Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Bied jou vrywillig aan, en loof Jehovah!

Bied jou vrywillig aan, en loof Jehovah!

“Omdat die volk hulle vrywillig aangebied het, loof Jehovah.”—RIGT. 5:2.

LIEDERE: 150, 10

1, 2. (a) Wat het Elifas en Bildad oor ons diens aan God gesê? (b) Wat het Jehovah hieroor gesê?

“KAN ’n man vir God van nut wees, sodat iemand wat insig het, vir hom van nut sou wees? Skep die Almagtige enigsins behae daarin dat jy regverdig is, of is dit vir hom enige gewin dat jy jou weg onberispelik maak?” (Job 22:1-3). Het jy al ooit die antwoorde op hierdie vrae gekry? Toe Elifas die Temaniet hierdie vrae aan Job gevra het, het Elifas gedink dat die antwoord “nee” is. Sy vriend Bildad die Suhiet het selfs gesê dat dit onmoontlik vir mense is om regverdig in God se oë te wees.—Lees Job 25:4.

2 Job se valse vriende het gesê dat ons getroue diens aan Jehovah vir Hom niks beteken nie. In God se oë is ons net soveel werd as motte, maaiers of wurms (Job 4:19; 25:6). Elifas en Bildad se woorde laat dit dalk klink of hulle baie nederig was (Job 22:29). As ons op ’n hoë berg staan of uit ’n vliegtuig se venster kyk, lyk mense vir ons klein en onbelangrik. Maar is dit hoe Jehovah oor ons diens aan hom en ons harde werk vir die Koninkryk voel? Nee! Jehovah  het vir Elifas, Bildad en Sofar gesê dat hulle leuens vertel. Maar Jehovah was baie lief vir Job en het hom “my kneg” genoem (Job 42:7, 8). ’n Persoon kan wel “vir God van nut wees”.

“WAT GEE U HOM?”

3. Wat het Elihu oor ons harde werk in Jehovah se diens gesê, en wat het hy hiermee bedoel?

3 Aan die einde van die gesprek tussen Job en sy drie vriende het Elihu vir Job gevra: “As u werklik reg is, wat gee u hom [God], of wat ontvang hy uit u hand?” (Job 35:7). Het Elihu probeer sê dat ons diens aan God niks beteken nie? Nee. Hy het bedoel dat Jehovah nie ons aanbidding nodig het nie. Jehovah het niks nodig nie. Ons kan hom nie ryker of sterker maak nie. Enige goeie eienskappe of talent wat ons het, kom van God af en hy stel belang wat ons daarmee doen.

4. Hoe voel Jehovah oor goeie dinge wat ons aan ander doen?

4 As ons goeie dinge aan ander mense doen, is dit vir Jehovah asof ons dit aan hom doen. Spreuke 19:17 sê: “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon.” Beteken hierdie teks dat Jehovah elke goeie daad wat ons doen, raaksien? En beteken dit dat die Skepper van die heelal ons iets skuld wanneer ons goeie dade doen? Beskou hy ons goeie dade as iets wat hy met geskenke en seëninge moet terugbetaal? Ja. God se eie Seun het dit bevestig.—Lees Lukas 14:13, 14.

5. Watter vrae sal ons nou bespreek?

5 Jehovah het die profeet Jesaja genooi om Sy woord bekend te maak. Dit wys vir ons dat Jehovah baie bly is om getroue mense te gebruik om ’n klein aandeel te hê in die doen van sy wil (Jes. 6:8-10). Jesaja het die uitnodiging gewillig aanvaar. Vandag sê duisende ook: “Hier is ek! Stuur my.” Hulle is bereid om moeilike toewysings te aanvaar. Maar jy wonder dalk: ‘Maak dit werklik saak wat ek doen? Het Jehovah my werklik nodig om sy werk gedoen te kry?’ Kom ons kyk wat in die dae van Debora en Barak gebeur het om hierdie vrae te beantwoord.

EERS BANG, TOE DAPPER

6. Waarom het dit gelyk of Jabin se leërmag Israel maklik kon verslaan?

6 Die Kanaänitiese koning Jabin het die Israeliete 20 jaar lank “swaar onderdruk”. Die mense in die dorpe was te bang om uit hulle huise te kom. In vergelyking met Jabin se leër met sy 900 strydwaens met ystersense, het die Israeliete nie eers wapens gehad om hulle mee te verdedig nie.—Rigt. 4:1-3, 13; 5:6-8. *

7, 8. (a) Watter instruksies het Jehovah vir Barak gegee? (b) Hoe het Israel Jabin oorwin? (Sien prent aan begin van artikel.)

7 Jehovah het deur die profetes Debora duidelike instruksies vir Barak gegee: “Gaan, en jy moet jou oor die berg Tabor versprei, en jy moet tienduisend man uit die kinders van Naftali en uit die kinders van Sebulon saam met jou neem. En by die Kisonstroomvallei sal  ek Sisera, Jabin se leërhoof, en sy strydwaens en sy menigte beslis na jou toe trek, en ek sal hom inderdaad in jou hand gee.”—Rigt. 4:4-7.

8 Die woord het versprei en die vrywilligers het by die berg Tabor bymekaargekom. Barak het dadelik Jehovah se instruksies gevolg. (Lees Rigters 4:14-16.) Gedurende die geveg in Taänag was daar ’n wolkbreuk wat die hele plek in ’n modderbad verander het. Barak het Sisera se leër 24 kilometer ver agternagesit—tot by Haroset. Langs die pad het Sisera van sy strydwa afgespring en na Saänannim, moontlik naby Kedes, gehardloop. Hy het in die tent van Jael, die vrou van Heber die Keniet, gaan wegkruip. Uitgeput het hy aan die slaap geraak en daar het Jael hom doodgemaak (Rigt. 4:17-21). Jehovah het die vyand oorwin! *

VERSKILLENDE GESINDHEDE OOR VRYWILLIGE DIENS

9. Wat sê Rigters 5:20, 21 nog oor die geveg teen Sisera?

9 Rigters 5:20, 21 sê: “Uit die hemel het die sterre geveg, uit hulle bane het hulle teen Sisera geveg. Die Kisonstroom het hulle weggespoel.” Beteken dit dat engele hulle gehelp het of dat meteoriete uit die hemel geval het? Die Bybel sê nie. Maar wie kon op die einste plek en tyd so ’n wolkbreuk veroorsaak dat die 900 strydwaens in die modder vasgeval het? In Rigters 4:14, 15 sê dit drie keer dat Jehovah hulle die oorwinning gegee het. Nie een van die 10 000 Israelitiese vrywilligers kon spog dat hulle die oorwinning behaal het nie.

10, 11. Wat was “Meros”, en waarom was dit vervloek?

10 Kom ons kyk nou na iets baie interessants. Debora en Barak het ’n oorwinningslied gesing en gesê: “‘Vervloek Meros’, het die engel van Jehovah gesê, ‘Vervloek sy inwoners onophoudelik, want hulle het Jehovah nie te hulp gekom nie, Jehovah nie te hulp gekom met die magtiges nie.’”—Rigt. 5:23.

11 Wat was Meros? Die vloek oor Meros was so doeltreffend dat ons nie weet wat dit was nie. Was dit ’n stad wie se inwoners Barak nie wou kom help nie? Of dalk het Sisera deur hierdie stad gevlug, maar die inwoners het niks gedoen om hom te vang nie. Die mense van die stad moes gehoor het hoe Barak vir vrywilligers gevra het om hom te kom help. Tienduisend vrywilligers van hierdie omgewing het bymekaargekom vir die geveg. Wat het die inwoners van Meros gedink toe Sisera alleen en hulpeloos deur hulle strate gehardloop het? Dit sou ’n gulde geleentheid gewees het om Jehovah se voorneme uit te voer en sy seën te geniet. Maar op daardie oomblik toe hulle iets kon doen, het hulle die kans deur hulle vingers laat glip. Hulle was glad nie soos Jael wat dapper opgetree het nie!—Rigt. 5:24-27.

12. Watter verskillende gesindhede sien ons in Rigters 5:9, 10, en wat leer ons daaruit?

12 In Rigters 5:9, 10 sien ons die gesindheid van dié wat saam met Barak gegaan het en dié wat nie saam met hom  gegaan het nie. Debora en Barak het “die aanvoerders van Israel, wat vrywilligers onder die volk was”, geprys. Hulle was nie soos dié “wat op geelrooi eselinne” gery het wat te trots was om te kom help nie en nie soos dié “wat op ryk tapyte” gesit het wat ’n gemaklike lewe geniet het nie! Hulle was ook nie soos dié “wat op die pad” geloop het wat die maklike weg gekies het nie. Die vrywilligers het op die rotsagtige heuwels van Tabor en in die modder van die Kisonvallei gaan veg! Vir die wat ’n gemaklike lewe wou lei, is daar gesê: “Dink na!” Hulle moes nadink oor die geleentheid wat hulle laat verbygaan het om Jehovah se wil te doen. Iemand wat vandag nie Jehovah se wil ten volle doen nie, moet ook hieroor nadink.

13. Hoe het die gesindheid van die stam van Ruben, Dan en Aser verskil van dié van Sebulon en Naftali?

13 Die vrywilligers het met hulle eie oë gesien hoe Jehovah as die Soewereine Heerser opgetree het. Hulle kon ander “van die regverdige dade van Jehovah begin vertel” (Rigt. 5:11). Volgens Rigters 5:15-17 was die stam van Ruben, Dan en Aser meer besorg oor materiële dinge, soos hulle kuddes, skepe en hawens, as om Jehovah se wil te doen. Maar Sebulon en Naftali het hulle lewe gewaag om Debora en Barak te ondersteun (Rigt. 5:18). Ons leer ’n belangrike les uit hierdie verskillende gesindhede oor vrywillige diens.

“LOOF JEHOVAH”

14. Hoe ondersteun ons vandag Jehovah se soewereiniteit?

14 Vandag hoef ons nie meer letterlik te veg nie, maar ons het die voorreg om ywerig die goeie nuus te verkondig. Ons het meer vrywilligers as ooit tevore in Jehovah se organisasie nodig. Miljoene broers, susters en jong mense dien  vrywillig as pioniers en Betheliete. Ander help om Koninkryksale te bou en dien as vrywilligers by byeenkomste. Baie ouer manne dien ook op Hospitaalskakelkomitees en reël byeenkomste. Jehovah waardeer beslis julle gewillige gees en hy sal dit nooit vergeet nie.—Heb. 6:10.

Voordat jy ’n besluit neem, moet jy nadink oor die uitwerking wat dit op jou gesin en die gemeente sal hê (Sien paragraaf 15)

15. Hoe kan ons seker maak dat ons nie ons ywer in Jehovah se diens verloor nie?

15 Vra jou gerus af: ‘Is ek net te bly dat ander al die werk doen? Is ek so besig met materiële dinge dat ek nie meer ’n gees van vrywilligheid het nie? Het ek die moed en geloof van Barak, Debora, Jael en die 10 000 vrywilligers om Jehovah se bevele met alles wat ek het te gehoorsaam? As jy daaraan dink om in ’n ander land te gaan werk om meer geld te verdien, vra jouself af: ‘Het ek biddend nagedink oor die uitwerking wat dit op my gesin en die gemeente sal hê?’ *

16. Wat kan ons vir Jehovah gee wat hy nie reeds het nie?

16 Jehovah gee ons die voorreg om hom as Heerser van die heelal te ondersteun. Die Duiwel probeer van Adam en Eva se tyd af om mense te kry om hom as heerser te aanvaar. Maar as ons Jehovah as Heerser aanvaar, wys ons vir Satan baie duidelik aan wie se kant ons is. Ons geloof en lojaliteit wat ons motiveer om vrywillige diens te doen, maak Jehovah baie bly (Spr. 23:15, 16). As ons Jehovah lojaal ondersteun en gehoorsaam is, kan hy Satan ’n antwoord gee (Spr. 27:11). Ons gehoorsaamheid aan Jehovah is vir hom kosbaar en dit verskaf hom groot vreugde.

17. Wat voorspel Rigters 5:31 oor die toekoms?

17 Binnekort sal die hele aarde gevul wees met mense wat Jehovah se heerskappy bo enige ander verkies. Ons sien baie uit na daardie dag! Ons sing saam met Debora en Barak: “Laat al u vyande so vergaan, o Jehovah, en laat dié wat u liefhet, wees soos wanneer die son in sy mag opgaan” (Rigt. 5:31). Hierdie versoek sal beantwoord word wanneer Jehovah ’n einde aan Satan se goddelose wêreld maak! Wanneer Armageddon uitbreek, sal Jehovah nie mense as vrywilligers nodig hê om die vyand te vernietig nie. Dan sal ons ‘stil staan en die redding van Jehovah sien’ (2 Kron. 20:17). Maar nou het ons baie geleenthede om Jehovah se heerskappy met moed en ywer te ondersteun.

18. Hoe vind ander by jou vrywillige diens baat?

18 Debora en Barak se oorwinningslied het met lof aan Jehovah begin. Hulle het nie die eer aan mense gegee nie. Hulle het gesing: “Omdat die volk hulle vrywillig aangebied het, loof Jehovah” (Rigt. 5:1, 2). Wanneer ons Jehovah vrywillig dien, kan dit ander ook aanspoor om Jehovah te loof!

^ par. 6 ’n Sens is ’n lang, skerp en soms geboë lem. Sense het aan weerskante by die as van die strydwaens uitgesteek. Wie sou dit waag om teen ’n leër met sulke strydwaens te veg?

^ par. 8 Jy kan meer oor hierdie opwindende verhaal lees in die artikel “‘Ek het as ’n moeder in Israel opgestaan’” in Die Wagtoring van 1 Augustus 2015, bl. 12-15.

^ par. 15 Sien die artikel “Angstigheid oor geld” in Die Wagtoring van 1 Julie 2015.