Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

Ons het die “pêrel van groot waarde” gevind

Ons het die “pêrel van groot waarde” gevind

WINSTON en Pamela (Pam) Payne dien in die takkantoor in Australasië. Hulle gelukkige lewe saam was nie altyd maklik nie. Hulle moes onder andere by verskillende kulture aanpas en moes selfs die hartseer van ’n miskraam deurmaak. Ten spyte van al hierdie dinge het hulle nie hulle liefde vir Jehovah en sy volk, of hulle vreugde in die bediening, verloor nie. In hierdie onderhoud het ons hulle gevra om vir ons ’n paar van hulle ondervindinge te vertel.

Winston, vertel vir ons hoe jy na God gesoek het.

Ek het op ’n plaas in Queensland, Australië, grootgeword en ons was nie godsdienstig nie. Omdat ons so ver weg van alles gewoon het, het ek baie min kontak met enigiemand behalwe my familie gehad. Toe ek omtrent 12 jaar oud was, het ek na God begin soek. Ek het tot hom gebid en hom gevra om my te help om uit te vind wat die waarheid oor hom is. Ek is uiteindelik van die plaas af weg en het werk in Adelaide, Suid-Australië, gekry. Toe ek 21 was, het ek Pam ontmoet terwyl ek op vakansie in Sydney was. Sy het my vertel van die Brits-Israel-beweging wat glo dat die Britse mense van die sogenaamde verlore stamme van Israel afstam. Volgens hulle is daardie stamme die tien stamme van die noordelike koninkryk wat in die agtste eeu VHJ in gevangenskap geneem is. Toe ek na Adelaide teruggegaan het, het ek met ’n werksmaat, wat die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer het, daaroor gesels. Nadat ek net ’n paar uur lank met hom gesels het – hoofsaaklik oor dit wat die Getuies glo – het ek besef dat my gebed uit my kinderdae verhoor is. Ek het die waarheid oor my Skepper en sy Koninkryk leer ken! Ek het die “pêrel van groot waarde” gevind. – Matt. 13:45, 46.

Pam, jy was ook nog jonk toe jy na daardie pêrel begin soek het. Hoe het jy dit gevind?

Ek het in ’n godsdienstige huis grootgeword, in die dorp Coffs Harbour, Nieu-Suid-Wallis. My ouers en ouma en oupa het die leerstellings van die Brits-Israel-beweging gevolg. My jonger broer, ouer suster en ek, en baie van ons niggies en nefies, is grootgemaak met die idee dat God spesiaal belangstel in mense van Britse herkoms. Ek het nie daarmee  saamgestem nie en het geestelik leeg gevoel. Toe ek 14 jaar oud was, het ek na ’n paar van die plaaslike kerke gegaan, soos die Anglikaanse, Baptiste- en Sewendedagadventiste-kerk. Maar dit het my nog steeds nie gehelp om God te leer ken nie.

Ons het later Sydney toe getrek. Daar het ek Winston ontmoet wat toe op vakansie was. Soos hy genoem het, het ons gesprekke oor godsdiens daartoe gelei dat hy met die Getuies begin studeer het. Daarna was sy briewe aan my vol Bybeltekste! Ek moet erken, aan die begin was ek bekommerd, en selfs ’n bietjie vies. Maar ek het begin besef dat dit die waarheid is.

In 1962 het ek na Adelaide getrek om nader aan Winston te wees. Hy het gereël dat ek by ’n Getuiepaartjie bly – Thomas en Janice Sloman – wat sendelinge in Papoea-Nieu-Guinee was. Hulle was verskriklik goed vir my; ek was maar net 18 jaar oud, en hulle het my geestelik baie gehelp. Ek het toe ook God se Woord begin studeer, en ek was sommer gou daarvan oortuig dat ek die waarheid gevind het. Nadat ek en Winston getrou het, het ons dadelik met ’n lewe van toegewyde diens begin wat vir ons baie seëninge gebring het – ’n lewe wat nie altyd maklik was nie maar wat ons waardering vir die goeie pêrel wat ons gevind het, vergroot het.

Winston, vertel ons ’n bietjie oor jou vroeë jare in Jehovah se diens.

A. ’n Kaart van ons reise in die kringwerk

B. Posseëls van ’n paar van die eilande. Kiribati en Tuvalu het voorheen bekend gestaan as die Gilbert- en Ellice-eilande

C. Die pragtige koraaleiland van Funafuti in die eilandstaat Tuvalu. Dit is een van die baie eilande wat ons besoek het voordat sendelinge daarheen gestuur is

Nie lank nadat ek en Pam getroud is nie, het Jehovah begin om vir ons die eerste van baie ‘groot deure’ na groter bedrywighede oop te maak (1 Kor. 16:9). Broer Jack Porter, wat toe as kringopsiener vir ons klein gemeente gedien het, het vir ons gewys wat daardie eerste deur is. (Ons dien nou saam op die Takkomitee in Australasië.) Jack en sy vrou, Roslyn, het ons aangemoedig om gewone pioniers te word – ’n voorreg wat ons vyf jaar lank geniet het. Toe ek 29 was, is ek en Pam gevra om kringwerk in die Stille Suidsee-eilande te doen, wat toe onder die Fidji-takkantoor ingedeel was. Die eilande was Amerikaans-Samoa, Samoa, Kiribati, Nauru, Niue, Tokelau, Tonga, Tuvalu en Vanuatu.

In daardie dae het mense op party van die meer afgeleë eilande Jehovah se Getuies nie altyd vertrou nie, en daarom moes ons versigtig en verstandig wees (Matt. 10:16). Die gemeentes was klein, en partykeer kon hulle nie vir ons blyplek gee nie. Ons het dan in die dorpies vir blyplek by die plaaslike mense gesoek, en hulle het ons altyd baie goed behandel.

Winston, julle stel baie belang in vertaalwerk. Waar kom daardie belangstelling vandaan?

’n Skool vir ouer manne in Samoa

Destyds het die broers op die eilandstaat Tonga net ’n paar pamflette en boekies in Tongaans – ’n Polinesiese taal – gehad. Wanneer hulle velddiens gedoen het, het hulle die Engelse vertaling van die boekie Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gebruik om studies te hou. Gedurende ’n skool vir ouer manne wat vier weke geduur het, het drie van die plaaslike ouer manne wat nie goed Engels kon praat nie saam besluit om die Waarheid-boek in Tongaans te vertaal. Pam het die manuskrip getik en ons het dit na die takkantoor in die Verenigde State gestuur sodat dit gedruk kon word. Die hele projek het omtrent agt weke geduur. Die gehalte van die vertaalwerk was miskien nie die beste nie, maar die boekie het baie mense wat Tongaans praat, gehelp om die waarheid te leer ken. Ek en Pam is nie vertalers nie, maar daardie ondervinding het ons belangstelling in hierdie werk gewek.

Pam, hoe het die lewe op die eilande met die lewe in Australië vergelyk?

Een van ons blyplekke terwyl ons in die kringwerk was

Dit was baie anders! Dit het afgehang van waar ons was, maar ons het te doen gehad met swerms muskiete, intense hitte en humiditeit, rotte, siekte, en soms het ons min kos gehad. Maar dan kon ons aan die einde van elke dag in ons fale – die Samoaanse naam vir ’n tipiese Polinesiese huis met ’n grasdak sonder mure – rustig na die oseaan sit en kyk. Wanneer die maan saans geskyn  het, kon ’n mens die kokospalms teen die agtergrond en die weerkaatsing van die maan in die oseaan sien. Sulke kosbare oomblikke het ons daartoe beweeg om te peins en te bid en ons gehelp om ons gedagtes positief te hou.

Ons het lief geword vir die kinders, want hulle het ons baie laat lag en was baie nuuskierig wanneer hulle hierdie wit buitelanders gesien het. Terwyl ons in Niue was, het ’n seuntjie een van Winston se harige arms gevryf en gesê: “Ek hou van jou vere.” Dit was natuurlik die eerste keer wat hy sulke harige arms gesien het en hy het nie mooi geweet hoe om dit te beskryf nie!

Dit het ons baie hartseer gemaak om te sien onder watter omstandighede baie van hierdie mense moes lewe. Hulle omgewing was pragtig, maar hulle het nie goeie gesondheidsorg of baie drinkwater gehad nie. Tog het dit ons broers nie gepla nie. Vir hulle was dit normaal. Hulle het hulle familie om hulle gehad, hulle het ’n plek gehad waar hulle vir aanbidding kon bymekaarkom en hulle het die voorreg gehad om Jehovah te prys, en dit het hulle gelukkig gemaak. Hulle voorbeeld het ons gehelp om op die belangrikste dinge te fokus en om ons lewe eenvoudig te hou.

Pam, soms moes jy jou eie water gaan haal en in heeltemal nuwe omstandighede kos voorberei. Hoe het jy dit gedoen?

Pam was ons klere in Tonga

Ek moet vir my pa daarvoor dankie sê. Hy het my baie praktiese dinge geleer, soos hoe om ’n vuur te maak en daarop te kook en hoe om met min materiële dinge klaar te kom. Toe ons eenkeer in Kiribati was, het ons in ’n klein huisie met ’n grasdak, koraalvloer en bamboesmure gebly. Om ’n eenvoudige ete voor te berei het ek ’n gat in die vloer gegrawe waar ek kon vuur maak, en ek het die vuur met kokosneutdoppe gemaak. Om water te kry het ek saam met die plaaslike vrouens in ’n ry by ’n put gestaan. Om die water bo te kry het hulle ’n stok gebruik van amper twee meter lank met ’n dun tou voor wat ’n bietjie soos ’n visstok gelyk het. Maar in plaas van ’n vishoek het hulle ’n blikkie aan die onderkant van die tou vasgemaak. Elke vrou het ’n beurt gekry om haar lyn in te gooi en het dan net op die regte oomblik ’n vinnige handbeweging gemaak wat die blikkie laat kantel het en met water gevul het. Dit het maklik gelyk – totdat dit my beurt was. Ek het my lyn ’n hele paar keer ingegooi, maar die blikkie het net op die water geland en dan gedryf! Toe almal klaar gelag het, het een van die vrouens aangebied om my te help. Hulle het altyd graag gehelp en was baie vriendelik.

Julle het altwee baie lief geword vir julle toewysing op die eilande. Wat was ’n paar van die spesiale herinneringe?

Winston: Dit het ons ’n rukkie geneem om party van die gebruike te verstaan. Byvoorbeeld, wanneer die broers vir ons ’n ete voorberei het, het hulle gewoonlik vir ons al die kos gegee wat hulle gehad het. Aan die begin het ons nie geweet dat ons veronderstel was om vir hulle iets te los nie. Ons het alles geëet wat hulle vir ons gegee het! Maar toe ons uitvind hoe dinge regtig werk, het ons natuurlik vir hulle kos oorgelaat. Al het ons foute gemaak, was die broers baie geduldig. En hulle was baie opgewonde om ons so elke ses maande te sien wanneer dit tyd was vir hulle kringbesoek. Behalwe die plaaslike broers was ons die enigste ander Getuies wat hulle destyds te sien gekry het.

’n Groep op Niue-eiland gaan uit in velddiens

Ons besoeke was ook ’n goeie getuienis in die gemeenskappe. Baie van die mense in die dorpies het gedink dat die broers se godsdiens iets is wat hulle uit hulle duim gesuig het. Maar toe hulle sien dat twee mense van oorsee die broers kom besoek, het hulle besef dat die broers deel is van ’n regte organisasie wat vir mekaar omgee, en dit het hulle beïndruk.

Pam: Een van my kosbaarste herinneringe is van ons tyd in Kiribati. Daar was ’n gemeente met net ’n paar broers en susters. Die enigste ouer man, Itinikai Matera, het sy bes gedoen om vir ons te sorg. Hy het eendag by ons opgedaag met ’n mandjie met net een eier in. “Vir julle”, het hy gesê. ’n Hoendereier is  iets wat jy destyds nie sommer gekry het nie, en dit was vir ons ’n lekker verrassing. Daardie klein daad van vrygewigheid het ons hart geraak.

Pam, ’n paar jaar later het jy ’n miskraam gehad. Wat het jou gehelp om die verlies van jou baba te hanteer?

Ek het in 1973 swanger geword toe ek en Winston op die Stille Suidsee-eilande was. Ons het besluit om na Australië terug te gaan, en dit is waar ons vier maande later ons baba verloor het. Dit het Winston net so seergemaak; dit was sy baba ook. Met verloop van tyd het ek minder hartseer gevoel, maar dit het nooit heeltemal weggegaan nie, totdat ons Die Wagtoring van 15 April 2009 gekry het. Die “Vrae van lesers” het gevra: “Is daar enige hoop op ’n opstanding vir ’n baba wat in die baarmoeder sterf?” Die artikel het ons die versekering gegee dat die saak by Jehovah berus, wat altyd doen wat reg is. Hy sal die pyn wegneem wat ons deurmaak as deel van hierdie goddelose stelsel wanneer hy sy Seun liefdevol opdrag gee om “die werke van die Duiwel te verbreek” (1 Joh. 3:8). Die artikel het ons ook gehelp om selfs groter waardering te hê vir hierdie kosbare “pêrel” wat ons as Jehovah se volk het! Wat sou ons sonder die Koninkrykshoop gedoen het?

Nadat ons ons baba verloor het, het ons weer met voltydse diens begin. Ons het vir ’n paar maande by die Bethel in Australië gedien en daarna weer met kringwerk begin. In 1981, nadat ons vier jaar in die platteland in Nieu-Suid-Wallis en Sydney gedien het, is ons na die takkantoor in Australië genooi, soos dit destyds genoem is, en ons is nog altyd daar.

Winston, het jou ondervinding op die Stille Suidsee-eilande jou gehelp met jou werk as ’n lid van die Takkomitee in Australasië?

Ja, op allerhande maniere. Australië is eers gevra om na Amerikaans-Samoa en Samoa om te sien. Toe het die Nieu-Seelandse takkantoor deel geword van die kantoor in Australië. Nou sluit die takkantoor in Australasië se gebied Australië, Amerikaans-Samoa en Samoa, die Cookeilande, Nieu-Seeland, Niue, Timor-Leste, Tokelau en Tonga in. Ek het die voorreg gehad om baie van hierdie plekke as takverteenwoordiger te besoek. Die feit dat ek saam met daardie getroue broers en susters op die eilande gewerk het, help my baie noudat ek van die takkantoor af saam met hulle werk.

Winston en Pam by die takkantoor in Australasië

Laastens wil ek net sê dat ek en Pam al lank weet dat dit nie net volwassenes is wat na God soek nie, soos ons eie ondervinding wys. Jongmense wil ook daardie “pêrel van groot waarde” hê, al stel hulle gesinslede nie daarin belang nie (2 Kon. 5:2, 3; 2 Kron. 34:1-3). Jehovah is ’n liefdevolle God, en hy wil natuurlik hê dat almal, jonk en oud, die lewe moet verkry!

Toe ek en Pam meer as 50 jaar gelede na God begin soek het, het ons min geweet waarop dit sou uitloop. Koninkrykswaarheid is sonder twyfel ’n pêrel van onskatbare waarde! Ons is vasbeslote om aan hierdie kosbare pêrel vas te klou!