Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Johannes Rauthe neem deel aan die veldbediening, waarskynlik in die 1920’s

 UIT ONS ARGIEF

‘My werk dra vrug tot lof van Jehovah’

‘My werk dra vrug tot lof van Jehovah’

“AL DIE oorloë van die verlede . . . lyk onbeduidend in vergelyking met die groot stryd wat nou in Europa woed.” Dit is hoe The Watch Tower van 1 September 1915 die Eerste Wêreldoorlog beskryf het, waarby ongeveer 30 lande uiteindelik betrokke was. The Watch Tower het berig watter uitwerking die vyandelikhede gehad het: “[Koninkryksdiens] is tot ’n mate belemmer, veral in Duitsland en Frankryk.”

Toe die Bybelstudente voor hierdie wêreldwye oorlogsituasie te staan gekom het, het hulle die beginsel van Christelike neutraliteit nie ten volle verstaan nie. Maar hulle was vasbeslote om die goeie nuus te verkondig. Wilhelm Hildebrandt wou sy deel in Koninkryksdiens doen, en daarom het hy eksemplare van The Bible Students Monthly in Frans bestel. Hy was nie in Frankryk as ’n kolporteur (voltydse prediker) nie, maar as ’n Duitse soldaat. Hierdie sogenaamde vyand, in sy militêre uniform, het verbaasde Franse verbygangers ’n boodskap van vrede gegee.

Briewe wat in The Watch Tower gepubliseer is, toon dat ’n aantal ander Duitse Bybelstudente ook ’n begeerte gehad het om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig terwyl hulle in die leër was. Broer Lemke, wat in die vloot was, het vertel dat vyf van sy medebemanningslede belangstelling getoon het. “Selfs op hierdie skip, dra my werk vrug tot lof van Jehovah”, het hy geskryf.

Georg Kayser het as ’n soldaat na die gevegsfront gegaan en as ’n kneg van die ware God teruggekeer huis toe. Hoe so? Hy het ’n publikasie van die Bybelstudente in die hande gekry, Koninkrykswaarheid heelhartig aangeneem en sy wapens neergelê. Hy het toe niestrydende werk begin doen. Ná die oorlog het hy jare lank as ’n ywerige pionier gedien.

Al het die Bybelstudente die geskil oor neutraliteit nog nie ten volle verstaan nie, het hulle gesindheid en gedrag heeltemal verskil van die beskouings en dade van diegene wat die oorlog verwelkom het. Terwyl politieke en kerkleiers die  oorlog ondersteun het, het die Bybelstudente getrou gebly aan die “Vredevors” (Jes. 9:6). Al het party nie streng neutraal gebly nie, het hulle dieselfde oortuiging gehad as die Bybelstudent Konrad Mörtter, wat gesê het: “Ek het duidelik in God se Woord gesien dat ’n Christen nie mag doodmaak nie.”—Eks. 20:13. *

Hans Hölterhoff het hierdie waentjie gebruik om The Golden Age te adverteer

In Duitsland, waar die wet nie voorsiening gemaak het vir vrystelling van militêre diensplig weens gewetensbeswaar nie, het meer as 20 Bybelstudente geweier om enige militêre diens te doen. Party is as geestelik versteurd verklaar, soos Gustav Kujath, wat in ’n sielsieke-inrigting geplaas is en verdowingsmiddels ingegee is. Hans Hölterhoff, wat ook geweier het om diensplig te doen, is tronk toe gestuur, waar hy geweier het om enige werk te doen wat met die oorlog verband hou. Wagte het hom in ’n dwangbaadjie vasgegordel totdat sy ledemate gevoel begin verloor het. Toe hulle sien dat hy nie van plan verander nie, het wagte ’n skynteregstelling gereël. Maar Hans het dwarsdeur die oorlog standvastig gebly.

Ander broers wat opgeroep is, het geweier om wapens te dra en het gevra om niestrydende werk te doen. * Johannes Rauthe het so ’n standpunt ingeneem en is na die spoorweë gestuur. Konrad Mörtter moes skoonmaakwerk in ’n hospitaal gaan doen en Reinhold Weber het as ’n verpleër gewerk. August Krafzig was verlig dat sy diensplig nie behels het dat hy op die gevegsfront moes dien nie. Hierdie Bybelstudente en ander soos hulle was vasbeslote om Jehovah te dien ooreenkomstig die begrip wat hulle van liefde en lojaliteit gehad het.

Weens die standpunt wat die Bybelstudente gedurende die oorlog ingeneem het, het hulle onder die soeklig gekom. Gedurende die daaropvolgende jare was daar duisende hofsake teen die Bybelstudente in Duitsland weens hulle predikingsbedrywighede. Om hulle te help het die takkantoor in Duitsland ’n regsdepartement gestig by die Bethel in Maagdenburg.

Met verloop van tyd het Jehovah se Getuies hulle begrip van Christelike neutraliteit verfyn. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het hulle neutraal gebly deur geen militêre diensplig te doen nie. Hulle is dus as vyande van die Duitse Staat beskou en is wreed vervolg. Maar dit sal in ’n toekomstige artikel in die reeks “Uit ons argief” bespreek word.—Uit ons argief in Sentraal-Europa.

^ par. 7 Sien ’n verslag van Britse Bybelstudente gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die artikel “Uit ons argief—Hulle het standvastig gebly tydens ’n ‘uur van beproewing’” in Die Wagtoring van 15 Mei 2013.

^ par. 9 In Deel VI van die Millennial Dawn-reeks (1904) asook in die Duitse uitgawe van Zion’s Watch Tower van Augustus 1906 is daar voorgestel dat broers so optree. The Watch Tower van September 1915 het ons beskouing verfyn en voorgestel dat Bybelstudente nie by die weermag aansluit nie. Hierdie artikel het egter nie in die Duitse uitgawe verskyn nie.