Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOORBLADONDERWERP | ENGELE—BESTAAN HULLE REGTIG? WAAROM DIT SAAK MAAK

Hoe engele jou kan help

Hoe engele jou kan help

Getroue engele stel baie belang in wat met die mensdom gebeur en werk hard om Jehovah se wil uit te voer. Toe God die aarde geskep het, het die engele “saam van vreugde uitgeroep . . . en al die seuns van God [het] begin juig” (Job 38:4, 7). Regdeur die geskiedenis het engele ’n begeerte gehad om in profesieë oor die toekoms van die aarde “te tuur”, met ander woorde hulle het probeer om hierdie profesieë te verstaan.—1 Petrus 1:11, 12.

Die Bybel wys dat engele soms ware aanbidders tot ’n mate beskerm het sodat God se wil uitgevoer kon word (Psalm 34:7). Byvoorbeeld:

  • Toe Jehovah die slegte stede Sodom en Gomorra vernietig het, het engele die regverdige Lot en sy gesin gehelp om te vlug.—Genesis 19:1, 15-26.

  • Toe drie jong Hebreërs in eertydse Babilon gevonnis is om in ’n brandende vuuroond te sterf, het God “sy engel gestuur en sy knegte gered”.—Daniël 3:19-28.

  • Nadat die regverdige man Daniël vir ’n nag in ’n leeukuil vol honger leeus gegooi is, het hy verduidelik dat hy dit oorleef het omdat “God . . . sy engel gestuur en die bek van die leeus gesluit [het]”.—Daniël 6:16, 22.

Engele het regdeur die geskiedenis getroue mense gehelp

DIE ENGELE HET DIE VROEË CHRISTENGEMEENTE ONDERSTEUN

God se engele-boodskappers het die vroeë Christengemeente soms gehelp sodat Jehovah se voorneme uitgevoer kon word. Byvoorbeeld:

  • ’n Engel het die deure van ’n tronk oopgemaak en vir die apostels wat in daardie tronk opgesluit was, beveel om aan te hou om in die tempel te preek.—Handelinge 5:17-21.

  • ’n Engel het die evangeliedienaar Filippus beveel om na die woestynpad tussen Jerusalem en Gasa te gaan en vir ’n Etiopiër te preek wat op pad was om in Jerusalem te aanbid.—Handelinge 8:26-33.

  • Toe dit God se tyd was vir nie-Jode om Christene te word, het ’n engel aan die Romeinse leëroffisier Kornelius in ’n visioen verskyn en hom beveel om die apostel Petrus na sy huis te laat kom.—Handelinge 10:3-5.

  • Toe die apostel Petrus in die tronk opgesluit was, het ’n engel aan hom verskyn en hom uit die tronk vrygelaat.—Handelinge 12:1-11.

 HOE ENGELE JOU KAN HELP

Daar is geen bewyse dat God vandag engele gebruik om mense wonderdadig te help soos in die Bybel beskryf is nie. Maar Jesus het oor ons tyd gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Het jy geweet dat Christus se dissipels hierdie werk onder die toesig van die engele doen?

Engele help om die goeie nuus regoor die aarde te verkondig

Die boek Openbaring wys dat engele hard sou werk om mense regoor die aarde te help om oor Jehovah God en sy voorneme vir die mens te leer. Die apostel Johannes het geskryf: “Ek het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk, en hy het met ’n harde stem gesê: ‘Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek, en aanbid dus die Een wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het’” (Openbaring 14:6, 7). Vandag is daar baie ondervindinge wat bewys dat engele die werk ondersteun om mense regoor die aarde van die Koninkryk te leer. Selfs wanneer een sondaar berou het en Jehovah begin dien, “ontstaan daar vreugde onder die engele van God”.—Lukas 15:10.

Wat sal gebeur wanneer die predikingswerk klaar is? Dan sal ‘engele-leërs in die hemel’ saam met Jesus Christus, die Koning van die konings, veg by Armageddon in “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” (Openbaring 16:14-16; 19:14-16). Magtige engele sal die Here Jesus help om God se oordeel uit te voer “wanneer hy wraak uitoefen op dié wat . . . die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie”.—2 Tessalonisense 1:7, 8.

Jy kan daarvan seker wees dat die engele persoonlik in jou belangstel. Hulle is diep besorg oor mense wat God graag wil dien. Jehovah het hulle al oor en oor gebruik om sy getroue knegte op die aarde te versterk en te beskerm.—Hebreërs 1:14.

Elkeen van ons moet ’n belangrike besluit maak. Sal ons na die goeie nuus wat oor die hele aarde verkondig word, luister en daaraan gehoorsaam wees? Jehovah se Getuies in jou gemeenskap sal bly wees om jou te wys hoe jy ook deur God se magtige engele gehelp kan word.