Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

Vasbeslote om ’n soldaat van Christus te wees

Vasbeslote om ’n soldaat van Christus te wees

Koeëls het verby my gefluit terwyl ek versigtig ’n wit sakdoek in die lug gehou het. Die soldate wat op my geskiet het, het geskree dat ek moet uitkom. Ek het stadig na hulle toe geloop, en ek het nie geweet wat met my gaan gebeur nie. Hoe het ek in hierdie penarie beland?

EK IS in 1926 gebore en is die sewende van agt kinders. My ouers was hardwerkende mense van Karítsa, ’n klein dorpie in Griekeland.

Die vorige jaar het my ouers John Papparizos ontmoet. Hy was ’n ywerige Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, en kon lekker gesels. My ouers was beïndruk deur die manier waarop hy die Bybel gebruik het, en daarom het hulle besluit om die vergaderinge van die Bybelstudente in ons dorp by te woon. My ma het ’n baie sterk geloof in Jehovah God gehad, en al kon sy nie lees of skryf nie, het sy by elke geleentheid met ander oor hom gepraat. My pa het ongelukkig opgehou om die vergaderinge by te woon omdat hy op mense se onvolmaakthede gefokus het.

Ek en my broers en susters het groot respek vir die Bybel gehad, maar as jongmense wou ons die lewe geniet. In 1939, terwyl die Tweede Wêreldoorlog in Europa aan die gang was, het daar iets in ons dorpie gebeur wat vir ons ’n groot skok was. My neef Nicolas Psarras, wat onlangs as ’n Getuie gedoop is, is vir diensplig in die Griekse weermag opgeroep. Die twintigjarige Nicolas het moedig vir hulle gesê: “Ek kan nie veg nie, want ek is ’n soldaat van Christus.” Die militêre hof het hom tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Dit het ons almal geskok!

Toe die Geallieerdes Griekeland in 1941 ingeneem het, is Nicolas uit die tronk vrygelaat. Hy het na Karítsa teruggekeer en ek het gretig geluister terwyl my ouer broer Ilias hom baie vrae  oor die Bybel gevra het. Ek, Ilias en my jongste suster, Efmorfia, het toe die Bybel begin studeer en gereeld die vergaderinge bygewoon. Ons drie het die volgende jaar ons lewe aan Jehovah toegewy en ons is gedoop. Later het nog vier van ons broers en susters hulle lewe aan Jehovah toegewy.

In 1942 was daar nege jong manne en vroue tussen die ouderdom van 15 en 25 in die gemeente in Karítsa. Ons het geweet dat daar ernstige beproewinge vir ons voorlê. Om ons geloof te versterk, het ons gereeld bymekaargekom om die Bybel te studeer, saam te sing en te bid.

Demetrius en sy vriende in Karítsa

BURGEROORLOG

Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het die kommuniste in Griekeland teen die regering in opstand gekom. Dit was die begin van ’n verskriklike burgeroorlog. Kommunistiese vryheidsvegters het mense in die platteland gedwing om by hulle aan te sluit. In ons dorpie is ek en twee ander jong Getuies, Antonio Tsoukaris en my broer Ilias, ontvoer. Ons het gesê dat ons neutrale Christene is, maar hulle het ons gedwing om na die berg Olimpus te loop wat 12 ure te voet was.

’n Kommunistiese offisier het ons probeer dwing om saam met hulle te gaan veg. Toe ons verduidelik dat Christene nie teen hulle medemens veg nie, het die woedende offisier ons na ’n generaal geneem. Ons het voet by stuk gehou, en die generaal het beveel: “Vat dan die gewondes hospitaal toe met die donkie.”

“Maar sê nou regeringsoldate vang ons? Sal hulle nie dink dat ons aan julle kant veg nie?” het ons gevra. “Gaan gee dan brood vir die soldate,” het hy gesê. “En as ’n offisier ons met die donkie sien en hulle sê ons moet wapens vir die soldate vat, wat dan?” Die generaal het lank gestaan en dink. Toe sê hy: “Dan moet julle maar skape in die berge gaan oppas!”

Ons gewete het ons toegelaat om skape op te pas. ’n Jaar later is my oudste broer, Ilias, toegelaat om na my ma, wat ’n weduwee was, te gaan kyk. Antonio het siek geword en hy is vrygelaat. Maar ek was nog steeds ’n gevangene.

Die Griekse weermag was besig om die kommuniste vas te trek. Die groep wat my aangehou het, wou deur die berge na Albanië vlug. Ons is naby die grens deur die Griekse soldate omsingel. Die rebelle was doodbang en het weggehardloop. Ek het agter ’n stomp weggekruip en dis daar waar ek die wit sakdoek moes opsteek.

Toe ek vir die Griekse soldate gesê het dat die kommuniste my aangehou het, het hulle my geneem om ondervra te word by ’n militêre kamp naby Véroia, die Bybelse stad Berea. Daar moes ek loopgrawe in die grond grawe. Toe ek weier,  het die bevelvoerder my na die gevreesde strafeiland Makrónisos (Makronisi) verban.

EILAND VAN VREES

Makrónisos is sowat 50 kilometer van Atene. Dit is ’n rotsagtige en baie droë eiland en word deur die gloeiende son gebak. Die eiland is 13 kilometer lank en op die wydste punt is dit 2,5 kilometer breed. Tussen 1947 en 1958 was daar meer as 100 000 gevangenes op die eiland. Kommuniste en dié wat daarvan verdink is, vryheidsvegters en ’n hele aantal getroue Getuies van Jehovah was hier aangehou.

Toe ek in 1949 daar aangekom het, was die gevangenes in verskillende kampe ingedeel. Ek is saam met honderde mans in ’n lae-sekuriteitskamp aangehou. Omtrent 40 van ons het in ’n tienman-tent geslaap. Ons moes vuil, stinkende water drink en ons het van eiervrug en lensies gelewe. Die stof en wind het ons lewe baie onaangenaam gemaak. Maar ons is die wrede pyniging gespaar om rotse van een plek na die ander te dra, iets wat vir baie gevangenes ondraaglik was.

Saam met ander Getuies op die eiland Makrónisos

Eendag op die strand het ek ’n hele paar Getuies van ander kampe ontmoet. Ons was baie bly om mekaar te sien! Ons het bymekaargekom wanneer ons kon, en ons was baie versigtig om nie gevang te word nie. Ons het ook vir ander gevangenes gepreek en party van hulle het later ook Getuies van Jehovah geword. Hierdie dinge en gebed het ons gehelp om geestelik sterk te bly.

TOT DIE UITERSTE BEPROEF

Na tien maande van “rehabilitasie” het hulle gesê dat ek ’n militêre uniform moes aantrek. Toe ek weier, het hulle my na die kamp se bevelvoerder toe gevat. Ek het ’n nota aan die bevelvoerder gegee waarop ek geskryf het: “Ek wil net ’n soldaat van Christus wees.” Nadat hy my gedreig het, het hy my na die onderbevelvoerder toe gevat. Hy was ’n Grieks-Ortodokse aartsbiskop, geklee in sy amptelike kerkdrag. Toe ek die Bybel gebruik het om sy vrae te beantwoord, het hy woedend geskree: “Vat hom hier weg. Hy is fanaties!”

Die volgende oggend het die soldate weer beveel dat ek ’n uniform moet aantrek. Toe ek weier, het hulle my met hulle vuiste en ’n stuk hout geslaan. Toe het hulle my na die kamp se sieke-afdeling gevat om seker te maak dat hulle nie van my bene gebreek het nie. Daarna het hulle my na my tent toe teruggesleep. Hulle het dit twee maande lank elke dag gedoen.

Toe dit nie werk nie, het die soldate uit frustrasie iets anders probeer. Hulle het my hande agter my rug vasgemaak en my aanhoudend onder my voete met ’n tou geslaan. Ten spyte van die verskriklike pyn, het ek aan Jesus se woorde gedink: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg . . . Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele; want so het hulle die profete voor julle vervolg” (Matt. 5:11, 12). Uiteindelik het ek, na wat soos ’n ewigheid gevoel het, my bewussyn verloor.

Toe ek bykom, was ek in ’n yskoue sel sonder brood, water of selfs ’n kombers. Maar ek was kalm en rustig. Net soos die Bybel gesê het, het “die vrede van God” my hart en verstand bewaak (Fil. 4:7). Die volgende dag het ’n vriendelike soldaat vir my brood en water gebring en ’n jas vir my gegee. Toe het ’n ander soldaat sy kos vir my gegee. Dit was net een van die baie maniere waarop Jehovah my liefdevol gehelp het.

Die owerheid het gesien dat ek nie wou ingee nie, en hulle het my Atene toe gestuur om voor ’n militêre hof te verskyn. Daar is ek tot drie jaar tronkstraf gevonnis op die eiland Yíaros (Gyaros), 50 kilometer oos van Makrónisos.

“ONS KAN JULLE VERTROU”

Die tronk op Yíaros was ’n groot rooibaksteengebou wat meer as 5 000 politieke gevangenes gehad het. Daar was ook ses ander Getuies in die tronk weens hulle neutraliteit. Hoewel dit streng verbode was, het ons in die geheim die  Bybel saam studeer. Ons het kopieë van Die Wagtoring wat ingesmokkel is met die hand oorgeskryf om in ons Bybelstudie te gebruik.

Terwyl ons eendag saam in die geheim gestudeer het, het ’n wag op ons afgekom en ons lektuur afgevat. Ons is na die onderbewaarder se kantoor geroep, en ons het gedink dat ons vonnisse verleng sal word. Maar hy het gesê: “Ons weet wie julle is, en ons respekteer julle standpunt. Ons weet ons kan julle vertrou. Gaan terug werk toe.” Hy het selfs vir party van ons makliker werk gegee. Ons was so dankbaar. Selfs in die tronk het ons Christelike getrouheid Jehovah verheerlik.

Ons getrouheid het ook ander gehelp. ’n Wiskundeprofessor wat ook in die tronk was, het ons goeie gedrag gesien en het ons oor ons geloof begin uitvra. Hy is saam met ons in 1951 vrygelaat. Hy is later gedoop en het ’n voltydse evangeliedienaar geword.

NOG STEEDS ’N SOLDAAT

Ek en my vrou, Janette

Toe ek vrygelaat is, is ek terug na my familie in Karítsa. Later het ek en talle van my landgenote na Melbourne, Australië, verhuis. Daar is ek met Janette, ’n lieflike Christensuster getroud, en ons het ’n seun en drie dogters in die waarheid grootgemaak.

Ek is nou al oor die 90 jaar oud en dien nog steeds as ’n Christen- ouer man. My liggaam en voete pyn soms weens die mishandeling in die tronk, veral nadat ek velddiens gedoen het. Maar ek is nog steeds vasbeslote om ’n “soldaat van Christus” te wees.—2 Tim. 2:3.