brei. Daarom het Manuel begin dien as ’n kolporteur, soos pioniers in daardie tyd genoem is. Omdat die drukwerk en verspreiding van Bybellektuur nou goed georganiseerd was, het die klein gemeente in Lissabon gou begin groei!

In 1934 moes broer en suster Ferguson teruggaan Brasilië toe. Maar die saadjies van waarheid was reeds gesaai. Ten spyte van groot veranderinge in Europa as gevolg van die Spaanse Burgeroorlog en die Tweede Wêreldoorlog, het die getroue groepie broers in Portugal lojaal aan Jehovah gebly. ’n Ruk lank was hulle soos kole wat skaars gegloei het. Maar toe John Cooke, ’n Gileadopgeleide sendeling, in 1947 soontoe gegaan het, het die groepie se ywer weer sterk begin brand. Daarna kon niks keer dat die aantal Koninkryksverkondigers al hoe meer word nie. Selfs toe die werk van Jehovah se Getuies in 1962 deur die regering verbied is, het die aantal verkondigers aanhou groei. Toe Jehovah se Getuies in Desember 1974 wetlike erkenning ontvang, was daar meer as 13 000 verkondigers in die land.

Vandag is daar meer as 50 000 verkondigers wat die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig in Portugal en op ’n hele paar eilande waar Portugees gepraat word, insluitende die Asore en Madeira. Party van hierdie verkondigers is familie van diegene wat na broer Rutherford se bekende toespraak in 1925 geluister het.

Ons dank Jehovah en daardie getroue broers en susters wat moedig die leiding geneem het as ‘openbare dienaars van Christus Jesus vir die nasies’. — Rom. 15:15, 16. — Uit ons argief in Portugal.

^ par. 3 Sien die artikel ‘Daar is nog oeswerk wat gedoen moet word’ in Die Wagtoring van 15 Mei 2014, bl. 31-32.